Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Solette Stander

  • 0


Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

"Kop agteroor, oë wydgerek" is 'n storie oor tuindwerge, bokhorings, 'n motorfiets en 'n visioen. In hierdie verhaal word die absurde ontgin: 'n radikale gesin wat glo dat hulle die einde van die wêreld kan voorspel. Die gebeure speel af in Ruspoort, 'n fiktiewe plattelandse dorpie, en die verhaal word vertel deur 'n seuntjie wat grootoog na sy vreemde bure loer. 

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Ek het die proses as baie leersaam ervaar. Dit was juis ook die aanvanklike rede waarom ek ingeskryf het – die kompetisie het vir my soos 'n baie goeie leergeleentheid gelyk.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Showing, not telling,met ander woorde om die handelinge, dialoog en vertelsituasie só te gebruik dat dit iets oor die karakters sê, sonder dat daardie "iets" pertinent gesê word. 

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek lees eintlik 'n wye verskeidenheid genres: van romans, kortverhale en poësie tot kinder- en jeugboeke. Ek is 'n groot aanhanger van Eben Venter se skryfwerk omdat hy daarin slaag om die menslike so uitstekend te verwoord. Dan is ek ook mal oor Marlene van Niekerk se skryfkuns, want daar is min wat karakterisering en vertelling so goed soos sy bemeester het. Verder bewonder ek hoe skrywers soos Salman Rushdie en Anne Michaels met taal kan toor.

Ek kan natuurlik ook nie kortverhaalmeesters soos Abraham de Vries en John Miles uitlaat nie – min mense kan dit regkry om so baie in so min woorde te vertel.  O, ja en dan lees ek ook koerant, want 'n mens kan nie jou oë vir die werklikheid toeknyp nie. 🙂

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek is nog jonk en ek dink daar is nog baie om te leer, maar ek gaan beslis nie nou ophou skryf nie!

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Solette Stander se kortverhaal "Sewentien tuindwerge" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top