
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.
Pêrels voor die swyne
Dit reën buite. Ek kyk hoe die druppels bruin patrone trek teen die stowwerige ruit. Die oranje en geel blare van die lappie blomme buite lyk of dit wil bars van kleur teen die grys lug.
Vandat Ouma Hanna in die ouetehuis is, dwing Ma my om elke keer as ek by hulle in die Karoo kuier besoektyd by Ouma te wees. Dan moet ek ’n uur lank by haar bed sit. Die gebou is oud en die kamer is eenvoudig. Dit het ’n blokkiesvloer en twee enkelbedjies. Ouma se bed het hoë staaltralies om om te keer dat sy afrol. Haar eie tronk. Sy het ’n pienk pajamatop aan met ’n blou beertjie voor-op wat sê: I talk in my sleep.
Ek sit op haar kamermaat se bed. Bo-op die vuilgroen deken lê hopies klere. Van dit lyk of dit uit die boereoorlog kom. Daar is darem ’n pakkie PEP-pajamas wat nuwer is. Die tannie is laas week dood, maar haar kinders het nog nie haar goed kom haal nie.
Dit was makliker toe ons nog in die sitkamer kon sit besoektye, want dan was daar ander oumense om jou aandag van jou eie vlees en bloed af te lei. My ou skoolhoof het altyd in die hoek gesit, met sykouse vasgemaak aan een van die stoele sodat hy nie kan wegloop nie. Sy mond het skeef na die een kant toe oopgehang en hy het harde skreegeluide gemaak. Tant Gesie het dag in en dag uit vir hom sit en kyk. Sy het nie ’n woord met enigiemand gepraat nie, net haar kop geskud. Ou tannie Hattingh kon weer nie ophou praat oor hoe oulik haar kleinkinders in Johannesburg is nie. Sy dra altyd die foto’s met haar saam wat haar skoondogter twee jaar terug geneem het toe die kinders hier gestop het vir ’n vinnige teetjie op pad Kaap toe.
Ouma mompel iets, ek dink sy probeer sê dat sy dors is. Ek staan op en haal die World’s Greatest Grandmother-koffiebeker van die rak af. Daar is ’n groot chip uit die beker se rant en die binnekant het deur die jare bruin gevlek van al die drinkgoed. Ek en my broer het dit vir haar een Moedersdag gegee toe ons nog klein was. Die kraan draai moeilik oop en die ou porseleinwasbak is bruin en groen gevlek rondom die uitloop. Ek tap die beker net halfpad vol, anders mors ’n mens maklik.
Ouma se bedkassie is vol ditjies en datjies. Daar is ’n 1953-vertaling van die Bybel, ’n foto van ’n jongmeise met swart hare, pildosies, ’n ou plastiekbeker met ’n stel valstande wat week in soutwater en ’n houer met strooitjies. Onder dit alles lê ’n gehekelde lappie vol koffievlekke. Ek onthou hoe Ouma dosyne van hierdie ragfyn lappies met blompatrone daarop vir die kerkbasaar gemaak het. Dit was nie eers so lank gelede nie.
Ek haal ’n strooitjie uit die houer. Die helderkleurige buisies plastiek laat my altyd aan kinderpartytjies dink – wêrelde verwyderd van hierdie mistroostige kamer. Ouma sukkel om haar bolyf op te lig. Ek kan haar hangtiete deur haar slaaphemp sien en wonder of ek eerder moet wegkyk. Ek hou die beker vas en mik met die punt van die strooitjie na haar geplooide mond.
Die vloeistof vorm ’n sterk stroom tussen my vingers deur. Dit verstom my altyd om te voel hoe só ’n swak mens met soveel oorgawe aan ’n strooitjie kan suig. ’n Siek hoenderkuiken wat verbete aan die lewe bly klou.
Die horlosie teen die muur se wysers beweeg ekstra stadig vandag. Ek kan aan niks meer dink om oor te gesels nie. Ons het al gepraat oor die universiteit en wat ek alles gaan doen as die Kersvakansie uiteindelik aanbreek. Ek sukkel om te hoor wat Ouma antwoord, maar haar gemompel is beter as net stilte.
“Ek het nou die dag weer gedink aan daai storie wat Ouma altyd vertel het. Die een van die meisie op die plaas met die wrede stiefma en twee stiefsusters. Haar stiefma het haar gedwing om die hansbok op die werf te slag. Sy het verskriklik gehuil, want sy het die bok met die hand grootgemaak en was baie lief vir hom.
Sy het die bok kraal toe gejaag en die mes geslyp. Een van haar trane het op die droë grond geval en ’n wyse ou man het aan haar verskyn. Hy het gesê dat sy die bok se hart moet plant, want dan sal sy slim word en nooit weer eensaam wees nie.
