Nuut by LAPA in Augustus

  • 0

Heiliger

Dibi Breytenbach

ISBN: 9780799385212

R230.00

Hendrik skiet uiteindelik ’n sluwe rondloperhond. Die eerste koeël mis rakelings, maar die tweede is sekuur. Nou is die oud-soldaat in ’n goeie bui. Dit is byna Kersfees en dinge tussen hom en Amalia wil-wil lyk of dit kan uitwerk.

Toe gebeur dit: Die plaaslike speurder, Buthelezi, daag op en slaan Hendrik in boeie. Die klag? Sy buurman se seun is dood en daardie opslagkoeël word verdink.

Dadelik word hierdie insident ’n rasse-voorval, want die seun is swart. Die gemeenskap is woedend en die onbevoegde blanke speurder wil wys dat hy nie ’n wit man sal laat wegkom met moord nie.

Hendrik weet hy het die seun nie geskiet nie, maar hoe bewys hy dit?

Die teks is briljant, want so gereeld gebeur dit dat stinkryk mense wegstap van ’n moordsaak op grond van tegniese punte. Die publiek voel dan verraai. Nou gooi Breytenbach die leser in die diepkant in, want ons het simpatie met Hendrik, maar die redes waarom die reg nou skynbaar onreg pleeg teenoor hom, is presies dieselfde wat ons as gewone sterflinge vra wanneer tegniese detail in hofsake ter sprake kom.

Saam met Hendrik beleef ons magteloosheid in die stinkende tronk- en hofselle terwyl die regslui en die polisie kibbel.

Breytenbach is ’n regsgeleerde en met hierdie boek sleep sy die leser saam met haar. Dit is ’n naelbyter, want natuurlik wil almal weet hoe die seun gesterf het. Gaan Hendrik oud word in die tronk?

Stukkie vir stukkie word die gebeure aanmekaar gelas en die reg se tentakels word beleef soos nog nooit te vore in Afrikaans nie.

Dibi Breytenbach se eerste twee boeke was goed. Hierdie een plaas haar onder die voorste krimiskrywers in ons land. Heiliger sal ewe goed verstaan word in plekke soos die VSA waar die onreg van die regsproses dikwels afhang van ’n mens se geld, aldan nie.


Paaiboelie

Chanette Paul

R280.00

ISBN 978-0-7993-8539-7

Chanette Paul se ondersteuners sal bly wees om te hoor Jojo Richter van Siende blind, Raaiselspieël en Ewebeeld is terug. Hierdie enigmatiese privaat-ondersoeker word gehuur om uit te vind wat werklik sewe jaar gelede in die skatryk Eduard Swiegelaar se studeerkamer gebeur het. Hy is daardie dag, ten aanskoue van sy heelwat jonger, sexy trofeevrou, Zaan Mentz, doodgeskiet.

Zaan het ’n redelike rykdom verkry toe haar ouer man dood is, en daarom trek sy in op Crystal Crags, een van die mees eksklusiewe landgoedere in die land. Haar keuse van dié landgoed hang saam met die puik sekuriteit, want sy weet wat in daardie studeerkamer gebeur het, en sy vrees vir haar lewe.

Dit neem egter nie lank voor Jojo en Zaan agterkom dat vreemde goed ook binne die veilige mure van Crystal Crags gebeur nie. Is dit toe te skryf aan die bonatuurlike? Die plaaslike inwoners vertel graag dat die landgoed binne die Duiwelsdriehoek lê, ’n plek waar dinge en mense sommer wegraak.

Die stories loop dik, en hoe dieper Jojo grawe, hoe meer besef sy iets is nie pluis nie.

Terwyl Jojo die geheim van ’n enkele oggend se gebeure ontrafel, dobber die geheime, wat vir langer as ’n honderd jaar op Crystal Crags verswyg is, geleidelik boontoe. Zaan staan skielik in die brandpunt. Hoe lank sal dit neem voor haar veilige blyplek ’n tronk word waaruit sy nie kan ontsnap nie?

