LAPA Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende hierdie Junie.
![]() |
Saliger Amalia Abrieu is ’n siniese aanklaer met ’n sterk sin vir geregtigheid. Sy spesialiseer in die vervolging van kinderverkragters. Sy weet die stelsel werk nie soos dit moet nie, maar sy probeer haar bes, al is dit moeilik. Haar beste, en enigste vriend, én minnaar is Hendrik, ’n oud-soldaat wat self as gevolg van dade uit sy verlede ’n draai by die Waarheids- en Versoeningskommissie gemaak het. Een aand, na nóg ’n dag van, wat Amalia beskou as ongeregtighede in die hof, maak sy ’n onbesonne uitlating teenoor Hendrik. Skielik begin die verdagtes wie se sake sy in die hof hanteer, sterf. Amalia is geskok. Is Hendrik ’n moordenaar? Terselfdertyd tref ’n tragedie ’n geliefde predikant in die klein dorpie. Die pastorie, met die dominee se vrou en kinders binne-in, brand af. Die vrou en kinders oorleef egter die brand en die dorp span saam om die gesin te help. Selfs Amalia gaan uit haar pad om die gesin, en in die besonder die predikant self, ter wille te wees. Alles is egter nie soos dit op die oog af lyk nie. Dit blyk dat daar sinistere motiewe agter die brand sit, en met verdrag kom Amalia agter dat goed nie noodwendig goed is nie, en sleg nie noodwendig sleg nie, veral nie op klein dorpies nie. Saliger is ’n roman wat handel oor goeie mense wat slegte dinge doen, en slegte mense wat goeie dinge doen, en hoe maklik dit is om die een met die ander te verwar. Wat meer is, die leser is tot op die einde vasgenael om te sien wie is goed of wie is nie. Breytenbach het wyd gelees en haar vermoë om die leser te laat wonder is merkwaardig. Dibi Breytenbach het eerstehandse kennis oor hóé die stelsel sy jong slagoffertjies hanteer. Hoewel daar baie hartseer en tragedie te vinde is in hierdie omgewing, verstom die kinders haar altyd met hulle deursettingsvermoë en vergewensgesindheid. Saliger is ’n debuutroman wat afspeel teen die agtergrond van misdaad en vergelding, straf en vergifnis – die milieu waarin Dibi haar elke dag bevind. Mense wat lief is vir boeke soos Anchien Troskie se Dis ek, Anna en Die Staat teen Anna Bruwer sal dié boek geniet. Amalia Abrieu se dilemma is ook baie soortgelyk aan Thys Krige s’n in Waar boosheid broei en Plasenta. Wat Dibi Breytenbach egter regkry, is om die leser al hoe meer by die morele kwessies te betrek. Natuurlik is vergelding verkeerd, maar moet Amelia regtig altyd die regte ding doen? Lees maar self en vind uit! Die krimisibbe Hier is nou ’n lekker stukkie trivia: Dibi Breytenbach is die suster van Henk Breytenbach wat in Februarie met Kodenaam Icarus gedebuteer het. Dit is waarskynlik die eerste keer dat ’n broer en suster debuteer met krimi’s in een jaar. |
![]() |
Vandat jy weg is Santie van der Merwe is terug. Haar debuut het almal, ook selferkende boeksnobs, aan die praat gehad. Die tweede boek volg op die eerste, so daardie oorrompelende karakters leef nou voort. Helen Schöer sê in ’n resensie op Netwerk24 die volgende oor Santie se debuut, Gelyke kans: “Ek voel byna verleë oor hoe baie ek dié boek geniet het, want dis nie my gewone soort leesstof nie. Gewoonlik verkies ek iets meer leersaam en insiggewend. Ja, ek’s ietwat van ’n boeksnob, maar dit was ’n stresvolle week en om in die bad te lê met Gelyke kans was pure ontspanning en daarvoor is ek die skrywer, Santie van der Merwe, dankbaar. Ek gaan nie die einde verklap nie, maar dit is bevredigend. Ag, en as ek nou eerlik is, ook leersaam en insiggewend, selfs vir ’n boeksnob. Gaan koop self die boek en kyk of jy saamstem met Jessica se besluit. Ek het.” Hier is die