Nuwe boeke by LAPA Uitgewers gedurende Mei 2016

  • 0

LAPA Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende Mei 2016.

Vrediger
Dibi Breytenbach
ISBN: 9780799379433

Plaasaanvalle? Grondgrypers? Dis alles hier.

In een dag verander Willem Maarschalk se lewe onherroeplik. Hy word geroep na ’n koelbloedige moord op ’n onskuldige meisie, word gekonfronteer deur ’n woedende skare wat sinspeel daarop dat hulle die plaasmense vir die moord verantwoordelik sal hou en dan, daardie einste nag nog, word die plaasmense wreed aangeval.

Dit is eenvoudig die verskriklikste dag van Willem Maarschalk se lewe. Op vier en veertig is hy die gekoesterde raadgewer en prokureur van ’n skatryk suikerbaron. Ná ’n egskeiding en verhuising na ’n klein dorpie in die Natalse platteland, is Willem se lewe rustig en relatief ongekompliseerd, tot dáárdie dag.

Alle vingers wys na die politiek en dit neem nie lank vir die plaaslike polisie om hulle verdagtes te identifiseer nie. As regsgeleerde moet Maarschalk onpartydig bly, maar hoe kan ’n mens onpartydig wees teen die geweldige oormag van getuienis?

Net toe Willem dink dit kan nie erger nie, verander die saak drasties en alles versleg.

Vrediger is ’n roman wat handel oor vooroordeel en verborge motiewe. Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde en sy werk in die strafhof. Sy weet waaroor sy skryf.


Droomland
Vita du Preez
ISBN: 9780799379440

Vita du Preez gee aan elke vrou in die reeks ’n sterk, unieke stem. Ruby was van die begin altyd die donker een op ’n palet sonder sagte pastelle.

Wanneer Ruby Swart se ma onverwags sterf, is sy meer as ooit vasbeslote om uit te vind wie haar biologiese pa is. Al is dit net om vir die man wat haar ma as matriekmeisie in die steek gelaat het, en nooit sy dogter se bestaan erken het nie, te sê hoe sy hom verag.


Afkop
Fanie Viljoen
Ouderdom: 15+
ISBN: 9780799372885

Alles gaan oukei wees, het Decker gesê. Hy was verkeerd.

’n Wilde partytjie.

’n Gesteelde kar.

’n Jaagtog wat in chaos eindig.

’n Sak vol geld.

Ná ’n rowwe partytjienag saam met sy vriende wat met ’n wilde jaagtog en ’n motorongeluk eindig, word Trent met ’n moeilike besluit gekonfronteer: Wat moet hy doen met die geld wat hy op die ongelukstoneel gekry het? kan hy regtig sy vriende vertrou?

In hierdie aweregse, doller-as-kop-af spanningsverhaal loop dinge in regte Tarantino-styl skeef en die lesers moet behoorlik aan hulle sitplekke vasklou om by te bly met al die naelbytaksie. Hierdie uitdagende, vermaaklike jeugverhaal sal min mense vir Fanie Viljoen kan nadoen!

Afkop is in 2015 aangewys as naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie.



Waaghals

Lize Roux
Ouderdom: 9+
ISBN: 9780799373912

Die dag van die afrigtingskamp het uiteindelik aangebreek! ’n Hele langnaweek lank gaan Anri, Megan en Karen doen wat hulle die heel graagste doen – tyd in die buitelug deurbring saam met die perde. Boonop gaan hulle deur ’n wêreldbekende Olimpiese ruiter afgerig word.

Een van die ruiters in Anri-hulle se groep is egter ’n regte waaghals wat daarvan hou om die reëls te verbreek. Sal Anri-hulle kan keer dat sy in groot moeilikheid beland en haar toekoms as kampioen-ruiter verwoes?

Dit is boek 17 in hierdie baie gewilde perdereeks.

Meer as 100 000 kopieë is al van die immergewilde Stalmaats-reeks verkoop.


Perdepiekniek
Lize Roux
Ouderdom: 9+
ISBN: 9780799373929

Die afrigtingskamp is reeds verby, maar Anri se maag slaan steeds bollemakiesie as sy daaraan terugdink. Dit gaan nie nét oor hulle ’n wonderlike tyd saam met die perde deurgebring het nie ...

Ná die briefie wat Jacques by die kamp in haar hand gestop het, is dinge tussen hulle skielik heeltemal anders.

Anri se vriendin Megan besluit om ’n piekniek te reël waar hulle lekker saam met Jacques en sy vriende kan kuier, maar dan kry hulle onverwags baie slegte nuus oor Storm, die hingsvulletjie wat reeds diep spore in Jacques se hart getrap het ...

Dit is boek 18 in hierdie baie gewilde perdereeks.


laparomanzas2016meiEilandvuur
Serena Steyn
ISBN: 9780799379310
Laverne Rieckert stem in om die biljoenêr sakeman Alain Picault in ʼn lokval te lei om haar oorlede man, Mike, se moordenaar te help vastrek, maar daar het iets tussen haar en Alain gebeur, ʼn vuur het begin flikker.

 

 

 

Middernagsoene
Alma Carstens
ISBN: 9780799379327

Giselle glo die liefde bring net hartseer, daarom gaan sy nooit eendag trou nie; ook nie verlief raak nie. Toe ontmoet sy dokter Ben Joubert wat haar oortuigings uitdaag deur haar siening oor die liefde drasties te verander.

 

 

 

Verlief op die baas
Madelein Stoltz
ISBN 9780799379334

Christi Lombard sal nie soos haar voorganger verlief raak op die baas nie – sy en haar gesin het hierdie werk broodnodig. Haar baas Darius, en haar hart, hou egter nie by die reëls nie.

 

 

Lorna en die professor
Malene Breytenbach
ISBN 9780799379341

Lorna ontmoet professor Arno Retief toe hul motors bots. Die noodlot bring hul weer by mekaar toe haar motor gaan staan en Arno tot haar redding kom. Maar hy dink sy is te jonk en sy dink hy is ’n rokjagter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top