Om Karolien te beskerm deur Elsa Winckler: ’n resensie

  • 0

Om Karolien te beskerm deur Elsa Winckler (LAPA, 2025)

Titel: Om Karolien te beskerm
Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9781779870780

Elsa Winckler het geen bekendstelling nodig nie. Sy is ’n veteraanskrywer van meer as 60 kontemporêre liefdesverhale en inspirerende romans vir die plaaslike en internasionale boekemark. Vier van haar boeke het al gesogte ATKV Woordveertjies gewen, naamlik Tussen jazz en rock (2009), Te eenders, te anders (2014), Liefde in laslap (2015) en Blameer die skoenlapper (2019). Haar baie gewilde Romanzas word onder meer gekategoriseer as spanning, stoom 18+ en modern. Elsa is ’n veelsydige skrywer en het selfs twee kinderboeke, sowel as verskeie kortverhale gepubliseer. Sy en haar man woon op Bettysbaai. Hulle het drie kinders en vier kleinkinders.

Ek het pas Elsa se jongste Romanza, getiteld Om Karolien te beskerm, klaar gelees. Die opvolg, Om Isla op te pas, verskyn September by LAPA Uitgewers. Daar is nog twee titels wat in die Bosman Sekuriteite-reeks sal verskyn. Ek voorsien dat hierdie reeks goed sal verkoop. Ek het lekker aan Om Karolien te beskerm gelees en sien uit om die opvolgende drie boeke ook te lees.

Om Karolien te beskerm in ’n neutedop: Stefan Bosman se maatskappy “verskaf enige vorm van sekuriteit wêreldwyd aan regerings, korporasies, nieregeringsorganisasies en sekere individue” (22). Hy open kantore in Kaapstad waar hy sy eertydse skoolvriend, Janco Watermeyer, se suster, Karolien, raakloop. Karolien, sewe jaar jonger as Stefan, is ’n fyngebaksjef wat haar eie suksesvolle patisserie bedryf. Toe sy 16 was, het sy en Stefan gesoen. Hy het daarna uit haar lewe verdwyn. Nou, 12 jaar later, trek hy in die woonstel bo hare in en die vonke spat behóórlik tussen die twee. Dan is daar die gevaarlike Van Deventer-rampokkers wat die lewe vir beide Stefan en Karolien bitter moeilik maak. Sal die liefde seëvier of gaan Stefan maar net weer uit Karolien se lewe verdwyn? Dis die vraag wat my as leser bladsy na bladsy laat omblaai het. Ek het naels gekou tot aan die einde, maar gelukkig, soos dit mos ’n volbloed Romanza betaam, was die einde alles wat ek gehoop het dit sou wees.

.......
Elsa slaag goed daarin om die spanning en intrige snaarstyf te span en die leser se aandag te boei.
.......

Beide Karolien en Stefan is volwaardige, afgeronde karakters waarmee die leser kan identifiseer. Die storie word uit albei se oogpunt vertel, wat die leser verdere insae in hulle handelinge, emosies en gedagtegange gee. Karolien, hoewel 28 jaar oud en beeldskoon, het nie baie ondervinding van die teenoorgestelde geslag nie. Sy wonder of sy ooit weer die vibe sal voel wat sy as sestienjarige in Stefan se arms ervaar het. Haar selfspot en sin vir humor oor haar onervarendheid (hoewel dalk bakvissierig) is steeds verfrissend en gepas. Stefan is meer ervare wat die lyflike aanbetref, maar hy kon nog nooit die soen tussen hom en Karolien op haar sestiende verjaarsdag vergeet nie. Die leser word gereeld (dalk te veel?) aan Die Soen herinner.

Newekarakters, soos Karolien se broer en haar twee boesemvriendinne, Leah en Isla, sowel as Stefan se broer, Arend, kleur die storie verder in. Elke newekarakter het ’n eie plek en ruimte in die storie en dra beslis by tot ’n genoeglike leeservaring.

