Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Die einde van ’n wêreld"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Die einde van ’n wêreld

My vriend Klaas is vyftien wanneer hy die eerste keer in ’n conspiracy theory begin glo. Dit gebeur nadat hy ’n dvd in sy katkisasieklas kyk waarin die sataniese simboliek van Harry Potter uiteengesit word en die Sondagskooltannie, Tannie Drienie, verduidelik dat JK Rowling kop in een mus met die Koningin van Engeland, die Pous en Lucifer is om die wêreld onder een orde te kry.

Soos hy ouer raak, neem sy teorieë net toe. Hy kyk al hoe meer dvd’s oor die Illuminati en die Vrymesselaars, sluit by webblaaie aan wat die verskillende teorieë bespreek en begin naderhand self die simboliek in alledaagse dinge ontleed.

Natuurlik wil hy my ook van al hierdie skrikwekkende dinge oortuig. Ons sit langs die swembad en beer shandy drink wanneer hy my van sy gewaarwording by Sondagskool vertel:

“Ek sweer Franco, het jy nie geweet die donderstraal op Harry Potter se kop is ’n duiwelsteken nie?”

“Klasie, daar is ’n donderstraal op kragbokse en kinderspeelgoed ook, dit beteken niks. Dit is ou uitgedroogde Tannies wat niks beter het om te doen as om sulke kak op te dis nie, moenie dat hulle jou flous nie,” sê ek in my oneindige tienerwysheid.

“Jy gaan jou nog so lekker blind hou dan vang hulle vir jou ook. Watch net.”

Aanvanklik het ons vriendegroep daaroor gelag en gespot, gedink dit sal oorwaai. Maar dit het net toegeneem. So baie dat ons later ongemaklik en ’n klein bietjie bekommerd daaroor geraak het. Selfs sy ouers wou naderhand ingryp.

Een middag toe ons omtrent so sewentien jaar oud is, sit Klaas saam met sy Ma en Pa aan tafel. Sy ma, ’n mooi vrou met witgebleikte hare, ’n rasperstem en te veel makeup (sy staan onder tienerseuns as ’n MILF bekend) en wat vir Klaas Boksie noem, praat eerste:

“Boksie, ek weet daar is scary dinge daar buite. Maar waaragtig, dit raak nou bietjie te erg. Oom Theuns wat hier oorkant bly, sê jy het hom nou die dag daarvan beskuldig dat hy kameras in ons appelkoosbome versteek het, is dit waar Boks?”

“Ja Ma, dit is beslis waar. Hy het definitief kameras daar geplant!”

“My kind, hoe op dees aarde kom jy daarby uit?” Sy klink nou bekommerd.

“Wel, hoe anders het hy geweet om my uit te vra oor my wiskunde? Al hoe hy kon weet, is as hy ’n kamera daar gehad het. Ek en Ma het onder daardie boom gesit toe ek vir Ma vertel het hoe ek met die wiskunde sukkel.”

“My donder, Klaas,” sy pa is nou kwaad, “meeste kinders sukkel met wiskunde”.

“En, hy dra nog ’n Vrymesselaarsring ook, ek het gesien,” sê Klaas wat hom nie van stryk laat bring nie.

Later is ek en Klaas na dieselfde universiteit toe waar hy natuurlik Politieke Studies gaan swot. Soos dit nou maar is met studentwees, kan hy sy teorieë meer logies en omvattend uitdruk soos wat hy ouer word. Meer geloofwaardig, maar nie noodwendig minder radikaal nie. Ek en hy debatteer gereeld hieroor. Gewoonlik om ’n tafel buite ’n kuierplek. Of op die stoep van die studentehuis waar hy woon. Of die gangsitkamer in die koshuis waar ek woon. Soms neem ander mense deel. Soms is ons alleen. Sigarette en whiskey loop vry en ek moet erken, ons albei geniet gewoonlik hiedie tweestryd.

Een so ’n voorbeeld speel drieuur op ’n Vrydagaand (eintlik Saterdagoggend) in ons derde jaar op die stoep van sy studentehuis af. Hy is nou ’n lang, fris kêrel. Kortgeskeerde hare en ’n digte baard. Dra gereeld camo klere.