Die volgende oggend was daar ’n reuse granaatboom vol rooi vrugte wat uit die hart uit opgekom het. Sy het ’n granaat gepluk en geëet en haar stem het so helder geword soos dié van ’n pêrelborsswaeltjie. Van daardie dag af was haar woorde waar en wys en so kragtig soos weerlig.”
Ouma staar aandagtig na my, ’n druppel kwyl loop by haar mondhoek uit.
“Sy het elke aand ’n granaat geëet en elke oggend het die distrik se boere tougestaan om haar raad te vra oor hulle oeste en wanneer dit sou reën.”
*
Hanna leun met haar rug teen die huis se buitemuur naby die ou sementdam. Daar is ’n groot enemmelskottel by haar voete. Oujan sit gehurk by die slypklip. Hy trek sy mes se lem heen en weer oor die klip totdat ’n fyn wit stof vorm. Dan doop hy die lem in water en begin weer van voor af. Die son bak op die droë grond neer, dit het byna drie jaar laas behoorlik gereën.
Kleinjan en Sara is in die kraal. Hanna luister na hoe die angoras heen en weer hardloop om te probeer wegkom. Die ritme herinner haar aan laas Vrydag se volkspele op die dorp. Pieter van langsaan het haar gevra om te dans, maar sy het liewers nee gesê.
Oujan is tevrede met die lem. “Klei’jan, vang nou daai donnerse bok, man!” skree hy kraal se kant toe. “Mies Hanna wag al met die skottel saam.”
Hulle het een. Mens kan dit sommer aan die geblêr hoor. Sara en Kleinjan kom deur ’n stofwolk met die kruiwa aangeloop. Die bok lê hulpeloos op sy rug. Hy skop wild en sy oë is wyd oopgesper. Hulle stoot hom tot by die slagplek onder die groot peperboom.
Hanna kyk in die bok se bruin oë. Sy herken iets daarin. ’n Aardsheid wat hulle saambind. ’n Slagaar in die nek. ’n Hart wat benoud bloed deur die liggaam pomp. Die bok se groot pienk tong tril in sy bek en hy roep uit soos ’n verlore kind: “Maaaaaaa! Maaaaaaaa!”
Oujan stap nader met die mes. Dit verg net één oomblik om die ewigheid te verander. Daardie oomblik wat gewigloos hang tussen die vraagteken en die vrees. Hanna dink aan iets wat haar ma altyd sê. “Die Liewe Vader is baie wys. Hy het die Aarde so geskape dat geen mens of dier weet wat die dag van môre gaan inhou nie.”
Hanna vryf ’n stokkie tussen haar vingers. As die bok geweet het hy gaan vandag keelaf gesny word, sou hy laas nag deur die lyndraad probeer vlug het en homself vroegtydig gehang het? As die boer geweet het dat die Kakies hom môre sou skiet, sou hy die reg in eie hande geneem het en sy hemel (of hel) sou te vroeg aangebreek het.
Die lem glinster in die son. Die sonbesies se geskree vul die lug. Die bok se blinkwit krulle word rooi gevlek. Sy blêr word stil, die skop in sy bene al swakker. Strale bloed loop teen die kruiwa af en meng met die stowwerige grond. Die bok se kop hang slap oor die kant van die kruiwa. ’n Brommer kom sit teen Hanna se bors. Sy waai dit vies weg.
**
Ouma sê sy wil op die emmer sit. Ek loop deur die pisreuk-gange met die bruin novilonvloere. Die verpleegsters sit en speel kaart in hulle teekamer. Een van hulle staan met ’n harde sug op toe ek vra dat iemand moet kom help. Sy loop haastig vooruit en mompel iets.
Ek sit op die vloer buite Ouma se kamerdeur en wag. Die verpleegster klink ontsteld. “Agge nee sies, Ouma! Julle roep te laat vir my. Nou’t jy klaar in jou doek gaan lê en kak.” Ouma bly doodstil. Tien minute later bars die verpleegster deur die deur en stap terug na haar kuierplek toe. Daar hang ’n skerp reuk in die lug. Ouma lê en bewe op die maat van die Parkinson’s-wals.
Ek maak vir ons tee. Die pienk waslap wat ek laas Kersfees vir haar gestuur het hang verlep teen die rand van die wasbak. Dis vol bruin vlekke.
Ouma beduie met haar hand na die radio. Ek probeer dit aansit, maar die battery is pap. Nou sit ons maar weer in stilte.
***
Oujan sny die bok oop van sy nek tot by sy stert. Hy druk die lem tussen die vel en die vleis in en trek dit stukkie vir stukkie uitmekaar. Dit herinner Hanna altyd aan hoe ’n mens ’n lemoen skil in die winter. Jou vingers is dom en koud en jy sukkel om die dik skil te breek, maar sodra jy aan die gang kom gaan dit maklik. Die binnekant van die bok se vel is ligpienk en versier met rooi en blou aartjies. As ’n mens nie geweet het wat dit is nie, sou jy maklik kon dink dis ’n stuk blinkpienk satyn wat uit die dorp se lapwinkel uit kom.
