NRNNSA slaan die spyker op die kop

  • 0

Die produksie NRNNSA, nuutgeskrewe deur talentvolle jongelinge, slaan die spyker op die kop en bewys dat vandag se teater nie skroom om moeilike vrae te vra nie. Daar is geen heilige koeie nie en die geselskap van NRNNSA huiwer nie om kwessies aan die orde van die dag op die naam te noem nie. Die toneelstuk is op die man af. Dis tong-in-die-kies, die dialoog is pittig en die temas uiters relevant.

Carla Smith, Lara de Bruijn, Devonecia Swartz en Kristin Pienaar, die vroulike spelers in die produksie NRNNSA

NRNNSA, oftewel die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika, word aangebied as ’n televisiespeletjiesprogram. Die gehoor kyk hoe ses gesinne meeding om uiteindelik gekies te word as die “gelukkige wenner” van burgerskap in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die kompetisie is geskep as gevolg van ’n tekort aan transformasie in die huidige “nuwe Suid-Afrika” en slegs die mees “getransformeerde” gesin sal uiteindelik koning kraai en ’n plek gewaarborg wees in die NRNNSA. Die huidige “nuwe” Suid-Afrika is dus ou nuus, iets van die verlede.

Die ses gesinne meen almal hulle is getransformeer genoeg, maar hulle wys ook gou op hoekom ander mense nie so getransformeer soos hulle is nie. Klink dit bekend? Wys ons almal maar nie te graag altyd vinger nie? Die gesinne sluit in: ’n wit seksistiese man en sy gedwee huisvroutjie; ’n gay interkulturele paartjie met ’n aangenome kind; ’n meisie wat nuusgebeure afneem en op sosiale media versprei en só dink sy dat sy ’n bydrae tot die samelewing maak; ’n enkelma van Mitchells Plain vir wie dit mooi is as bruin mense bo hulle omstandighede styg, maar ook gou die vinger wys na bruin mense wat hulle kastig “wit” probeer hou; ’n welaf wit gesin met swaar Engelse aksente wat pal kla oor hoe “moeilik” dit is om ryk te wees; en ’n “liberale” vrou en haar dogters wat aandring op alles vegan, graag joga doen en gonswoorde soos panseksueel en aseksueel in hulle leefwyse inwerk.

Devonecia Swartz en Reuben Murphy

Deurentyd probeer dié spul die gehoor oorreed dat hulle die geskikte (en mees getransformeerde) kandidate vir die NRNNSA is, maar helaas ...

Die spektakel eindig katastrofies.

Die toneelstuk dryf die spot met Suid-Afrika se reënboognasie en hoe ons land etlike jare in die “nuwe” Suid-Afrika in steeds nie veel vordering rakende transformasie gemaak het nie. Wat beteken die nuwe Suid-Afrika dan nou eintlik? Die toneelstuk skyn die kollig op hoe ver ons nog moet gaan voordat ons werklik kan verenig. Dit dra die boodskap oor dat ons saam moet probeer om transformasie en inklusiwiteit ’n werklikheid te maak.

Lara de Bruijn in aksie op die verhoog

Die trant van die toneelstuk is speels en die dialoog skerp. Die gehoor is nie vir een oomblik verveeld met dié belaglike spul wat hom op die verhoog afspeel nie. Maar pasop, iewers deur die lagbuie mag jy dalk net agterkom dat hierdie skynbaar stereotipiese karakters nie heeltemal só stereotiep is nie. Jy besef dalk net jy herken eienskappe van iemand wat jy ken, of dalk herken jy jousélf daar op die verhoog. En dit is die wonderlike ding van hierdie toneelstuk: die geselskap kry dit reg om sensitiewe kwessies op ’n snaakse en spottende manier uit te beeld sonder om die gehoor in die gesig te vat. Die kommentaar is slim en subtiel; geen oomblik kom dit bombasties oor of voel jy dat iets nou in jou keel afgedruk word nie. Juis met dié benadering kry hulle dit reg om ’n wye verskeidenheid temas aan te spreek, soos rassisme, seksisme, apatie en vooroordeel.

Hulle maak gebruik van ’n eenvoudige stel sonder enige tierlantyntjies. Die doelbewuste gebruik van kleur, met die kostuums en beligting, is genoeg om die produksie lewe te gee en by te dra tot die speelsheid. Hulle bewys dat jy nie noodwendig ’n ingewikkelde stel nodig het nie; die boodskap wat jy aan die gehoor oordra, bly die kern van die saak.

Hendrik Nieuwoudt en Carla Smith

Die geselskap se energie is aansteeklik en hulle ensemble-spel is puik. Dit is ongelooflik om te dink dat die geselskap nog almal studente is wat self die toneelstuk (in hulle eerste jaar as studente) geskryf en op die been gebring het. Die idee van die produksie het ontstaan toe ’n deel van die geselskap in hul eerste jaar as dramastudente aan die Universiteit Stellenbosch, met ’n konsep vir ’n parodie of satire vorendag moes kom vir een van hul dosente, die aktrise Nicole Holm, se klas. Die idee agter NRNNSA is toe gebore en van daar het hulle begin woeker om dié konsep te omskep in ’n vollengte-toneelstuk en dit op die planke te bring by die kunstefeeste.

Dit is inspirerend om te sien hoe die klein groepie mense self inisiatief geneem het, die harde werk ingesit het en uiteindelik ’n professionele produk op die planke kon bring. Dit wil gedoen wees!

Die toneelstuk kry bo en behalwe alles een belangrike ding reg, en dit is om jou as gehoorlid te laat nadink oor die kwessies wat hulle aanspreek sonder om jou te vervreem. Tussendeur al die trane van lag begin jy jouself afvra of jy nie ook al so ’n bietjie pretensieus soos sommige van die karakters was nie. Is jy nie dalk ook een van daai mense wat jou oë rol as jy “weer eens” die woord transformasie hoor, maar eintlik nie die belangrikheid van die kwessie verstaan nie?

Die geselskap van NRNNSA

NRNNSA bring jou mooitjies terug aarde toe en jy besef gou dat jy dalk nie so onskuldig is soos wat jy jouself laat glo het nie. Dalk het jy self die “transformasie”-pot so ‘n bietjie mis gesit. Dalk mis ons almal soms die groter prentjie …

Die geselskap van NRNNSA bestaan uit die akteurs Carla Smith, Conradie van Heerden, Devonecia Swartz, Hendrik Nieuwoudt, Kristin Pienaar, Reuben Murphy en Lara de Bruijn. Chris Petrie is die pianis van die toneelstuk. Mercy Kannemeyer behartig die regie.

Die “jong” produksie en sy talentvolle geselskap spog al met ’n rits benoemings en prestasies. In 2017 is die toneelstuk aangewys as beste Vrynge-produksie by die Vrystaat Kunstefees. Die geselskap is vanjaar vir ’n Kanna benoem vir beste opkomende kunstenaar en Carla Smith het ’n WoordTROfee vir beste opkomende kunstenaar, vir haar spel in NRNNSA by die US Woordfees ontvang. Hul onlangste toekenning is dié van beste NATi-Jongsterre-produksie by die Suidoosterfees.

Lees ook

Suidoosterfees 2018: Die toneelstuk NRNNSA, transformasie en die toekoms van teater: ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer

SOF 2018: Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika – ’n teaterresensie

Jong Matie-student bekroon as “beste opkomende kunstenaar” by WoordTROfees: ’n onderhoud met Carla Smith

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top