Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Die vrese van Fritz Wessels"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Die vrese van Fritz Wessels

Die ander aand vat my beste vriend, Frits, ’n meisie uit vir ete. Hy het voor die tyd sy hare netjies gekam en sy tande geborsel. Hy’t tot blomme saamgevat, sonneblomme, want dit was sy ma se gunsteling gewees. Hy het ’n navyblou pak en ’n ligblou hemp gedra, dieselfde pak wat hy drie jaar terug na prins William se troue gedra het. Omdat hy effens vroeg opgedaag het, het hy eers ’n bietjie in die kar gewag en so 18:55 na die voordeur geloop. Frits is mos altyd vroeg, hy sien dit as een van sy sterkpunte.

Die bordjie wat onder die klokkie hang het bevestig dat hy by die regte plek was, Kerkstraat 15. Teen die muur het daar drie woorde gehang wat uit geroeste draad gemaak is: Geloop, Hoop, Liefde. Dis toe dat ’n vreemde ding gebeur, dis toe dat Frits begin sweet en bang raak.

Kyk, ek en Frits is nou al lank vriende. Ek het hom in 1993 ontmoet, tydens ’n eerste pouse by Laerskool Hangbrug. Vet Karel van Wyk het op my gesig gesit en poep toe Frits daar aankom en hom van my afpluk. Ná dit het ons beste vriende geword en die boelies het nie meer gewaag om aan my te raak nie. Deur hoërskool het ons pelle gebly en selfs saam vir die eerste rugbyspan uitgedraf, ons was die senters en het die binne- en buitesenterposisie afgewissel. Hy was nou nie hoofseun nie, maar wel die voorsitter van die skyfskietklub en die klaskaptein van klas 12C. Ek weet nie van een persoon wat nie van Frits gehou het nie. Daar was selfs meisies wat van ander skole na ons s’n gekom het net om nader aan Frits te wees.

Na skool het ons na dieselfde universiteit toe gegaan. Ek het bosbou gaan swot en hy het amper elke kursus wat daar was uitprobeer, maar het nooit een klaar gemaak nie. Al is Frits baie intelligent, is hy nie iemand vir wie jy iets kon leer nie, hy wou eerder self wysheid gaan soek. Ek dink hy het besef dat grade net vir jou ’n werk in ’n kantoor gaan kry, en dis die laaste ding wat Frits wil hê. ’n Nine to five sal hom stadig doodmaak.

Frits is mos altyd opsoek na ’n avontuur en ’n soet dingetjie om te eet. Deesdae het hy nie ’n vaste blyplek nie, daar waar hy kom slaan hy maar tent op. As jy vir Frits vra wanneer hy bietjie rustig gaan raak en op een plek gaan bly dan sal hy net sê : “Wanneer die seisoene ophou verander”. En hy het ’n baie goeie hart. Hy help nie net mense nie, maar diere en soms plante ook. Daar word gereeld vertel dat hy sulke gawe oë het.

Nou ja, eintlik wil ons almal soos Frits wees, maar nie op ’n aand soos daai aand wat hy voor Kerkstraat 15 gestaan het nie. Hy was ’n senuweewrak en het meer gesweet as ’n vet meisie op ’n Maandagaand by die Spur. Dis belangrik dat julle moet weet (en goed verstaan) dat Frits nie iemand is wat maklik bang raak nie. Dis nie dat hy daarmee probeer brag sodat hy meer manlik kan voorkom nie, dis net iets wat nie normaalweg gebeur nie. Frits het nie bang geraak toe hy in die Siberië per ongeluk verdwaal het nie en ook nie toe hy daardie middag sy Polo op die Calitzdorppad gerol het nie.

Aangesien ek hom beter as meeste mense ken ken, weet ek dat daar net drie goed in hierdie wêreld is wat vir Frits bang maak: Vuil skottelgoedwater, sy tannie in Caledon se worshord, Pudding, en om op ’n date te gaan met ’n meisie wie se pa ’n dominee is. Frits was jare laas bang, dit kan ek julle amper verseker, want hy eet meestal uit en het in standerd sewe laas by sy tannie-hulle gekuier. ’n Angstige Frits is nie iets wat jy gereeld sal sien nie, en omdat dit so skaars is, sweet hy twee keer meer as gewoonlik as dit gebeur.