“En wat van van Lana Del Rey? In haar video Born to Die kan ’n mens duidelik sien dat sy van haar ou lewe sing, en wanneer hulle flashbacks daarvan wys, is dit aand en donker. Maar in die hede sit sy in die ‘lig’ en almal weet die Illuminati se trademark is dat hulle ‘verlig’ is. Sy sit ook op ’n troon wat van hout gemaak is, en die Order of The Eastern Star, wat die vroulike weergawe van die Vrymesselaars is, het altyd op houttrone gesit. Dink jy dit is alles net toeval? Nie vir ’n fok nie, ou maat.” Hy is redelik dronk en die sigaret hang al wankelrig tussen sy vingers, maar hy is so vasbeslote soos altyd om my te oortuig.

“Ons het ook houtstoele in ons huis, miskien is my Pa ook ’n Vrymesselaar? Kyk hier Klaas, die probleem met julle conspiracy theorists is dat julle eers die gevolgtrekking maak dat daar iets sinisters in die wêreld aan die gang is, en daarna soek julle bewyse en versteekte simboliek om dié gevolgtrekkings te bewys. Dit is heeltemal verkeerdom.”

“Nou hoe verduidelik jy dan die feit dat Lil Wayne twaalf geraamtes in ’n filmteater uitgebeeld het in sy musiekvideo kort voor daar presies twaalf mense by daai Batman-fliek doodgeskiet is? En het jy die moordverdagte gesien? ’n Mens kan duidelik sien hy is deur hulle gebreinspoel. En as jy ’n Amerikaanse dollar opvou dan lyk dit presíés soos die Twin Towers, met die rook en alles,” (en dan haal hy ’n dollar-noot uit sy beursie, een wat duidelik al baie gevou is, en illustreer die laasgenoemde punt visueel aan my) .

“Die ding is, as ’n mens so hard na tekens gaan soek, gaan jy dit kry. Gaan kyk bietjie 23 van Jim Carrey. Dit beeld hierdie einste ding baie goed uit. En ás dit waar is dat hierdie tekens nie toevallig is nie, hoekom sit hulle dan die tekens op plekke waar ’n mens dit kan sien?” vra ek.

“Want hulle wil in die eerste plek boodskappe aan mekaar kommunikeer op díé manier. En in die tweede plek wil hulle ’n duidelike boodskap uitstuur om vir ons te wys deur wie die wêreld werklik regeer word,” beantwoord hy my vraag.

“Ek het op Wikipedia gaan oplees oor hoekom daar iets soos conspiracy theorists is, en hulle reken dit is omdat mense graag wil glo dat daar iemand in beheer van al die wêreld se probleme is. Want as daar iemand in beheer is, kan ons nog iets daaraan doen. Maar as daar nie is nie . . . wel, dan beteken dit dit is buite ons hande. En die conspiracy theorists kan nie regtig met hierdie werklikheid saamleef nie.” sê ek.

“Sién jy! Dit is presies wat hulle wil hê jy moet glo. Sodat hulle ons onkant kan betrap! Jy moet reg wees vir die groot oorlog, my maat! Dit gaan kom. Dit gaan gebeur . . .”

Op hierdie punt in my lewe is ek al redelik gewoond aan sy nonsens en nie besonders bekommerd daaroor nie. Todat hy vir Brandon ontmoet.

Een aand word daar ’n braai by een van ons gemeenskaplike vriende se huis gehou. Dit is nog relatief vroeg, seker so sesuur, wanneer Divan vra of Klaas vanaand ook gaan opdaag.

“Ja,” sê ek. “Hoekom?”

“Oh my soul! Nina se nuwe ou, Brandon, join ons ook vanaand. Hy en Klaas gaan mekaar lóve. As jy gedink het Klaas is erg oor sy conspiracies, dan het jy nog nie vir Brandon ontmoet nie. Hy, is batshit!”

