Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Die einde van ’n wêreld"

  • 0

Die einde van ’n wêreld: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Jou verhaaltema is in die kol, want seker die meeste van ons ken iemand wat ’n conspiracy theorist is. En indien nie, bied die media genoeg daaroor dat elkeen kan weet waaroor die verskynsel “conspiracy theory” gaan.

Ágter die hooftema lê die eintlike tema: die vriendskap tussen twee jong mans. Die verhaal bou op na ’n bevredigende einde en vat die kern van ’n goeie vriendskapsverhouding vas, naamlik aanvaarding van mekaar en omgee vir mekaar ten spyte van verskille.

Die ek-verteller het ’n goed gedefinieerde en oortuigende stem en die vertelperspektief word deurgaans gehandhaaf. Perspektief is moeilik, baie skrywers sukkel daarmee, en jy verdien ’n pluimpie vir jou hantering daarvan.

Tot sover die goeie nuus.

Uit bostaande blyk dit dat jou skryfstyl genoeg goeie punte het om mee te werk, maar jou taalbeheersing kan nog báie verbeter (interessant genoeg is jou spelling goed). As jy wil aanhou skryf, spesifiek vir publikasie, sal jy doelbewus en bewustelik daaraan moet werk.

Ek beveel aan dat jy ’n drukstuk van die verhaal maak (met ander woorde, jy werk op papier, nie op rekenaar nie), rustig daarmee gaan sit en dit woord vir woord hersien. Die eerste wat jy behoort raak te sien, is die herhaling van woorde of woorde wat ontbreek – maak dit reg.

Kyk dan na die tydsvorme (tenses in Engels). Die meeste Afrikaanse mense hanteer die wisselwerking tussen die historiese presens en die verlede tyd instinktief reg, maar jy trap klei daarmee. Die verteller is ’n student, dus moet rapportering van wat vroeër in sy en Klaas se lewe gebeur het, in die verlede tyd wees – kyk veral na die eerste paragraaf en maak dit reg. Dínk oor die tydsvorme: word iets in die huidige tyd of nou (genoem die historiese presens) uitgebeeld, of is dit gebeure uit die verlede, byvoorbeeld ’n herinnering of terugflits?

Werkwoordposisie: In Afrikaans staan die hoofwerkwoord in ’n werkwoordkonstruksie gewoonlik aan die einde van die sin: Natuurlik wil (hulpwerkwoord) hy my ook van al hierdie skrikwekkende dinge oortuig (hoofwerkwoord). Deesdae word die hoofwerkwoord waar moontlik uit die eindposisie geskuif in ’n saamgestelde sin. Byvoorbeeld:“Ek en Brandon het ’n gewaarmerkte brief van ’n Vrymesselaar wat anoniem wil bly ontvang!” Verander dit na: “Ek en Brandon het ’n gewaarmerkte brief ontvang van ’n Vrymesselaar wat anoniem wil bly!”

In die meeste gevalle kan “dit is” verander word na “dis”.

Kyk ook goed na jou gebruik van “hier/hierna” versus “daar/daarna”. Dit moet logies wees. Vra jouself af wat is “hier” (waar die verteller aanwesig is) en wat is “daar” (waar die verteller nie teenwoordig is nie).

Daar is nog baie ander foute (ek hoop jy sal meer as die genoemde kan raaksien en verbeter), maar ons kan in die tweede verslag daarna kyk.

 

Lees die eerste weergawe van Die einde van ’n wêreld

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top