Nuut by LAPA in November

  • 0
LAPA het splinternuwe boeke en daar is iets vir almal.

Stom gode
Dibi Breytenbach
Spanning
978 0 6396 0567 8 (P-Book)
978 0 6396 0568 5 (E-Book)
R280.00

Die gode in Afrika is stom. En lui.

So byna is kolonel Aella O’Malley die ewigheid in gestuur. Nou sy is terug in Afrika se bos nadat sy in Avignon gaan aansterk het. Skaars is sy en haar Franse geliefde weer op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na kadawers wat in die veld gevind is. En dit word gou deur nog lyke opgevolg.

Maar die beeld van ’n ander figuur het haar uit Avignon gevolg, dié van ’n straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.

Stom gode is die laaste titel in die Gode-reeks, en word voorafgegaan deur Dowe gode en Blinde gode.


Oor en weer
Trisa Hugo & Analize Viljoen
Fiksie
978 0 6396 0565 4 (P-boek)
978 0 6396 0566 1 (E-boek)
R250.00

Die dag toe Billie by Amandelboom 6 intrek, kon nie sy óf Manda, wat oorkant die straat in nr. 9 woon, voorsien hoe verstrengel hulle lewens sou raak nie.

Manda en Billie is so verskillend soos Antarktika en die Sahara. Inkennige Manda voel op haar veiligste in haar huis met haar kat, Jasmyn, as geselskap. Billie, aan die anderkant, is net so energiek soos haar hond Tequila. Sy is pas geskei en dolverlief op ’n Irakese vrou, Amani.

Uit blote misverstand tussen die troeteldiere begin Billie en Manda oor en weer kuier. In die proses leer hulle dat die liefde ’n duisend vorme aanneem, dat dit moed verg om weerloos te wees, en dat vriendskap oneindig kosbaar is.


God: is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis
Ben du Toit
Teologie
978 0 6396 0108 3
R295.00

Ben du Toit is ’n voormalige kommunikasie-direkteur van die NG-sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Hy in 1950 in Malawi gebore. Hy behaal die grade BA en BTh aan die Universiteit Stellenbosch, asook MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van Port Elizabeth ná buitelandse navorsing by die Graduate Theological Union in San Francisco, VSA.

Hierdie manuskrip was nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was aanvanklik ’n bestekopname van die skrywer se betrokkenheid by en blootstelling aan die NG Kerk-familie waarin hy gebore is, grootgeword en uiteindelik as predikant gedien het.

Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd, is in 2001 met die gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon. Dit het ’n woordeskat gebied vir talle ander mense se reis. Amper twee dekades later neem hy die vraag oor God en die relevansie van godsdiens en geloof verder.

Vir baie mense sal hierdie boek nie ’n gemaklike leeservaring wees nie. Daar sal egter lesers wees wat ’n eie bevrydende ervaring in hul verhouding met die kerk, geloof en met God sal beleef deur die boek te lees. En wat ’n woordeskat sal vind.

Net soos Du Toit se eerste boek baie mense minder alleen met hulle teologiese ongemak en kritiese vrae laat voel het, kan hierdie boek ’n wonderlike verrassende volgende fase van hul lewens inlei, soos dit tans met die skrywer die geval is.

Die afronding van die teks het plaasgevind aan die begin van die wêreldwye Covid-19-pandemie. Hierdie boek toon hoe die vraag na die betrokkenheid van God gevra word, net soos telkens in die verlede tydens ander krisisse.

Net soos wat die Covid-19-pandemie ’n nuwe era inlui, kan hierdie publikasie ’n nuwe denkraamwerk ten opsigte van geloof inlui.

Hier word baie name genoem en na vele stemme geluister. Uiteindelik gaan dit nie oor hulle as individue nie, maar wel, kollektief, oor Die Kerk – ’n bepaalde verteenwoordiging van die verskynsel wat Godsdiens genoem word. Maar inderwaarheid gaan dit nie eers oor hulle nie, maar oor God – terwyl die enigste manier waarop ons iets van God kan weet, deur die woorde en lewens van mense is.

