Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Anton Döckel

  • 0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Anton Döckel

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Betwyfel eers en ondersoek stroomop nuuskierig.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Lees, internet, humor, gesondheid!, feite en wyn.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Sigaretboksie met eyeliner.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Kiaatlessenaar met vier laaie so vol soos ’n mossienes. Dis semi-art deco en vir ’n appel en ’n ei gekoop by ’n firma wat wou uitgooi en nuut oormaak. Op hom staan die laptop, drukker, papiere en ’n blik Doom.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Die volgende skrywer se boek of digter se vers wat met my praat. Ek sit nie my hart op net een nie. NP Van Wyk Louw, Breytenbach, André Brink, Lawrence Durrell?

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“Ma se vingers”. Die vingers wat nie meer wil reguit nie, is oorerflik in ons familie. Toe my ma ouer word, was dit altyd iets waaroor ek gewonder en wat ek bekyk het: is dit ook my voorland? ’n Mens kan jy dus ook aan sy vingers ken. (Dink maar vingerafdrukke.) Hiervandaan het van Wyk Louw se woorde, wat al soveel interpretasies gehad het, my net bygeval toe ek wonder wat Ma sou sê as jy vir haar ’n moeilike gedig moes voorlees. Sy sou eerder wou weet watter Louw skryf dan nou sulke woorde. Ek neem toe die aanhaling uit “Ars poetica” hier onder en “vervorm” dit.

met die vervormde litte
is nooit weer mooi te skryf nie
met die onvervormde wel.

NP Van Wyk Louw se “Ars poetica”:

Uit die gevormde literatuur
is nooit weer poësie te maak nie,
uit die ongevormde wél: ...

Luister hier na opnames waarin Anton sy gedigte voorlees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top