Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Die vrese van Bennie Wessels"

  • 0

Die vrese van Bennie Wessels: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Ek het hierdie storie vreeslik baie geniet – die lig spottende toon, die goedige humor, die wonderlike uitdrukkings, vergelykings en oordrywings. Dis lekker om sommer net ’n lighartige verhaal te lees wat ’n mens laat glimlag. Jy het ’n heerlike skryfstyl.

Daar skort min met die verhaal, maar die volgende sake moet aandag kry.

Slot

Die slot is die heel belangrikste deel van enige verhaal – ’n slot moet eerder ’n sleutel wees wat die verhaal oopsluit, soos die kortverhaalmeester Abraham H. de Vries dit stel. In jou verhaal kan die slot hegter ingebind word deur ’n paar verstellings. Laat die lys van Bennie se teenspoed met predikantsdogters oploop na die hoogtepunt van die brand by Annerie. Ruil die Annerie-paragraaf om met die volgende paragraaf en versterk die begin as volg (of iets soortgelyks): Maar die heel ergste ramp van Bennie se ongelukkige geskiedenis met pastoriedogters, die een wat sy vervloeking beklink het, was die geval van Annerie. Bennie het haar op universiteit ontmoet ... ens.

Showing and telling

Op ’n paar plekke word die gebeure aan die leser vertel eerder as uitgebeeld. Skryf oor en beeld uit met behulp van dialoog – dialoog is die mees effektiewe tegniek vir direkte uitbeelding:

  • Bladsy 5: Dominee groet hom baie entoesiasties ... tot die einde van die paragraaf. Terloops, dis doodskis, ek veronderstel ’n doodskus is wat vampiere aan hul slagoffers doen.
  • Bladsy 6: Die dominee raak opgewonde en laat val ’n harde “aitsa!”
  • Bladsy 9: Hy kyk haar diep ... tot die einde van die paragraaf.

Proeflees

Ons leef in die tyd van speltoetsers en jy het beslis een nodig. Kry ’n speltoetser en kyk woord vir woord na die korreksies wat dit aandui. Proeflees ook die verhaal deeglik vir ontbrekende letters in woorde (ingeval die speltoetser dit nie optel nie) en ontbrekende woorde in sinne.

Kleiner kwessies

· Die verteller beskryf hoe Bennie Idané die eerste keer sien en verwys na haar as ’n “vroumens” – die woord pas in Bennie se mond, maar laat die verteller ’n meer neutrale woord gebruik, byvoorbeeld “ ’n blonde meisie” of “ ’n blonde visioen”. Ook in die eerste paragraaf op bladsy 3.

· Ook op bladsy 3: laat die verteller ’n meer neutrale woord as “stront” gebruik – daar is nie andersins growwe woorde in sy vertelling nie.

· Bladsy 9: Idané wat teruggaan na haar kamer om grimering aan te sit. Vir so ’n belangrike afspraak sal ’n vrou klaar gegrimeer wag. Laat sy net teruggaan vir ’n laaste lagie lipstif of so iets.

Byvoegings

Ek wil ’n paar byvoegings voorstel, sommer vir ekstra nuanse, besluit maar of jy dit wil aanvaar.

  • Bladsy 6: ... veertig gegeurde kersies (wat hy met sorg in ’n hartvorm gerangskik het)
  • Bladsy 8: Idané maak baie entoesiasties die voordeur oop. Sy groet baie entoesiasties.
  • Bladsy 8: Hy is nie die tipe ou wat 2½ kinders wil grootmaak en elke jaar op dieselfde kusdorpie gaan vakansie hou nie ... ens.
  • Bladsy 9, laaste 2 sinne:

Dis toe dat sy die rook ruik en na die sitkamer hardloop.

Bennie skakel die brandweer, ’n breë glimlag op sy gesig.

 

Lees die eerste weergawe van Die vrese van Bennie Wessels

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top