Die vrou voor wie se deur hy daardie aand gestaan het, het ek en hy laas Saterdag by die NG Kerk Keerfontein-Wes se kerkbasaar ontmoet. Frits was net vir ’n week in die land en het ’n baie bedrywige skedule gehad. Aangesien hy nie tyd gehad het om ’n bier te gaan drink nie, het hy my saam na die basaar genooi sodat ons mekaar kon sien.

Net so voor middagete was Frits besig om pannekoek te koop, twee dosyn om presies te wees, (hy het sommer sy eie roomysbakke gevat) toe hy ’n blonde meisie sien wat anderkant die vleistafel besig was om skaapskenkels in ’n plastieksakkie te sit. Hy het dadelik gesê dit is die mooiste mens wat hy al ooit gesien het. Vir my het sy maar net soos ’n mengsel tussen ’n jong Sandra Prinsloo en ’n vroulike Mick Jagger gelyk.

Hy wou baie graag met haar gaan gesels, want dit sou hom vir ewig pla as hy nie homself voorstel nie, soos daardie keer in Indië toe hy nie die tier uit die vangnet gehelp het nie. Dit pla hom tot vandag toe. Ek moet ook nou bysê dat Frits nie ’n lid van die NG kerk Keerfontein-Wes is nie, dit was sy eerste keer by dié gemeente en hy het nie geweet of hy haar weer sou sien nie.

Die rede hoekom hy daardie Saterdag by dié basaar moes wees is heel eenvoudig. Hy is gevra om die afslaer by hul tradisionele vraagteken-veiling te wees. Hoe die ding werk is dat die lidmate bokse skenk van hulle ou gemors en dan moet die basaargangers daarop bie sonder dat hulle weet wat in die bokse is. Dis ’n unieke soort tombola en ’n lekker geldinsamelingsprojek. Soms koop jy ou doilies en tupperwarebakkies, en soms kan jy wel iets waardevol koop. Die een diaken het my vertel dat broer Sarel Mynhardt ’n paar jaar terug die rugbybal van die 1995-wêreldbekereindstryd in sy boks gekry het, die ene wat Joel gedrop het. Dis ’n groot affêre en elke jaar kry die kerk ’n gas-afslaer, iemand spesiaal. As ek reg by die puddingtafel afgeluister het was dit laasjaar Ruda Landman. Omdat Frits laas Oktober so baie geld met sy staptoer om Namibië vir die weeshuis in Tamboerskloof ingesamel het, het een van die kerkraadslede hom gevra of hy die afslaer sal wees.

Frits het nie eens vir sy kleingeld gewag na hy vir sy pannekoeke betaal het nie, toe sleep hy my en sy roomysbakke na die vleistafel toe. Met sy beste maniere het hy daardie meisie met die hand gegroet. Haar wange se kleur het verander na die tipe rooi wat jy in die binnekant van ’n rou steak sal kry. Dit was duidelik dat sy al klaar geweet het wie Frits Wessels is. Almal weet mos wie Frits Wessels is. Baie vroumense wou al vir Frits Wessels ontmoet, maar min kry die kans, en hulle weet as hy die dag met jou kom gesels moet jy die beste van die geleentheid maak.

Sy het haarself as Idané voorgestel. Sy is nie kort nie maar ook nie lank nie, sy sal net-net die suiker bo in ’n gemiddelde kombuiskas kan bykom. Daar is ’n moesie op haar wang en haarr hare is dieselfde kleur as die bokant van Cappachino. Sy het Frits aan ’n sekere Amerikaanse meisie laat dink wat hom destyds leer Salsa het. Volgens hom is Idané se glimlag mooier as die mooiste sonsondergang wat hy al beleef het, tot mooier as daardie een wat hy op die kus van Australië gesien het terwyl hy navorsing oor die tierhaaie gedoen het.

Terwyl ek net daar staan gesels hulle te lekker. Oor die basaar, die skaapvleis en die gemeente se welstand. Toe oor laasnaweek se Idols episode waarin Frits so mooi gesing het. Sy vra hom uit oor die keer wat hy oor die Engelse kanaal geswem het en van daardie aand in Krugersdorp toe hy ’n vrou en haar baba uit die rivier gered het. Frits bly nederig in sy antwoorde en verklap min. Hy hou mos nie van afshow nie, dis nie hoe sy ma hom grootgemaak het nie.