Die boek is ’n openhartige, deurleefde en provokerende teks van ’n bekende en gerekende teoloog. Dit verskaf ’n woordeskat en hoop vir diegene wat krities teenoor teologie staan. Die teks gee ’n binneblik op die NG-kerk en onlangse debatte en aktuele kwessies binne die kerk en samelewing, soos die gaydebat.


Welvaartskeppers, strategieë wat jou lewe kan verander
Riaan Botha
Geldsake
978 06396 0114 4
R215.00

Wat is die geheim van selfgemaakte miljoenêrs, dié uitgelese groep wat welvaart skep, hetsy as entrepreneurs, professionele lui of as salaristrekkers, selfs te midde van uitdagings en ná terugslae? Die skrywer, ’n onafhanklike finansiële adviseur, het oor jare heen ontdek dat sekere strategieë suksesvolle welvaartskepping aan die hand werk. Hierdie boek bevat 68 welvaartstrategieë asook suksesstories van ’n diverse groep gewone Suid-Afrikaners wat soms van voor af oor moes begin maar steeds ’n uitdagende omgewing suksesvol kon navigeer.

Dié boek bied praktiese advies asook toerusting om oor elke strategie na te dink, jou eie finansiële posisie te verbeter en selfs, uiteindelik, inkomste vir ander te skep. Dit sal jou help om ’n kopskuif te maak en moontlikhede in ’n bitter moeilike ekonomiese klimaat te identifiseer. Die stories sal jou inspireer en ook help om hierdie strategieë in jou daaglikse handel en wandel toe te pas.

Riaan Botha het betreklik laat in sy loopbaan die suksesvolle Pretoriase familiebesigheid Bovest gestig. Hy verwerf ’n D.Phil graad in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat en was ook betrokke by die grondwetlike onderhandelingsproses van die vroeë 90’s. Sy twee seuns, PJ en Geo, ook by Bovest werksaam, deel ook hulle insigte.


Bak dit self, 50 feestelike koeke om baba te vier
Marlene Schoeman
Resepteboek
978 07993 9965 3
R345.00

’n Nuwe baba in die familie is altyd ’n vreugdevolle gebeurtenis en iets wat gevier moet word. Feesvierings kan egter ’n duur spulletjie word, veral as dit by gebak kom. Boonop is koekbak en koekversiering iets waarteen baie mense opsien.

In Bak dit self wys Marlene dat die mooiste laagkoeke nie ’n onbegonne taak hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe om versiersel te kleur, ganache te maak, koeklae egalig deur te sny en verskeie lae op mekaar te stapel sonder dat dit omval. Kaalkoeke (naked cakes) en ombrékoeke word selfs vir die mees onervare bakster maklik gemaak.

Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, die immergewilde rooifluweel- en wortelkoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Verskeie versiersels en strope is ook ingesluit.

Met behulp van hierdie boek hoef jy jou nie weer te bekommer oor wat om vir watter geleentheid te bak nie, want daar is koekidees vir die bekendstelling van die baba se geslag, ooievaarstees, verjaardae en morskoeke (smash cakes) vir die belangrike klein mensie.

Kom, trek aan jou voorskoot en bak dit self.


Die Ickabog
J.K. Rowling
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Kinderfiksie
978 0 6396 0408 4
R290.00

Die koninkryk van Kornukopië was eens op ’n tyd die gelukkigste in die wêreld. Daar was baie goud, ’n koning met die spoggerigste snor, slagters, bakkers en kaasmakers wie se uitsonderlike kos mense laat jubel en juig het. Alles was perfek – behalwe vir die mistige Moerasland in die noorde wat, volgens legende, die tuiste van die monsteragtige Ickabog was. Mense met gesonde verstand weet dat die Ickabog net ’n mite is, ’n bangmaakstorie vir kinders. Maar soms neem so ’n storie ’n lewe van sy eie aan.

