Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Marteni Burger

  • 0


Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Ek was baie beïndruk met die verskeidenheid verhale wat in die bundel opgeneem is. Ek dink die “jong stemme” wat na vore gekom het, bied nuwe en interessante uitdagings aan die leser.  Daar is ook belangwekkende en relevante invalshoeke wat die leser se vooropgestelde idees direk aanspreek en uitdaag.    Dit is vir my ’n groot eer dat my werk as deel van hierdie projek gepubliseer word.  My eie kortverhaal spreek juis tot Suid-Afrikaners se vooropgestelde idees ten opsigte van ras en geweld in ons land. “PIK” handel oor ’n plaasaanval waarin ’n abstrakte romanse die katalisator van ’n gruwelike nag van bloed en angs is.   

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Dit was absoluut wonderlik, ongelooflik, fantasties lekker.  Dit was vir my ’n ware leerskool en ek is seker dit geld almal wie se werk in die bundel verskyn.  Suzette Kotze-Myburg, Leti Kleyn en Janita Holtzhausen was so hulpvaardig en hulle kommentaar was soos ’n klein beiteltjie waarmee hulle stories tot perfeksie geslyp het.  As ek volgende jaar kon deelneem sou ek, maar ongelukkig is ek ’n 1983-baba, so ek raak te oud vir die bundel.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Een van my vriende, Emile, het eendag vir my oor ’n bottel Portugese wyn en ’n brandsoushoender gesê dat mens nooit moet toelaat dat feite ’n wonderlike storie terughou nie. Baie vreemde dinge gebeur in die lewe; dit klink dalk nie soos feite nie, maar van waar dan die vlieënde pierings wat die vetste mense in Amerika kan ophys?  Die ander ding wat mens uit ’n proses soos hierdie kompetisie leer, is: Sit op jou agterstewe en werk. Daar is nie kortpaaie nie en daar is nie tyd vir luiheid nie – daar is vingers wat tik en ore wat rook. Dis hoe mens ’n storie begin.  

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Daar is twee boeke wat ek regtig oor en oor lees. Ek neem aan dit maak seker hulle skrywers my gunstelinge: Toorberg deur Etienne van Heerden en Triomf deur Marlene van Niekerk.  Wat kan meer boeiend, hartverskeurend of lagwekkend wees as ’n familiesaga? Geraamtes in kaste wals tog die lekkerste op die maat van ’n tikmasjien.  Ek het ook onlangs ’n hele paar boeke van Chris Karsten gelees waaroor ek mal was, en ek dans ook graag saam met Jacques Pauw se duiwels.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Op die aand van die Nuwe Stories 2 se bekendstelling het daar voorstelle gekom dat ek dalk ’n roman moet probeer aanpak of miskien my eie kortverhaalbundel moet probeer doen. Dis ’n uitdaging wat ek beplan om aan te vat sodra ek weer my voete in Arcachon neersit. Om getroud te wees met rugby in Frankryk is sekerlik ’n roman op sy eie met ongelooflike draaie en vreemde belewenisse waar die waarheid meestal terugstaan vir fiksie. Daar vlieg ook soms pierings rond, maar die enigste vet in die piering is ’n gans s’n en al wat ophys, is ’n Franse neus oor ’n bottel wyn.   

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Marteni Burger se kortverhaal "Pik" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top