Nuwe boeke by LAPA Uitgewers in Oktober

  • 2

Kyk, in Oktober kook ons. Nie net is ons boeke vuurwarm nie, ons inspireer selfs vir Karlien van Jaarsveld tot kulinêre kunsies. Ons fiksie bied ’n briljante krimi oor renosterstropery deur Dibi Breytenbach, nóg ’n lekkerleesroman deur Chanette Paul en ’n stomende verhaal deur Vita du Preez. Nanette van Rooyen se roman Die sewentiede veer gaan baie mense laat huil, en laat lekkerkry. Daar is ook ’n nuwe blik op Madiba in ’n tyd toe hy nog in die tronk was, vars stories oor onbekende helde deur Wendy Maartens, kortverhale vir jonger lesers en ’n wenkbrouwippende boek oor vroue in Suid-Afrika. Lekker!

***

Operation Mandela by Willem Laubscher tells of the National Party plotting to move Nelson Mandela to the USA, hoping that he would escape. This is the story of a few weeks of diplomatic chaos, and a massive security operation; the book was done with the assistance of the Nelson Mandela Foundation.

Fiksie | Fiction

Blinde gode

Dibi Breytenbach
Druknaam: LAPA
Algemene Fiksie
9780799398205
R285,00

Aella O’Malley is bevorder na bevelvoerder van die speurtak op Opathe sedert die dramatiese gebeure in Dowe gode. Dis nou eers ’n week en sy moet nog gewoond raak daaraan wanneer mense haar as kolonel aanspreek.

Sy sukkel steeds om die dood van haar geliefde Roel te verwerk en is getraumatiseer deur Whistler se verraad. Sy ontvang besoek van ’n afgevaardigde van ’n presidensiële kommissie van ondersoek na korrupsie in die strafregstelsel – op die presiese tydstip wat ’n plaaslike landdros dood in sy motor gevind word. Hy is tereggestel.

Aella is verplig om kontak te maak met majoor Christophe Leblanc om haar te help om data te herwin ten einde die ondersoek te bespoedig. Leblanc is ’n Fransman van Interpol wat Suid-Afrika toe gestuur is om uit te vind wat van die geld word wat Europa vir renosterbewaring skenk.

Terselfdertyd word twee renosterstropers koelbloedig voor kolonel Alexander MacLachlan op die verre noordelike grens van die provinsie doodgeskiet. Hy arresteer die moordenaar op die toneel. Sy saak word beduiwel toe die moordenaar homself om die lewe bring.

Hoe hou die moord op ’n landdros en die teregstelling van twee renosterstropers met mekaar verband? Die ondersoek lei O’Malley en MacLachlan na mekaar, met skokkende gevolge.

Die ondersoek is egter ook ’n helingsproses vir O’Malley. Deur die harde werklikheid van ’n moordondersoek leer sy dat die dooies die dooies moet begrawe en dat hoop nooit ydel kan wees nie.

Dibi Breytenbach huldig die ware helde wat aan die voorpunt van renosterstropery staan. Haar navorsing is gebaseer op ware verhale van die talle anti-stropereenhede met wie sy gesels het. Blinde gode is fiksie, want die werklike helde op wie se spanne dié roman geskoei is, se lewens sal in gevaar wees as hulle bekendgemaak word. Hierdie fiksie is na aan die been.

Hierdie boek het soveel aandag getrek dat Lente Roode, die uitvoerende hoof van die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) haar steun aan die boek toegesê het. HESC behandel talle renosterwesies wie se ouers vir hulle horings geskiet is, en hulle behandel ook beseerde renosters.

HESC is oop vir die publiek.

* * *

The criminal justice system is a pillar on which democracy is built. It has to be carefully guarded. Because what happens when its guardians can no longer be trusted? Quis custodiet ipsos custodes? Who will see to it that the watchers are being watched?