“Jy ka ma kô met daai skottel, Mies Hanna,” Oujan delwe nou die bok se buik oop. Sara staan reg met ’n emmer soutwater vir die derms. Kleinjan bring die lewer en niertjies nader en sit dit in Hanna se skottel. Sy draai vinnig om en stap in die rigting van die agterdeur. Wanneer sy om die hoek van die huis verdwyn druk sy haar wysvinger teen die lewer. Dit is glad en warm. Sy kyk na haar bloederige vinger en steek dit in haar mond. Dit het ’n sterk ystersmaak.
Hanna se ma staan en wag ongeduldig in die kombuis. Sy gaan vanmiddag sommer vir hulle die vars lewer gaarmaak. Die niertjies moet eers bietjie week in asynwater. Dis altyd lekker saam met eiers vir ontbyt.
Hanna kyk by die kombuisvenster uit. Sara sit op haar hurke by die skottel. Sy trek die derms stukkie vir stukkie deur haar vingers. Dit lyk amper of sy ’n gekoekte bol wol probeer uitpluis.
“Hanna, gaan help jy vir Sara en kyk dat sy die vlieë daar weghou,” sê haar ma. “Ons moet daai afval vanmiddag nog skoonkry dat ons hom môre kan kook.”
Oujan is nou besig om sy vuiste al ruglangs onder die bok se vel in te forseer. Behalwe vir die kop met die twee glaserige bruin oë lyk dit nie meer soos ’n bok nie, maar eerder soos ’n homp bloederige vleis wat op ’n woltapyt lê.
Hanna staan nou reg langs Oujan en kyk hoe hy die laaste stukkie van die bok se vel lostorring. Sara is nogsteeds doening met die nimmereindigende bos derms.
“Sien jy, Mies Hanna, hierie groen, dis nou die gal.” Hanna maak of sy geïnteresseerd is, sy het al hoeveel keer bygestaan as hulle bokke slag, maar ’n trotse Oujan wys elke keer vir haar die gal. Sy is altyd verbaas as sy sien hoe groen dit is. Mens verwag rooi en wit en geel en selfs swart aan jou binnekant, maar beslis nie so ’n helder groen nie.
Dan wys Oujan na die bok se hart. “Het Klei’mies geweet dat as jy die hart plant, dan kom daar ’n granaatboom op? Daai granaatpitte, hulle toor met ’n mens en maak jou baie slim.” Hy sny die bok se hart los, haal dit netjies uit en gee dit vir Hanna.
Die warm orgaan pas mooi in haar twee hande. Sy loop versigtig daarmee agterdeur toe. Sy tel dit op tot by haar neus en asem diep in. Dis altyd vir haar vreemd dat ’n hart soos al die ander rou vleis ruik. As mens in boeke lees dan staan daar allerhande dinge geskryf oor die hart en liefde. Selfs in die kerk praat Dominee van sulke goed. Sy weet darem nie so mooi nie. Ook nie van Oujan se granaatstorie nie. Hanna maak die agterdeur oop.
“Ma, ruik ’n mens se hart ook soos ’n bok s’n? En kan ’n mens dit plant en dan kom daar ’n granaatboom op?”
“Hanna, hou op met nonsens praat en maak daardie sifdeur toe voor daar nog brommers inkom. En dan gaan sit jy daai hart daar in die asynwater by die niertjies. Maak dit net weer toe met die vaddoek, die vlieë is sommer lastig vandag.”
Hanna loop spens toe en druk die hart voor by haar voorskoot in. Dan stap sy vinnig buitentoe en kyk anderkant toe as haar ma opkyk.
******
Ek probeer weer vir Ouma herinner aan wat sy my vertel het. “Die stiefma het dit gehaat dat die meisie so baie aandag kry van die boere. Sy het die stiefsusters opdrag gegee om die meisie dag en nag af te loer om te sien wat haar geheim is. Toe hulle agterkom dat sy elke aand ’n granaat pluk, het hulle besluit om die boom af te kap. Die oomblik toe die boom grond toe val, was die meisie se woorde weg. Sy het haar mond aanhoudend oop- en toegemaak om te probeer praat, maar geen klank het ooit weer oor haar lippe gekom nie.”
Besoektyd is uiteindelik verby, ek staan op en gee Ouma ’n haastige soen op die wang. Haar blou oë kyk op na my. Sy wil my groet, maar net ’n geroggel kom uit. Toe ek by die deur uitstap roep sy vir oulaas iets uit, maar al wat ek hoor is ’n bok wat in die verte blêr.
Lees die eerste weergawe van "Pêrels voor die swyne"
Lees die eerste keurverslag oor "Pêrels voor die swyne"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

