Siedaar! Die vy

  • 1

https://pixabay.com/photos/fig-fruit-healthy-ripe-vitamins-4584318/

Ons president se SONA het my aan Albert Einstein en Frederick Barbarossa laat dink. Eers aan Einstein en toe aan die twaalfde eeuse kruisvaarder Barbarossa. Einstein oor sy relatiwiteitsteorie en Barbarossa oor skermutselinge aangaande donkiedrolle en vye.

’n Eenvoudige, ietwat platvloerse verduideliking van Einstein se relatiwiteitsteorie lui so: die fisiese werklikheid se kontoere word bepaal deur die relatiewe hoek waaruit jy na die dinge kyk. Dieselfde ding uit ’n ander hoek bekyk, bly dieselfde maar lyk anders. Soos ’n dom ou man dit eenmaal aan ’n vriend probeer verduidelik het: “Relativity says that things are the same but at the same time they are different. For instance, you put your face in my backside and I put my backside in your face. That is relativity. It’s the same, only it’s different.”

Die SONA soos uit CR se hoek bekyk, lyk so glansend en vol skitterende liggies soos ’n merry-go-round op ’n Karoodorp ná die veld goed groen gereën het. Die SONA soos die nation dit uit die verdonkerde hoeke van hulle beurtkrag-geteisterde gesigsveld beskou, lyk minder soos skitterende merry-go-rounds en meer soos sprinkaanplae wat die groen gras opvreet ná die reën.

Die een lot sien donkiedrolle en die ander lot sien vye. Soos die ou man hierbo vir Einstein vertolk, moet ’n mens dan eers vra: wie se poephol is nou eintlik in wie se gesig of wie se gesig is nou eintlik in wie se poephol? As ek donkiedrolle sien, is dit maar omdat ek in my eie poephol vaskyk of as ek vye sien, is dit omdat ek te diep in Cyril s’n opkyk? Of speel ek maar soos kinders in die kindertuin raai-raai-roepol om te bepaal wie is die poephol?

Die antwoord lyk maklik, maar in ’n relatiwistiese universum kan die kwessie oënskynlik net nie onomwonde besleg word nie. Die SONA is soos ’n ontwykende horison in ’n woestynlandskap. Ons weet net nie wat vir ons anderkant die horison wag nie, want ons weet nie eers wat aan hierdie kant van die horison aangaan nie. In elk geval nie as ons moet staatmaak op Cyril om ’n lampie daarop te laat skyn nie. En met beurtkrag kan ons ook nie verwag dat ’n liggie skielik vir almal sal opgaan nie. Daar gaan wel liggies op, maar eintlik net wanneer die liggies afgaan.

Die kwessie van donkiedrolle of vye bring ons dan by Frederick Barbarossa (Rooibaard). Op ’n manier het hy die hele ding begin.

Tydens sy bewind as die keiser van die Heilige Romeinse Ryk het ’n klomp opstandige onderdane in Milaan tydens Rooibaard se afwesigheid op ’n kruistog na Anatolia die geleentheid gebruik om hulleself te probeer lostorring uit sy heerskappy deur onder meer sy vrou Beatrice, wat hy in hulle sorg agtergelaat het, te beledig en te verneder. Hulle het haar agterstevoor op ’n donkie vasgemaak en die dier toe deur die stadspoorte gejaag om haar te laat verstaan dat dit haar laaste sien van Milaan sou wees. By sy terugkeer is Barbarossa woedend. Hy maak die opstandelinge gou met ’n paar swaardswaaie mak en begin straf uitdeel en wraak neem. Om sy vrou se eer te herstel, beveel hy dat dié wat by die donkiestorie betrokke was, as boetedoening vir hulle wandaad die beuel se byl kon vryspring as hulle die kolonklonte wat by die donkie se anale poort uitgestoot word, in hulle tande vasgryp, uittrek en dan aan die beuel aanbied met die uitroep: “Ecco il fico!”, oftewel “Siedaar! ’n Vy!” Barbarossa het natuurlik geweet donkiedrolle is nie vye nie, maar in daardie dae as ’n koning bevele bulder, dan kreun die skare. In daardie dae was ’n koning nog ’n koning.