 

Vywervrou: Mirre

Chanette Paul
Druknaam: LAPA
Vrouefiksie
9780799398175
R340,00

“Hy sal vir jou sê dit sal nooit weer gebeur nie, maar trust me, dit sal.

As daardie membraan tussen selfbeheer en gewelddadigheid eers eenkeer geskeur het, word dit nooit weer heel nie. Dis soos ʼn maagdevlies. Jy kan nooit weer ʼn maagd word nie. Soos onskuld. As jy dit eers verloor het, kry jy dit nooit weer terug nie. En die aanrandings sal eskaleer. It is the nature of the beast.”

Mirre weet Marilyn is reg, maar ʼn Dreyer skei nie. En as sy hom aankla van huishoudelike geweld, sal hy nooit weer sy beroep as befaamde huweliksberader kan volg nie. Sy reputasie sal vernietig wees. En dít sal hy haar nooit vergewe nie.

Buitendien, sy verstaan waar die ‘beast’ in haar andersins sjarmante man vandaan kom. Maar sy weet ook dat sy volgende keer dalk nie ʼn aanranding sal oorleef nie.

Mirre gaan skuil by haar vriendin Corali op Vywerbaai, waar Boeta Naudé met sy vrou en drie seuns ook woon. Boeta, haar jeugliefde wat steeds haar hart in die holte van sy growwe bouershand hou.

Mirre is die tweede deel van die Vywervrou-trilogie wat gaan oor vroue wat hulle lewenslesse op die moeilike manier leer, maar nie moed opgee nie.

* * *

How can Mirre destroy her husband, a famous marriage counsellor’s career while she knows that he is the product of a dysfunctional family? If she lays a charge of domestic abuse, André will never forgive her.

 

Klaskamer

Vita du Preez
Druknaam: Wenkbrou
Erotiese fiksie
9780799397277
R285,00

Vita du Preez was nog nooit skaam om haar heldinne in die bed te druk met ’n mooi man nie. Dink maar aan die openingstoneel van Solitaire waar Donna langs die bloedjong surfer wakker word!

In Klaskamer haal Vita die sweep uit, klits die boeie om sekere mense se polse en gee aan dissipline ’n totaal ander betekenis.

Emma Louw kry die geleentheid om as kinderoppasser op 'n Karooplaas te gaan werk vir Daniel Swart. Sy is pas uit ’n langtermynverhouding en is lus vir ’n nuwe uitdaging.

Sy raak gou lief vir die seuntjie, en is ook nie onaangeraak deur Daniel se teenwoordigheid nie.

Alles maak egter nie vir haar sin nie. Steek sy dalk haar kop in 'n byekorf? Hoekom is Daniel so geheimsinnig oor sy verlede en oor die letsel op sy bors? Waar pas die impulsiewe Sally, Daniel se eksvrou in die prentjie? Dan praat ons nie eers oor Irma Rothman nie. Sy is immers Daniel se destydse onderwyseres op skool ...

Op 'n dag, kom Emma op 'n geheime kamer af. Dinge oor die geheimsinnige Daniel begin vir Emma duideliker word. Sal sy die binnekant van die klaskamer aandurf? Indien wel, sal sy lewendig anderkant uitkom?

* * *

Emma Louw encounters more than she is ready for when taking on the role of governess to Daniel Swart’s son on his Karoo Farm. Daniel introduces her to the world of BDSM. Will she relinquish herself to his dark side in order to win his trust and, at the end of a rather stormy ride, his heart as well?

Niefiksie | Non fiction

Karlien kan nie kook nie

Karlien van Jaarsveld & Izelle Hoffmann
Druknaam: LAPA
Resepteboek
9780799396119
R320,00

Karlien van Jaarsveld het baie talente, maar kook is nie een van hulle nie. Soos baie ander mense wil Karlien die berge invaar wanneer iemand haar vra: “Wat eet ons vanaand?”

Toe kom leefstylsjef Izelle Hoffman met 50 resepte vorendag wat só maklik, lekker en vinnig is dat selfs Karlien dit kan maak!

