Om op Mars te woon

  • 0

Om op Mars te woon

Amanda du Preez, navorsingsgenoot, International Institute of the Arts, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 23(3)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2026/j23n3b7

Die artikel sal binnekort as PDF beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie artikel word die vraag ondersoek of ons as sterflinge op Mars sal kan woon. Dit word gedoen teen die agtergrond van voortgesette pogings om die eerste mens na Mars te stuur. Die vraag na wat dit beteken om te woon (Wohnen) word aan die hand van Martin Heidegger se besinning oor woning gedoen en ook deur die begrip woning uit te bou na die viervoud (das Geviert). Die viervoud bestaan uit sterflinge, onsterflikes, die Aarde en die Hemel en dit is in die verhouding tussen hierdie elemente of sfere dat menslike woning moontlik gemaak word, volgens Heidegger. Deur die vier elemente te gebruik as ’n raamwerk ondersoek die artikel die moontlikheid van woning op Mars. Elke element word deur ’n spekulatiewe fenomenologiese lens op Mars geplaas en deur na fiksie, wetenskaplike navorsing, film en beelde te verwys word die ontvouing van die vier elemente bestudeer. Die gevolgtrekking is dat die viervoud op Mars sal ontbind en vervorm, omdat die verhouding en verband tussen die elemente sal skuif en vervorm tot ’n andersoortige openbaring.

Trefwoorde: Aarde; Martin Heidegger; Mars; multiplanetêre spesie; onsterflikes; ruimtereise; sterflinge; veraards; viervoud

 

Abstract

To dwell on Mars

In this article, the leading question is: How will we dwell on Mars? If dwelling is always more than mere housing and survival, will we be able to dwell on Mars at all? To dwell and be at home encompasses far more than simply having a roof over your head. In fact, for many, home is a place of oppression and something to escape from, yet it remains a focal point of returning and orientation. Concepts such as house, housing, homelessness, building, apartment, couch surfing, residence, shelter, home, and camping all allude to what it means to dwell and to come home. Why is this question important when dealing with Mars? Precisely because I want to ask whether humans can dwell and be at home on Mars. By asking this question, we may move closer to understanding what it means to dwell and be at home.

In the essay “Building dwelling thinking” (Bauen Wohnen Denken) of 1951, Martin Heidegger reflects on what it means to dwell (Wohnen), especially in uncertain times. Heidegger observes that modern housing does indeed provide shelter – it may even be well planned, easy to maintain, attractively affordable, and open to air, light, and sun – but it does not guarantee that people will be able to dwell in it. We are thus immediately made aware of the difference between mere housing and dwelling.

In this article, I want to transpose the question of dwelling to the planet Mars, speculating that we may be able to lodge and shelter there, but that dwelling, as proposed by Heidegger, may remain unrealisable. The background assumption is that dwelling takes a specific form and requires designated states, beings, places, and encounters before it becomes a real possibility. It is suggested that Heidegger’s notion of the fourfold (das Geviert) may be a useful starting point for examining the form that dwelling takes, not only on Earth but also on the Martian surface. If dwelling is something humans do without even thinking because “humans are essentially dwellers”, what happens to dwelling on Mars?

Heidegger unpacks the fourfold as the gathering and revealing of our existence in its relationality. The fourfold is the gathering or intersection of the Earth and Sky, mortals and immortals, and it is in their relationality that things unfold and open to one another. If one refers to the Earth, one immediately also conjures the other three, and the same goes for the Sky, mortals, and immortals. We cannot think of one without implying the others, yet we often forget how they are bound into a simple oneness. As Heidegger strikingly explains: “But ‘on the earth’ already means ‘under the sky’” (Heidegger 2009[1971]:147). Despite their entanglement, the four cannot be reduced to one another, meaning that the Earth cannot be reduced to the Sky, or mortals to immortals, yet they belong to a primal oneness. They remain unique and singular in the gathering and revealing because “each member forms a bridge by which the thing relates to the world” (Mitchell 2014:215). According to this relationship, to be human is to be a part simultaneously of the fourfold of the Earth, Sky, immortals, and mortals.

It is proposed that to dwell on Mars in the fourfold, the relationality among the four elements will have to be separated and split into distinct techno-components. The relationship or correspondence among the fourfold will have to be shaken, altered, and differently revealed on Mars. One significant aspect Heidegger stresses about revealing in the openness created by the fourfold is that the event of revealing cannot be reduced to “the moulds of total revealing” (Joronen 2013: 634). In other words, how the revealing occurs cannot be predicted, manipulated or calculated.

For deep space travel and the colonisation of Mars, we need to make assumptions about both the human and the Earth, and, by implication, about the Sky and the immortals. Thus, by planning and plotting existence on Mars, we must act as if we know the planet entirely and it has revealed itself without any concealment. Also, we need to assume that we similarly know the endless malleability of humanness when dislodged from the Earth and mortality. In other words, we need to act and plan as if the unfolding of human existence between the force fields of the Earth, the Sky, mortals, and immortals is fully revealed to us. The fourfold also needs to be severed into separate, controllable, and completely knowable entities.

It is proposed that our existence will unfold differently in outer space and on the Martian surface, since our relation to the fourfold of the Earth and Sky shifts, just as our relation to mortality and immortality alters. The fourfold implodes if the horizon becomes Sky, and the prospects of mortals become immortality. Even more, mortals will receive the Earth as divinities from up in the heavens, and no longer as mortals. What Heidegger also suggests here, in terms of outer space travel and colonisation, beyond the Earth’s horizon, the mortal no longer receives the Sky as Sky. In other words, as the Earth recedes from view, the ungrounded bearing of the Earth turns to only Sky. Earth and Sky no longer mirror each other as different yet relational entities; one disappears into the other’s horizon (Earth into Sky and Sky into Earth) and morphs into a new, but different, relationality.

The discussion explores what Mars would be like as a place of dwelling. Following Heidegger, it is argued that dwelling occurs in place and within things. Furthermore, dwelling manifests in the fourfold, or is the embodiment of the interplay of the fourfold. How will the interplay between mortals and immortals, and the meeting of the planes of Earth and Sky, unfold on Mars? How are we to think and build on Mars to respond authentically to the continuous call of dwelling?

I aim to unpack this question by breaking the problem into the four components of the fourfold: How will mortals and immortals, Earth and Sky, interact and unfold on the planetary surface of Mars? The analysis is divided into four sections: Mortals (on Mars), Earth (on Mars), Sky (on Mars), and Immortals (on Mars). Obviously, my division of the elements of the fourfold into separate headings is fictitious and for speculative purposes, since it is not possible to take them apart or separate them into distinct units.

Keywords: Earth; fourfold; Martin Heidegger; immortals; Mars; mortals; multi-planetary species; outer space travels; terraforming

 

1. Inleiding

Wat beteken dit om te woon? Om te woon en om tuis te wees, is altyd veel meer as om bloot ’n dak oor jou kop te hê. Trouens, vir vele mense is die huis ’n plek van verdrukking en iets wat juis ontsnap moet word, terwyl dit ook altyd weer as ’n baken vir terugkeer en tuiskoms dien. Begrippe soos huis, behuising, dakloosheid, gebou, woonwa, woonstel, couchsurfing,1 woning, skuiling, tehuis en uitkamp verduidelik nog nie wat dit beteken om te woon of tuis te kom nie. Hoekom is hierdie vraag belangrik as mens oor Mars dink? Juis omdat ek wil vra of mens kan woon en tuis wees op Mars. Deur hierdie vraag te vra kan ons dalk nader kom aan wat dit beteken om te woon en om tuis te wees, ook hier op Aarde.

Ek wil die bespreking begin deur na drie aangrypende voorbeelde van tuiskoms te verwys. Die eerste kom uit die film Gravity (Alfonso Cuarón 2013), die volgende uit The Martian (Ridley Scott 2015) en die laaste uit die nuwe uitbeelding van Odusseus se terugkeer na Ithaca, The return (Uberto Pasolini 2024). In al drie gevalle word die terugkeer na plek, die huis en die Aarde na afloop van lewensbedreigende en omwentelende avonture treffend uitgebeeld.

Figuur 1. Alfonso Cuarón, Gravity, 2013. Skermgreep uit video. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik

In Gravity sien ons Sandra Bullock se karakter, dr Ryan Stone, wat na vele ontberinge in die buitenste ruimte daarin slaag om terug te keer na die Aarde. Ons sien hoe die ruimtekapsule weer die Aarde se atmosfeer binnedring en in ’n watermassa val. Na die landing swem sy na die wal en kruip uit, maar sy is té swak om die Aarde se swaartekrag te oorkom en regop te staan na maande in die buitenste ruimte. Sy gryp ’n hand vol sand tussen haar vingers vas en lag tevrede, ter bevestiging dat sy weer tuis gekom het.

