Nuwe Stories 3: Onderhoud met Martin Laubscher

  • 0
Martin Laubscher

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Klimtol by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Ek is lank reeds gefassineer deur mense se vatbaarheid vir conspiracy theories. Ek dink die feit dat mense so halsoorkop daarvoor val en die feit dat hulle obsessie daarmee geneig is om te eskaleer, hou sommige onderliggende gevare in. Verder ken ek ook twee sulke mense. So die kombinasie van hierdie twee faktore het hom tot ’n storie verleen.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Dit was ’n goeie leerproses en baie waardevol. Omdat ’n mens sekere beginsels aanleer, dink dat ek goed geleer het wat my vir die res van my skryfloopbaan (sou daar een wees) kan help. ’n Mens leer ook ’n ander ding wat baie belangrik is en dit is dat jy self oordeel moet uitoefen om te besluit watse kritiek om te neem en wat om te verwerp.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Vir my is dit die slot. Om ’n einde te skryf wat treffend, betekenisvol en ook geregverdig is, is ’n uitdagende onderneming.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

Beide. Ek word beïnvloed deur my persoonlike omstandighede, my waarnemings van die breë wêreld en natuurlik ander letterkunde en fiksie.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

“Ons is op soek na die soeke na iets” – Hunter Kennedy.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Definitief To Kill a Mockingbird van Harper Lee.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek lees tans Catch 22 en my gunsteling- Suid-Afrikaanse boek was Klimtol van Etienne van Heerden.

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek werk tans aan ’n roman en ’n filmdraaiboek saam met ’n vriend. Ek en een van my ander vriende het ook ’n ander drama geskryf wat in Maart in Potch opgevoer gaan word. Ek beplan om die drama-, prosa- en filmbedryf na te jaag. As ek nie in al drie slaag nie, hoop ek om ten minste in een te slaag.

 

Lees die tweede weergawe van "Die einde van 'n wêreld"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top