Nuwe tema, baadjie, borg en programsegmente vir die Woordfees

  • 0

 Die Toyota US Woordfees se tema vir 2020 is pas bekendgemaak saam met die bekendstelling van ’n nuwe logo.

Toyota is ’n sentrale deel van die nuwe logo omdat dié motorvervaardigingsreus vir die volgende 3 jaar medenaamborg is van dié fees wat jaarliks in Maart in en om Stellenbosch aangebied word.

Volgende jaar se tema, “Aanhou beweeg en geraas maak”, is volgens die feesdirekteur Saartjie Botha ’n herbevestiging van die Woordfees se sentrale verbintenis tot die letterkunde. Dié bekende reël kom uit Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak” in sy grensverskuiwende bundel 21, wat in 1957 gepubliseer is. Die tema is daarmee ook ’n indirekte verwysing na die 21ste verjaardag van die fees in 2020.

Volgens Botha erken die tema die welkome finansiële inspuiting van Toyota en weerspieël dit ’n wêreld van beweging en verandering. “Kunstefeeste is broeiplekke vir energie en toetsgronde vir radikale idees. Die een ding wat ’n fees nie kan bekostig om te doen nie, is om te stagneer. Dit sal ’n snelle, stille dood sterf.”

In daardie gees word verskeie interessante nuwighede in 2020 aangebied.

Die Woordfees het volgende jaar die eerste keer ’n volwaardige danskategorie op die program asook ’n spesiale afdeling vir landbou. “Die nuwe dansafdeling maak sin,” sê Botha, “omdat daar in die afgelope paar jaar so ’n groot toename in die aantal dansgeselskappe in die Kaapse metropool was en omdat veral jonger feesgangers in verskillende dansstyle belangstelling toon.”

Volgens Botha was landbouverwante aanbiedings by die fees nog altyd baie gewild. Die landbouprogram sal uit ’n verskeidenheid van demonstrasies, kursusse, diskoersgesprekke en leefstylverwante aanbiedings bestaan. 

Die Toyota US Woordfees vind vanaf 6 tot 15 Maart 2020 plaas. Die programbekendstelling is in November en kaartjieverkope open op 18 November 2019.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top