Figuur 2. Ridley Scott, The Martian, 2015. Skermgreep uit video. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik

Soortgelyk word die terugkeer na die Aarde in Ridley Scott se The Martian uitgebeeld na aanleiding van die ruimtereisiger Mark Watney se “verbanning” na Mars nadat hy deur sy bemanning agtergelaat is. Sy oorlewing is grootliks toe te skryf aan sy eie vernuftigheid en Faustiese gees. In sy eie woorde na sy terugkeer: “This is space. It does not cooperate.” Hy kon net sowel gesê het: “Dit is Mars en dit is nie baie behulpsaam nie.” By sy terugkeer sien ons hom op ’n bankie sit en wag voordat hy opleiding gaan aanbied aan nuwe NASA-ruimtereisigers. Watney dra nou ’n bril wat moontlik ’n aanduiding is dat sy sig verswak het weens die blootstelling aan lae swaartekrag op Mars. Hy kyk af en sien ’n plantjie wat dapper uitstoot deur die grond, iets wat so maklik en grasieus op die Aarde gebeur. Hy glimlag omdat hy besef dat hy wel daarin geslaag het om iets te laat groei op Mars, maar dat dit ’n byna onmoontlike stryd was. Op Aarde groei die plantjie sonder moeite, gee die geskenk van voeding en skep die omstandighede vir woning.

Figuur 3. Uberto Pasolini, The Return, 2024. Skermgreep uit video. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik

In die laaste voorbeeld sien ons Odusseus (Ralph Fiennes) incognito nadat hy op ’n strand van Ithaca uitgespoel het. Hy word as ’n drenkeling deur Eumaeus, die varkwagter, gehuisves en in die gesprek met sy gasheer vind Odusseus uit dat hy inderdaad op sy tuisland uitgespoel het. Ons sien Odusseus buk en ’n handvol grond in sy mond druk, en dit as’t ware eet, om sy tuiskoms te versinnebeeld; om weer een te word met die plek van sy herkoms. Die gebare in die drie films dui op die onuitspreeklike houvas en krag wat plek, grond, land, die huis en die Aarde op ons menswees uitoefen.

Na aanleiding van die visuele uitbeeldings van tuiskoms sal die ontleding soos volg gestruktureer word: Eers word ’n kort oorsig gegee oor watter vorm Mars in ons verbeelding aanneem, gevolg deur bondige verwysings na historiese en hedendaagse insigte oor Mars. Daarna sal die gedagte van wat dit beteken om te woon ingelei word deur na Martin Heidegger se uiteensetting daarvan in die opstel “Building dwelling thinking” (Bauen Wohnen Denken) te verwys. Die gedagte van woning word hierna verbreed deur Heidegger se idee van die viervoud (das Geviert) te ontgin. Die viervoud bestaan uit sterflinge (die mens), onverganklikes (gode), die Aarde en die Hemelen dit is in hul oorkruising en verweefdheid dat die werklikheid ontvou en woning moontlik gemaak word. Deur die vier elemente van die viervoud op ’n spekulatiewe fenomenologiese wyse na Mars te transponeer word die moontlikheid van woning op Mars opgeweeg. My interpretasie sal grootliks deur beelde werk, beide wetenskaplike en fiktiewe beelde. In ooreenstemming met Heidegger se beskouing rakende die vermoë van die kunswerk om ’n opening of onthulling mee te bring, maak ek nie noodwendig ’n onderskeid tussen die twee nie omdat my ontleding spekulatief van aard is.

 

2. Missie Mars

In November 2023 het ’n omvattende uitstalling getiteld Mars: The red mirror by die ArtScience Museum in Singapoer geopen met die doel om ’n oorsig te gee van die rol wat Mars in ons verbeelding speel (Figuur 4). Een van die mees dwingende vrae wat die uitstalling ondersoek, is of Mars as ’n spieëlbeeld vir ons gebroke drome van die Aarde dien. Of sien ons Mars bloot as ’n ontsnapping uit die Aardse bestaan wat tot nuwe opwindende avonture kan lei? Hiervolgens word “missie Mars” dikwels as die hoogste uiting van menslike wilskrag en tegnologiese vernuf verstaan. Die bekende astronoom, Chris Impey (2023:278–9), skryf in hierdie verband:

The most grandiose vision for living off Earth is to make another planet habitable. If we could populate all of Mars, rather than just living in a few pressurized bubble domes, it would be the ultimate hedge against our extinction on Earth. This sounds like the ultimate hubris, to bend an entire planet to our will.

Alhoewel Impey (2023:284) toegee dat Mars slegs deur die veraardsing (“terraforming”) van die planeet asook die herontwerp van sterflinge sal kan plaasvind, is hy nietemin optimisties dat daar oor 20 jaar menslike teenwoordigheid op die planeet sal wees. Volgens Robert Zubrin (2025:50), stigter van die Mars Society, sal dit gouer moontlik wees en hy voorspel dat die Mars-droom teen 2031 bewaarheid kan word. Soos die Maan ’n sentrale rol tydens die Koue Oorlog gespeel het, net so beklee Mars tans dieselfde status as ’n globale spilpunt vir geopolitieke wedywering.

Mars het wel vanaf die vroegste tye ’n prominente rol in Aardbewoners se verbeelding en insigte oor die kosmos gespeel. Soms is Mars in misterie gehul en ander kere is dit as ’n planeet van oorlog beskou as gevolg van sy rooi kleur en die verbintenis met die Griekse god Ares en later die Romeinse Mars. Wat wel met redelike sekerheid geredeneer kan word, is dat beide die fiktiewe en wetenskaplike insigte oor Mars dikwels meer oor Aardse politiek en ambisies verklap het as oor die Rooi Planeet self (vgl. Morse 1906; Markley 2005). Die rede hiervoor is dat: “Mars is not only a natural phenomenon but a sign, a symbol, and a power, the work of poets and fiction-makers […] Mars is part of our cultural history, a repository of human desire, a reflection of our aspirations, confusions, and anxieties” (Crossley 2011:7).

Figuur 4. Luke Jerram, Mars, 2023. Beeldhou-installasie. Mars: The red mirror-uitstalling, ArtScience Museum, Singapoer. Toestemming ontvang van Leela Thornfield, Project Manager: artwork@lukejerram.com

In die hedendaagse inkleding van Mars dien dit “as a screen on which we have projected our hopes for the future and our fears of ecological devastation on Earth” (Markley 2005:2). In terme van die klimaatsveranderingdebat word Mars dikwels as ’n planeet beskou wat skynbaar reeds deur ’n apokaliptiese of uitwissingsgebeurtenis gegaan het. Mars word immers as ’n “dying planet” (Markley 2005:2) beskryf. Dit roep natuurlik teenstrydige reaksies op oor ons eie lot as Aardbewoners. Aan die een kant spoor dit sommiges aan om hulle te wend tot ’n glorieryke toekoms van tegnowetenskaplike vooruitgang en grenslose ontdekking verby die Aardse grense, terwyl dit ander in ’n ekopessimisme dompel omdat hulle oortuig is dat die mensdom tot uitwissing verdoem is. Tussen hierdie twee ekstreme pole speel ons hedendaagse verbeelding oor Mars, en by implikasie die Aarde, af.

Een van die voorgestelde oplossings deur astro-ingenieurs en ruimte-optimiste is dat Mars, as gestorwe planeet, herontwerp kan word deur die proses van veraardsing. Dit beteken dat Mars meer soos die Aarde gemaak kan word deur ironies genoeg gebruik te maak van verhittingtegnieke wat die digtheid van Mars se atmosfeer sal verhoog. Die hele planeet moet dus herontwerp word deur die logika van “geokonstruktivisme” (Neyrat 2019) sodat dit meer aardagtig kan word. Die proses kan eeue duur “but it can – and will – be done” meen Stephen Petranek (2015:59) in How we’ll live on Mars. Op ’n siniese wyse beskou, beteken dit dat die een planeet as té warm beskou word (Aarde) (vgl. Monbiot 2009; McKibben 2010; Wallace-Wells 2019) terwyl die ander een té koud is (Mars). Daarom besluit ons om liewer die koue planeet te verhit as om op die warm planeet aan te bly. In hierdie verband dui Hart (2019) aan dat dit eerder oorweeg word om Mars te veraards as om die Aarde te red.

Ingevolge hierdie logika is dit ook van die uiterste belang om lewe of spore van lewe op Mars te vind wat die apokalips oorleef het, omdat dit moontlik as ’n aanduiding kan dien van wat ons eie lot op die Aarde gaan wees. Kortom: Mars het ’n eksperimentele laboratorium vir die menslike verbeelding op ’n planetêre skaal geword.

Dit is interessant dat, wanneer ons bespiegel oor die bestaan van lewe op Mars, dié lewe dikwels as monsteragtig en vreemd uitgebeeld word juis omdat die vorm of aard daarvan onbekend is. Die term monster beteken immers om misvorm of ’n ongevormde wese te wees. Daarom beeld H.G. Wells byvoorbeeld die Marsbewoners in The war of the worlds (1897) uit as monsteragtige “onaardse kreature” wat die Aarde op afgryslike manier wil verower. Die bespiegeling oor die bestaan van lewensvorme op Mars is aangewakker deur die Italiaanse sterrekundige Giovanni Schiaparelli se canali-teorie (1878). Of dit nou as “channels” (groewe) vertaal word – oppervlakstrukture wat deur omgewingsomstandighede oor tyd gevorm is – of as “canals” (kanale), wat op ingryping deur “intelligente wesens” dui, het bepaal hoe verskillende kundiges die bestaan van lewe op Mars geïnterpreteer het. Opvattings het dus gewissel tussen Mars as ’n miniatuur-Aarde, of Mars as ’n totaal onbewoonbare planeet.

