LitNet-gids: Kopiereg rondom multimediavideo’s

  • 0

LitNet-gids: Kopiereg rondom multimediavideo’s
Vind kopieregskending plaas as net ’n kort uittreksel of snit gebruik word?

Daar bestaan geen regsreël wat bepaal dat ’n kort uittreksel of snit (byvoorbeeld 20 sekondes se musiek of ’n enkele strofe van ’n gedig) outomaties vrygestel is van kopiereg nie.

In ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse regspraak (Haupt v Brewers Marketing Intelligence1) word kopieregskending bepaal deur die kwaliteit en nie die kwantiteit van die materiaal wat gebruik word nie.

In die Suid-Afrikaanse reg word kopieregskending bepaal deur die vraag of daar van die “wesenlike kenmerke” van ’n werk gekopieer is. Dit is nie ’n wiskundige berekening nie, maar ’n kwalitatiewe beoordeling.

LitNet loop ’n risiko vir eise indien multimediavervaardigers glo dat kort uittreksels voor die voet “veilig” is. Die “20 sekondes”-idee is ’n mite. Daar bestaan geen statutêre vrystelling vir kort musiek- of videogrepe nie. Énige gebruik van beskermde materiaal sonder ’n lisensie of toestemming maak ’n prima facie-inbreukmaking uit.

Praktiese sake vir bydraers/medewerkers
  • Alle medewerkers en bydraers moet skriftelik bevestig dat hulle die bogenoemde kwalitatiewe toets verstaan.
  • Daar moet streng by kopieregvrye platforms gehou word tensy ’n eksplisiete klaringsertifikaat of toestemming van die uitgewer, of skrywer, of wie ook al die kopiereg van ’n werk besit, vir musiek en teks ontvang is.
  • Elke element van die multimediaproduk moet per e-pos bevestig word.
Volg hierdie riglyne:

Video’s, videogrepe en video-effekte:

  • Indien nie kopieregvry nie, moet skriftelike toestemming deur die skepper(s) gegee word en aan LitNet gestuur word om dit in ’n multimediavideo op www.litnet.co.za te plaas.

Musiek, klankgrepe en klankeffekte

  • Indien nie kopieregvry nie, moet skriftelike toestemming deur die kunstenaar(s) en die platemaatskappy gegee word, en aan LitNet gestuur word om dit in ’n multimediavideo op www.litnet.co.za te plaas.

Kunsmatige intelligensie

  • KI-gegenereerde musiek, video’s, foto’s, illustrasies, kunswerke, klank, enige visuele materiaal, teks, podsendings, en so meer het kopiereg op as daar nie toestemming van die bronmateriale se skeppers verkry is nie. Indien skriftelike toestemming nie verkry is nie, kan ons dit nie plaas nie.

Generiese foto’s en illustrasies

  • Indien nie kopieregvry nie, moet skriftelike toestemming deur die skepper(s) gegee word, en aan LitNet gestuur word om dit in ’n multimediavideo op www.litnet.co.za te plaas.

Fotografie

  • Skriftelike toestemming moet van die fotograwe verkry word, veral dié foto’s wat van digitale publikasies, sosiale media, ens afgetrek is.
  • Wanneer toestemming verleen is, moet daar met ’n byskrif op elke foto aangedui word wie die fotograaf is. Die erkenning op elke foto is ook nodig sodat daar onderskei kan word tussen die generiese foto’s en foto’s wat deur ’n spesifieke fotograaf of fotograwe geneem is. 

Gedigte, lirieke en enige kreatiewe teks

  • Skriftelike toestemming moet altyd verkry word van kopiereghouers, asook van uitgewers of platemaatskappye (indien ter sprake).
  • Indien ’n video gemaak word waarin slegs die slotreëls van ’n bekende gedig gebruik word omdat dit die trefkrag van die video bewerkstellig, word die wesenlike kern van die skrywer se intellektuele eiendom gebruik en is toestemming ononderhandelbaar. Hieroor moet van geval tot geval besluit word. Daar is nie net een kitsreël wat vir alles geld nie.
Belangrike regsdiktum: Die toets vir kopieregskending

Daar bestaan geen wetlike reël wat bepaal dat ’n kort gedeelte (byvoorbeeld 20 sekondes se musiek of ’n enkele strofe van ’n gedig) outomaties vrygestel is van kopiereg nie. In ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse regspraak (Haupt v Brewers Marketing Intelligence), word kopieregskending bepaal deur die kwaliteit en nie die kwantiteit van die materiaal wat gebruik word nie.