Die gevolg is ’n heerlike resepteboek propvol wengeregte wat jy met min moeite en eenvoudige bestanddele in ’n japtrap kan maak.

Karlien kan nie kook nie sluit alles in van familiekos en trooskos tot romantiese etes vir twee en lekkernye vir die kroos.

Of jy nou vinnig iets ná werk aan mekaar wil slaan of die Sondag grênd wil onthaal, dié boek gaan elke keer tot jou redding kom. Beïndruk jou gesin en jou gaste met hartlike huiskos wat na baie moeite lyk, maar geen moeite is nie!

* * *

Karlien kan nie kook nie includes family food, comfort food and romantic dinners for two, as well as treats for the kids. Recipes are so simple that even Karlien can cook them

 

Operation Mandela
Willem Laubscher

Imprint: Imbali
Politiese niefiksie
9780799397307
R190,00

The late eighties was a highly politicised environment. Willem Laubscher was healing some of the world’s best-known political prisoners, amongst them Walter Sisulu and Govan Mbeki. When Nelson Mandela was scheduled for a similar operation, all hell broke loose.

The National Party was quietly plotting to smuggle Mandela out of the country, possibly hoping that he would escape, while the ANC was scoring points by casting doubt on the medical services that white doctors like Laubscher was willing to provide to the political prisoners.

A relatively simple medical operation turned into an international diplomatic crisis.

Meanwhile, in most ironic of twists, the security police was taking desperate measures to ensure Mandela’s safety – the country could simply not afford an assassination attempt.

Willem Laubscher was the medical practitioner in the eye of this storm; Nelson Mandela was the calm strategist who had held out against pressure from both the jittery NP government and the increasingly boisterous ANC, with Winnie Mandela already larger than life, stoking the media and exploiting every available loophole to embarrass the government.

This is the story of a few weeks of diplomatic chaos, and a security operation that completely overshadowed the medical procedure Mandela was scheduled for.

This book was done with the assistance of the Nelson Mandela Foundation.

* * *

Nelson Mandela moes ’n mediese operasie ondergaan terwyl hy in die tronk was, toe breek alle hel los.

Die Nasionale Party wou stilletjies vir Mandela landuit smokkel, skynbaar met die hoop dat hy dan sou ontsnap. Die ANC was besig om internasionaal punte aan te teken deur te kla oor die swak mediese dienste wat wit dokters aan die prisoniers sou gee.

Intussen, hoe ironies, was die land se veiligheidspolisie besig om desperaat te keer dat Mandela enige iets sou oorkom. Die land kon eenvoudig nie ’n sluipmoordpoging bekostig nie.

Jeugromans | Young adult

Die 17de veer
Nanette van Rooyen

Drukaam: LAPA
Jeugfiksie
Ouderdom: 15+
9780799389418
R180,00

Lara is nog op skool, maar werk in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon en verkoop vintage-klere vir ekstra sakgeld. Haar ma gebruik kalmeerpille om die lewe in die oë te kyk en oom Dan, wat by hulle woon, is ’n vreedsame funksionele alkoholis. Haar pa was nog nooit deel van haar lewe nie.

Alex het in ’n kinderhuis grootgeword en het ’n troetel-uil. Hy help al sedert sy laerskooldae om siek en beseerde voëls te versorg en weer in die natuur vry te laat. En hy is in Kaapstad omdat hy ’n belofte aan iemand gemaak het.

Toe Lara die eerste keer vir Alex sien, is sy byna seker hy agtervolg haar. Wat sy nog nie weet nie, is dat hulle wêrelde op die punt is om bymekaar te kom. En alles begin met ’n hoededoos vol ou briewe wat Lara op haar ma se kas ontdek.

In hierdie opwindende, liriese grootwordverhaal ondersoek Nanette van Rooyen die ingewikkelde bande wat gesinne bymekaarhou, en wat dit regtig beteken om ’n tuiste te hê.