Die debat is teen die middel van die 20ste eeu omver gewerp, met die beelde wat van die Mariner 4-ruimtevaartuig in sy verbyvlug van Mars in 1965 na die Aarde versend is. Hierdie beelde het eerder gesuggereer dat “Mars might be depressingly like the Moon, pockmarked with impact scars and just as lifeless” (Bizony 2022:36). Latere missies soos die Viking-ruimteverkenningstuig wat in 1976 gestuur is om tekens van lewe op Mars te vind, het slegs die boustene vir lewe gevind. Sedert 1997 kan ons die oppervlak van nader beskou deur NASA se swerwers wat “rondswerf” op die Marslandskap – waarvan die jongste, Perseverance, op Februarie 2021 op Mars geland het. Maar ten spyte van al ons gekap en geboor, is daar nog geen lewe gevind nie, slegs mikrobes. Dit is natuurlik as mens nie die swerwers hard aan die werk op Mars wel as vorms van lewe bestempel nie.

Volgens NASA se Mars Exploration Programme (MEP), wat in 1994 gestig is: “Even if Mars is devoid of past or present life, there’s still much excitement on the horizon. We might become the ‘life on Mars’ should humans choose to travel there one day.” Ander projekte wat hierby aansluit is natuurlik die ruimte-entrepreneur Elon Musk se Space Exploration Technologies Corporation (SpaceX), wat in 2002 begin is met die motto “Mars en verder”. Daar is ook groot entoesiasme vanuit nieregeringsbronne soos Mars One (2011–2019) en The Mars Generation.2 Hierdie projekte poog om ’n jonger generasie te inspireer om Ruimte-ambassadeurs te word wat deur Mars “gedefinieer” is. In ’n dokumentêr vir The Mars Generation (Michael Barnett 2017) hoor ons hoe deelnemers hul entoesiasme verklaar: “Exploration is ingrained in our DNA” en “We have to get off this planet and land on Mars”.

Die redes wat dus aangevoer word vir die kolonisering van die buitenste ruimte – en veral Mars – is die belofte van oorvloedige hulpbronne, die onversadigbare dryfkrag van die mens om te verken en die potensiaal vir menslike groei en meer verbruik. Die mite van oneindige vooruitgang is duidelik aan die werk en die vooruitsig om na ’n onbesmette postapokaliptiese planeet te emigreer, word baie aanloklik aangebied – ten minste vir ’n elite-groepie ruimtetoeriste en avonturiers wat dit kan bekostig.

 

3. Wat beteken dit om te woon?

In die opstel “Building dwelling thinking” (Bauen Wohnen Denken) besin Martin Heidegger oor wat dit beteken om te woon in onsekere tye. Hy (2009[1971]:144) merk op dat “today’s houses may even be well planned, easy to keep, attractively cheap, open to air, light, and sun, but – do the houses in themselves hold any guarantee that dwelling occurs in them?” Heidegger betwyfel dus of moderne behuising ware wonings kan word, omdat blote verblyf of beskutting nie noodwendig woning verseker nie, want “not every building is a dwelling” (2009[1971]:143). Trouens, Heidegger (2009[1971]:157, oorspronklike klem) beklemtoon: “Only if we are capable of dwelling, only then can we build.” Vir hom kom “om te woon” eerste; en dit is die drang om te woon wat ons tot bou aanspoor: “We do not dwell because we have built, but we build and have built because we dwell, that is, because we are dwellers” (Heidegger 2009[1971]:146, oorspronklike klem).

Deur “om te woon” voor “om te bou” te plaas, konfronteer Heidegger ons met die noodsaak om ons verhouding met plek en ons menswees te heroorweeg. Deur die etimologiese oorsprong van die werkwoord “om te bou” na te spoor wys Heidegger dat in die Oudhoogduits dit beteken het “om te bly”, “om oor te bly” of “om op ’n plek te bly” (Anderson 2021:7). Heidegger wil ons dus daaraan herinner dat ons wesens is wat op ’n spesifieke plek woon. Kortweg: “To be a human being means to be on the earth as a mortal. It means to dwell” (Heidegger 2009[1971]:145). As ons hierdie stelling as uitgangspunt aanvaar – naamlik dat ons wesens is wat woon – dan handel die vraag na egte woning of tuiskoms nie meer net oor behuising nie, maar verwys dit na ons bewoning van die planeet Aarde. Soos Heidegger dit stel, gaan die vraag oor wat dit beteken “om te woon” juis oor wat dit beteken om “op die aarde” (op ’n bepaalde plek) te wees, en om “’n sterfling” te wees (’n bepaalde soort wese).

Een van die gevolgtrekkings wat gemaak kan word, is dat om te woon vir die mens op die Aarde voorbehou is. Volgens Heidegger: “mortals dwell in that they save the earth”, wat nie net verstaan moet word as die blote poging om te Aarde te red nie (soos in hedendaagse klimaatsveranderingdebatte nie), maar meer nog, om die Aarde vry te stel “into its own presencing” (Heidegger 2009[1971]:148). Dit beteken dat om op die Aarde te woon is om vrygestel te word om met die dinge en ander lewende wesens daarop te woon. Daar is egter ook ’n verskil tussen die blote woon op die Aarde en woon met die Aarde. Indien die Aarde bloot ’n plek is waarop mens woon, dui dit op heerskappy en onderdrukking, terwyl om met die Aarde te woon ’n gemeenskaplikheid tussen verskillende wesens en dinge vooronderstel. Heidegger verduidelik dit soos volg: “To save the earth is more than to exploit it or even wear it out. Saving the earth does not master the earth and does not subjugate it, which is merely one step from spoliation” (Heidegger 2009[1971]:148). Hierdie stelling mag dalk vreemd klink vir ’n hedendaagse gehoor, want ons geïnternaliseerde staat van tuisteloosheid en die omgewingskrisis dwing ons om eksoplanete en multiplanetêre bewoning as normatief te aanvaar. Die belangrikste vorm wat hierdie ontvlugting aanneem, is die beplande kolonisasie van Mars. Die sogenaamde ruimte-optimiste stel voor dat ons as ’n spesie nie deur die gedagte van woon verhinder moet word om die sterre in te vaar nie (ad astra per aspera). Die probleem van woning moet ons nie keer om die ruimte en Mars, in die besonder, te verken nie, want ons kan skynbaar volgens hulle woon terwyl ons ontdek.

In hierdie ontleding sal die vraag na wat dit beteken om te woon verplaas word na die vraag of dit moontlik is om op Mars te woon. Die hipotese wat ek hier wil voorstel, is dat ons moontlik wel op Mars sal kan skuiling vind en selfs oorleef, maar dat om te woon, soos in die besonder deur Heidegger uiteengesit, ’n onrealistiese droom mag bly. Sommiges mag dalk meen dat ons in elk geval nie op die Aarde kan woon nie; met ander woorde, dat die vraag na woning in elk geval nie haalbaar is nie. Nietemin bly die vraag na woon steeds ’n grondige aanduiding van ons plek as mense hier ter plaatse. In die agtergrond werk die aanname dat om te woon deur ’n besonderse en spesifieke plek, toestand en wese bemiddel en beliggaam word, alvorens woning moontlik is.

Ek stel voor dat Heidegger se raamwerk van die viervoud (das Geviert) ’n goeie beginpunt mag wees om te gis oor die vorme wat woning op Mars mag aanneem al dan nie. Indien om te woon iets is wat mense doen sonder om eers daaroor na te dink, juis omdat “mense in wese inwoners is”, wat beteken dit in terme van die konteks op Mars? Ek wil nie voorgee dat Heidegger se idees oor woning en die viervoud nie problematies is nie, of dat sy idees nie deur sommiges as outyds of selfs as onvanpas bestempel word nie.3 Ek aanvaar dat Heidegger tot ’n sekere tyd en wêreld behoort het, maar ek is tog oortuig dat sy idees oor woning en die viervoud steeds as ’n vrugbare hermeneutiese lens gebruik kan word. In die besonder kan dit ons help om ons toekomstige bewoning van Mars te ondersoek deur veral na die rol van plek en die huis in hierdie nuwe avontuur te vra. Ek sal nie ’n nougesette lees van Heidegger se teks aanbied nie, maar eerder ’n interpretasie wat lig kan werp op die diskoerse en debatte rakende interplanetêre woning.