Chanette Paul het reeds in verskeie genres gepubliseer, maar met haar spanningsromans, wat sedert 2007 verskyn, vind sy werklik haar nis en toe Jojo Richter egter haar buiging maak in Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld, is Chanette se goeie posisie in die Afrikaanse spanningswêreld bevestig. Die storie staan sentraal, maar vir die ernstige leser is daar allerlei weggesteekte lekkernye wat tussen die verweefde storielyne verpak word.


50 Boerekosgeregte

R150.00

ISBN: 9780799382839

Kyk, as Dana Snyman die voorwoord skryf, dan weet jy…

50 Boerekosgeregte is ‘n samestelling van resepte uit die kombuise van die Vrouelandbouvereniging van die Noord-Kaap. Krap maar in hierdie pot. Hier is resepte vir weeksdagetes, spesiale geleenthede en familiesaamtrekke, met immergroen treffers soos ‘n korslose souttert, basaarpoeding, gestolde komkommerslaai, kerrievleisvetkoeke, snoektert, karringmelkroosterkoek en groenboontjiebredie.


Beatrix sê: Raak Hekel-Slim!

Beatrix Snyman

ISBN 9780799382815

R250,00

Hekel is groot. Tog, hoe word jy deel van hierdie aktiwiteit wat weer die wêreld aan die gons het?

Beatrix sê: Raak hekel-slim! is die perfekte inleiding vir diegene wat uiteindelik wil behoort tot die hekelbinnekring. Ervaar die pret, dié boek sal jou stap-vir-stap lei van die eerste optel van die hekelpen, tot die verstaan van spanning, die keuse van wol en die kleure en teksture. Word deel van ’n kunstige tydverdryf, verstaan die groot verskeidenheid hekelgare in alle kleure van die reënboog en die eindelose patroonmoontlikhede. Die volkleurfoto’s en haarfyn instruksies word gekomplementeer deur spoggerige hekelprojekte.

Vir die gesoute hekelaar sal al die inligting dien as ’n nuttige naslaanbron – en dit sal ’n handige geskenk wees om nuwelinge tot hekel te verlei.

Vir die beginner verduidelik Beatrix volgende:

  • Hekelpengroottes en hekelpentipes; selfs hoe en waarvan dit gemaak word.
  • Sy wys jou hoe om die hekelpen en -draad vas te hou en sy verduidelik wat om te doen as jy linkshandig is.
  • Sy verduidelik hoe om ’n patroon te lees.
  • Die boek verduidelik ook hekelgereedskap soos kettingmerkers, stopnaalde en meetapparate.

Sodra jy die basiese beginsels onder die knie het, sal Beatrix jou met die volgende help:

  • ’n Hekelpen-omskakelingstabel tussen VS, VK en metrieke mates.
  • Hoe om hekelgare te kies, ook die voor-en nadele van natuurlike en kunsmatige vesels, die gewig van hekelgare en hoe om die hoeveelhede gare wat jy benodig, uit te werk.
  • Kleurteorie en hoe om kleure te kombineer.
  • ’n Volledige lys van al die steekafkortings tussen VS, VK en Afrikaans.

Beatrix Snyman is ’n kundige hekelaar wat reeds sedert 2012 hekelklasse en
-werkswinkels aanbied. Sy ontwikkel oorspronklike hekelpatrone vir hekelgarevervaardigers.


Stalmaats 19: Pretrit

Lize Roux

ISBN: 97807993 84277

R100.00

Die skoolvakansie is om die draai.

Anri is baie opgewonde toe sy hoor haar beste vriendin van haar vorige ryskool kom kuier. Nadine is ook lief vir perdry – en Anri kan nie wag om haar aan Megan en Karen voor te stel nie.

