Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Komplottery"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Komplottery

My vriend Klaas was vyftien toe hy vir die eerste keer in ’n conspiracy theory begin glo het. Dit het gebeur toe hy ’n DVD in sy katkisasieklas gekyk het waarin die sataniese simboliek van Harry Potter uiteengesit is en die sondagskooltannie, tannie Drienie, verduidelik het dat JK Rowling kop in een mus met die koningin van Engeland, die Pous en Lucifer is om die wêreld onder een orde te kry.

Sy teorieë het erg toegeneem soos hy ouer geword het. Hy het al hoe meer DVD’s oor die Illuminati en die Vrymesselaars begin kyk, by webblaaie aangesluit waar die verskillende teorieë bespreek word en self naderhand die simboliek in alledaagse dinge begin ontleed.

Natuurlik wou hy my ook van al hierdie skrikwekkende dinge oortuig. Eendag sit ons langs die swembad en beer shandy drink en hy vertel my van sy gewaarwording by Sondagskool:

“Ek sweer Franco, het jy nie geweet die donderstraal op Harry Potter se kop is ’n duiwelsteken nie?”

“Klasie, daar is ’n donderstraal op kragbokse en kinderspeelgoed ook, dit beteken niks. Dit is ou uitgedroogde tannies wat niks beter het om te doen as om sulke kak op te dis nie, moenie dat hulle jou flous nie,” sê ek in my oneindige tienerwysheid.

“Jy gaan jou nog so lekker blind hou dan vang hulle vir jou ook. Watch net.”

Aanvanklik het ons vriendegroep daaroor gelag en gespot, gedink dit sal oorwaai. Maar dit het net toegeneem. So baie dat ons later ongemaklik en ’n klein bietjie bekommerd daaroor geraak het. Selfs sy ouers wou naderhand ingryp.

Hy het byvoorbeeld op ’n stadium (ek skat ons was so sewentien) sy ouers meegedeel dat hy die buurman daarvan verdink dat hy kameras in hulle appelkoosbome geplant het om op die gesin te spioeneer. Sy paranoia was sterk deur die buurman se vrymesselaarsring aangevuur.

Later is ek en Klaas na dieselfde universiteit toe waar hy natuurlik politieke studies gaan swot het. Soos dit nou maar is met studentwees, kan hy sy teorieë meer logies en omvattend uitdruk soos wat hy ouer word. Meer geloofwaardig, maar nie noodwendig minder radikaal nie. Ek en hy debatteer gereeld hieroor. Gewoonlik om ’n tafel buite ’n kuierplek. Of op die stoep van die studentehuis waar hy woon. Of die gangsitkamer in die koshuis waar ek woon. Soms neem ander mense deel. Soms is ons alleen. Sigarette en whiskey loop vrylik en ek moet erken, ons albei geniet gewoonlike hiedie tweestryd.

Een so voorbeeld speel drieuur op ’n Vrydagaand (eintlik Saterdagoggend) in ons derderjaar op die stoep van sy studentehuis af. Hy is nou ’n lang, fris kêrel. Kortgeskeerde hare en ’n digte baard. Dra gereeld camo-klere.

“En wat van Lana Del Rey? In haar video Born to Die kan ’n mens duidelik sien dat sy van haar ou lewe sing, en wanneer hulle flashbacks van dit wys, is dit aand en donker. Maar in die hede sit sy in die ‘lig’ en almal weet die Illuminati se trademark is dat hulle ‘verlig’ is. Sy sit ook op ’n troon wat van hout gemaak is, en die Order of The Eastern Star wat die vroulike weergawe van die vrymesselaars is, het altyd op houttrone gesit. Dink jy dit is alles net toeval? Nie vir ’n fok nie ou maat.” Hy is redelik dronk en die sigaret hang al wankelrig tussen sy vingers, maar hy is so vasbeslote soos altyd om my te oortuig.

“Ons het ook houtstoele in ons huis, miskien is my pa ook ’n vrymesselaar? Kyk hier Klaas, die probleem met julle conspiracy theorists is dat julle eers die gevolgtrekking maak dat daar iets sinister in die wêreld aan die gang is, en daarna soek julle bewyse en versteekte simboliek om dié gevolgtrekkings te bewys. Dit is heeltemal verkeerd om.”

“Nou hoe verduidelik jy dan die feit dat Lil Wayne twaalf geraamtes in ’n filmteater uitgebeeld het in sy musiekvideo kort voor daar presies twaalf mense by daai Batman-fliek doodgeskiet is? En het jy die moordverdagte gesien? Mens kan duidelik sien hy is deur hulle gebreinspoel. En as jy ’n Amerikaanse Dollar opvou dan lyk dit presíés soos die twin towers, met die rook en alles.” (En dan haal hy ’n Dollar-noot uit sy beursie, een wat duidelik al baie gevou is, en illustreer die laasgenoemde punt visueel aan my.).