Die basiese strekking van my argument is ’n poging om as teenvoeter teen populêre wetenskaplike voorspellings te dien, naamlik dat Mars eintlik “heel tembaar” (Hixon 2021:211) en maakbaar is. Mars word dikwels as vormloos, chaoties en ’n braakland beskryf. Hierdie beskrywings is nie onskuldig nie en dit word deur ’n politiek van tegnowetenskaplike beheer aangevuur. Die oplossing wat voorgestel word om Mars se vormloosheid te oorkom, is om die planeet aan ’n nuwe tegnoformalisme te onderwerp, wat ook bekend staan as veraardsing. Die veraardsing van Mars word daarom deur verskeie astrofisici en wetenskaplikes voorgestel as enigste oplossing vir langtermyn- menslike vestiging:

How can we live in such an inhospitable environment? The answer lies in the creation of warming techniques that will increase the density of the atmosphere – in short, reengineering the entire planet to become more Earthlike. That process is called terraforming, and it will take centuries to complete. But it can – and will – be done. (Petranek 2015:59)

Die aanname dat Mars tot ’n woonbare omgewing “gewil” en “gekonstrueer” kan word, sal krities hier ondersoek word. Mars is, soos die Aarde, ’n besonderse en bepaalde plek met ’n spesifieke vorm wat moontlik nie menslike verwagtinge en behoeftes van wat dit beteken om te woon, sal kan waar maak nie. Trouens, my vertrekpunt is dat Mars se vorm slegs geopenbaar sal word in die ervaring en beliggaming van Mars. Eers dan sal ons verstaan watter soort plek Mars waarlik is.

 

4. Om in die viervoud te woon

Die viervoud bestaan uit sterflinge of die mens, wat sterflik genoem word omdat hulle kan sterf; die onverganklikes of gode is “the beckoning messengers of the godhead”; die Aarde is “the serving bearer, blossoming and fruiting, spreading out in rock and water, rising up into plant and animal”; en uiteindelik die Hemel as “the vaulting path of the sun, the course of the changing moon, the wandering glitter of the stars, the year’s seasons and their changes, the light and dusk of day, the gloom and glow of night, the clemency and inclemency of the weather, the drifting clouds and blue depth of the ether” (Heidegger 2009[1971]:147–8).4

Ons menslike bestaan word, volgens Heidegger, deur die samekoms en ontsluiering van die viervoud as ’n vorm van “utter relationality” (Mitchell 2015:208) onthul. Dit beteken indien mens na die Aarde verwys, word die ander drie entiteite ook onmiddellik opgeroep, en dieselfde geld vir die Hemel, sterflinge en onsterflikes. Ons kan nie aan die een dink sonder om die ander te impliseer nie, want soos Heidegger (2009[1971]:147) dit treffend verduidelik: “‘on the earth’ already means ‘under the sky’”.

Alhoewel die viervoud tot ’n “primal oneness” (Heidegger 2009[1971]:147, oorspronklike klem) behoort, kan die vier tog nie tot mekaar gereduseer word nie, wat beteken dat die Aarde nie tot die Hemel gereduseer kan word nie, of sterflinge tot onverganklikes nie. Die viervoud bly uniek en enkelvoudig in hul samekoms en onthulling want “each member forms a bridge by which the thing relates to the world” (Mitchell 2010:215). Dus, alhoewel dit ’n oereenheid vorm, kan die viervoud nie in onderskeibare eenhede verdeel word nie. Dit beteken die beginsel van die viervoud bemoeilik die moontlike verhuising na Mars, want ten einde op Mars te kan woon sal die viervoud noodwendig in afsonderlike en beheerbare komponente verdeel moet word. Hiervolgens sal die noue verband wat daar tussen die elemente van die viervoud bestaan noodwendig op Mars verander en vervorm word. Sommige van die verhoudinge sal selfs opgehef moet word, soos byvoorbeeld die verband tussen sterflikheid en onsterflikheid. Daarteenoor beklemtoon Heidegger dat die onthulling of openbaring van die viervoud nie tot “the moulds of total revealing” (Joronen 2013:634) afgeskaal kan word nie. Met ander woorde, die onthulling kan nie voorspel, gemanipuleer of bereken word nie, en nog minder kan dit volkome onthul word. Hieruit kan afgelei word dat die Aarde volledige berekening en onthulling weerstaan en nie volkome geken kan word nie; dieselfde geld vir die ander elemente binne die viervoud.

Hierdie werking van onthulling word veral in Heidegger se The origin of the work of art (1975) ontgin, waarin hy oor die aard van die kuns en waarheid besin. In die essay word die kunswerk in die besonder hanteer as die plek waar die waarheid moontlik onthul kan word omdat dit juis ’n opening skep vir die gebeure om te ontvou. Interessant genoeg, beklemtoon Heidegger dat die kunswerk in sy openbarende werking nie beheer kan word nie, maar net kan gebeur of vrygestel kan word. Die kunstenaar is nie in beheer van hoe die kunswerk se werking gaan ontvou nie, net soos die kunswerk ook nie bloot ’n produk van ons smaak of estetiese kategorieë is nie. In ’n besinning oor Heidegger en sy hantering van die skildery deur Vincent van Gogh waarin die skoene van ’n boerin uitgebeeld word, word dit soos volg verduidelik:

Dit is ook daarin wat die essensie van kuns vir Heidegger opgesluit lê, naamlik die vermoë van kuns om die waarheid van ’n bepaalde lewenservaring aan die woord te stel. Of dan die vermoë van kuns om ’n opening of ruimte te skep waarin of waarop die waarheid tydelik kan verskyn. Kuns gaan dus gepaard met ’n ontologiese waarheid wat onthul word. Die onthulling word ook weer opgevolg deur ’n verberging. Dit beteken in die mate wat die openbaring lei tot ’n ontsluiting, gaan dit terselfdertyd ook weer met ’n onttrekking of versluiering gepaard. (Du Preez 2020:21)

Op dieselfde wyse kan ons ook nie die Aarde of die mens volledig ken nie; al vind vorme van onthulling plaas (daar is bv. oorvloedige inligting oor mense en die Aarde beskikbaar), is daar ook terselfdertyd ’n “resistance of concealment” (Joronen 2013:634) wat plaasvind. In aansluiting by die groter tema wat hier ontgin word, kan daar na analogie van die kunswerk wat ten dele openbaar, maar nooit volledig nie, ook geantisipeer word dat ons uitbeeldings en fiksies rakende Mars ook net ten dele tot ’n onthulling lei. Mars kan dus nie volkome deur ons verbeelding geopenbaar word nie.

Vir buitensteruimtereise en die kolonisering van Mars sal ons berekende aannames moet maak oor sowel sterflinge as die Aarde, en by implikasie ook oor die Hemel en die onsterflikes. Indien mens dus op Mars wil woon, sal die Aarde (ook die mens, die gode en die Hemel) volledig geken en geopenbaar moet word. Met ander woorde, ons sal moet optree en beplan asof die ontvouing van die menslike bestaan tussen die kragvelde van die Aarde, die Hemel, sterflinge en onsterflikes reeds volledig aan ons geopenbaar is. Hierdie benadering hoort tot die Gestell wat Heidegger in sy essay “The question concerning technology” (1977) verduidelik. Heidegger se begrip van die Gestell, wat moontlik as opstelling of omraming vertaal kan word, verduidelik die aard van die werklikheid in die era van moderne tegnologieë. Dit is belangrik om daarop te let dat hy wel ’n onderskeid tref tussen moderne en tradisionele of ouer tegnologieë. Volgens Heidegger word ons binne die nuwe tegnologiese bestel of “mode of ordering” gebore (Heidegger 1977:24) en daarom verskyn die werklikheid aan ons altyd alreeds van binne die tegnologiese realiteit. Hy skryf: “[Man] can never take up a relationship to it [technology] only subsequently” (1977:24). Dit beteken dat die vrae en bevraagtekening van hoe die verhouding ontstaan het, altyd reeds té laat is. Vir Heidegger is die Gestell dus nie die tegnologie self nie, maar eerder “what essentially comes to pass in technology” (Caputo 1993:182). Dit beteken dat die Gestell “[...] is nothing technological, nothing of the order of a machine. It is the way in which the real reveals itself as standing-reserve” (Heidegger 1977:23). Die tegnologiese omraming stel die werklikheid dus op as bronmateriaal (“standing reserve” of Bestand) waarvolgens alle dinge vir verbruik en gebruik beskikbaar gestel word: “This means that the world comes to us in this age as a place where all things and, in particular, the material world are reduced to usable materials standing-by, waiting to be unlocked, transformed, stored up and distributed – a standing reserve (Bestand)” (Du Preez 2009:41).

Heidegger maak egter ’n onderskeid tussen die wyse waarop die wêreld deur en in die viervoud ontvou teenoor hoe dit deur tegnologiese omraming bemiddel word. Die viervoud skep ’n opening vir dinge om te gebeur, maar anders as die tegnologiese raamwerk belowe dit nie deursigtigheid nie.