Daar was ’n gevestigde gewoonte onder die mense in die Noordkaap in die tyd toe ek daar grootgeword het om wanneer hulle beledig gevoel het deur iets wat teen hulle gesê of gedoen is, die duim tussen die wysvinger en die middelvinger in te druk, die twee lang vingers om die duim in ’n vuis te buig, aan die punt van die duim te byt en dan die teiken van hulle gebelgdheid met die woord “koefaai” toe te snou. Ek vermoed dat hierdie koefaai-gebaar ’n voortplanting is van Barbarossa se ecco il fico-legende wat deur die eeue hier te lande gekom het nadat dit mettertyd amper wêreldwyd gegroei, gevestig geraak en saam met die middelvinger en ander beledigingsgebare ook hier by ons posgevat het.

“Ecco” en “fico” is nie so ver van “koe” en “faai” af nie, en die byt aan die duim boots Barbarossa se drolbyt-opdrag nougeset na.

In Barbarossa se dae was ’n koning nog ’n koning en as hy sê die ding is ’n vy, dan is die ding ’n vy. Al weet ons wat dit eintlik is. Hierdie speelruimte is Cyril egter nie beskore nie. As Cyril sê “vy”, dan begin mense wonder deur watter poort die vrug in die wêreld gekom het. Soos wat mense wonder deur watter poort die dollars in sy rusbank opgeëindig het. As die mense begin wonder oor jou, dan moet jy begin wonder oor die mense.

Dit in ag genome het Cyril se raadgewers waarskynlik by hom aanbeveel om vanjaar se SONA-aanbieding te plooi na wat bekend staan as die sampioenbehandeling. “Voer hulle stront en hou hulle in die donker.” Of soos Barbarossa dit miskien sou stel: “Wys hulle die vy en hou hulle in die duister.” Goed en wel. Maar ’n mens kan maklik klipsop kook met so ’n resep. As jy die duisternis skep met beurtkrag en die nasie se liggies te veel kere afgesny word by die huis en by die werkplek, dan sny die nasie dalk jou liggies af by die stembus. One way or the other loop jy die gevaar dat daar ’n donkiedrol in die drinkwater kan beland. As jy die vy-mombakkies te veel kere oor die drol se kop trek om smerighede te verberg, kom die mense dalk die ding agter en dan sit jy en jou hele verlossingsbrigade later met die gebakte pere. Saam met al die in diens gestelde kaders. Beide Marx en Mandela sal mos in hulle grafte omdraai as so iets moes gebeur. En hoe gaan ons dan die wederkoms tegemoet?

Miskien moet Cyril die een Marx vir ’n ander Marx verruil met die voorbereiding van volgende jaar (verkiesingsjaar) se SONA. Los vir Karl en tree vir Groucho aan. In die film A night at the opera word Groucho en sy broers in die engte gedryf toe hulle hulleself op ’n bedrieglike wyse as wit Russiese krygshelde voordoen en as verstekelinge op ’n skip uit Europa in New York aankom. Hulle word as helde deur die burgemeester op die hawe ontvang. Die ontvangsseremonie vereis dat hulle ’n toespraak moet maak om hulleself aan die skare bekend te stel, maar dit word in die omstandighede duidelik dat as enige van hulle ’n woord sou rep die hele bedrogspul aan die kaak gestel sou word. Wat nou gemaak? Boetie Chico, wat aangewys word om die toespraak te maak, vra vir Groucho wat hy die skare moet vertel. “Sê vir hulle jy is nie hier nie,” beveel Groucho aan. “Ja, maar wat doen ek as hulle my nie glo nie?” kap Chico terug. “Toemaar,” antwoord Groucho, “hulle sal jou glo sodra jy begin praat.”

Miskien is Groucho se raad ook goed vir Cyril se verkiesingsjaar-SONA. Sê vir hulle jy is nie hier nie en maak daarop staat dat hulle jou sal glo sodra jy begin praat.

As dit kan werk vir kinders wat dink dat as hulle hulle oë toemaak ander mense hulle nie kan sien nie, kan dit vir Cyril dalk ook werk.

Net so goed as om jou oë toe te knyp as die ligte afgaan.

Lees ook:

Hoe verskil SONA 2023 van Zuma-era-staatsredes?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top