Nuwe koronamaatreëls: drasties maar broodnodig

  • 0

Vanaf middernag Donderdag 26 Maart 2020 is Suid-Afrika in afsluiting vir 21 dae. Mense mag hul huise verlaat net om kos te koop, medikasie of mediese hulp te verkry, of hul SASSA-gelde te ontvang.

Dit beteken boekwinkels, restaurante, flieks, klerewinkels en dies meer maak toe. Die paaie, wat alreeds grootliks stil is, sal nog stiller word. Besighede wat alreeds harde bene kou, gaan waarskynlik nie oorleef nie, ten spyte van die noodlenigingsmaatreëls wat ingestel is.

Alreeds ondervind baie vryskutwerkers dat hulle werk opgedroog het. Die sg “gig”-ekonomie is onverwags tot stilstand geruk. Konserte is gekanselleer, boekbekendstellings gebeur nie meer nie, feeste is gekanselleer of uitgestel. Die Nasionale Kunstefees in Grahamstad het begin met ’n interessante ander manier van fees hou: virtueel. Dalk is dit die manier waarop al meer byeenkomste in die toekoms gaan gebeur. Ook het sommige predikante alreeds begin met dienste op YouTube en Facebook.

Die maatreëls wat ingestel is, is streng. Dis ook broodnodig. Die enigste manier waarop ons die uitbreek van die pandemie kan verlangsaam, is om te isoleer. Pres Ramaphosa sê self: “We are prioritising the lives and livelihoods of our people above all else.”

Om die hele land af te sluit, met die gepaardgaande ekonomiese implikasies, is nie ’n besluit wat ligtelik geneem kon word nie. Ons weet dat daar met rolspelers dwarsoor die verskillende sektore in gesprek getree was. Terwyl burgers op sosiale media te velde getrek het omdat die President laat was met sy aankondigings, moes hy besluite neem wat waarskynlik tot bankrotskap vir vele, en swaar tye vir nog meer gaan lei.

Tog was dit die regte besluit, een wat grootliks ondersteun word. ’n Bietjie swaarkry nou is beter as grootskaalse sterftes later, blyk die algemene gevoel te wees.

Die vraag is net: Is dit nie alreeds te laat nie? Ons het aansienlik meer gevalle wat positief toets vir COVID-19 as wat ’n land soos Italië op dieselfde kurwe gehad het. Ons weet hoe dinge daar ontaard het. Hulle het boonop nie met die uitdagings van ’n bevolking met onderliggende gesondheidsprobleme soos MIV en tuberkulose, of met die armoede waaraan baie Suid-Afrikaners blootgestel is, te doen nie. Wat ons nou kan red, is as Suid-Afrikaners die erns van die saak besef en nie in weerwil van maatreëls sosiaal wil verkeer nie.

Ons is ’n nasie wat gewoond is daaraan om gesag uit te daag en die perke van die reëls te toets. Nou is nie die tyd daarvoor nie. Nou is ’n tyd om nugter te dink en te besef dat ons almal moet saamwerk en saam opoffer om ons land te red van wat potensieel die grootste krisis in dekades is.

Die gebruik van die weermag om die reëls af te dwing maak my onrustig. Ek het my al vele kere op hierdie en ander platforms uitgedruk oor die gebruik van ’n weermag om teen hul eie burgers op te tree. Die inperking van regte wat noodwendig die gevolg is, maak my onrustig. Alhoewel die woord “noodtoestand” nie gebruik is nie, herinner die maatreëls tog daaraan. Bewegingsvryheid word aan bande gelê. Die reg op vrye assosiasie word beperk.

Tog is dit nodig. Liewer inperking op vryhede nou, vir ’n beperkte tyd, as grootskaalse sterftes later. Solank die inperkings nie onbepaald aanhou nie.

Daar is maar ’n fyn lyn tussen redder en diktator.

Ek vertrou ons president om nie daai lyn te oorskry nie. Ek vertrou nie noodwendig almal in die regerende party om dieselfde omsigtigheid aan die dag te lê nie. Dit is elkeen van ons se plig om die regeerders verantwoordelik te hou.

Maar vir eers is dit nodig dat elke strydbyl neergesit word en ons saamwerk om hierdie mediese uitdaging die hoof te bied.

Ons kan COVID-19 stuit, maar net as almal saamwerk. Dus, bly tuis, volg die higiëniese voorskrifte, volg die voorskrifte omtrent fisiese spasie. Moedig die mense rondom jou aan om dieselfde te doen.

Nou is die tyd om ook ubuntu toe te pas. Laat jou huiswerker tuis bly, teen betaling. Dis vir haar veiligheid sowel as jou eie. Help ouer mense wat nie by die winkels kan uitkom nie, deur hul inkopies vir hulle te doen.

Ons kan hierdeur kom. Ons sal hierdeur kom. Sterkte. Vasbyt.

#stayhomestaysafe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top