Ten slotte: in die viervoud bestaan die sterflinge “in the fourfold by dwelling” (Heidegger 2009[1971]:148, oorspronklike klem). Dit beteken sterflinge is inwoners, en dié wat woon. Die plek waar hulle woon is op die Aarde, volgens Heidegger. Vir Heidegger sal die Aarde nie deur die Gestell en sy berekende werksaamhede gered word nie, maar eerder deur toe te laat dat die Aarde geopenbaar word, in verhouding tot die Hemel, soos dit ontvou in verhouding tot die drama van sterflinge en onsterflikes. Hy (2009[1971]:148) voeg by:

Mortals dwell in that they receive the sky as sky. They leave to the sun and the moon their journey, to the stars their courses, to the seasons their blessing and their inclemency; they do not turn night into day nor day into a harassed unrest.

Daarteenoor wil ek hier redeneer dat ons bestaan anders sal ontvou in die buitenste ruimte en veral op die Mars-oppervlak, aangesien ons verhouding tot die viervoud van die Aarde en Hemel sal verskuif, net soos ons verhouding tot sterflikheid en onsterflikheid onherroeplik sal verander.

 

5. Om op Mars te woon

Ek sal nou die vraag van wat dit beteken om te woon ontleed aan die hand van die vier komponente van die viervoud; met ander woorde, hoe sal sterflinge en onverganklikes, Aarde en Hemel, as sfere in die menslike bestaan moontlik op die planetêre oppervlakte van Mars ontvou? My verdeling van die elemente van die viervoud in afsonderlike kategorieë en entiteite is natuurlik bloot vir spekulatiewe doeleindes, aangesien daar soos reeds aangedui geen ware skeiding van die viervoud in afsonderlike dele moontlik is nie.

5.1 Sterflinge (op Mars)

Oorlewing is nie ’n gegewe op Mars nie. Petranek (2015:44) verduidelik die probleem soos volg: “Humans need four things to survive on Earth – food, water, shelter, and clothing. Humans need five things to survive on Mars – food, water, shelter, clothing, and oxygen.” Dit is omdat die Aarde waarskynlik die enigste planeet in die kosmos is wat “ontwerp” is vir menslike longe om suurstof uit die atmosfeer te onttrek. Hannah Arendt (2019[1958]:62) het reeds in The human condition voorgestel dat die Aarde nie net “the quintessence of the human condition” is nie, maar dat hierdie “earthly nature” moontlik uniek in die heelal is. Die Aarde bied aan mense ’n woonplek waarbinne hulle sonder ondersteuning en belangriker nog sonder tegnologiese ingrepe kan beweeg en asemhaal. Met ander woorde die Aarde is ’n geskenk vir sterflinge.

Op Mars ontvou ’n heel ander prentjie; geen asemhaling sonder tegnologiese bemiddeling sal moontlik wees nie – nie binne of buite nie. Die binnenshuise klimaat sal beheer moet word en buite-ekspedisies kan slegs met behulp van ruimtepakke onderneem word. ’n Mens kan nie sommer op Mars gou ’n entjie gaan stap en die wind op jou vel voel nie. Selfs om buitentoe te gaan, sal in ’n sekere opsig steeds wees soos om binne ’n “mobile cocoon” (Peters 2020:241) te beweeg. Indien jy ’n klip optel, gaan dit slegs met behulp van die handskoen van jou ruimtepak moontlik wees (Figuur 5).

Figuur 5. Dotted Yeti, Life on planet Mars, astronaut discovers tiny Martians, 2019. Aangekoop van Shutterstock

Daar is dus geen moontlikheid om sterflikheid op Mars te vergeet nie, nie eers vir ’n sekonde nie, want die impak sal so onmiddellik wees as om die helm van die ruimtepak af te haal. Die rede hiervoor is dat Mars ’n dun atmosfeer met slegs 0,13% suurstof (teenoor die Aarde se 21%) het en die lugdruk is ook aansienlik minder (minder as 1% van die Aarde se lugdruk). In sy pseudowetenskaplike werk The red planet. A natural history of Mars verduidelik Simon Morden (2022:8) hoe buitelugekspedisies moontlik mag verloop:

The only thing keeping you alive at the moment – and every moment you’re outside – is the suit you’re wearing. Your life is measured in the minutes of air on your back and the watts in your batteries. If the tanks run empty, you will die quickly. If the heater circuits fail, you will die slowly.

Suurstof en lugdruk is nie die enigste kritiese komponente wat Aardlinge op Mars sal belemmer nie; daar is ander dreigende gevare soos dodelike kosmiese bestraling, ’n onherbergsame klimaat (die temperatuur wissel tussen 20 en minus 153 grade Celsius) en verminderde swaartekrag. Sodra hierdie lewensbedreigende risiko’s hanteer is, kan daar na kwessies soos stof, beknopte ruimtes, isolasie, die verlies aan beendigtheid en versteurde sirkadiese ritmes gekyk word.

Waar en hoe mense dus op Mars teen hierdie onherbergsame omgewing gaan skuil, is van kardinale belang. Een van die gewildste voorstelle is dat mense ondergronds sal moet woon ten einde aan die bestraling te ontsnap. Daar is ook voorstelle vir tydelike oppervlakbewoning. Die belangrike aspek om te beklemtoon, is dat daar geen spontane vestiging op Mars moontlik is nie, met ander woorde dit is nie asof mens deur ’n kloof kan stap en besluit om ’n huis te bou wat dalk ’n mooi uitsig kan bied nie. Dit lei tot die vraag: Wie bou op Mars? Die kort antwoord blyk te wees dat dit nie mense sal wees nie, maar robotte wat die konstruksiewerk op Mars sal doen.

Bouwerk en masjien sal dus verweef wees in die oprig van wat mens slegs as woonmasjiene kan beskryf. Die direkte verwysing wat hier in die agtergrond werk, is die modernistiese argitek Le Corbusier (1887–1965) wat in die vroeë 20ste eeu die probleem van behuising tot ’n rasionele vraag rondom funksie en vorm verskraal het, of soos hy dit gestel het: “The house is a machine for living” (Le Corbusier 1986:4). Volgens Le Corbusier se logika word die huis dus ’n instrument – dit is mooi in die mate wat dit funksioneel is. Indien dit die belangrikste vereiste is wat aan ’n huis gestel word, naamlik om funksioneel te wees, maak dit sekerlik ook sin om die bou van behuising op Mars aan robotte oor te laat. Wat kan immers meer funksioneel wees?

Volgens Le Corbusier, en later die Amerikaanse argitek Buckminster Fuller (1895–1983), word die probleem van “om te woon” in afsonderlike, objektiewe en funksionele eenhede verdeel. Op soortgelyke wyse sal oorlewing op Mars vereis dat die menslike bestaan gekompartementaliseer word, deur van wat bekend staan as “cabin-ecology design” (Schmedes 2021:158) gebruik te maak. Hiervolgens word alle aktiwiteite nie nét gekompartementaliseer nie, maar aktiwiteite sal ook meestal insulêr wees en nie oop of na buite toe gerig nie. Binne en buite sal baie diskrete omgewings wees, aangesien geen venster byvoorbeeld oopgemaak kan word om die buitekant binne te laat nie.

Die dialoog tussen binne en buite waaraan ons in huise op die Aarde gewoond is en wat woning grootliks moontlik maak, sal op Mars uiters beperk wees. Nog sterker gestel: om op Mars te leef (of liewer te oorleef) kan eerder met gevangenskap vergelyk word. Dit is ’n bekende feit dat tronke so ontwerp word dat dit ’n gevoel van tuiskoms en woon aktief ondermyn. Daarom skryf Guenther (2018:68) dat “a prison is arguably the opposite of a home; it is […], a site of ethical loneliness, designed to undermine rather than support the constitutive relationality of its inhabitants”. Soortgelyk lyk die ontwerpe vir Mars-behuising soos afgesonderde kajuite of mikrosfere; dit bevorder eerder ’n toestand van “co-isolation” en “isolated connectivity” (Couture 2015:65). My voorspelling is dat die fenomenologiese ervaring van behuising op Mars vir sterflinge eerder gaan ooreenstem met die gevoel van selfopgelegde gevangenskap of ballingskap, as ’n tuiskoms.

5.2 Aarde (op Mars)

Soos voorheen aangedui, staan Mars en die Aarde in ’n analogiese verhouding; dit beteken ons kan die Mars-landskap slegs beskryf en ontsluit in terme van aardse omgewings en klimate. Ons verstaan Mars dus aan die hand van die Aarde, byna soos ’n suster- of tweelingplaneet. Gevolglik word Mars, in aardse terme, beskryf as ’n verlate plek, ’n dorre en lewelose woesteny. Die Mars-terrein word daarom dikwels met woestyne op Aarde vergelyk soos die Atacama-woestyn in Chili, dele van Arizona en Hawaii se skildvulkane.

Trouens, Mars is al op die Aarde nageboots deur verskeie analoë missies waarin menslike reaksies onder Mars-agtige toestande op die Aarde getoets is. Voorbeelde is die Biosfeer 2 lewensruimte-eksperiment (1991–1993), die Desert Rats (D-Rats)-projek in die Arizona-woestyn (2009–2012) en meer onlangs die Hawaii Space Exploration Analog and Simulation (HI-SEAS)-projek (2012–2024). Hierdie missies dien as oefenlopies vir wat op Mars verwag kan word, met dié een groot verskil, naamlik dat die analoë missies steeds op die Aarde afspeel.