Hulle gaan die vakansie hope pret by die ryskool hê, met ekstra rylesse en ’n spesiale Paaseier-soektog vir die Peace Shelter se kinders!

Maar dit lyk of Nadine ander planne het, en Anri se vriende by die ryskool is nie so beïndruk daarmee nie ...

Dit is boek nommer 19 in hierdie baie gewilde perdereeks, wat handel oor Anri en haar maats se avonture by die Dagbreek-ryskool.


Stalmaats 20: Perdediewe

Lize Roux

ISBN: 97807993 84284

R100.00

Anri kan nie wag nie vir die langnaweek wat voorlê nie! Sy en haar gesin gaan lekker in die Kaap kuier. Hulle gaan met die kabelkar tot op Tafelberg ry, die akwarium besoek en hope pret hê. Boonop stem haar ouers in dat Jacques mag saamkom. Dit beteken hy kan self gaan kyk hoe dit met sy perd, Thunder, en haar vulletjie, Storm, gaan.

Maar dan loop die ryskool waar die twee perde bly, onverwags onder gewetenlose skurke deur – en kort voor lank is Anri-hulle in groot gevaar.

Dit is boek nommer 20 in hierdie baie gewilde perdereeks, wat handel oor Anri en haar maats se avonture by die Dagbreek-ryskool.


Z is vir Zackie 7: Die Woeste Toertjie

Jaco Jacobs

ISBN: 97807993 80170

R85.00

Illustreerder: Alex van Houwelingen

Zackie en Vincent is baie opgewonde! Hulle gaan aan ’n fotokompetisie deelneem. Vincent het sy pa se kamera geleen. Hulle moet ’n mooi foto neem. Die beste foto’s kan groot pryse wen!

Om ’n goeie foto te neem is glad nie so maklik as wat dit lyk nie en Zackie besluit om sy skaatsplank te gaan haal vir die beste aksiefoto ooit! Maar Anton, die boelie, het ander planne ...


Z is vir Zackie 8: Die Slymerige Slakke

Jaco Jacobs

ISBN: 97807993 80187

R85.00

Illustreerder: Alex van Houwelingen

Mevrou Langenhoven se tuin is vol slakke. Groot, slymerige slakke! Zackie en Vincent besluit om te help. Hulle gaan die slakke vang. Dit is groot pret! Boonop kry hulle ’n beloning. Mevrou Langenhoven bak vir hulle lekker koekies!

Maar Anton, die boelie, wil al die koekies eet ...


Sanri Steyn: Die vampiere van Vlermuishoogte

Theresa van Baalen

ISBN 9780799383690

R100.00

Illustrasies: Johann Strauss

Sanri is opgewonde toe sy hoor dat haar beste vriend se neef op Raaiselfontein kom bly. Sy kan nie wag om vir Danté te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly immers in Vlermuishoogte – ’n geheimsinnige ou kasteel buite die dorp.

Kort voor lank begin Sanri se neus weer kriewel. Dit beteken net een ding – sy ruik ’n storie! Waarom lyk dit asof Danté se pa ’n skaduwee soos ’n vlermuis het? Watter geheime skuil in die grillerige kasteel? Is haar maatjie, Markus, regtig in groot gevaar, soos sy neef hom waarsku?

Theresa van Baalen is reeds met twee ATKV-Kinderboektoekennings bekroon en sy is die ontvanger van die 2012 Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur.


Lana En Rakker 5: Vakansie By Die See

Holly Webb

R90.00

ISBN 97807993 66266

Lana en haar gesin gaan die vakansie by haar ouma-hulle kuier. Dit is by die see en Ouma beplan hope prettige dinge vir die vakansie. Sy is egter baie gesteld daarop dat haar huis netjies moet wees; dit gaan nogal moeilik wees met Rakker in die omtrek! Kan Rakker dit regkry om Ouma se hart te steel voor sy so vies word dat sy hom terug huistoe stuur?