“Die ding is, as ’n mens so hard na tekens gaan soek, gaan jy dit kry. Gaan kyk bietjie 23 van Jim Carrey. Dit beeld hierdie einste ding baie goed uit. En ás dit waar is dat hierdie tekens nie toevallig is nie, hoekom sit hulle dan die tekens op plekke waar mens dit kan sien?” vra ek.

“Want hulle wil in die eerste plek boodskappe aan mekaar kommunikeer op díé manier. En in die tweede plek wil hulle ’n duidelike boodskap uitstuur om vir ons te wys deur wie die wêreld werklik regeer word,” beantwoord hy my vraag.

“Ek het gaan oplees oor hoekom daar iets soos conspiracy theorists is, en hulle reken dit is omdat mense graag wil glo dat daar iemand in beheer van al die wêreld se probleme is. Want as daar iemand in beheer is, kan ons nog iets daaraan doen. Maar as daar nie is nie . . . wel dan beteken dit dit is uit ons hande. En die conspiracy theorists kan nie regtig met hierdie werklikheid saamleef nie,” sê ek.

“Sién jy! Dit is presies wat hulle wil hê jy moet glo. Sodat hulle ons onkant kan vang! Jy moet reg wees vir die groot oorlog my maat! Dit gaan kom. Dit gaan gebeur . . .”

Op hierdie punt in my lewe is ek al redelik gewoond aan sy nonsens en nie besonders bekkomerd daaroor nie. Todat hy vir Brandon ontmoet.

Een aand is daar ’n braai by een van ons gemeenskaplike vriende se huis gehou. Dit was nog relatief vroeg, seker so sesuur, toe Divan vra of Klaas vanaand ook gaan opdaag.

“Ja,” sê ek. “Hoekom?”

“Oh my soul! Nina se nuwe ou, Brandon, join ons ook vanaand. Hy en Klaas gaan mekaar lóve. As jy gedink het Klaas is erg oor sy conspiracies, dan het jy nog nie vir Brandon ontmoet nie. Hy, is batshit!”

Divan staan daarvoor bekend dat hy oordryf, so ons vat alles wat hy kwytraak maar met ’n knippie sout.

Later die aand, toe Klaas reeds sy opwagting by die aangeleentheid gemaak het, daag Nina en Brandon daar op. Brandon is middelmatig in lengte met kort (hoekom is hulle hare altyd kort?), swart hare en seegroen oë. Hy is in ’n stywe swart hemp met ’n swart denim en bruin ingenieurstewels geklee.

“Brandon, aangenaam,” sê hy te midde van ’n besonders stywe handdruk en oë wat stip in myne kyk.

Intens. Dít was die gedagte wat by my op geduik het toe ons vir die eerste keer ontmoet.

Ons was nie lank daar nie, toe Brandon en Klaas in ’n gesprek betrokke raak oor die moontlikheid dat die Euro dalk die eerste stap in ’n proses was om één geldmag vir die hele wêreld te bewerkstellig. Nie lank daarna nie, staan Brandon en Klaas alleen in ’n hoek en begin met wat lyk na ’n bitter ernstige gesprek.

Dit was alreeds omtrent tweeuur die oggend. Brandon en Klaas staan nou al amper ses ure aaneen en gesels, hoewel ruskanse geneem is om nog drank te gaan haal. Die res van ons, insluitend Nina, Brandon se meisie, het in die kuierarea gesit en grappies vertel oor Namibiërs toe die twee doemprofete weer by ons aansluit.

“Ons het ’n vraag vir julle,” sê Brandon met ’n strak gesig.

“Maar wees open minded,” voeg Klaas by.

“Dink julle ’n mens kan die media dagvaar?” vra Brandon.

“Bedoel jy nou ’n spesifieke afdeling van die media? Soos byvoorbeeld Naspers?” vra Herman, die regstudent onder ons.

“Nee, die hele Media, die wêreldmedia,” sê Klaas beslis.

“Huh? Nee man. Natuurlik nie. Die media is nie een entiteit nie. Dis soos om te sê jy gaan sport dagvaar. Dit is nie moontlik nie. Hoekom wil julle buitendien die media dagvaar?” vra Herman stomgeslaan.

“Man, julle is nie open minded nie. Ons wil weet of jy die media kan dagvaar, want die media is verantwoordelik daarvoor dat die wêreld meer seksueel aktief is. Hulle propageer dit, en hulle propageer geweld. En ons is redelik seker hulle is besig om al die kykers, lesers en luisteraars subliminally te mindfuck sodat ons almal kan inkoop op die idee dat die wêreld onder één regering, ekonomie en geloof moet funksioneer. Ons is van mening dat hulle as een entiteit beweeg. As ’n mens dit kan bewys, sal mens hulle dan kan dagvaar?” sê Brandon met baie oortuiging. Amper soos ’n kultusleier, dink ek.