’n Verdere ooreenkoms tussen die twee planete is die verskynsel van die sandstorm in aardse woestyne en stofstorms op Mars. Op Mars is stofstorms egter nie tot sekere streke beperk nie, maar kom globaal een keer elke drie Mars-jare voor en kan vir maande duur. Daar is egter ’n verskil tussen ’n sandstorm en ’n stofstorm soos reeds gesuggereer: “Dust is not the same as sand. What we call sand is simply the fraction that is driven before the wind […]. Dust, on the other hand, becomes part of the wind, and only drops when the wind can no longer hold it up,” skryf Morden (2022:163). Dit beteken die ysteroksiedstof wat alomteenwoordig op Mars is, sal nie nét orals insypel nie, maar indien mens op Mars sou woon, sal stof “inevitably [end] up as a feature of every Martian visitor’s diet” (Morden 2022:163); alle Mars-bewoners sal letterlik stof eet. Vir sterflinge wat diep vertroud is met die aard van stof, want ons is immers wesens wat uit stof gemaak is en tot stof sal terugkeer, is die gedagte om ook stof te eet nogal ’n onheilspellende vooruitsig. Letterlik verstaan, beteken dit ons sal op ’n daaglikse basis aan ons eie verganklikheid deelneem.

Figuur 6. Ron Howard, Mars S1 E4: “Power”, National Geographic, 2016. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik

In die onlangse National Geographic-dokudramareeks Mars (Ron Howard 2016–2018), sien ons in episodes 4 en 5 (Reeks 1) wat die verwoestende impak van ’n stofstorm op die nuut gevestigde kolonie van sterflinge is (Figuur 6). Die stofstorm wat twee maande duur, het noodlottige gevolge vir die nuwe pioniers. Onder meer verloor hulle die hele oes van nuwe aangeplante gewasse omdat die sonpanele nie genoegsame (indien enige) energie kan opwek nie en daarom daal die temperatuur drasties in die habitat. Die botanis verantwoordelik vir die plante en nuwe aanwas pleeg selfmoord deur die lugluike oop te maak en die ongenaakbare Mars-klimaat binne te laat. Dit nadat hy verklaar dat mense niks is sonder plante nie. Sy uitspraak is moontlik ’n voorbode van wat dit beteken om op Mars te woon, alhoewel wetenskaplikes voorspel dat daar van ondergrondse kweekhuise met kunsmatige beligting gebruik gemaak sal word om gewasse te kweek (Hixon 2021:249). Daar is dus nie sprake van uitgestrekte lande van gewasse en plantasies op Mars se bodem nie. Dit staan in diepe teenstelling met byvoorbeeld die beeld wat die Sowjet-Oekraïnse Alexander Dovzhenko in sy film Земля (Aarde) (1930) geskep het (Figuur 7). Dié film kan as ’n ode aan die Aarde en vrugbaarheid vertolk word waar sonneblomlande en koringgerwe wieg in die wind; hierteenoor sal vegetasie in ondergrondse bunkers op Mars versteek moet word terwille van oorlewing.

Figuur 7. Alexander Dovzhenko, Земля (Aarde), 1930. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik; kopiereg het reeds verval

Mars is dus ’n eienaardige stowwerige woestyn. Maar watter soort plek is ’n woestyn? Wie woon in die woestyn, en hoe woon ’n mens in ’n woestyn? Kultureel word die woestyn dikwels as ’n mitologiese landskap verstaan. Om in die woestyn rond te dwaal, is om beide versoek en geseën te word deur die gode, of so vertel die mites en legendes ons (vgl. Jasper 2004). Dit is dus ’n plek van afrekening en konfrontasie, openbaring en suiwering (Miller 1994).

Daar is egter die gevaar om die woestyn te romantiseer, want die natuurlike plek en die denkbeeldige een mag hemelsbreed verskil. Dit is een ding om ver van die woestyn af te woon en drome daaroor te hê, maar dit is ’n heel ander werklikheid om in en deur die woestyn te leef en daaraan te behoort. Daarom verwys woestynbewoners soos die Bedoeïene en Touareg na die woestyn as ’n eiesoortige en unieke plek. Volgens egte woestyninwoners word ’n mens se wese diep deur die omgewing gevorm: “The desert constructs persons and their identities: they are it” (Hamarneh 2014:92). As die Mars-woestyn selfs nét tot ’n geringe mate hiermee ooreenstem, beteken dit dat die bewoning van Mars beslis die wese van sy bewoners gaan transformeer en ook op wyses wat ons moontlik nie van ’n Aardse gesigspunt nou alreeds kan vooruitloop nie.

5.3 Hemel (op Mars)

Vir diegene wat blou lug op die Mars-horison verwag, wag daar ongelukkig ’n groot ontnugtering. Mars se dun atmosfeer, wat minder as 1% van die Aarde s’n is, het ’n rooierige en dynserige voorkoms as gevolg van die drywende stof. Volgens wetenskaplikes “the sky can appear bluish at dusk […] during the day it is usually reddish-brown because of the constant dust” (Bizony 2022:62). Hoe verstaan ons rooibruin of dynserige lug op die Aarde? As mens na beelde van die onlangse brande in Los Angeles kyk waarin die lug rooi en onheilspellend is, word dit gelees as tekens van verwoesting en letterlik vertolk as “hel op Aarde”. Daarteenoor sal die rooierige en dynserige lug die verstekposisie op Mars wees. Trouens, wetenskaplikes voorspel dat: “Everything we look at will seem alien” (Peters 2020:241).

As Aardlinge sal ons beslis die blou lug mis, want die blou lug skep ’n sintuiglike persepsie en gevoel van diepte wat veranderende gemoedstoestande weerspieël en bemiddel (Mitchell 2015:138). Die blou van die oggendglorie verskil byvoorbeeld van die middaghemel, net soos dit ook van skemerlig verskil. Om nie eers te praat van die rol wat wolke speel in ons vertolking en verbeelding van ’n landskap nie. Hier wil ek graag kortliks na die bekende Suid-Afrikaanse landskapskilder J.H. Pierneef verwys, wat by uitstek bekend is vir sy dramatiese uitbeelding van wolke oor die Suid-Afrikaanse landskap. Dit is juis sy ikoniese wolke wat die skoonheid van die Karoo- of Bosveldlandskap so oortuigend uitgebeeld het en steeds deur toeskouers waardeer word. Die drama van wolke soos ons dit op die Aarde ken, sal nie op Mars se horisonne verskyn nie.

Op die Aarde verstaan ons dus die hemelruim as ’n “medium of appearance”, skryf Mitchell (2015:128). Die hemelruim is ’n verhoog waarteen of waarop weerstoestande afspeel en nog meer wat ’n oorheersende rol speel in hoe ons onsself ervaar, beide in temperament en bui (byvoorbeeld as ’n sonnige of “gloomy” persoon). Dit is nie ’n oordrywing om te sê dat die weer ’n ingrypende rol speel in alles wat ons doen en voel nie. Ons lewens speel af in plek en teen die agtergrond van die weer.

Om op te kyk na die hemel onderbreek die daaglikse swoeg en sleur, en ’n mens kan net wonder of die opkyk na die rooi dynserige hemel op Mars dieselfde effek sal hê. Heidegger (2000[1975]:198) stel voor dat die daad van opkyk nie net Hemel en Aarde verbind nie, maar ook die moontlikheid vir woning of tuiskoms skep. Om te woon word juis moontlik gemaak omdat ons van onder af kan opkyk na die dimensies van die Hemel. Hier is die gewone ou boom seker een van die mooiste en beste geleiers tussen bo en onder. As ons buiteaardse wesens was, of “eksterne agente” (Mitchell 2015:122) wat die skouspel van buite af sou waarneem, verval hierdie wederkerige verhouding tussen Aarde en Hemel. Dink byvoorbeeld aan die “overview effect” (White 2014) waarna ruimtereisigers gereeld verwys en wat ’n ingrypende effek op hul belewenis van die Aarde het.

Op Mars sal mens steeds in staat wees om op te kyk na die uitgestrekte uitspansel deur die beskermende visier van ’n ruimtepak. Maar in die onthulling sal die weer anders ontvou, net soos dag en nag langer is, en die seisoene vreemd sal wees. Die son en Mars beweeg in verskillende wentelbane; ’n jaar op Mars neem 665 Aardse dae. Gemoedstoestande, lug en lig sal anders beweeg op Mars. Daar sal geen Maan wees in die naghemel nie, maar twee klein maanliggame, Phobos en Deimos, wat waarskynlik eienaardig sal voorkom. Die son sal teen ’n ander hoek op die horison sit (Figuur 11). Daar is geen atmosfeer om die sonstrale te versprei nie, of om wolke te huisves of voëls te laat vlieg nie. Die droë rotse is die enigste dinge wat skaduwees werp op die Mars-landskap – sonder bome, rivierlope of oseane om die oog te lei. Mars is ’n ewigheid van verlatenheid. Die verhouding tussen Hemel en Aarde sal dus andersoortig op Mars wees en daarmee saam sal dit ’n ander gemoedstemming skep. Sal dit dalk in die toekoms beskryf word as die “Mars blues” of eerder die “Mars reds”?