Na ’n rukkie se gesels nooi hy Idané uit vir ete, die volgende Donderdagaand, by daardie nuwe plek langs die dam met ’n voorgereg én ’n nagereg en miskien koffie daarna. Sy het nie eers gehuiwer nie, skaars aan haar antwoord gedink. Wie sal nou vir Frits Wessels kan nee sê?

Hy was baie opgewonde oor hierdie meisie. Al is Frits iemand waarna my suster sal verwys as ’n “catch”, het hy baie lanklaas ’n properse Afrikanse nooi ontmoet, wat nog te sê uitgevat vir ete. Hy was al op baie plekke in hierdie wêreld, plekke waarvan ek nog nie eers gelees het nie, maar Frits bly vir my sê dat Afrikaanse meisies altyd sy gunsteling sal bly.

Op die ouderdom van twee en dertig is Frits nog steeds alleenlopend. Dit pla sy ma, tannie Elsie, verskriklik baie. Sy verstaan nie hoekom hy nie kan vrou vat nie. Dis nie asof hy lelik, ongeskik of lui is nie? Hy sal ’n goeie man vir ’n vrou maak, hy is mos ’n goeie braaier. Moet ook net nie vir Frits vra hoekom hy nog nie ’n ring aan iemand se vinger gesit het nie, hy vermy liefs dié onderwerp en sal eerder oor swaargewigboks of Israel se besproeiingskanale praat.

Frits vra Idané toe waar hy haar seweuur daardie Donderdagaand kan kom optel.

“Kerkstraat 15”, het sy in haar sagte, skaam stemmetjie geantwoord.

Idané het begin uitvra oor wat sy op hierdie date moet aantrek, sy wou weet hoe deftig dit nou eintlik gaan wees. Frits het haar gesê dat sy op haar mooiste moet lyk vir dié geleentheid, die plek waarna hy haar gaan vat is so grand jy moet tot vir jou water betaal. Voor hy verder oor hulle ete kon praat, kom staan dominee Geldenhuys reg langs hom.

Ou Dominee het hom baie entoesiasties gegroet en gevra of hy reg is vir die veiling. Frits gebruik toe sy pa se ou sê-ding en vertel vir die dominee dat die enigste ding waarvoor hy nie reg is nie, ’n doodskis is.

Dominee Geldenhuys sit sy regterhand op Idané se skouer en vra vir Frits of hy al sy dogter, Idané, ontmoet het. Skielik verander alles en raak daardie kerkbasaar vir Frits onsmaaklik. Alles word doodstil, ek kon die jellie by die puddingtafel hoor set. Daar was nog nie baie kere in Frits se lewe wat hy heeltemal sprakeloos was nie. Dit gebeur ook selde. Daardie keer in 1999 toe hy ’n diamant langs die Oranjerivier opgetel het is die enigste keer waarvan ek weet. By daardie kerkbasaar langs die vleistafel was my goeie vriend, Benjamin Frits Wessels, stomgeslaan. Hy het ’n dominee se dogter op ’n date gevra en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. Dominees se dogters maak hom verskriklik bang, banger as wat vuil skottelgoedwater of Pudding die worshond hom ooit sal kan maak.

Kyk, Frits sukkel nie gewoonlik met die vrouens nie, maar sodra ’n vrou se pa preek vir ’n lewe is dit ’n ander storie. Elke keer wat hy met só ’n tipe meisie iets te doen gehad het, het daar iets fout gegaan. Al sedert ons kan onthou, het hy hierdie spesifieke probleem, en hierdie probleem laat vir Frits (wat gewoonlik in alle omstandighede goed funksioneer) baie vreemd optree.

Daar was die keer toe ons sestien was en op ’n CSV-kamp vir Danelia ontmoet het. Sy het die mooiste swart krulhare gehad en gedurig om Frits gehang terwyl hy kitaar gespeel het. Een aand toe sluip sy by Frits se kamer in om by hom by die bed in te klim. Ag julle weet, om bietjie stout te wees. Hy het gedink die figuur wat hom bekruip is ’n rower en hy val haar toe baie gewelddadig aan. Haar neus was gebreek en haar een voortand is tot vandag toe blou. Sy was Dominee du Toit, van die AGS-kerk op Middelburg, se dogter.