Divan staan daarvoor bekend dat hy oordryf, so ons vat alles wat hy kwytraak maar met ’n knippie sout.

Later die aand, wanneer Klaas reeds hier is, daag Nina en Brandon daar op. Brandon is middelmatig in lengte met kort (hoekom is hulle hare altyd kort?), swart hare en seegroen oë. Hy is in ’n stywe swart hemp met ’n swart denim en bruin ingenieurstewels geklee.

“Brandon, aangenaam,” sê hy te midde van ’n besonder stywe handdruk en oë wat stip in myne kyk.

Intens. Dít is die gedagte wat by my opduik nadat ons vir die eerste keer ontmoet.

Ons was nie lank daar nie, toe Brandon en Klaas in ’n gesprek betrokke raak oor die moontlikheid dat die Euro dalk die eerste stap in ’n proses was om één geldmag vir die hele wêreld te bewerkstellig. Nie lank hierna nie, staan Brandon en Klaas alleen in ’n hoek en begin met wat lyk na ’n bitter ernstige gesprek.

Dit is al reeds omtrent tweeuur die oggend. Brandon en Klaas staan nou al amper ses ure aaneen en gesels, hoewel breke geneem is om nog drank te gaan haal. Die res van ons, insluitend Nina, Brandon se meisie, sit in die kuierarea en grappies oor Namibiërs vertel wanneer die twee doemprofete weer by ons aansluit.

“Ons het ’n vraag vir julle,” sê Brandon met ’n strak gesig.

“Maar wees open-minded,” voeg Klaas by.

“Dink julle ’n mens kan die media dagvaar?” vra Brandon.

“Bedoel jy nou ’n spesifieke afdeling van die media? Soos byvoorbeeld Naspers?” vra Herman, die regstudent onder ons.

“Nee, die hele media, die wêreldmedia,” sê Klaas beslis.

“Huh? Nee man. Natuurlik nie. Die media is nie een entiteit nie. Dit is soos om te sê jy gaan sport dagvaar. Dit is nie moontlik nie. Hoekom wil julle buitendien die media dagvaar?” vra Herman stomgeslaan.

“Man, julle is nie open-minded nie. Ons wil weet of jy die media kan dagvaar, want die media is verantwoordelik daarvoor dat die wêreld meer seksueel aktief is. Hulle propageer dit, en hulle propageer geweld. En ons is redelik seker hulle is besig om al die kykers, lesers en luisteraars subliminally te mindfuck sodat ons almal kan inkoop op die idee dat die wêreld onder één regering, ekonomie en geloof moet funksioneer. Ons is van mening dat hulle as een entiteit beweeg. As ’n mens dit kan bewys, sou mens hulle dan kan dagvaar?” Brandon, met baie oortuiging. Amper soos ’n kultusleier, dink ek.

Natuurlik lei hierdie gesprek nêrens heen nie, want niemand behalwe Brandon en Klaas is entoesiasties daaroor nie. Maar dit is duidelik dat Klaas vanaand ’n nuwe vriend gemaak het, want díé twee verstaan mekaar asof hulle mekaar al jare lank ken.

Ná hierdie braai sien ek vir Brandon al hoe meer, want as ek by Klaas se huis opdaag, is Brandon bykans altyd daar. Of as Klaas by my kom kuier, sleep hy hom altyd saam.

Hulle spandeer ontsettend baie tyd saam. Suip saam, eet saam, deel nuwe materiaal met mekaar. En met nuwe materiaal bedoel ek nuwe video’s en boeke waarin die verskillende conspiracy theories bespreek word. Maar meer as enigiets oefen hulle saam. Vir die groot oorlog: “Ons moet warriors wees,” sê Klaas gereeld.