* * *

In her spare time, Lara works at a tattoo parlour, and sometimes wonders why she never had a father. Alex grew up in an orphanage, and has a strange fascination with owls. Lara doesn’t know it yet, but her and Alex’s stories are about to get intertwined.

 

Die A, B, C van Suid-Afrikaanse baanbrekervroue
Ambre Nicolson
Druknaam: Wenkbrou
Niefiksie vir jeug
Ouderdom: 15+
9780799396980
R250,00

Met elke letter van die alfabet vereer hierdie boek die bydrae van vroue tot Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms. Met behulp van kort, maklik leesbare biografieë en illustrasies, wat so helder en vol vernuf is soos die vroue wat dit uitbeeld, deel hierdie boek die lewensverhale van 26 Suid-Afrikaanse rebelle, kunstenaars, moeilikheidmakers, atlete, dansende divas en vryheidsvegters.

* * *

From Fatima Meer to Caster Semenya, Cissie Gool to Thuli Madonsela, this is a book about women who ask too many questions, who defy injustice, who refuse to “know their place”. It is a celebration of the courage, determination and compassion of the activists, scientists and storytellers who have gone before us – as well as recognising the everyday heroism of ordinary South African women doing extraordinary things.

 

Iemand wat verdrink en ander verhale
Verskeie

Jeugfiksie
Druknaam: LAPA
Ouderdom: 13+
9780799397116
R200.00

Iemand wat verdrink.
Iemand met ’n donker gewete.
Iemand wat wil vlieg.
Iemand wat ’n vloekwoord hoor.
Iemand wat nie kan sien nie.
Iemand wat oranje word.
Iemand wat gesond eet vir Instagram likes.
Iemand wat klippe en klappers gooi.
Iemand in swart en wit.
Iemand wat beheer verloor.
Iemand wat ’n boot vir sy pa bou.
Iemand wie se lewe verfrommel.
Iemand wat vir die eerste keer gim toe gaan.
Iemand wat reëls maak en wraak neem.
Iemand wat begrafnisblomme kry voor hy sterf.
Iemand en haar ouma en ’n klomp befoeterde vroue.
Iemand wat na appels ruik.
Iemand wat, die vet weet, klaar is met koolsop.
Iemand wat zombies skiet.
Iemand vir wie mieliepap soos armoede smaak.
Iemand wat op banke duik.
Iemand wie se skooltas wegraak.
Iemand wat ongelukkig ’n gelukkige trekking wen.
Iemand wat ’n nuwe hart kry.
Iemand met ’n stert.
Ontmoet hulle almal in hierdie bundel. En word iemand wat verdrink in stories.

* * *

This book contains short stories by well-known authors such as Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Nanette van Rooyen and Zelda Bezuidenhout. Upcoming writers such as Mercy Kannemeyer, Almero Welgemoed, Corinne Raath and Arleen Stone are also featured in the book

Vir die jongspan | For the young ones

Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo, en nog 21 lekkerlees legendes, ware verhale en staaltjies
Wendy Maartens

Kleuterfiksie
Druknaam: LAPA
Ouderdom: 5+
9780799394863
R330,00

In hierdie besonders geïllustreerde boek het meesterstorieverteller Wendy Maartens 22 Suid-Afrikaanse stories bymekaargemaak. Sommige is so deurleef soos die windverwaaide kontoere van Tafelberg. Ander is so splinternuut dat die vreugdevolle verwondering van nuusgebeure nog vlak lê. Lees oor die avonture van Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo, en ontdek hoe Job Maseko ’n oorlogskip gesink het! Ontmoet vir Tyl Uilspieël en juig saam oor die seun wat kaalvoet deur ‘n oorlog gestap het. Hierdie versamelbundel is perfek vir voorlees of selflees. ’n Fantastiese geskenk vir enige jong storieliefhebber!

* * *

In this beautifully illustrated book, master storyteller Wendy Maartens collected 22 South African stories, old and new.

