"Nuwe oë"-videokompetisie: Word LitNet se gesig op sosiale media

  • 1

Hierdie kompetisie het reeds gesluit.

Is jy ’n beïnvloeder of inhoudskepper op sosiale media? Of wil jy graag een wees?

LitNet is op soek na ’n kreatiewe persoon met ’n vars inslag om ons inhoud deur middel van video’s op sosiale media na nuwe en groter gehore te bring.

Stuur teen Dinsdag 31 Maart 2026 vir ons ’n kort video (sien die tegniese vereistes hier onder) waarin jy enige inhoud wat op LitNet of sy argiewe (LitNet-argief en OuLitNet) verskyn het, op ’n unieke manier vir sosialemediagebruikers aanbied. Die video moet geskik wees vir TikTok, YouTube, Instagram, WhatsApp en Facebook, en moet kykers aanmoedig om die betrokke artikel(s) te gaan lees.

Die wenner sal die geleentheid kry om ’n ooreenkoms met LitNet aan te gaan om teen vergoeding vir ons interessante video-inhoud te skep.

Dit sal in jou guns tel as jy reeds volgers op enige van die bogenoemde platforms het en die inhoud deur middel van saamplasings (“collaborations”) met LitNet se sosialemediaprofiele kan deel. Ons sal egter hoofsaaklik kyk na die gehalte en trefkrag van die video wat jy skep.

Tegniese vereistes:

  • Die grootte van jou video moet 1 080 x 1 920 px wees, teen die hoogste moontlike kwaliteit.
  • Die video moenie langer as ’n minuut en 30 sekondes wees nie.
  • Indien jy enige aanvullende materiaal (video, klank, teks, ens) gebruik, moet dit deur jou geskep of kopieregvry wees. (Vir verdere riglyne, raadpleeg ons gids rakende kopiereg en multimediavideo’s.) Geen KI-gegenereerde musiek, video’s, foto’s, illustrasies, kunswerke, ander visuele materiaal, klank, teks, podsendings en so meer mag gebruik word nie.
  • Deel die video deur middel van ’n skakel na Google Drive, Dropbox of enige soortgelyke wolkstoordiens, of stuur dit via WeTransfer of SwissTransfer.
  • Stuur die skakel na jou video in ’n e-pos aan line@litnet.co.za, waarby jy ook die volgende inligting insluit:
      • Jou naam, van en ouderdom
      • Die skakel(s) na die inhoud op LitNet waaroor jou video handel
      • Skakels na jou bestaande sosialemediaprofiele (indien van toepassing)
      • ’n Skriftelike verklaring dat jy nie van KI of materiaal wat deur kopiereg beskerm word, gebruik gemaak het in die skepping van jou video nie.

Reëls en voorwaardes:

  • Slegs een inskrywing per persoon.
  • Geen KI-gegenereerde materiaal of materiaal met kopiereg op mag gebruik word nie.
  • Jou video moet in Afrikaans wees (dit mag enige variëteit van Afrikaans wees), maar mag oor inhoud in enige taal handel.
  • Deur in te skryf, gee jy vir LitNet toestemming om jou inskrywing vir bemarkingsdoeleindes te gebruik, alhoewel nie alle inskrywings noodwendig gepubliseer sal word nie.
  • Jou video moet direk aan ons gestuur word (soos onder “Tegniese vereistes” uiteengesit) en mag nie op jou eie sosiale media of elders verskyn totdat die kompetisie gesluit het nie.
  • Slegs persone oor die ouderdom van 18 mag inskryf.
  • Jou video mag nie beeldmateriaal van enigiemand onder die ouderdom van 18 bevat nie.
  • Indien jou video nie aan die vereistes hier bo uiteengesit voldoen nie, sal jou inskrywing gediskwalifiseer word.
  • LitNet behou die reg voor om ’n kort gesprek met finaliste te voer voordat ’n wenner aangewys word.
  • LitNet behou die reg voor om nie ’n wenner aan te wys nie of om meer as een wenner aan te wys.
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top