Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Elmarie Rossouw

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

“’n Broekskeur bruilof” is 'n komedie oor 'n plattelandse troue. My skoonma was in die tagtigerjare 'n orrelis in Sishen. Dit is haar storie. Ek het dit net ’n bietjie ingekleur.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Suzette Kotze-Myburgh en Leti Kleyn is baie talentvol met besonderse oë vir detail. Hulle het mens op 'n baie konstruktiewe manier in die regte rigting probeer stuur. Ek het wel persoonlike kontak gemis en wens dat mens meer tyd saam met hulle kon deurbring.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Lees so veel en so wyd as moontlik. Soms is mens gelukkig dat 'n storie haar by jou kom aanmeld. Ander kere moet jy voor jou rekenaar bly sit en skryf en skryf totdat iets gebeur

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

My gunstelingboek vir hierdie jaar was 'n kortverhaalbundel van Fanie Naudé, Alfabet van die voëls.  Ek het eintlik al verlede jaar daaraan begin lees, maar het dit probeer uitrek vir so lank as wat ek kan. Dit is so mooi geskryf. Hy kry dit reg om mens met sy stories na 'n nuwe wêreld te neem. Op die oomblik lees ek Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach en, vir die tweede maal, The God of small things van Arundhati Roy. Hulle is twee van my gunstelingskrywers. Ek wens ek kon so met woorde toor. Verder lees ek ook graag Sophia Kapp en Wilna Adriaanse. Hulle skryf sulke lekkerleesboeke wat mens help om van jou alledaagse lewe te ontsnap.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek hoop om nog baie te kan skryf. 'n Kinderstorie van my is Kersfees verlede jaar op RSG uitgesaai en ek werk tans aan 'n  opvolg.  Verder werk ek ook aan 'n liefdesverhaal na aanleiding van 'n lenteskryfskool by Potch. 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Elmarie Rossouw se kortverhaal "’n Broekskeur bruilof" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top