Vakansie by die see is die vyfde boek in ’n reeks van agt boeke.


Lana En Rakker 6: Rakker se prettige Kersfees

Holly Webb

R90.00

ISBN 97807993 66273

Die diereskuiling, Vierpotige Vriende, hou Kersfees om geld in te samel. Daar gaan stalletjies wees met heerlike eetgoed, oulike geskenke – en selfs speelgoed vir honde! Lana voel jammer vir die honde wat nie huise het nie en beplan om saam met Rakker te gaan Kersliedjies sing. Met sy oulike Kersvader-hoed gaan hy beslis hope harte steel en baie geld vir liefdadigheid insamel. Ongelukkig verloop dinge nie volgens plan nie. Rakker se prettige Kersfees is die sesde in ’n reeks van agt boeke.


SKWIEK

Jaco Jacobs

ISBN 9780799383683

R100

Illustreerder: Stephen Wallace

’n Hamster wat mense kan hipnotiseer? Dis onmoontlik!

Moenie glo nie. Op ’n dag kry Nathan ’n geheimsinnige boks voor hul woonstel se deur. Sy naam staan op die boks geskryf. En binne-in is ’n hamster. Hy is oulik en wollerig en sy naam is Skwiek.

Hy is nie sommer ’n gewone hamster nie. Hy het ’n ongelooflike superkrag. Nathan vat vir Skwiek saam skool toe. Hy gebruik hom om die onnies en die skoolboelie te hipnotiseer! Dis groot pret! Dan vind Nathan egter uit Skwiek is op ’n geheime sending; en ’n gevaarlike skurk is warm op hul spoor.

Skwiek is ’n skreeusnaakse, aksiebelaaide avontuur vol skurke, jaagtogte, geheime agente, kaaskrulle en hamsterhipnose!


Vlindervlerke

Anna Penzhorn

ISBN9780799385243

R200.00

Madagaskar is Ilana se volgende bestemming, waar sy foto’s van modelle gaan neem. Al wat sy nog moet afhandel, is ’n ontmoeting met die vlieënier van ’n privaat vliegtuig wat haar en een van die modelle soontoe sal neem.

Dinge lyk goed, maar toe kry sy ’n onaangename verrassing in haar en haar verloofde se woonstel. Die verlowing word summier beëindig voor sy nog die vliegtuig haal.

Die noodlot werk ook nie saam nie en Madagaskar is nie waar die ligte vliegtuig met Ilana, ’n model en die vlieënier neerstryk nie. Dit het verreikende gevolge.

Ná haar terugkeer Suid-Afrika toe, het Ilana meer as net haar verbreekte verlowing om te hanteer. Ou beloftes, haar voog se verswakte gesondheid en ’n klomp ander goed veroorsaak dat sy nie anders kan as om die verlowing te heroorweeg nie. Dit sou dalk goed gewees het as daar nie intussen iets tussen haar en die vlieënier ontwikkel het nie.

So kom haar troudag al hoe nader terwyl Ilana in haar hart huil oor ’n man wat haar hele lewe verander het; so asof sy van buite moet toekyk hoe haar toekomsdrome ineenstort.


’n Man vir altyd

Marilé Cloete

R200.00

ISBN 978-0-7993-8540-3

Drie mans en drie vroue ... In Marilé Cloete se Romanza-omnibus, ’n Man vir altyd, moet ses harte verower word. Die drie Romanzas in die omnibus, Man van min woorde, Man met ’n missie en Man van sy woord is die ideale teenvoeter vir die winter se koue.