Hulle word ontsettend fiks en gespierd. Klaas kan nou al vyf optrekke met een arm doen (sonder dat die ander arm steun). Hulle sluit by ’n klub aan waar hulle die vegkuns van Krav Maga, ’n vegkuns wat saamgestel is uit verskeie ander vegkunste, aanleer. Blykbaar is die persoon wat hierdie vegkuns bemeester in staat daartoe om mense met sy kaal hande te vermoor. En hulle kry gewere. Glocks. Sommer met knaldempers en al. Dit is nou benewens die jaggewere, messe, byle, toue en allerhande soortgelyke dinge wat hulle reeds het. Hulle sluit by ’n organisasie aan: Warriors forThe Anti-Illuminati Agenda. Hulle lidmaatskapfooi is ’n sekere aantal niebederfbare kos wat maandeliks deur elke warrior bygedra moet word en wat in ’n stoor iewers gebêre word. Die stoor is net vir ingeval ‘die kak spat’. Hulle gaan ook op verskeie oefenkampe en woon weeklikse vergaderings by.

Klaas se paranoia loop deesdae hoog. Almal en alles wat hy teëkom, is onder verdenking. In hierdie stadium is ek nie meer bekommerd oor Klaas nie. Ek is bang. Fokken pisbang. Nie net bang dat hy iets gaan oorkom nie, maar bang dat hy mý eendag ook van komplottery sal verdink . Ek stry nie meer met hom nie. Inteendeel. Ek maak maar of ek saamstem. Dit is die veiligste, glo ek. Ons vriendskap is nie meer dieselfde nie, want dit word deesdae deur vrees aangevuur. Ek mis die ou dae.

Twee gesprekke bring my tot die besef dat dit my vriendskaplike plig teenoor hom en my burgerlike plig teenoor die samelewing is om in hierdie situasie op te tree. Ek besluit om my gat in rat te kry en om nie meer passief te wees nie. Die eerste gesprek is tussen my en Klaas. Dit speel op ’n laat Vrydagmiddag in my koshuiskamer af.

“Ou, daar is iets wat ek al lank vermoed,” sê hy met ’n intense opgewondenheid.

“Ja, en dit is?”

“Wag, ons moet eers kyk of daar enige afluisterapparate in jou kamer versteek is voordat ek jou kan vertel,” hy lyk agterdogtig.

“Moenie worry nie, daar was nog niemand in my kamer vandat jy laas gecheck het nie,” lieg ek. Want hierdie inspeksies kan lank neem. Fokken lank.

“Is jy seker?”

“Ja”.

“Okay, ek trust jou. Jy is een van die min wat ek nog kan trust. Kyk hier. Ek vermoed al lank ons organisasie word deur iemand geïnfiltreer”.

“Jy bedoel nou die Anti-Illuminati?”

“Die Warriors for The Anti-Illuminati Agenda, ja.”

“Wat gee jou daai idee?”

“Ek weet nie . . . Dis eintlik meer ’n gevoel. Maar dis ook die feit dat . . . Daar kom eenvoudig te veel inligting in, verstaan? Ons weet te veel. Hoekom sal die Mag toelaat dat ons so baie weet? Iemand voer doelbewus inligting in, iemand van binne af. Sodat ons in beheer kan voel. En net wanneer ons gemaklik raak. Bam! Dan is ons almal dood. En ek dink ek weet wie dit is . . .”

“Wie” vra ek.

“Brandon, ou”.

“Wat?! Hoekom hý?” Hierdie keer is ek regtig geskok.

“Dis so obvious. Hy bring elke keer die inligting in.”

“Wat gaan jy doen?”

’n Ewigheid van stilte gaan verby.

“Ek sal hom moet uithaal, ou.” Sy gesig is nou sinister en effens hartseer.

Ek verstik amper aan my koffie. “Uithaal?”

“Ja, ou.”

“Hoe gaan jy dit doen?”

“’n Geweer gaan maar die beste wees. Ek en hy gaan gewoonlik op Dinsdagaande na afloop die vergadering vir ’n drink. Ek sal die geweer in my kar hou, en as hy by die passasiersitplek se deur instap, sal ek hom pop.”

