Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Madré Marais

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

My verhaal “Met somer ingedagte” se tema is verandering en die vernuwing wat daarmee saamgaan. Die besef dat die lewe nie met 'n mens stilstaan nie, is iets wat elkeen van ons een of ander tyd sterk ervaar. Soms wéét jy net. Wanneer jy nuwe uitdagings moet aanpak, as iets vir jou bestem is, of as jy bloot nie meer tuis is waar jy jou op daardie tydstip bevind nie – daardie oomblik is 'n grootse wending. In dié verhaal deel die leser in Barnard se gewaarwording.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Dit was vir my 'n besonderse leerervaring, van begin tot einde. Die lekkerste deel was die opweeg van elke paragraaf, sin en woord. Dit het my geleer om geen enkele idee of woord op papier toe te laat wat nie vir die leser iets beteken nie. Dit spreek veral tot my aard as subredakteur. Dit was ook baie interessant om te leer hoe die hele proses verloop om 'n verhaal te publiseer. Daar is baie werk daaraan verbonde en dit is beslis 'n spanpoging (en hartstaak) van almal wat daarby betrokke is. Ek het baie waardering en groot respek vir Suzette se terugvoering. As jong skrywer is daar niks lekkerder en meer waardevol as iemand met ervaring wat tyd afstaan en jou help om jou stem te vind nie.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Gert Coetzee se raad aan jong rubriekskrywers: “Skryf jou rubriek; sê wat jy wil sê. Stop dan.” Ek glo dit is van toepassing op enige soort skryfwerk. Sodra jy nie meer jou doel voor oë hou nie (jou boodskap, die aanvanklike motivering vir hoekom jy gaan sit het om te skryf), verloor jou werk sy fokus en waarde. Só verloor jy ook die leser se belangstelling.

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Wanneer dit by kortverhale kom, is Hennie Aucamp en Jan Rabie beslis my grootste gunstelinge nog. Albei het die kuns vervolmaak om die fynste nuanses van die menslike bestaan so meesterlik te hanteer dat die leser hom telkens in die verhale herken. Die verhale is dus universeel en sal honderde jare van nou steeds relevant wees. Geen beperking van tyd of ruimte kan so 'n verhaal se boodskap aantas nie. Dít is vir my waardevol: as die skrywer iets alledaags kan vat en dit vir die leser wys soos die leser dit nog nooit gesien het nie. Sodat hy dit vir die eerste keer werklik raaksien. Verder lees ek letterlik enigiets wat ek in die hande kan kry – alles van André P Brink tot André Letoit – so dit is moeilik om enkele gunstelinge te kies. Ek moet egter noem dat Afrikaans altyd voorkeur kry.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek wil eers die fokus op kortverhale hou, juis omdat ek glo in die waarde van 'n sterk kortverhaal, soos ek reeds genome het. En ook omdat ek besef dat dit 'n kuns is wat oor baie jare aangeleer moet word. Een van my doelwitte is om eendag 'n bundel met kortverhale te publiseer. Die trefkrag van 'n goeie kortverhaal is 'n ongelooflik magtige instrument om mense se lewe te raak. Dit is 'n genre wat gevier en bevorder moet word.

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Madré Marais se kortverhaal "Met somer in gedagte" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top