Man van min woorde: Hy kan toor met honde en rekenaars, maar as dit by praat kom, verdamp Henri van der Merwe se woorde. Francesca is vasbeslote om deur dié swygsaamheid te breek. Sy begeer een van die Duitse herdershonde wat hy teel, maar die toets vir eienaarskap dop sy soos ’n klip. Haar selfbeeld is hoeka bitter broos ná die Siebert-episode. Bowendien word haar frustrasie by die dag groter. As sy en haar galery-huis vol kunswerke nie goed genoeg is vir sy honde nie, sal sy in der ewigheid nie goed genoeg wees vir hul baas nie. Want helaas, sy begeer die swygsame Henri mettertyd baie, baie meer as sy lieflike honde.

Man met ’n missie: Hy gaan haar nader trek, syne maak – suutjies, sonder dat sy dit weet. Maar Lukas Bezuidenhout is ’n haastige man, geduld moet hy nog aanleer. Dis gewoonlik hý wat vir meisies weghol, maar dié keer het hy sy moses teëgekom. ’n Harder hardekwas as Mignon Grobbelaar kry jy nie. En tog, agter haar hardekwas-houding kruip ’n bang meisie weg, ’n kind-vrou met heeltemal te veel seer en bagasie. Daarom, weet Lukas, moet hy geduldig wees. Hy wil haar beskerm, laat veilig voel. Sy moet weet sy is as mens die moeite werd. En hy moet, nee, sál leer vasbyt; en hy wat lawwe Loekie Bezuidenhout is, kan leer om te wag.

Man van sy woord: ’n Ouer en ryper Lourens – maar nog net so dodelik aantreklik soos lank gelede – is ná twintig jaar onverwags terug en haar kind se gradeplegtigheid word vir Bianca ’n nagmerrie. Alles het mos verander en daar is nie meer vir hom ’n plek in haar lewe nie – of bluf sy haarself? Lourens is nie meer die impulsiewe jongman wat Bianca so hartstogtelik liefgekry het nie, en sy het ook met die jare ryper en meer volwasse geword. Dis net die onblusbare vonk tussen hulle en die honger na mekaar wat onveranderd gebly het. Het daar te veel water in die see geloop of gaan hulle waag om hulle liefde weer ’n kans gee?

Alta Cloete skryf romanses onder die naam Marilé Cloete. Sy onderskei hierdie ligter werke juis vir haar lesers, want sy glo mense lees dit “wanneer hulle wil vergeet as die wêreld om hulle brand.” Alta is verheug om deel van die oplewing in Afrikaanse ontspanningfiksie te wees en werk hard om dit te bevorder.


Ontwakende passie

Dina Botha

ISBN 9780799385458

R200.00

Celestine de Péronne se susters verwyl hul tyd met borduurwerkies, mooimaaksessies en dagdrome oor toekomstige mans, maar sy droom daarvan om eendag die eienares van Lavoisier, die familieplaas, te wees. Sy bestuur reeds haar pa se plaas, teel perde, plant wingerde aan en maak wyn.

Haar pa stel ’n aantreklike en sjarmante Fransman, Argonne de Lattre, as stalmeester aan, maar hy verkies meisies soos haar susters. Hy is ook die eerste man wat haar soen en haar kop laat duisel.

De Lattre vra haar om te kies; dis òf hy òf Lavoisier, en dis die moeilikste besluit van haar lewe.


’n Man met ’n hart

Marilé Cloete

Net R29,99!

62 bladsye

Jacques het nog nooit ’n moeilike vrou soos Jackie ontmoet nie, maar wegbly kan hy nie. Jackie het ná haar eksverloofde haar gelos het mure om haar hart gebou en sy is nie van plan om dit nou te laat verkrummel nie. Maar Jacques laat hom nie stuit nie en sy besef hy is ’n groot gevaar vir haar hart.

Jacques has never met a more difficult woman than Jackie, but he cannot stay away from her. After her failed relationship with her ex-fiancé, Jackie has hidden her heart away and she won’t expose it now. But Jacques doesn’t let anything stop him and she realizes he is a danger to her heart.

ePub vir ’n foon of tablet: http://bit.ly/2u6Qcwc

 Kindle: http://amzn.to/2u3wzRu


’n Ridder vir Sanna

Sophia Kapp

Net R29,99!