tweede boek nou. Jessica en Anton de Lange besef dat die huwelik wat hulle die afgelope paar maande aan mekaar probeer plak het, nie redbaar is nie. Die noodlot gryp in, en ruk Anton finaal weg. Jessica bly agter, van voor af verpletter. Sy moet staande bly ter wille van haar drie kinders en haar florerende besigheid wat soveel ander mense se lewe raak. Toe sy besef haar jeugliefde, Joe Verster, het moed opgegee om haar liefde te probeer wen, is dit vir haar ’n dubbele verlies. Joe het ’n kontrak geteken om vir ’n jaar lank by ’n kliniek in Kenia te werk. Hy gaan terugkom, verseker hy haar. Dit sal haar tyd gee om haar verlies te verwerk, om haar lewe in oënskou te neem. Sal Jessica en Joe se liefde die toets van tyd deurstaan? Is dit ooit ware liefde, of bloot versotheid? En sal hulle ooit ontslae wees van die spook van Anton de Lange? Soos Helen Schöer sê: “Van der Merwe is nie net ’n goeie skrywer nie, haar sielkundige insigte is ook baie interessant. Almal het ‘bagasie’ wat hulle saamdra uit hul kinderjare en dié bagasie speel ’n rol in enige verhouding. Hoe beter die leser die twee karakters leer ken, hoe beter sien jy hoe, waar en hoekom die huwelik ontspoor het.” Van der Merwe het op ’n laat ouderdom gedebuteer, en hierdie deurleefdheid skyn oral deur in haar werk. Vandat jy weg is is ’n volwaardige opvolger op ’n uitstekende debuut. |
![]() |
Moenie die knoppie druk nie Tiaan se bababoetie hou daarvan om knoppies te druk. “Moenie die knoppie druk nie!” skree Ma en Pa elke keer. Maar dit is elke keer te laat. Op ’n dag gaan doen Tiaan en sy gesin inkopies. Sy boetie beland in ’n reusagtige geel stootskraper en druk ’n knoppie ... Die stootskraper begin dreun en GROMMM! “Stop daardie stootskraper!” skree almal. Tiaan is die enigste een wat ’n plan het. ’n Lekker lawwe, lawaaierige, holderstebolder kleuterboek oor een van die onweerstaanbaarste dinge op aarde – ’n knoppie wat smeek om gedruk te word! |
![]() |
Sterkos Met wie wil die ekonoom Dawie Roodt om ’n tafel kuier? Wat is die pianis Rocco de Villiers se trooskos? Waarmee bederf die sangeres Sonja Herholdt haarself? Hierdie boek vertel jou alles! Vrouekeur Sterkos – Kook saam met die sterre vertel ook meer oor gewilde Suid-Afrikaanse bekendes se kosfiemies en koslekkertes; boonop deel en ’n ieder en ’n elk hul gunstelingresep. Dié boek volg op die suksesvolle kosrubriek “Sterkos” in Vrouekeur. Probeer ’n bietjie resepte soos Pierre Greeff (van Die Heuwels Fantasties) se perfekte braaibroodjie, Tobie Cronjé se glutenvrye koek en Karlien van Jaarsveld se treffertunatert. Daar’s ’n mengsel van soet en sout, eenvoudig en dekadent. Met dié resepte sal jy ook ’n ster in die kombuis wees! |
![]() |
Op die punt van my tong: 80 tawwe tongknopers Net ’n vriendelike waarskuwing voor jy dié boek koop: Hierdie tongknopers kan jou tong op tagtig plekke knoop ... Proe aan ’n Chinese sjef se seekossop en maak kennis met ’n kromknyperkrap. Ontmoet ’n voor-in-die-koor skoolkoor, ’n koperkoper wat koperknope koop en mevrou Matthee wat in haar teetyd TV kyk. Wonder saam oor tarentaaltaal- en reiereiers en help om ’n seerowerskip skoon te skrop. Jaco Jacobs se bekroonde kinderverse is gewild by skole en kunswedstryde; veral ook op duisende Afrikaanse kinders se boekrakke, waar dit ’n ereplek verdien. Hierdie splinternuwe versameling tongknopers en snelsêers sal sorg vir ure se lekkerlagpret! Probeer gerus die volgende rympie blitsvinnig sê sonder om te struikel: As ’n kromknyperkrap in die klipkrip klim, |
![]() |
