Oktobermaand en lente in ons lewens

  • 0

“Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand” – so belowe C Louis Leipoldt ons.

Moeilik om te glo, hier waar ek voor my rekenaar sit en bibber, kombersie oor die knieë. Die hond lê en snork voor die verwarmer, uitgeput na ons geveg om haar te kry om net haar draai te gaan loop. Die wind loei, die reën giet. Was dit aand, sou dit die perfekte tyd wees om iets te skryf wat begin met: “It was a dark and stormy night.”

Maar helaas, dit is helder dag. Goed, nie helder soos in sonnig nie, want die lug is donkergrys. Helder soos in oggend, nie nag nie. ’n Vreemde dag in ’n vreemde tyd. Daar is baie om voor bly te wees. Die damme is vol, en waar ons so onlangs as drie jaar gelede bekommerd was oor Dag Zero, klink dit nou soos iets uit ’n besonder apokaliptiese episode van Black Mirror. Ons is in vlak 1, wat beteken die lewe gaan grootliks in ’n skyn van normaliteit voort. (Die sogenaamde nuwe normaal, wat beteken dat sonder masker by die deur uitstap so ondenkbaar is as om sonder onderklere by die deur uit te stap.) Die meeste mense kan nou weer werk en geld verdien.

Richard Mdluli gaan tronk toe, jare nadat hy seker gedink het sy worries is iets van die verlede.

Ons hoor dat die Zondo-kommissie vrugte begin afwerp. Die eerste korruptes is gearresteer. Die groot showdown tussen Zuma en Zondo word hopelik binnekort op die spits gedryf. En hopelik, fingers crossed, sal Uncle Cyril vir regter Zondo steun. Country before party, Uncle Cyril, country before party.

Die ANC moet betaal vir hulle deel van die lift wat hulle gevang het Zim toe. En seker vir die Minister sakgeld gee, aangesien haar salaris ‘n bietjie teruggehou word. Toe ek ‘n kind was, het my ma en pa my ook gestraf deur my sakgeld af te vat. En uit ondervinding kan ek julle vertel, ’n pak slae was verkieslik – pynlik in die oomblik, maar vinnig verby. Het dit my geleer om nie weer dieselfde te doen nie? Glad nie – ek het net geleer hoe om skelmer stout te wees. Verdeelde lojaliteite is ’n boggher, iets waarvan die Minister mens seker ’n ding of twee kan vertel. Sy strike my nie juis as die “country before party”-tipe nie.

Skielik bring Eskom hul kant. Funny dit, die oomblik toe mense verantwoordelikheid moet aanvaar en geskors word, toe is dit niemand se beurt meer om beurtkrag te kry nie. In my dorp, waar straatligte al vir langer as drie jaar buite werking is, is daar nou uit die bloute Eskom-kontrakteurs wat straatligte herstel dat die rook draai.

Daar is meer gereeld polisiepatrollies, dag en nag. ’n Senior lid van die polisie word vermoor, en binne dae word iemand gearresteer.

Dis asof die koors van korrupsie, apatie en nalatigheid wat ons samelewing teister, besig is om te breek.

Aan die ander kant, dis nie als rose en maneskyn nie. Aardbewings tydens ’n pandemie? Come on, gee ons ’n blaaskans. Maar die meme wat sommer blitsvinnig begin sirkuleer het, het tog gesorg vir lekker lag tussen die skrik deur.

Die eerste golf van die pandemie is agter die rug, hopelik. Maar dan lees ons van die skool op Burgersdorp waar 95 leerders positief getoets het vir COVID-19, en amper 700 meer in kwarantyn geplaas is. Die begin van ’n tweede golf, of net ’n plaaslike anomalie?

En internasionaal? België is die land in die wêreld met die derde hoogste getal Covid-getalle. Vir so ’n klein landjie bitter slegte nuus. Die Amerikaanse president moedig tydens ’n presidensiële debat wit regses aan om hul gedrag voort te sit. Maak dit hom minder verkiesbaar? My hoop en my vrese bots hier met mekaar. Ek hoop hy self-destruct, maar ek vrees dat sy konserwatiewe kamerade groter gewig dra as wat ons almal dink. ’n Tweede termyn vir Trump spel rampspoed vir die VSA, maar ook vir die res van die wêreld. Sy ego kan ons almal duur te staan kom.

En die kanse dat ’n konserwatiewe regter Ruth Bader Ginsburg se nalatenskap kan vernietig, is groter as ooit tevore.

Nooit gedink die dag sal aanbreek dat ek dit sê nie, maar ons hier aan die suidpunt van Afrika is baie, baie beter af as die grootste moondheid in die wêreld.

Local is toe tog baie lekker.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top