 

Elke hond kry sy dag
Kimberlie Hamilton
Niefiksie vir kinders
Druknaam: LAPA
Ouderdom: 9+
9780799394962
R200,00

Lees verhale wat enige hondeliefhebber se hart sal smelt. In hierdie boek kan jy jou pote op die stories en geheime van sommige van die geskiedenis se heldhaftigste honde lê.

Hierdie is ’n boeiende versameling van meer as 30 verhale van werklike honde, insluitende filmsterre met pelse, honde wat graag help, wetenskapsupersterre en oorlogshelde. Hierdie heldhaftige honde is die sterre van hulle eie stories. Lees ook oor honde wat rekords breek, honde in die letterkunde, babahonde wat roem op die internet gewerf het en nog meer …

* * *

This is an engaging collection packed with over 30 real-life dogs, including film stars with fur, hounds that love to help, superstars of science and war heroes – these rebel dogs are the stars of their own stories. With some fur-raising facts on record-making dogs, marvellous mutts in literature, internet-sensation pups and much more, this book is perfect for pup fans of any age.

 

Ek lief lamas
Emily Stead

Niefiksie vir kinders
Druknaam: LAPA
Ouderdom:  5+
9780799397109
R125,00

Verken ’n wollerige lamawêreld met hierdie fantastiese plakkeraktiwiteitsboek. Van lama-name tot lamas in pajamas, van soek-en-vind pret tot vernuftige plakkertonele – hierdie boek is propvol lama-liefde. Die boek sluit ook meer as 300 plakkers in waarmee jy die asemrowende prenteblaaie kan voltooi. Ure se lama-pret gewaarborg!

* * *

A colourful activity book full of scenes teeming with lamas to spot, count and talk about. The book includes more than 300 stickers. Hours of llama fun guaranteed!    

Romanse | Romance

Robynprinses
Corné van Rooyen

Druknaam: LAPA
SuperRomanza
9780799397499
R240,00

Emmalynn James is ′n sorgvrye agtienjarige meisie, en stel nog nie in die minste daarin belang om soos haar vriendinne te trou nie. Sy wil trou vir liefde en wil wag om verlief te raak voordat sy trou, maar dan daag Edmund Blackmore se moeder, Frances, een oggend by haar ouma se huis op en sê dat sy en Emmalynn se ouma, Josephine, besluit het dat haar seun die geskikte man vir haar is. Edmund is die laaste man met wie Emmalynn haar in ′n huwelik wil begewe.

Hy is arrogant en laat haar baie ongemaklik voel. Hy wil met haar trou en het alle ander mans wat in haar belangestel het, verjaag.

Een oggend toe sy saam gaan mark toe, kom ′n aantreklike, donkerkop vreemdeling tot haar redding en later kry sy hom weer te siene toe sy perd op loop gaan en hy op haar ouma se grond beland. Dis dan eers wanneer sy besef wie hy is. Benjamin Worthington, die Markies van Hemmingford.

Hy is seker die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het, maar ongelukkig vir haar is hy ver buite haar bereik, en het Edmund reeds besluit sy is sy aanstaande vrou.

* * *

Emmalynn James wants to get married for love and thinks Benjamin Worthington, the Marques of Hemmingford, is the most attractive man imaginable. But he is out of her reach, because Edmund Blackmore and his mother have already decided that she is his future wife.

 

Halsoorkop verlief
Dina Botha

Druknaam: Romanza
Romanse
9780799397376
R95,00

Toe die klok twaalfuur slaan om die nuwe jaar in te lei, besluit Annemi Morkel dat sy net een Nuwejaarsvoorneme het: Om halsoorkop verlief te raak. Haar huismaat, Leana, trou oor drie weke, en sy is dan die enigste een in hul vriendekring wat nog alleen is.

Rohan, Leana se ouer broer, daag een nag onverwags by haar huis op om vir sy suster te kom kuier voor haar troue, en impulsief nooi Annemi hom om daar te kuier al is Leana en hul ouers weg met vakansie.