Indien die gedeelte wat gebruik word, die “kern” of “hart” van die oorspronklike werk2 verteenwoordig, word dit as ’n substansiële deel beskou en is skriftelike toestemming van die kopiereghouer verpligtend. Erkenning van die bron is nie ’n plaasvervanger vir wetlike toestemming nie. As daar twyfel bestaan, moet toestemming altyd verkry word, of daar moet van gelisensieerde kopieregvrye bronne gebruik gemaak word.

Billike gebruik

Ingevolge die Wet op Outeursreg bestaan daar die uitsondering van “billike gebruik” wat ’n gebruiker wat hom aan kopiereginbreukmaking skuldig maak, vryskeld van gevolge.

Artikel 12 van die Wet op Outeursreg bepaal soos volg:

12. Algemene uitsonderings rakende beskerming van letterkundige en musiekwerke

(1) Outeursreg word nie geskend nie deur enige billike gebruik van ’n

letterkundige of musiekwerk–

(a) vir die doeleindes van navorsing of private studie deur, of die persoonlike

of private gebruik van, die persoon wat die werk gebruik;

(b) vir die doeleindes van beoordeling of resensie van die werk of ’n ander

werk; of

(c) ten einde oor sake van die dag verslag te doen–

(i) in ’n koerant, tydskrif of dergelike blad; of

(ii) deur middel van uitsending of in ’n rolprent

Met dien verstande dat, in die geval van paragrawe (b) en (c) (i), die bron vermeld moet word, asook die naam van die outeur indien dit op die werk voorkom.

Indien daar klagtes ontvang word oor die gebruik van kopieregdraende werk, sou LitNet, as ’n “dergelike blad” ((c) (i) hier bo), kon argumenteer dat daar oor sake van die dag wat vir sy lesers wat in letterkundige sake belangstel (eie kursivering), verslag gedoen word, en ’n video sou vir doeleindes van die gesprek as ’n “rolprent” geïnterpreteer kon word.


Eindnotas

1 Regspraak: Haupt v Brewers Marketing Intelligence (Edms) Bpk: Die saak van Haupt v Brewers Marketing Intelligence (Pty) Ltd 2006 (4) SA 458 (SCA) bevestig dat die “wesenlikheid” van die gekopieerde deel kwalitatief gemeet word. In hierdie saak het dit gehandel oor iemand wat ’n baie kort gedeelte van ’n rekenaarprogram gebruik het om ’n ander program te skep. (’n Rekenaarprogram beskik oor sy eie sui generis-kategorie van werke onder die Wet op Outeursreg, maar as dit nog geen resultate teweegbring nie, is dit ’n letterkundige werk onder die Wet op Outersreg.) Dit was onmoontlik vir die programmeerder wat van kopieregskending beskuldig is, om daardie oënskynlik onnoemenswaardig kort gedeelte van die kode wat hy gebruik het om ’n nuwe program te skryf, self te skryf, en daardie kort gedeelte van die rekenaarprogram was dus die hart van die program en het die “wesenlike kenmerke” van die program bevat. Die Appèlafdeling het beklemtoon dat die fokus moet val op die belangrikheid van die gedeelte wat ten opsigte van die oorspronklike skepping in sy geheel geneem is.

2 Die “hart” van die werk: As die herkenbaarste, oorspronklike of deurslaggewende deel van ’n gedig/teks of liedjie gebruik word, is dit ’n skending – selfs al vorm dit slegs 5% van die totale werk of slegs ’n paar sekondes van die liedjie. Die woorde “oorspronklik” en “oorspronklikheid” word hier nie in die normale spreektaalsin- of -konteks gebruik nie. Die oorspronklikheidsbeginsel is een van die drie vereistes vir die totstandkoming van ’n kopieregdraende werk. Hierdie beginsel staan in die wetgewing, maar bestaan al in die Romeins-Hollandse gemenereg, en die standaard van oorspronklikheid verskyn al in die vroegste werke van Justinianus, waar hy oor die “reg van dinge”, en spesifiek specificatio, geskryf het. Sy werke word beskou as ’n voorloper van moderne intellektuele-eiendomsreg in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Die werk moes in die “sweet van die aanskyn” van ’n menslike outeur tot stand gekom het, en die Suid-Afrikaanse regstelsel volg steeds die Britse standaard van oorspronklikheid voor Brexit – “vaardigheid en arbeid”, oftewel “skill and labour” moes aangewend gewees het en die werk moes, deur die toedoen van ’n menslike outeur, daardeur tot stand gebring gewees het. Dit is die oorspronklikheid waarna verwys word.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top