En laat ek nie van Annerie vergeet nie. Frits het haar op universiteit ontmoet, in sy vierde jaar. Haar pa was ’n dominee op Jacobsbaai, by die Hervormde Kerk. Frits was smoorverlief en wou iets romanties op Valentynsdag doen. Laatmiddag breek hy in haar koshuiskamer in terwyl sy by kooroefening is en pak die hele kamer vol rose en chocolates. Hy sit toe ’n Norah Jones-CD op, trek sy klere uit en gaan lê kaal op haar bed met net ’n Top Deck wat sy skaamte bedek, een van daai ekstra grotes. Toe Annerie met haar ouers die kamer binnestap het Frits so groot geskrik dat hy op ’n roos gaan sit het. Blykbaar sit daar nog steeds ’n doring wat hy nie kan uitkry nie.

Daar was nog ’n hele paar ander. Maryka op wie hy ’n milkshake gemors het, Helouise wat allergies vir skulpvis was, Tanya wat van die perd afgeval het en nog vele ander. Almal was dominees se dogters. Dis ’n vreemde patroon en ons weet nie eintlik hoekom dit gebeur nie.

Ek dink dis blote toeval, en ek het al vir Frits per geleentheid gesê dat dit ’n irrasionele vrees is, maar hy wil nie vir my luister nie. Volgens hom is dit asof hy vervloek is en daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Met soveel talente soos hy het, is dominee-dogters soos ’n anti-talent vir hom, hy probeer hulle eerder vermy. Die ironiese gedeelte is dat hy baie aangetrokke tot dominees se dogters is. Hoekom weet hy nie, maar ek dink dit het ook iets te doen met die manier wat sy ma hom grootgemaak het.

Nou by daardie kerkbasaar het Frits nie geweet wat om te doen of sê nie. Voor hy ’n beweging kon maak spring Idané hom voor en vertel haar pa dat Frits haar Donderdagaand uitvat vir ete. Die dominee het begin vibreer van opgewondenheid.

Gewoonlik is pa’s mos heilig oor hul dogters, maar daar is nie ’n pa in hierdie wêreld wat nie vir Frits Wessels as ’n skoonseun wil hê nie. Daar het al ’n paar ooms vir hom geld aangebied om met hulle dogters uit te gaan, en een het selfs ’n plaas in die Kalahari op die tafel gesit. Boonop weet die hele gemeente dat die dominee ook ’n bietjie oor sy dogter se liefdeslewe bekommerd is. Sy is dan nou al amper dertig en nog steeds nie getroud nie. Hy sal gereeld vir die ouderlinge sê: “Dis nie asof sy hardegat, oorgewig of vol fiemies is nie. Sy sal ’n man gelukkig kan maak, sy is mos handig in die kombuis.”

Later by die veiling kon Frits skaars fokus só deurmekaar was sy kop. Hy het amper Oom Karel se driekilogramboks op R40 000 laat begin, en daar was net ’n klompie Kennisboeke in. Dit was ’n moeilike situasie vir Frits. Al is die meisie beeldskoon kon ek sien dat hy met alle mag die afspraak wou kanselleer, maar hy het geweet hy kon nie, hy is net nie so tipe ou nie. Frits is ’n man van sy woord en hy kon nie sy planne verander nie, veral nie as die dominee klaar daarvan weet nie. Diep binne hom het hy gehoop dat Idané dalk net anders gaan wees, dat sy dalk die een gaan wees wat die vloek gaan verwyder.

Frits doen toe baie moeite met die date. Hy bespreek vroeg sitplek by die restaurant, betaal iemand om viool te speel terwyl hulle roomys langs die dam eet en huur ’n koets om hulle rond te ry. Hy het seker gemaak niks kon fout gaan nie. Voor die tyd het hy die dominee gebel om te hoor of Idané enige allergieë het en of sy vir perde bang is. Hy het selfs met die brandweer gereël, en hulle is nou op standby vir ingeval hulle benodig sou word.

Frits het geweet hy moenie bewe nie en hy het geweet hy moenie sweet nie, maar hy kon nie help nie. Hy was al te veel keer in sy lewe in so ’n situasie gewees. Voor Kerkstraat 15 se voordeur het hy sy sakdoek uit sy broeksak gehaal, die sweet sy voorkop afgevee en die woorde “Bly kalm, bly kalm. Sy is net nog ’n vroumens”, in sy kop herhaal. Eers toe sy smart horlosie 18:58 gesê het, het hy die voordeurklokkie gelui.

Idané het ’n mooi, swart somersrokkie gedra wat haar sexy bene baie goed geadverteer het. Hy het vir haar die blomme en ’n drukkie gegee en haar na die koets gelei.

