Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Inge Lategan

  • 0


Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

My verhaal, “Thula baba”, gaan oor ’n hardwerkende ma en haar dogtertjie wat sy op die Cape Flats moet grootmaak, en die armoede wat daarmee saamgaan, bendes met hul “dollars and white pipes”, gesinsgeweld, alkoholmisbruik ...

Dit is ’n hartseer storie, maar ook die realiteit van die alledaagse lewe van die mense wat daar bly. ’n Ma het ’n droom vir haar kind, maar daardie droom kan so vinnig van haar weggeneem word as sy haar kosbaarste besitting, haar kindjie, verloor.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Goodness, wat ’n leerskool! Ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Dit was so belangrik om my kop reg te kry en my daaraan te herinner dat die terugvoer nie kritiek is nie, maar hulp en raad om my storie af te rond en nog beter te maak. Ek sien dit as ’n skaafproses. Ek dink nie daar is woorde wat kan beskryf hoe dit gevoel het om vir die laaste keer “send” te druk nie.  Dit was ’n eer om saam met Leti Kleyn te werk. Sonder haar sou “Thula baba” nie gewees het waar dit nou is nie. Om die bundel die eerste keer oop te maak en na my storie te blaai – dit het my ’n gevoel van humbleness gegee.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Om aan te hou en aan te hou en aan te hou. Om nooit op te hou nie.

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Annelie Botes. Net sommer oor wie sy is. Die eerlikheid waarmee sy skryf.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ja, ek het groot drome! Ek wil so graag ’n kinderboek skryf in samewerking met ’n vriendin en haar man. Sy is ’n arbeidsterapeut en is baie kunstig. En haar man is ’n avontuur-junkie-pastoor en het ’n ongelooflike skryftalent. Ek is hul dogtertjie se peetma en die klein patroon was ’n inspirasie vir twee van my gedigte. Nog ’n droom sal wees om vryskutwerk te doen vir ’n tydskrif ... Soos Sarie, Finesse of Lééf.  Maar vir eers gaan ek die vakansie met ’n pen by die see sit en gaan waarheen my hart my lei.

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Inge Lategan se kortverhaal "Thula baba" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top