Dit lyk of hy nét die regte man is om haar te help met hierdie voorneme. En sy kan natuurlik ook nie die vuurwerke tussen hulle ignoreer nie …

* * *

When the clock strikes twelve Annemi makes a decision that will change her life: She wants to fall head over heels in love, and Rohan seems like the perfect guy to help with this new year’s resolution.

 

Sterredief
Wilreza Smit-Theron

Druknaam: Romanza
Romanse
9780799397406
R95,00

Gitte herstel van ʼn mislukte verhouding met Tom wat aan dwelms verslaaf was. Haar ma, ʼn astronoom, nooi haar Sutherland toe om te help met ’n konferensie wat sy aanbied. Een van die konferensie-aanbieders, Pierre Winterbach, is ʼn navorsings-astronoom wat in Hawaii gestasioneer is en wat tans oorbly in haar ma se huis tydens die konferensie. Daar is onmiddellik ʼn vonk tussen Gitte en Pierre, en sy ervaar emosies en gevoelens wat sy nooit tydens haar verhouding met Tom gevoel het nie. Maar dan maak Salomé haar verskyning, en versuur die ontluikende verhouding tussen Gitte en Pierre.

* * *

Gitte is recovering from a failed relationship with Tom. Pierre Winterbach, a research astronomer, attends an astronomy conference in Sutherland. There is immediately a spark between them, and Gitte experiences emotions and feelings she has never felt before.

 

Perfekte pasmaat
Joléne de Koningh

Druknaam: Romanza
Romanse
9780799397468
R95,00

Madelie kry, na ʼn lang gesukkel en bo verwagting, die pos by ʼn prokureursfirma, wat haar soos ʼn handskoen pas. Haar nuwe baas, Marius du Plooy, roep haar dadelik in om hom te kom bystaan, al is die aanstelling nog nie eens finaal deur nie. Sy pas maklik aan, al  laat die aantreklike man haar hart dadelik vinnig klop en nie te lank nie, of hulle is op voornaam-terme en sy word sy regterhand.

Marius du Plooy het ʼn siek pa in Mbombela en hulle vriendskap groei tot só ʼn mate dat sy een naweek saam met hom soontoe ry. Die ou oom moet oorgehaal word om na ʼn versorgingsoord te gaan en sy het hom dadelik in die palm van haar hand. Hy noem haar die ‘bondeltjie sonskyn’ wat sy seun vir hom gebring het. Daarna besef sy dat sy die seun en sy pa in haar hart toegelaat het, en teen alle voornemens trek sy Mbombela – na Marius en sy vriend se nuwe prokureurspraktyk – toe. Of is dit dalk vir iets anders dat sy daarheen trek?

* * *

Bring a beautiful redhead and a tall attractive attorney together and quickly sparks will fly. The redhead knows exactly what she wants and the lawyer has his hands full trying to make her fall into step with his plans.

 

Hartsmusiek
Lizelle von Wielligh
Druknaam: Romanza
Romanse
9780799397437
R95,00

Marlé is ’n selfstandige musiekonderwyseres wat haar huis op River Rock, die familie se berghut, gemaak het. Sy ontmoet vir Stoffel – ’n enigmatiese, hawelose vreemdeling – en met die intrapslag leen hy vuurhoutjies, koerante en sout by haar, maar daar is iets aan die man wat haar rustig maak. 

Tussen die dennebome leer sy hom ken, en leer hy haar om musiek oral om haar te hoor. Hulle raak gou verlief op mekaar, maar daar is iets wat sy nie van hom weet nie …

* * *

It feels like music notes are coursing through her veins when he touches her. She wants to laugh and cry at the same time. This is the best she’s ever felt. She’s in love!

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek moet asseblief net my spelfout korrigeer - verskeidenheid word baie beslis nie met 'n lang 'y' gespel nie! Ek dink my kop en vingers was nie in harmonie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top