![]() |
| Carla Kargaard |
![]() |
|
Nuwe Stories 3 Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn |
![]() |
| Koop Boendoe by Kalahari.com |
Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.
Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?
My ouma Hanna, haar (ontstellende) tyd in die ouetehuis op Beaufort-Wes en 'n storie wat sy altyd vir my vertel het toe ek nog klein was. Herinneringe aan my kindertyd op die plaas.
Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?
Ek vind altyd die keurverslae baie waardevol en dis wonderlik om te sien hoe 'n mens jou storie kan verbeter met behulp van kundige, objektiewe raad. Ek was letterlik in kraam tydens die werkswinkel. Dit was vir my baie jammer dat ek dit moes mis, maar ek dink die geboorteproses is 'n leerskool in eie reg :).
Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal?
Ek put gewoonlik my inspirasie uit ware mense of gebeure. Dis vir my verskriklik moeilik om 'n storie te skryf met die wete dat ek dalk op iemand na aan my se tone kan trap. Met hierdie spesifieke kortverhaal het ek ook 'n bietjie gesukkel met die "magiese realisme"-element.
Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?
Ek dink die omgewing waar ek grootgeword het, het 'n groot invloed op hoe ek stories vertel. Ek kom uit die hartjie van die Karoo waar mense nog mekaar groet, op die stoep sit en stories vertel en lekker skinder oor 'n koppie boeretroos. Ek put ook inspirasie uit die mense en gebeure om my. Skryf is vir my 'n terapeutiese proses, so ek skryf gewoonlik as ek iets het om te verwerk.
Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?
“It's a dangerous business, Frodo, going out your door. You step onto the road, and if you don't keep your feet, there's no knowing where you might be swept off to.” – JRR Tolkien, The Lord of the Rings
As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?
Boendoe deur Chris Barnard
Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?
Ek weet, ek weet, ek mag dit nooit erken nie, maar ek is nie juis 'n groot leser nie. Ek dink nie ek het 'n Suid-Afrikaanse boek gelees wat die laaste twee jaar verskyn het nie.
Wat is jou skryfplanne vorentoe?
Ek sal maar voortploeter aan die kant en hoop vir die beste. Moet seker meer begin lees!
Lees die tweede weergawe van "Om 'n bok se hart te plant"




