NouNet: Meer as 700 000 nuwe kiesers by OVK geregistreer

  • 0

Meer as 700 000 mense het verlede naweek as kiesers tydens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se finale registrasienaweek geregistreer om in dié jaar se verkiesing te kan stem. Die totale aantal geregistreerde kiesers is tans meer as 26,7 miljoen. Dit verteenwoordig sowat 75% van die stemgeregtigde kiesers in Suid-Afrika.

Meer as 81% van die nuut-geregistreerde kiesers is jonger as 30 jaar oud; 52% is vroue en 48% mans.

Amanda Gouws, professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, reageer.

...............................................................................................

Oor die 700 000 mense het oor die naweek geregistreer om te stem. Wat beteken dit vir die verkiesing? Is dit baie mense as ’n mens dit in konteks plaas en kyk na die land se demografie?

Dit is minder as ’n kwart van die mense wat ongeregistreer was (4,5 miljoen). Dit beteken dus dat daar nog ongeveer 3,8 miljoen mense is wat nie geregistreer is nie. Dat 700 000 wel geregistreer het, is baie goed, maar ons moet vra hoekom mense nie registreer nie. Is dit apatie of ontevredenheid en ’n gevoel dat hulle stem geen verskil gaan maak nie?

Ek kan nie veel oor die demografie sê nie, aangesien ek nie weet wat die demografie van die 700 000 is nie. As dit wel jongmense is, is dit goed en kan hulle ’n groot bydrae tot ’n party se setels lewer as hulle almal vir een party stem (ons benodig ongeveer 50 000 stemme vir een setel).

Volgens die OVK is ongeveer 81% van die aantal registrasies mense onder die ouderdom van 30. Is dit ’n nuwe verskynsel? Is jonger mense meer gretig om te stem as in die verlede?

Die meeste wat nie geregistreer is nie, is jongmense, maar dié wat wel die naweek geregistreer het, wys ons dat hulle wel gehoor gegee het aan die oproep om te registreer.

Die vraag is: Wat kan verskillende partye hulle bied? Partye het nou die kans om hierdie stemme te “werf”.

Sal die aantal nuwe registrasies van die naweek ’n beduidende uitwerking op die uitslag van die verkiesing hê?

Slegs as hulle almal vir dieselfde party stem en as hulle opdaag om te stem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top