Natuurlik het hierdie gesprek nêrens heen gelei nie, want niemand behalwe Brandon en Klaas was entoesiasties daaroor nie. Maar dit was duidelik dat Klaas daardie aand ’n nuwe vriend gemaak het, want díé twee verstaan mekaar asof hulle mekaar al jare lank ken.

Ná hierdie braai sien ek ek vir Brandon al hoe meer, want as ek by Klaas se huis opdaag is Brandon bykans altyd daar. Of as Klaas by my kom kuier, sleep Klaas hom altyd saam.

Hulle spandeer ontsettend baie tyd saam. Suip saam, eet saam, deel nuwe materiaal met mekaar. En met nuwe materiaal bedoel ek nuwe video’s en boeke waarin die verskillende conspiracy theories bespreek word. Maar meer as enigeiets oefen hulle saam. Vir die groot oorlog: “Ons moet warriors wees,” sê Klaas gereeld.

Hulle word ontsettend fiks en gespierd. Klaas kan nou al vyf optrekke met een arm doen (sonder dat die ander arm steun). Hulle sluit by ’n klub aan waar hulle die vegkuns van Krav Maga, ’n vegkuns wat saamgestel is uit verskeie ander vegkunste, aanleer. Blykbaar is die persoon wat hierdie vegkuns bemeester in staat daartoe om mense met sy kaal hande te vermoor. En hulle kry gewere. Glocks. Sommer met knaldempers en al. Dit is nou benewens die jaggewere, messe, byle, toue en allerhande soortgelyke dinge wat hulle reeds het. Hulle sluit by ’n organisasie aan: Warriors for The Anti-Illuminati Agenda. Hulle lidmaatskapfooi is ’n sekere hoeveelheid nie-bederfbare kos wat maandeliks deur elke warrior bygedra moet word en wat in ’n stoor iewers gebêre word. Die stoor is net vir ingeval “die kak spat”. Hulle gaan ook op verskeie oefenkampe en woon weeklikse vergaderings by.

Klaas se paranoia loop deesdae hoog. Almal en alles wat hy teëkom is onder verdenking. In hierdie stadium is ek nie meer bekommerd oor Klaas nie. Ek is bang. Fokken pisbang. Nie net bang dat hy iets gaan oorkom nie, maar bang dat hy mý eendag ook van komplottery sal verdink. Ek stry nie meer met hom nie. Inteendeel. Ek maak maar of ek saamstem. Dit is die veiligste glo ek. Ons vriendskap is nie meer dieselfde nie, want dit word deesdae deur vrees aangevuur. Ek mis die ou dae.

Twee gesprekke het my tot die besef gebring dat dit my vriendskaplike plig teenoor hom en my burgerlike plig teenoor die samelewing is, om in hierdie situasie op te tree. Ek besluit om my gat in rat te kry en om nie meer passief te wees nie. Die eerste gesprek was tussen my en Klaas. Dit speel op ’n laat Vrydagmiddag in my koshuiskamer af:

“Vriend, daar is iets wat ek al lank vermoed,” sê hy met ’n angsbevange opgewondenheid.

“Ja, en dit is?”

“Wag, ons moet eers kyk of daar enige afluisterapparate in jou kamer versteek is voordat ek jou kan vertel,” hy lyk agterdogtig.

“Moenie worry nie, daar was nog niemand in my kamer vandat jy laas gecheck het nie,” lieg ek. Want hierdie inspeksies kan lank neem. Fokken lank.

“Is jy seker?”

“Ja”.

“Okay, ek trust jou. Jy is een van die min wat ek nog kan trust. Kyk hier. Ek vermoed al lank ons organisasie word deur iemand geïnfiltreer”.

“Jy bedoel nou die Anti-Illuminati?”

“Die Warriors for The Anti-Illuminati Agenda ja.”

“Wat gee jou daai idee?”

“Ek weet nie . . . Dis eintlik meer ’n gevoel. Maar dis ook die feit dat . . . Daar kom eenvoudig te veel inligting in, verstaan? Ons weet te veel. Hoekom sal die Mag toelaat dat ons so baie weet? Iemand voer doelbewus inligting in, iemand van binne af. Sodat ons in beheer kan voel. En net wanneer ons gemaklik raak. Bam! Dan is almal van ons dood. En ek dink ek weet wie dit is . . .”

“Wie?” vra ek.

“Brandon, ou.”

“Wat! Hoekom hý?” Hierdie keer is ek regtig geskok.

“Dis so obvious. Hy bring elke keer die inligting in.”

“Wat gaan jy doen?”

’n Ewigheid van stilte gaan verby.

“Ek sal hom moet uithaal ou.” Sy gesig is nou sinister en effens hartseer.