Die avonture van Superseun Daar’s ’n doodgewone outjie, hy lyk net soos ek of jy. Maar wie sou raai hy’s SUPERSEUN wat soms superkragte kry? Superseun is so vinnig soos blits, hy het x-straal-oë en hy skrik vir net mooi niks! Superseun kan sien as boelies jou kougom wil gaps, hy weet wat om met ’n bord vol broccoli te doen, en hy kan selfs seerowers laat les opsê! Jong, aspirant-superhelde sal hierdie humoristiese rymende prenteboek oor en oor geniet. En aan die einde is daar boonop ’n wonderlike boodskap – elkeen van ons het die potensiaal om ’n superheld te wees! |
![]() |
Bravo, Lulu! Lulu droom daarvan om ’n modeontwerper te word, nes haar ma en pa. Niks is vir haar lekkerder as om ontwerpe in haar rooi tekenboek te maak nie. Daarom is sy baie opgewonde toe hulle balletjuffrou aankondig hulle gaan ’n spesiale konsert vir die jaarafsluiting hou. Lulu gaan nie net die rol van die meerminprinses dans nie – sy gaan ook die kans kry om ’n paar van die wonderlike uitrustings self te ontwerp! Die tweeling, Alex en Alet, hou egter niks van ballet nie. Hulle terg gedurig vir Lulu en Carmen oor die balletklasse. Toe Alex boonop per ongeluk ’n rol in die balletkonsert losslaan, is die gort gaar. Sal hy die spesiale seerowerprinsuitrusting dra wat Lulu vir hom ontwerp het? Of gaan die balletkonsert ’n groot flop wees? ’n Heerlike boek vir jong lesers wat op soek is na humor en ’n lekker spannende storie – met Elsbeth Eksteen se fantastiese volkleurillustrasies wat bydra tot die pret! Lesers het die eerste keer met Lulu kennis gemaak in die gewilde Oe la la, Lulu. Hierdie is die tweede boek in die reeks. |
![]() |
Die perfekte werk vir Pappa Pappa se werk is so vervelig! Wat as hy ophou om na vergaderings te gaan en eerder die Sewe Seë begin verken, teen drake begin veg, of in ’n vuurpyl deur die ruimte blits? Lisa en Chris soek oral na die perfekte werk vir Pappa – van ’n internasionale ruimtestasie tot ’n seerowerskip, maar die perfekte werk is eintlik veel nader as wat hulle dink ... |
![]() |
Slaaptyd, klein Muis Dit is lankal slaaptyd, maar Klein Muis is wawyd wakker. Hy rol rond en bont, hy wriemel en woel, hy kriewel en krap – maar hy kan nie slaap nie! Hy klouter uit die bed en skarrel sitkamer toe. “Mamma Muis,” sê hy met ’n sug, “ek kan nie slaap nie. My kop borrel en bruis en my oë wil nie toe bly nie.” “Probeer skape tel,” sê Mamma Muis. “Dit sal jou laat slaap.” Maar Mamma Muis se raad help niks. Ook nie Pappa Muis of ouboet Miek s’n nie. Toemaar, Ouma Muis is seker sy weet hoe om Klein Muis aan die slaap te kry ... Dit is die perfekte slaaptydstorie om daardie op en wakker kleingoed na droomland te stuur. |
![]() |
Pajamadril vir Kael Jenna het lankal berus dat sy haar ongebore seun alleen sal moet grootmaak. Nou het haar oorlede man se broer, Kael Roothman, opgedaag en hy wil surrogaatman en -pa speel. Sy het nie eers van sy bestaan geweet nie. |
![]() |
Tyd sal leer Siënna gaan soek ’n uitkoms vir haar probleem in Malawi. Gou is haar besoek veel meer ’n avontuur as ’n vakansie. Is Marco die oplossing vir haar probleem en die sleutel tot haar vryheid? |
![]() |
Sy liefdesplan Janneman Malan val Kate se lewe letterlik binne. In ‘n oogwink woon hy en sy hond onder ‘haar’ dak, teken sy haar vryheid weg, trou en beland op ‘n privaatstraler Londen toe. Maar sy het geen keuse nie. |
![]() |
Struikel oor liefde ’n Verwerpte filmster vlug na haar erfplaas in Suid-Afrika. Daar vind sy ’n aantreklike vreemdeling wat kan bewys hy het die reg om die plaas vir vyf jaar te huur. Sy teenwoordigheid laat haar hart vinniger klop – hoe nou gemaak? |
Besoek LAPA se webtuiste hier.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.