Die ding is, baie mense sal oor sulke goed lieg en oordryf. Maar nie Klaas nie. As Klaas sê hy gaan iets doen, dan doen hy dit. Toe ons in Graad 4 was, het ons ’n meneer gehad wat vir ons Engels aangebied het. Hy was ’n regte doos en ’n boelie. Hy het altyd op die een outjie, Jasper, gepik. En Klaas het een oggend gesweer as die meneer dit weer doen, gaan hy hom met sy space case teen die kop gooi en sê: “Nou hou jy fokken op.” Ek het gedink Klaas blaas net wind. Want dit was ’n groot meneer. En hy was baie intimiderend. Ek was verkeerd. Klaas het dit gedoen!

Die tweede gesprek gebeur Saterdagaand by die Dros waar ek en Divan sit en rugby kyk.

“Jy sal nie glo wat sê wat Brandon gisteraand vir ons nie?” sê Divan opgewonde. Soos hy altyd is wanneer hy skinder.

“Wat?” vra ek agterdogtig.

“Hy dink Klaas is deel van die Illuminati!” Divan lag uit sy maag. Hy besef duidelik nie die erns van die saak nie.

“Regtig? En gaan hy iets daaraan doen?”

Divan hoor nie die spanning in my stem nie.

“Haha!” Hy lag histeries. “Ja, blykbaar. Maar hy wil nie sê wat nie. Ek kan nie wag om te sien nie!”

Ek kan, dink ek. Maar sê niks.

Daardie aand kan ek glad nie slaap nie. Ek stres. Ek het nog nooit sulke spanning, nee, angs, gevoel nie. Ek kan nie die polisie bel nie want dan is hulle lewens buitendien verwoes. Na lang ure se rondrol dink ek uiteindelik aan ’n plan. Dit kan werk, dink ek, maar dit kan ook in my gesig opblaas.

Dinsdag breek aan. Ek het nog niks van Klaas gehoor nie. Ek stres myself dood. Ek kan op niks anders konsentreer nie. My plan is reeds in werking, maar gaan dit slaag?

Dit is al seweuur, ek weet die vergadering is nou verby. My maag trek op ’n knop. Ek kry niks geëet of gedrink nie. Ek sit by my lessenaar en al waaraan ek kan dink, is Klaas en Brandon.

Halfnege. My foon lui. Dit is Klaas. Ek tel op.

“Ek dink jy moet na my huis toe kom. Ek het iets om jou te vertel.” Sy stemtoon is emosieloos. Dit kan enigiets beteken.

Ek klim in my kar en ry. Ek kom daar aan. Ek loop by die hekkie in. Die spanning is alomteenwoordig.

Op die stoep sien ek vir Brandon en Klaas. Hulle lyk vrolik en verlig. Hulle drink bier. Ek kap amper om van verligting.

“Jy sal nie glo wat gebeur het nie, ou!” sê Klaas. “Ek en Brandon het ’n gewaarmerkte brief van ’n Vrymesselaar wat anoniem wil bly, ontvang! Hy is op die 33ste graad. Dis die hoogste wat ’n mens kry!”

“Regtig? Nou wat wil hy hê? Dreig hy julle?”

“Nee. Hy het ons gewaarsku. Dit was deel van húlle plan dat ons mekaar verdink! Ons was blykbaar ’n huge threat vir hulle. Hulle wou hê ons moes mekaar elimineer.”

“Nou hoekom sal hy julle waarsku?”

“He wants out,” sê Brandon. “Maar hy kan nie. Nou doen hy wat hy kan van binne af om mense te help.”

“Hoe weet julle dis legit?”

“Dit het die oorspronklike gewatermerkte wapen van die Illuminati en Vrymesselaars op. Dit is met wax deur ’n ring gedruk en alles. En hy het baie van ons vermoedens in die brief bevestig.

Ek weet dit is nie fake nie, want as dit fake was, sou dit ’n flimsy email of iets gewees het. En hy sê ook ons moet bietjie laag lê. En ons hoef nie te worry om onkant betrap te word nie, want hy hou vir ons ’n ogie. Hy is soos ons gaurdian angel.”

Dit is nou al ’n paar maande later. Klaas en Brandon glo steeds in hulle komplotte, maar is beide meer ontspanne. Die ou Klaas is terug. Ek is bly.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top