Kan ’n mite veroorsaak dat ’n geliefde koning sy titel kwyt raak? Kan ’n mite ’n eens gelukkige land op sy knieë bring? Kan ’n mite twee brawe kinders op ’n avontuur stuur waarvoor hulle nie gevra het nie en wat hulle nooit sou kon verwag nie?


Baster
Jan Vermeulen
Tienerfiksie
978 0 6396 018 0 9
R220.00

Naaswenner: Lapa Jeugromankompetisie 2019

Baster is die storie van Karel, ’n seun wat met honde kan praat, en Hêppie, ’n liefdevolle brak wat gedwing word om ’n straatvegter te word. Die verhaal vertel die storie van al die honde waarvoor Karel lief is, maar ook die hartverskeurende verhaal van die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.


Wêreld van wolwe, Boek 1: eerste bloed
Fanie Viljoen
Tienerfiksie
978 0 6396 0403 9
R190.00

“Alle kinders is bang vir iets. As hulle sê hulle is nie, lieg hulle.”

Joshua Reinders maak ’n groot fout. As hy net nie so bang was nie, het sy pa nooit daardie aand ’n kind geskiet nie. Dis hoekom hulle na Droomhoek moes vlug. Maar ook in Droomhoek teister die vrees hom. Skaduwees is nie net skaduwees nie. Geluide is nie net geluide nie. En mense is nie almal mense nie ...

“Almal het geheime,” waarsku Joshua se nuwe vriend Gio.

Joshua besef net nie hoe naby daardie geheime aan hom lê nie. En wanneer hy dit uitvind, gaan sy hele wêreld op sy kop keer.

Die weerwolwe wag vir hom ...


Losprys in Parys
Nerine Ahlers
Tienerfiksie
978 0 6396 0407 7
R200.00

Al wat Dienkie wil hê, is om raakgesien te word deur Eddie, die ou wat sy by die gimnasium ontmoet het. Wat sy nié wil hê nie, is die drama wat volg op ’n ontvoeringspoging. Want een van die skurke wat deel is van die groot hofsaak wat haar prokureur-ouers hanteer, hou juis van sulke bangmaak-tegnieke.

Haar ouers besluit daar is net een oplossing: Sy moet na Parys, Frankryk gaan. Daar sal sy by haar vriendin Lea en haar ouers kan bly tot die hofsaak verby is.

Maar Dienkie beland weereens – per ongeluk – in die middel van ’n situasie wat vir haar moeilikheid veroorsaak.

Gelukkig is die aantreklike Sergio aan haar sy ...


Thabo the Space Dude, Logbook 2: Destination Mars
Lori-Ann Preston
Kinderfiksie
9780 7993 9978 3
R160.00

“WHY ME?”

Thabo and his family have blasted off into space. Their destination is Mars! How will he survive with no friends, no pizza, no milkshakes and no skateboard ramps? How will this adventure turn out? Will the volcano on Mars be active? Will there be any water?

Will there perhaps be any … ALIENS?!


Romanza nostalgie: Alma Carstens
Alma Carstens
Romanse
978 0 6396 0552 4
R125.00

Met hierdie versamelitems vier ons vyftien jaar van ontspanning, ontvlugting en pure bederf.

’n Nuwe bruidegom: Haar vernedering voor die preekstoel skryf sy net aan een man se inmenging toe – Quinton Rousseau. Die Masai Mara in Kenia is dalk ver genoeg om van die Rousseau’s te vlug, maar nie van haar haat nie.

Verlore jare: Isabella staan ná vyf en twintig jaar weer voor die seun wat sy laat aanneem het en sy pa. Maar dis net sy wat dit weet en dis te laat om te praat.