Ek verstik amper aan my koffie. “Uithaal?”

“Ja.”

“Hoe gaan jy dit doen?”

“’n Geweer gaan maar die beste wees. Ek en hy gaan gewoonlik op Dinsdagaande na afloop die vergadering ’n bier iewers drink. Ek sal die geweer in my kar hou, en as hy by die passasiersitplek se deur instap, sal ek hom pop.”

Die ding is, baie mense sal oor sulke goed lieg en oordryf. Maar nie Klaas nie. As Klaas sê hy gaan iets doen dan doen hy dit. Toe ons in graad vier was, het ons so ’n meneer gehad wat vir ons Engels aangebied het. Hy was ’n regte doos en ’n boelie. Hy het altyd op die een outjie, Jasper, gepik. En Klaas het een oggend gesweer as die meneer dit weer doen gaan hy hom met sy space case teen die kop gooi sê: “Nou hou jy fokken op”. Ek het gedink Klaas blaas net wind. Want dit was ’n groot meneer. En hy was baie intimiderend. Ek was verkeerd. Klaas het dit gedoen!

Die tweede gesprek was op ’n Saterdagaand by die Dros waar ek en Divan besig was om rugby te kyk.

“Jy sal nie glo wat sê Brandon gisteraand vir ons nie?” sê Divan opgewonde. Soos hy altyd is wanneer hy skinder.

“Wat?” vra ek agterdogtig.

“Hy dink Klaas is deel van die Illuminati!” Divan lag uit sy maag. Hy besef duidelik nie die erns van die saak nie.

“Regtig? En gaan hy iets daaraan doen?”

Divan hoor nie die spanning in my stem nie.

“Haha!” Hy lag histeries. “Ja, blykbaar. Maar hy wil nie sê wat nie. Ek kan nie wag om te sien nie!”

Ek kan, dink ek. Maar sê niks.

Daardie aand kon ek glad nie slaap nie. Ek stres. Ek het nog nooit sulke spanning, nee angs, gevoel nie. Ek kan nie die polisie bel nie, want dan sou ek hulle lewens buitendien verwoes. Na lang ure se rondrol dink ek uiteindelik aan ’n plan. Dit kan werk, dink ek, maar dit kan ook in my gesig opblaas.

Dinsdag breek aan. Ek het nog niks van Klaas gehoor nie. Ek stres myself dood. Ek kan op niks anders konsentreer nie. My plan is reeds in werking, maar gaan dit slaag?

Dit is al seweuur, ek weet die vergadering is nou verby. My maag trek op ’n knop. Ek kry niks geëet of gedrink nie. Ek sit by my lessenaar en al waaraan ek kan dink is Klaas en Brandon.

Half nege. My foon lui. Dit is Klaas. Ek tel op.

“Ek dink jy moet na my huis toe kom. Ek het iets om jou te vertel.” Sy stemtoon is emosieloos. Dit kan enige iets beteken.

Ek klim in my kar en ry. Ek kom daar aan. Ek loop by die hekkie in. Die spanning is alomteenwoordig.

Op die stoep sien ek vir Brandon en Klaas. Hulle lyk vrolik en verlig. Hulle drink bier. Ek kap amper om van verligting.

“Jy sal nie glo wat gebeur het nie ou!” sê Klaas. “Ek en Brandon het ’n gewaarmerkte brief ontvang van ’n vrymesselaar wat anoniem wil bly! Hy is op die 33ste graad. Dis die hoogste wat ’n mens kry!”

“Regtig? Nou wat wil hy hê? Dreig hy julle?”

“Nee. Hy het ons gewaarsku. Dit was deel van húlle plan dat ons mekaar verdink! Ons was blykbaar ’n huge threat vir hulle. Hulle wou hê ons moes mekaar elimineer.”

“Nou hoekom sal hy julle waarsku?”

“He wants out,” sê Brandon. “Maar hy kan nie.” Nou doen hy wat hy kan van binne af om mense te help.”

“Hoe weet julle dis legit?

“Dit het die oorspronklike gewatermerkte wapen van die Illuminati en Vrymesselaars op. Dit is met wax deur ’n ring gedruk en alles. En hy het baie van ons vermoedens in die brief bevestig. Ek weet dit is nie fake nie, want as dit fake was sou dit so ’n flimsy e-mail of iets gewees het. En hy sê ook ons moet bietjie laag lê. En ons hoef nie te worry om onkant betrap te word nie, want hy hou vir ons ’n ogie. Hy is soos ons gaurdian angel.”

Dit is nou al ’n paar maande later. Klaas en Brandon glo steeds in hulle komplotte, maar is beide meer ontspanne. Die ou Klaas is terug. Ek is bly.

 


 

Lees die eerste weergawe van "Komplottery"

Lees die eerste keurverslag oor "Komplottery"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top