62 bladsye

Met die eerste oogopslag, herken Sanna vir Dewalt as die een wat haar liefde waardig is. Maar albei dra swaar aan hul verlede. Sal hulle die struikelblokke in hul verlede kan oorkom en saam geluk vind?

Jacques has never met a more difficult woman than Jackie, but he cannot stay away from her. After her failed relationship with her ex-fiancé, Jackie has hidden her heart away and she won’t expose it now. But Jacques doesn’t let anything stop him and she realizes he is a danger to her heart.

ePub vir ’n foon of tablet: http://bit.ly/2v2d3Gj

Kindle: http://amzn.to/2uZmVlJ


Bernadine en die babawagter

Arien Lubbe

ISBN: 9780799385090

R85.00

Bernadine stel iemand aan om na haar driejarige seuntjie te kyk. Miké se CV beïndruk haar die meeste so sy kry die pos. Maar dan blyk “Miké” eintlik Michael te wees – ’n onbeskryflik aantreklike en baie manlike ingenieur!


Alles is perfek

Dina Botha

ISBN: 9780799385106

R85.00

Die weduwee en sterrekundige, doktor Emma Holbrook, se toekomsplanne sluit nie ’n babadogtertjie in nie. Sy wil vir NASA werk en gaan haar kind laat aanneem. Maar die aantreklike dokter Simon Krynauw, wat haar dogtertjie wil aanneem maak haar hart baie deurmekaar.


Die dokter se rare fobie

Trudy Reinhardt

ISBN: 9780799385113

R85.00

Roseanne se ses-maande-verblyf op die pragtige St Francisbaai word deur haar tydelike kollega, Sean Byrne, ontsier. Sy diagnoseer hom met ’n rare vrees vir velkontak. Maar die vraag is, het Sean werklik ’n vrees vir kontak of hou sy fobie eerder verband met blondines, waarvan Roseanne een is?


 Die paartjieknoper

Ida Bester

ISBN: 9780799385120

R85.00

Annelle is ’n paartjieknoper, maar sy wil nie liefde vir haarself vind nie. Toe sy egter in Christiaan Verwey se oë kyk, is sy nie meer so seker sy wil Kupido se pyl ontwyk nie.


Isabella se wenslys

Thea Holland

ISBN 9780799385274

R85,00

Wat moet Isabella doen? Sy ken niemand met wie sy wil trou nie, maar hunker na ’n kind van haar eie. Dalk moet sy kandidate vir vaderskap oorweeg en liewer wegbly van Niël Zeeman en sy onweerstaanbare soene.


Liefde vir ’n woudprins

 Serena Steyn

ISBN 9780799385281

R85,00

Haar grootste vrees is slange. Nou sit Maresa diep in Afrika opgeskeep met Garth Stetson – die beroemde slangkenner. Maar tog, die aantrekkingskrag tussen hulle is onmiskenbaar. Daar is egter net een probleem: Maresa is verloof aan Huxley en professor Evans het haar visier op Garth.


’n Machoman leer liefdestaal

Ida Bester

ISBN 9780799385298

R85,00

Seerkry in beide Madri en Kobus se verlede maak hulle lugtig vir mekaar en vir ’n verhouding. Tog bestee hulle elke ledige minuut saam. Totdat Madri besef dat machoman Kobus kuns as tydmors beskou … en kuns is haar lewe!


Spore in die wind

Karen de Villiers

ISBN 9780799385304

R85,00

Tinki se werk op die plaas Blouberg is ’n droom totdat sy Zac, die nuwe baas, ontmoet. Hulle vryf mekaar verkeerd op, maar moet noodgedwonge saamwerk wanneer die wildeperde in die distrik skielik begin verdwyn. Stadig maak wrewel plek vir liefde en Zac trap spore op haar hart.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top