The Odyssey (Frans met Engelse onderskrifte)
Regie en draaiboek: Jérôme Salle
Spelers: Lambert Wilson, Pierre Niney, Audrey Tautou, Benjamin Lavernhe, Vincent Heneine
Met planeet Aarde se voortbestaan wat ernstig bedreig word, is die verskyning van hierdie biografiese prent oor die oseanograaf Jacques Cousteau (puik vertolk deur Lambert Wilson) tydiger as ooit.
Dié Fransman het meer in sy leeftyd van 87 jaar ingepak as wat ander in verskeie leeftye kan doen, en vir ’n filmmaker is die probleem sekerlik wat om daarvan te wys en wat om uit te laat. Regisseur Jérôme Salle het gesteun op die boeke van Cousteau se oudste seun, Jean-Michel (Benjamin Lavernhe), en sy hoofduiker, Albert Falco (Vincent Heneine), en daarvan ’n aangrypende pa-en-seun-drama gemaak wat wentel om Philippe (Pierre Niney), die jonger Cousteau. Dié het sy pa se vurige temperament geërf, maar dit het ook tot groot konflik tussen hulle gelei, veral oor hoe sy pa sy ma, Simone (Audrey Tautou), behandel het. Dit was aan haar te danke dat Cousteau met die skip Calypso sy gereelde duikekspedisies in 1951 kon begin, maar soos hy al beroemder geword het en die gewillige vroulike bewonderaars al meer, is Simone verneuk en afgeskeep.
Die film wys ’n man van wie ’n mens nie noodwendig hou nie, maar jy kan nie anders as om hom te bewonder nie. Cousteau het gesorg vir ’n revolusie in diepseeduik en was benewens avonturier ook fotograaf, skrywer en filmmaker. ’n Visioenêr wat geneig was tot grandiose, onmoontlike skemas, soos dat mense hulle uiteindelik in ondersese kolonies sal vestig, met ontwikkelde kieue en al! In sy lang loopbaan het hy mettertyd besef hoeveel skade die mens in die oseane aanrig, met die gevolg dat hy hom in sy laaste dekades toegewy het aan omgewingsbewaring.
Sterk aanbeveel vir kykers wat hou van grootse natuurfotografie en ’n pakkende drama. Kyk uit vir ons eie Morné Visser in ’n kameerolletjie as TV-joernalis.
Sterre: 4