5.4 Onverganklikes of gode (op Mars)

Ek sluit af deur na die laaste element van die viervoud te verwys, naamlik watter soort onverganklike wese sal in staat wees om op Mars te wandel of as teenspeler vir sterflinge op te tree. Hier sal die leser gevra word om ’n interpretatiewe sprong te maak aangesien die kategorie van onsterflikes nog nie bestaan nie en die sfeer tot ’n groot mate fiktief van aard is. Dit beteken dat die voorbeelde wat hier behandel word vanuit ’n spekulatiewe en wetenskapsfiktiewe oogpunt hanteer word. Indien nog ’n voorlegging van die NASA 3D-Printed Habitat Challenge van 2018 byvoorbeeld bestudeer word, naamlik die Team SEArch+/Apis Cor se voorlegging,5 kan ons sien hoe Marsonaute besig is met hul daaglikse aktiwiteite, terwyl stofwolkies rondom hul voete dwarrel. Ons kan nie hul geslag, ras, geloof, gesigsuitdrukking of liggaamshouding onderskei nie. Hulle lyk almal dieselfde en alhoewel hulle as afgesonderde eenhede in hul ruimtepakke beweeg, lyk die figure tog eenders. Dit bevestig die antwoord wat talle aansoekers vir die Mars 100-projek gegee het oor waarom hulle na Mars sal wil verhuis, naamlik om “social division and national and cultural differences” (Tutton 2018:529) te oorkom. Net so is deelnemers aan die Mars One-projek gemotiveer deur die utopiese ideaal, nie nét om Mars te veraards nie, maar ook om die mensdom te transformeer deur die skep van ’n “nuwe sosiale orde” (Tutton 2018:532). Hierdie utopie van ’n nuwe sosiale orde wat sal kan wegdoen met sosiale verdeeldheid, rus uitsluitlik op tegnologiese bemiddeling. Dit is met ander woorde ’n tegnodroom van ’n nuwe planeet waar die nuwe mensdom deur geen verskille en onderskeidinge gekenmerk sal word nie.

Klaarblyklik sal Mars nie deur gewone sterflinge bewoon word nie, maar deur aangepaste en opgedateerde wesens wat verby hul onderlinge (etniese, religieuse en geslag-) verskille beweeg het en as poststerflinge in harmonie bestaan. Soos duidelik geblyk het uit die vorige bespreking van sterflinge is die menslike liggaam op sigself nie toegerus vir ruimtereise of die strawwe klimaat van Mars nie. Daarom word daar verwys na die genetiese redigering en ander bio-aanpassings wat nodig sal wees om die mens in ’n hervormde interplanetêre spesie te omskep (Shelhamer 2020:101). Skynbaar is dit nie net die menslike biologie wat ’n probleem is vir astrobioloë en ruimtesielkundiges nie, maar ook die psigologie van die toekomstige Mars-bewoners. Een van die grootste bekommernisse is wat geïdentifiseer word as “fear of interplanetary sin transfer” (Peters 2020:242), wat beteken dat die wandade van die mensdom op die Aarde moontlik op Mars voortgesit mag word. Die voorstel is om van sogenaamde “gene editing” gebruik te maak waarvolgens andersoortige gedragspatrone aangemoedig sal word deur die “sin genes” te vervang met “virtue genes” (Peters 2020:244). Hierdie benadering huldig natuurlik ’n oorgedetermineerde beskouing van ons gene en die rol wat dit speel in ons gedrag en onderskat hoe gedrag deur plek en blootstelling beïnvloed word. Dit impliseer ook dat ons gene blote kodes is wat vir beter “resultate” gemanipuleer kan word.

Die idee om die menslike vorm aan te pas vir buiteaardse omgewings en ruimtevaart is vir die eerste keer deur die Amerikaanse wetenskapsfiksieskrywer James Blish (1921–1975) in sy kortverhaalbundel The seedling stars (1957) voorgestel. Blish (1952:8) identifiseer ’n hipotetiese proses wat hy “pantropie” noem, waarvolgens die menslike liggaam vir buiteaardse bestaan aangepas kan word deur die aantal chromosome in elke sel te verhoog. Die term pantropie suggereer dat alles veranderbaar en maakbaar is. In Blish se wêreld lei pantropiese genetiese ingenieurswese tot die skepping van mutante wat “Aangepaste Mense” genoem word. Dit is interessant dat die term kuborg ook vir die eerste keer deur Clynes en Kline (1960) gebruik is, om te verwys na die aanpassings wat nodig sal wees om die menslike liggaam vir ruimtevaart voor te berei. Natuurlik kan ons Heidegger se waarskuwing rakende die verreikende gevolge van die Gestell hier waarneem, omdat die menslike aard en vorm inderdaad in die kuborg tot blote materie en substansie vir tegnologiese ingrype gereduseer word.

Die etiese vraag wat Blish se verhaal uitlig, is die dilemma dat die nuwe aangepaste interplanetêre wesens nou in ’n ander verhouding teenoor die gewone Aardbewoners staan. Nog meer: hulle kan nie meer terugkeer na die Aarde nie, selfs al sou hulle wil. Ons kan dus redeneer dat sulke getransformeerde wesens in ’n veranderde verhouding met sterflikheid staan, asook met die Aarde en die Hemel.

Figuur 8. Mark Elijah Rosenberg, Approaching the Unknown, 2016. Toestemming vir gebruik nie nodig nie – billike gebruik

Hierdie veranderde aard kan duidelik in die wetenskapsfiksiefilm Approaching the Unknown (Mark Elijah Rosenberg 2016) waargeneem word. In die film verander kaptein William Stanaforth (Mark Strong) na sy landing op Mars in ’n getransformeerde wese wat alle verbintenis met die Aarde en sy eie sterflikheid aflê. Wanneer hy nadink oor sy nuwe toestand terwyl hy oor die Mars-landskap uitkyk, sien hy homself as ’n onsterflike godheid: “Nothing has ever lived here. Nothing has ever died here. Maybe I’ll live forever” (Figuur 8). Hierdie nuutgevonde onsterflikheid beteken dat Stanaforth in ’n ander verhouding met sy eie menslikheid getree het, maar hy doen dit onbewus van die nuwe ontvouing van die viervoud; want die grond waarop hy staan, is nie meer die Aarde nie en dit waarna hy opkyk, is ’n ander Hemel. Die viervoud is ontbind.

Daarom toon Rubenstein in “Above us, only sky” (2021) aan dat, wanneer ons die Aarde van buite af sien – en dit kan uitgebrei word na die toestand om sig van die Aarde te verloor – verander ons in andersoortige wesens. Volgens haar is hierdie nuwe toestand “becoming something other-than-human: a departicularized ‘brother’ at best and pseudodivine master of the universe at worst” (Rubenstein 2021:147). Trouens, hierdie onverganklike toestand is reeds in die hippie-tegnopublikasie Whole Earth catalog gepropageer: “We are as gods, and we might as well get good at it” (Brand 1968, oorspronklike klem). Met ander woorde, terwyl ons die Aarde van buite beskou, kan ons netsowel ons goddelike aard aanvaar en onsself oefen in die nuutgevonde onsterflikheid, beweer die Whole Earth catalog. Gegewe die voorafgaande ontleding sou ek voorstel dat dit ’n uiters gevaarlike en twyfelagtige terrein is vir sterflinge om te betree.

 

6. Hoe woon mens op Mars?

In die bespreking hier bo het ek idees en moontlikhede ondersoek oor hoe ons op Mars sal kan woon en dan ook hoe hierdie woning ten opsigte van die verhouding met die viervoud op Mars sal ontvou. In die slotsom sal ek poog om slegs ’n paar gevolgtrekkinge saam te vat vir wat dit beteken “om te woon”, gemeet aan die viervoud soos dit op Mars mag ontvou.

Ten eerste moet ek beklemtoon dat my ontleding nie suggereer dat Mars nie ’n plek is nie. Mars is inderdaad ’n plek, maar dit is nie soos die Aarde noodwendig ’n plek vir menslike woning nie. In die dokudramareeks Mars (2016–18) sê die Mars-bevelvoerder, Hanna Sueng, in reaksie op die onrealistiese opdragte wat sy vanaf die Aardse beheersentrum ontvang: “They don’t know Mars”. Dit is ook wat ek wil beklemtoon in hierdie ondersoek na wat dit mag beteken om op Mars te woon. Mars se plekheid is nog onbekend aan ons en al ons projeksies word vanuit en vanaf die Aarde gedoen. Dit is eers in die konfrontasie met Mars as beliggaamde Aardse wesens dat ons Mars se aard en plekheid waarlik sal leer ken.

