
Die vrese van Fritz (Bennie) Wessels: Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Tweede verslag: Die vrese van Fritz (Bennie) Wessels
Hierdie storie is een van my gunstelinge en ek wil graag hê dat dit so goed as moontlik afgerond word. Jy het ’n paar goeie veranderinge gemaak, byvoorbeeld die begin van die verhaal, dat die verteller saam met Fritz by die basaar was en dat die afspraak met Annerie nie met ’n brand geëindig het nie (die Top Deck-detail is baie snaaks).
Maar aan die ander kant het daar ook dinge verlore gegaan wat moes gebly het. Die heel belangrikste: waarom het jy die verteller se naam van Bennie na Fritz verander? Dis ’n vreemde ding met die name van karakters in ’n storie of boek: partykeer werk die naam perfek, asof geen ander naam ooit sou pas nie, en ander kere voel die naam net nooit heeltemal reg nie, dit sit nie gemaklik nie, as ek dit so kan stel. Ek het al gewonder of dit is omdat die een naam uit die hart (by gebrek aan ’n beter term) van die skrywer kom en die ander uit die kop, dat dit uitgedínk is, dit het nie spontaan uit die storie ontstaan nie. Jou storie is ’n voorbeeld van waar die naam Bennie Wessels net perfek gewerk het – verander dit terug, groot asseblief?
Die tydsvorme (verlede tyd en historiese presens) is nou ook plek-plek anders as wat dit was – hier is nou groot dele in die verlede tyd. In Afrikaans word ’n storie by default in die historiese presens vertel, met terugflitse en herinneringe in die verlede tyd. Maar as laasgenoemde as volledige tonele uitgebeeld word (met ander woorde, as dit lank word), word verlede tyd aan die begin gebruik om te wys dit gaan oor iets wat werklik in die verlede gebeur het. Dan word so gou as moontlik oorgeslaan na die historiese presens (dis eintlik ’n baie natuurlike oorgang wat die meeste skrywers maklik aanvoel) en die res van die toneel word in die historiese presens uitgebeeld. Hersien die storie baie versigtig, kyk na die tydsvorme en as dit verlede tyd is, kyk of dit regtig nodig is. Indien nie, verander na die historiese presens. Dat die historiese presens in Afrikaans ontwikkel het (dis eintlik verlede tyd, maar dit klink soos teenwoordige tyd), is taalkundig baie interessant en ’n groot wins vir die taal. Die verlede tyd met sy het ge-vorme is swaar en lomp in vergelyking met die historiese presens.
Jy het die storie taalkundig goed hersien – baie van die te hoogdrawende taal (byvoorbeeld “dame”) is vervang met meer natuurlike taal. Daar het egter mooi detail en oulike vergelykings in die slag gebly, byvoorbeeld in die eerste paragraaf die Tag Heuer-horlosie en die leerbandjie deur die Mongoolse weeskind. Ek sal graag wil sien dat sulke detail teruggaan in die storie – dit het baie goed gewerk. Vergelyk die twee weergawes noukeurig met mekaar en besin goed oor beskrywings wat jy verander het en hoekom jy dit verander het – hoekom het jy gedink jy kan verbeter op die oorspronklike?
Sulke hersiening is vir party skrywers baie moeilik, en as jy te veel twyfel of sukkel met iets, los dit liewer sodat die redakteur daarna kan kyk. Laastens die slot, wat so allerbelangrik is:
Dis toe sy dat die rook ruik en na die sitkamer hardloop, dis toe dat Frits geweet het alles gaan oraait wees.
Daar word vir my vertel Frits het baie breed geglimlag toe hy die brandweer geskakel het. Daar word vir my vertel dat Frits glad nie meer bang raak nie.
Die toneel moet net effens stadiger uitgebeeld word en die historiese presens moet plek-plek gebruik word. Kyk na die onderstreepte – dis heeltemal uit ’n buiteperspektief, terwyl die verteller net in die vorige paragraaf self deur Frits (Bennie) vertel is wat gebeur het: Hy vertel my mens kon hoor hoe haar knieë lam raak. Dis slotparagraaf is daarom nog steeds direkte rapportering deur Frits (Bennie) aan die verteller.
Ek stel die volgende voor:
Dis toe dat sy die rook ruik, haar losskeur uit Bennie se arms en sitkamer toe hardloop. Dis toe dat Bennie weet alles gaan orraait wees. Hy het breed geglimlag toe hy die brandweer skakel. Daarna was hy nooit weer bang nie.
• Lees die tweede weergawe: "Die vrese van Fritz (Bennie) Wessels"
• Lees die eerste weergawe: "Die vrese van Fritz (Bennie) Wessels"
• Lees die eerste keurverslag oor "Die vrese van Fritz (Bennie) Wessels"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