Liefste rooikop
Elize Davies
Romanse
978 0 6396 0557 9 (P-boek)
978 0 6396 0558 6 (E-boek)
R95.00

Kan hulle mekaar vertrou ten spyte van alles wat gebeur het?

Eldri Immelman se skatryk ouers word deur joernalis Dewald ontmasker as bedrieërs wat jare lank hulle beleggers se geld steel. Hulle vlug en Eldri moet vir hulle keuses boet. Teen Dewald se sin gaan Eldri saam na sy wildsplaas om sy ma te versorg en besef hy dat sy baie meer kompleks is as wat hy aanvanklik gedink het. Hy besef ook dat hy halsoorkop verlief op dié wispelturige rooikop is, maar hierdie ding met haar ouers bly tussen hulle. Daar is net een oplossing: Hulle sal moet leer om mekaar te vertrou vir ’n kans op vir altyd.


’n Vreemde tyd vir liefde
Marilé Cloete
Romanse
978 0 6396 0559 3 (P-boek)
978 0 6396 0560 9 (E-boek)
R95.00

’n Vreemder tyd vir liefde kan daar seer sekerlik nie wees nie ...

Isa het nog altyd gereken dis beter om deel van die oplossing as deel van die probleem te wees, maar nou het sy twee probleme om op te los: Die nasionale inperking en Jos Malherbe, haar broer se pel op wie sy al lank verlief is. Jos is beterweterig, verslaaf aan roetine, ’n werkslaaf en nou moet hulle ’n kamer ook nog deel. Boonop moet sy huishou met haar knorrige pa, sosiale broer, haar neurotiese ma wat vir die wêreld maskers maak en die man van haar drome. Kan dinge meer chaoties raak? Net die tyd sal leer. Dis darem iets waarvan hulle baie het.


Sterrekyker
Frieda van der Westhuizen
978 0 6396 0561 6 (P-book)
978 0 6396 0562 3 (E-book)
R95.00

Hy besit al die eienskappe wat Tharien nie in ’n man wil sien nie.

Roekeloos. Geen ambisie. Vrygees. Dit is beslis nie eienskappe wat Tharien in ’n man wil hê nie. Wel, eintlik weet sy nie, want Rudolf was nie een van daai dinge nie en hy het haar verneuk. Sy is seker van een ding: Heinrich Vermeulen mag dalk soos ’n Noorse god lyk en soene steel, maar hy is nie die een vir haar nie. Hy is net te wild, bly in ’n woonwa en wanneer sy om hom is, voel sy nie soos haar stabiele en verantwoordelike self nie. Dit word gou duidelik dat dit nie maklik gaan wees om Heinrich te vermy nie, en sy moet kophou om nie haar gevoelens vir so ʼn onvanpaste man te laat handuit ruk nie. Maar hulle storie is blykbaar reeds in die sterre geskryf ...


Ompaaie na jou
Magda Schmidt
Romanse
978 0 6396 0563 0 (P-book)
978 0 6396 0564 7 (E-book)
R95.00

Haar liefde vir die verkeerde broer was slegs ’n ompad na die regte een ...

Karlien is sestien en dolverlief. Sy naam is André en soms dra hy haar tas. Maar hy het net oë vir haar mooi suster en die nagevolge van André en Alida se verhouding verander alles. Al wie simpatie vir die twee verliefdes het, is André se ouer broer, Louis. Verantwoordelike, slim Louis met sy bril wat altyd meer oor Karlien wou weet.

Ses jaar later staan André weer voor haar – steeds die aantreklike buurseun, steeds onmoontlik sjarmant, maar Karlien kan nie vergeet wat hy aan haar suster gedoen het nie. Sy kan ook nie sy saggeaarde broer vergeet nie en dit blyk of die gevoel wedersyds vir Louis ook is, maar hoe kan sy hom oorreed dat sy op die verkeerde broer verlief was en dat André net ’n ompad was?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top