Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Wentzel Lombard

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

My kortverhaal handel oor twee spesifieke onderwerpe: plaasaanvalle en gay wees. Dit gaan ook oor die groot kommunikasiegaping tussen ouers en kinders. Daar het baie in my kop aangegaan terwyl ek die storie geskryf het en dus handel dit oor 'n hele paar verskillende goed.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Ek dink ek het die keurders grys hare gegee, want ek het nie altyd na hulle geluister nie. Ek het die terugvoer baie waardeer en ek kon hulle punt insien, maar ek moes ook getrou bly aan die storie wat ek wou vertel. Miskien is my storie as gevolg daarvan nie so goed as wat hy kon gewees het nie, maar dit het eenvoudig net reg gevoel.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Die beste skryfraad wat ek al gehoor het, is seker ABC: Apply Bum to Chair.

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Daar is vier skrywers wat 'n groot impak op my gehad het: Dalene Mathee, Annelie Botes, Reza de Wet en Stephen King. Dalene Mathee het 'n wonderlike gawe gehad om dit te laat voel asof jy 'n gesprek met haar voer terwyl jy haar stories lees. Annelie Botes het ook daai gevoel in haar werk en sy is nie bang vir taboes nie. Reza de Wet was 'n meester in haar kuns en het teater (my ander passie) baie goed verstaan. Sy het 'n manier gehad om die bonatuurlike heel normaal te laat lyk. Stephen King het natuurlik 'n fantastiese manier om mense te boei in sy verhale en ek is mal oor die spanning wat hy skep.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek glo dat ek seker vir die res van my lewe sal skryf. Ek skryf dikwels donker stories – dit vat baie van my en daarom is dit 'n stadige proses. Ek het onlangs my studies as dramastudent by Oakfields College voltooi en daar sal nou meer tyd wees vir skryf. Ek wil verseker  'n verskuiwing maak na dialoog in plaas van prosa. Maar ek glo ook dat ek altyd sal terugkom na prosa.

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Wentzel Lombard se kortverhaal "Die diere is onrustig" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top