Veilig sonder enige moeilikheid het hulle by die restaurant aangkom. Frits en Idané het hul kos opgeëet en niemand het verstik nie. Nie eers die kelrner het iets gemors nie. Die rum & raisin-roomys wat hulle langs die dam geniet het was heerlik en die vioolspeler het nie ’n noot gemis nie. Dit was wonderlik.

Die koets het hulle weer veilig na Kerkstraat gevat en Idané het vriendelik Frits vir koffie ingenooi. Dis eintlik toe dat Frits net huis toe moes gaan en die aand tot ’n einde bring, maar nee, Frits is mos ’n kansvatter en het haar na die huis gevolg. Hy het seker geweet dat ’n meisie wat jou na tienuur vir koffie nooi nie net wil gesels nie.

Binne die huis kon hy sien dat sy baie moeite gedoen het en lank vooraf beplan het om hom in te nooi. Die hele plek was vol rooi, geel en oranje kersies gepak. Op die koffietafel was daar ’n bakkie met endearmints en ’n ander ene met biltong. Die kaggel was klaar vol hout gepak wat reg was om gebrand te word. Dit was duidelik dat sy vir Frits wou beïndruk, sodat hy nooit weer na ’n ander vrou sou kyk nie. Sy het na die Hi-Fi geloop en ’n Josh Groban-album aangesit.

Sy het vir hom gesê om homself gemaklik te maak, sy sal solank die ketel gaan aansit en die koppies reggekry. Frits het op die lang leerbank voor die televisie gaan sit en ’n mint geëet. Die familiefoto’s wat bo die kaggel hang het hom geïnteresseer. Daar is ’n foto van die Geldenhuys-familie op die strand wat lyk of dit in die laat tagtigs geneem is, toe Idané nog ’n klein dogtertjie was. Dan is daar ’n foto van Idané by haar matriekafskeid, saam met ’n ou wat blonde hare met ’n middelpaadjie het, ’n foto van Idané se gradeplegtigheid en nog ’n foto van haar ouma en oupa wat om ’n kombuistafel sit.

Skielik tref daardie angstigheid vaan vroeër weer vir Frits. Hy besef hy wil nie sulke foto’s van homself op só ’n muur hê nie. Eintlik wil hy nie enige foto’s op sy muur nie. As dit van hom afhang het hy nie eers ’n huis met ’n stewige muur waarop hy foto’s kan hang nie. Al weet hy dit word van hom verwag, wil Frits nie eendag settle nie. As hy heeltemal eerlik moes wees sal hy erken dat daar meer as drie goed is wat hom bang maak.

Hy is nie die tipe ou wat elke jaar op dieselfde kusdorpie kan vakansie hou nie en ook nie die tipe ou wat eendag sal aftree nie. Hy wil nie ’n vrou, hond en twee en ’n halwe kinders hê nie. Dit is net nie wie Frits Wessels is nie, maar dominees se dogters soek sulke manne, dis mos hoe hulle pa’s hulle grootgemaak het. Al is dominee-dogters sy tipe, weet Frits vir die eerste keer in sy lewe hoekom hulle hom so bang maak.

Frits het rustig opgestaan en na die venster geloop. Stadig het hy een van die rooi, hartvormige kersies wat op die vensterbank staan tot teenaan die gordyn geskuif. Met ’n hart vol selfvertroue het hy na Idané gestap wat in die kombuis besig is.

Hy het haar diep in oë gekyk en haar vertel dat hy nog nooit ’n vrou soos sy ontmoet het nie, hy voel dat dis nie toevallig dat hy haar by die kerkbasaar ontmoet het nie. Hy het nader beweeg en sy sterk hande om haar nek gesit. Hy vertel my mens kon hoor hoe haar knieë lam raak.Op daardie oomblik kon hy enige iets met daardie vrou doen. Sy was soos putty in sy hande.

Dis toe sy dat die rook ruik en na die sitkamer hardloop, dis toe dat Frits geweet het alles gaan oraait wees.

Daar word vir my vertel Frits het baie breed geglimlag toe hy die brandweer geskakel het. Daar word vir my vertel dat Frits glad nie meer bang raak nie.


 

Lees die eerste weergawe van "Die vrese van Fritz Wessels"

Lees die eerste keurverslag oor "Die vrese van Fritz Wessels"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top