Ek redeneer dus dat die wisselwerking tussen die vier elemente van die viervoud op Mars sal verskuif of ontspoor en in ’n ander wisselwerking sal tree, juis omdat die verhouding en verbande tussen hulle ontkoppel is van hoe die viervoud op die Aarde ontvou. Op die vlak van sterflinge, skuif die dimensie byvoorbeeld na onsterflikheid of goddelikheid, want slegs ’n transhumane onverganklike wese sal daar kan oorleef. Siekte, beweging en selfs die dood sal vreemd wees en daar is ook geen bevestiging dat geboorte in die laeswaartekrag-omgewings moontlik is nie. As die verstrengelde web van die verhoudings tussen die viervoud soos dit op die Aarde ontvou van mekaar ontkoppel word, loop ons die gevaar om te vergeet hoe om te woon.

Die viervoud sal inplof as die horison die Hemel word en die vooruitsigte van sterflinge onsterflikheid word. Meer nog, sterflinge sal die Aarde as gode van bo uit die hemele ontvang, en nie meer as sterflinge van onder af op die Aarde nie. Dit beteken as mens Heidegger se viervoud in terme van ruimtereise interpreteer, dat anderkant die Aarde se horison, sterflinge nie meer die Hemel as Hemel sal ontvang nie. Met ander woorde, soos die Aarde buite sig verdwyn, verander die begronding wat die Aarde bied om slegs Hemel te word.

Daarmee wil ek ook nie voorstel dat ons nie op Mars sal kan oorleef nie. Indien menswees tot ’n wetenskaplike en tegnologiese probleem verskraal word, is die kanse seker goed dat ons wel sal kan oorleef met behulp van die bemiddeling van tegnologiese ondersteuning. Die vraag is egter of blote oorlewing tot woning kan lei.

Om Mars te ervaar soos ons die Aarde ervaar, lê buite ons menslike sintuiglike vermoëns, behalwe as dit deur tegnologiese ingrepe aangepas en bemiddel word. Al besluit ons ook om arrogant genoeg te wees deur Mars te veraards, is dit geen uitgemaakte saak dat ons Mars sal kan ontvang as ’n plek om te woon soos ons die Aarde as woning ontvang het nie. Indien die visuele filmiese voorbeelde waarmee die artikel begin het herroep kan word, is die besonderse en onvervangbare verhouding tussen mens en Aarde telkemaal bevestig deur die noue verband tussen die viervoud se elemente. Hiermee sluit my ontleding aan by Heidegger (en Arendt) se beskouing, naamlik dat die Aarde aan ons gegee is as ’n geskenk.

 

Bibliografie

Anderson, R. 2021. Down to Earth: Martin Heidegger, Le Corbusier, and the question of dwelling, essentially. Architectural Histories, 9(1):1–15.

Arendt, H. 2019 [1958]. The human condition. Chicago en Londen: The University of Chicago Press.

Bizony, P. 2022. NASA missions to Mars. A visual history of our quest to explore the Red Planet. Beverly, MA: Motorbooks, Quarto Publishing Group.

Blish, J. 1952. Surface tension. Galaxy Science Fiction, 4(5):5–40.

Brand, S. 1968–1970. The last whole Earth catalog. Menlo Park, Kalifornië: Portola Institute.

Caputo, J.D. 1993. Demythologizing Heidegger. Bloomington: Indiana University Press.

Clynes, M.E. en N.S. Kline. 1960. Cyborgs and space. Astronautics, (1960):26.

Couture, J-P. 2015. Sloterdijk. Cambridge, GB: Polity Press.

Crossley, R. 2011. Imagining Mars: A literary history. Middletown, Connecticut: Wesleyan University Press.

Davis, B.W. (red.). 2010. Martin Heidegger. Key concepts. New York en Londen: Routledge.

Du Preez, A. 2009. Gendered bodies and new technologies. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing.

—. 2020. As die skoen so pas; refleksies oor skoene en filosofie. In Malan e.a. (reds.) 2020.

Gál, R.P. en P. Löffler (reds.). 2021. Earth and beyond in tumultuous times. Luneburg, Duitsland: Meson Press.

Guenther, L. 2018. Dwelling in carceral space. Levinas Studies, 12:61–82.

Hamarneh, W. 2014. Welcome to the desert of not-thinking. Canadian Review of Comparative Literature/Revue Canadienne de Littérature Comparée, 41(1):86–98.

Harman, G. 2009. Dwelling with the fourfold. Space and Culture, 12(3):292–302.

Harman, G. en N. Young. 2022. Object-oriented Heidegger: An interview with Graham Harman. Diacritics, 50(2):12–25.

Hart, J. 2019. Terraforming Mars and Marsforming Terra: Discovery doctrine in space. Theology and Science, 17(3):355–65.

Heidegger, M. 1975. “The origin of the work of art”. In Poetry, language, thought. Vertaal deur A. Hofstadter. New York: Harper-Row.

—. 1977. The question concerning technology and other essays. Vertaal deur W. Lovitt. New York: Harper & Row.

—. 2000 [1975]. Observations and the definitive collected edition of the works of Martin Heidegger. F-W von Herrmann (red.). Frankfurt Am Main: Vittorio Klostermann.

—. 2009 [1971]. “Building dwelling thinking”. In Poetry, language, thought. Vertaal deur A. Hofstadter. New York: Perennial Classics.

Hixon, C. 2021. Space nomads. Set a course for Mars. New York: Tiller Press.

Impey, C. 2023. Worlds without end: Exoplanets, habitability, and the future of humanity. Cambridge, Massachusetts: The MIT Press.

Jasper, D. 2004. The sacred desert. Religion, literature, art and culture. Malden, Massachusetts: Blackwell.

Joronen, M. 2013. Heidegger, event and the ontological politics of the site. Transactions of the Institute of British Geographers, 38(4):627–38.

Le Corbusier. 1986. Towards a new architecture. Vertaal deur F. Etchells. New York: Dover Publications.

Malan, K., J. Rossouw en C. Boshoff (reds.). 2020. Knooppunte. Opstelle vir en oor Danie Goosen. Pretoria: Akademia Uitgewery.

Markley, R. 2005. Dying planet. Mars in science and the imagination. Durham en Londen: Duke University Press.

Morse, E.S. 1906. Mars and its mystery. Boston: Little Brown and Company.

McKibben, B. 2010. Earth: Making a life on a tough new planet. New York: St. Martin’s Press.

Miller, P.C. 1994. Desert asceticism and “The body from nowhere”. Journal of Early Christian Studies, 2(2):137–53.

Mitchell, A.J. 2010. The fourfold. In Davis (red.) 2010.

—. 2015. The fourfold. Reading the late Heidegger. Evanston, Illinois: Northwestern University Press.

Monbiot, G. 2009. Heat: How to stop the planet from burning. Cambridge, Massachusetts: South End Publishers.

Neyrat, F. 2019. The unconstructable Earth: An ecology of separation. Vertaal deur D.S. Burk. New York: Fordham University Press.

Peters, T. 2020. Evolving from earthlings into Martians? In Szocik (red.) 2020.

Petranek, S. 2015. How we’ll live on Mars. New York: TED Books.

Rubenstein, M-J. 2021. Above us, only sky. In Taylor, Rubenstein en Carlson 2021.

Schmedes, H. 2021. A laboratory for living off-world: Re-narrating biosphere 2. In Gál en Löffler (reds.) 2021.

Shelhamer, M. 2020. Human enhancements: New eyes and ears for Mars. In Szocik (red.) 2020.

Szocik, K. (red.). 2020. Human enhancements for space missions. Lunar, Martian, and future missions to the outer planets. Cham, Switserland: Springer International Publishing.

Taylor, M., M-J Rubenstein en T. Carlson. 2021. Image: Three inquiries in technology and imagination. Chicago en Londen: The University of Chicago Press.

Tutton, R. 2018. Multiplanetary imaginaries and utopia: The case of Mars One. Science, Technology, & Human Values, 43(3):518–39.

Wallace-Wells, D. 2019. The uninhabitable Earth: Life after warming. New York: Tim Duggan Books.

White, F. 2014. The overview effect: Space exploration and human evolution. Reston, Virginia: American Institute of Aeronautics and Astronautics.

Zubrin, R. 2025. A new plan to make the Mars dream a reality. The New Atlantis: A Journal of Technology & Society, 80(Lente):50–71.

 

Eindnotas

1 Couchsurfing verwys na die fenomeen waarvolgens iemand nie ’n vaste woonadres het nie, maar van die een gasheer se rusbank na ’n ander een swerf.

2 Kyk die Mars One-webwerf (mars-one.com) vir meer inligting, alhoewel dit ’n mislukte projek is, want befondsing is sedert 2018 opgeskort.

3 Kyk in hierdie verband na die bespreking van Harman (2009) en ook ’n onlangse onderhoud (Harman en Young 2022).

4 In die artikel sal ek Hemel deurgaans met ’n hoofletter gebruik ten einde by Heidegger se Himmel aan te sluit, asook om ’n meer transendente betekenis as die blote hemelruim te suggereer.

5 Die voorbeeld kan gesien word by: https://www.nasa.gov/prizes-challenges-and-crowdsourcing/centennial-challenges/3d-printed-habitat-challenge/.

 

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top