Elsa slaag goed daarin om die spanning en intrige snaarstyf te span en die leser se aandag te boei. Ek was heeltyd bewus van die gevaar wat die Van Deventer-broers inhou. Verskeie insidente belig die feit dat ’n mens liefs nie met hulle wil swaarde kruis nie. Hulle word voorgehou as wêreldklas-rampokkers met baie kontakte. Tog het ek soms die indruk gekry dat hulle modus operandi bra lomp is en dat hulle geensins die gesofistikeerde boewe is wat hulle uitgemaak is om te wees nie. Maar in alle regverdigheid, Om Karolien te beskerm is eerstens ’n romantiese verhaal en die storielyn gaan oor die liefdesverhouding wat tussen Karolien en Stefan ontstaan. Ek kan dus oorsien dat die Van Deventers, hoewel integraal tot die plot, nie eersterangse skurke is nie.

........
Daar is ’n vurige dog smaakvolle liefdestoneel wat oor enkele bladsye strek. Hier kom een van Elsa se sterkpunte as skrywer na vore. Dit is ook dalk een van die redes waarom haar boeke so gewild is: Sy kán liefdemakery beskryf op ’n wyse wat haar lesers hartkloppings gee.
........

Daar is ’n vurige dog smaakvolle liefdestoneel wat oor enkele bladsye strek. Hier kom een van Elsa se sterkpunte as skrywer na vore. Dit is ook dalk een van die redes waarom haar boeke so gewild is: Sy kán liefdemakery beskryf op ’n wyse wat haar lesers hartkloppings gee. “Vel teen vel, die sensasie is oorweldigend. Deurdrenk van haar geur, die sagtheid van haar vel onder sy hande, die geluid uit haar keel, steier sy sintuie om al die impulse te verwerk. Hy gaan nooit genoeg van haar kry nie, nooit” (123).

Die tydsverloop lol so ’n bietjie. Op bladsy 98 lees ek dat Karolien Woensdagoggend vroeg in haar motor op pad is na Vishoek toe. Onderweg daarheen wag ’n nagmerrie-ondervinding op haar. Dan lees ek weer op bladsy 108 dat sy Woensdagoggend vroeg in die kombuis van haar patisserie doenig is. Eers het ek gewonder of daar dalk ’n week verby kon gegaan het, maar toe lees ek: “As sy kan besig bly, kan sy hopelik van gister se nagmerrie vergeet” (108). Gedurende hierdie Woensdag (wat dus eintlik Donderdag moes wees) gebeur daar ’n verdere insident met Karolien. Dan lees ons dat Leah en Isla vir Karolien die volgende dag ná werk inwag (131). Die teks sê dis Donderdagaand, maar eintlik moet dit Vrydagaand wees, want daar het intussen ’n hele nag verloop. Karolien wil op bladsy 134 by haar vriendinne weet waar hulle die naweek gaan eet. Dit verhoog my suspisie dat die tydsverloop hier nie korrek deurgegee is nie.

Karolien maak haar voet vroeg in die storie seer, met die gevolg dat Stefan haar ’n paar keer in sy sterk arms moet optel om haar te help. Ek het op ’n stadium gevoel die optellery raak nou ’n bietjie te dik vir ’n daalder, romanties of te nie. Die insidente wat aanhoudend met Karolien gebeur, selfs ook sonder dat dit die Van Deventers se toedoen is, het my naderhand ook laat wonder of dit nie té veel is nie. Dit verhoog egter wel die spanning en gee geleentheid vir Stefan om daarop te reageer. Weer moes ek my herinner dat dit hoofsaaklik ’n liefdesverhaal is en nie ’n Sidney Gilroy-spanningsverhaal is waar gebeure aan strenger geloofwaardigheid gemeet word nie.

........
Elsa Winckler ken die Romanza-leser se hart. Sy weet wat vroue van innerlike genoegdoening laat sug wanneer die held en heldin mekaar uiteindelik vind.
........

Ek het dit wel baie geniet om Om Karolien te beskerm te lees en sien uit daarna om te sien wat in die volgende boeke met die ander karakters gaan gebeur. Elsa Winckler ken die Romanza-leser se hart. Sy weet wat vroue van innerlike genoegdoening laat sug wanneer die held en heldin mekaar uiteindelik vind. Haar verhale steun sterk op emosie. Sy skryf in ’n gemaklike, vloeiende trant wat die leser insluk en laat deel voel van die storie. Ek kan verstaan waarom sy so suksesvol as skrywer is.

Lees ook:

Soen my, cowboy deur CM Christians: ’n resensie

’n Noodvlug vir Rusty deur Jaco Versfeld: ’n resensie

Haar grootmensliefde deur Cynthia Robertson: ’n resensie

Mal oor jou deur El Bester: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top