Nou in die verlede: Die tragiese verhaal van “Typhoid Mary” (Mary Mallon)

  • 0

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Mary Mallon (voorgrond) in haar hospitaalbed (Foto: Openbare domein)

Vrydag 27 Maart 2020

In hierdie tyd waarin die wêreld vasgevang is in ’n greep van paniek na aanleiding van die koronaviruspandemie, mag dit die mensdom baat om ag te slaan op die waarskuwingsboodskappe uit verhale uit die verlede, toe valse berigte en die daaropvolgende paniek meer skade aangerig het as enige siekte ooit sou kon vermag het. Hierdie waarskuwingsboodskap kom uit die verhaal van Mary Mallon. Ons gedenk hierdie week die dag waarop sy 105 jaar gelede vir die tweede en laaste keer in eensame aanhouding opgesluit is.

Mary Mallon is op 23 September 1869 in Ierland gebore. Tydens haar tienerjare het sy, net soos duisende ander Iere, na die VSA geëmigreer op soek na beter geleenthede. Aanvanklik het sy by haar oom en tannie gewoon, totdat sy aangestel is as kok vir gegoede gesinne. Van 1900 tot 1907 het sy as kok vir sewe New Yorkse gesinne gewerk.

Binne twee weke nadat sy vir ’n gesin aan die buitewyke van die stad begin werk het, het die gesinslede ingewandskoors, ook bekend as buiktifus, opgedoen. In 1901 het sy in Manhattan by ’n tweede gesin begin werk, en gedurende haar verblyf by hierdie gesin het gesinslede en lede van die huishouding koors en diarree ontwikkel en het een van haar medewerknemers selfs aan die koors gesterf. Mary het hierna vir ’n regsgeleerde gaan werk, maar die gesin vinnig verlaat nadat sewe uit die agt lede van die huishouding siek geword het.

In 1906 het Mary as kok begin werk vir die gesin van ’n ryk bankier, Charles Henry Warren. Toe die Warrens ’n vakansiehuis te Oyster Bay, Long Island huur om die vakansie daar deur te bring, het sy hulle daarheen vergesel. Tussen 27 Augustus en 3 September is ses van die 11 Warren gesinslede met ingewandskoors gediagnoseer, ’n bakteriese siekte wat deur besmette voedsel, water of nabye kontak oorgedra word. Drie mediese dokters het destyds opgemerk dat die siekte eintlik “ongewoon” is vir Oyster Bay.

Die Warrens het hierop vir George Soper, ’n sanitêre tegnikus, genader om die uitbreek van die siekte te ondersoek. Aanvanklik was Soper oortuig dat varswatermossels die bron van die kwaad was, maar na onderhoude met dié wat die siekte opgedoen het, het hy vasgestel dat nie almal van die mossels geëet het nie. Hierop het Soper se fokus na Mary verskuif, aangesien sy voorgekom het die gemene deler te wees tussen al die persone wat die siekte opgedoen het. Vanaf Maart 1907 het Soper haar bykans voltyds in die oog gehou en haar as’t ware bekruip om monsters van haar ontlasting, bloed en urine te bekom. Sy pogings was egter onsuksesvol en hy het hom derhalwe daarop toegespits om haar bewegings oor die voorafgaande sewe jaar na te gaan. Hy het toe vasgestel dat sy gedurende hierdie tyd as kok vir agt verskillende gesinne gewerk het en binne al hierdie gesinne, met die uitsondering van een, het lede ingewandskoors opgedoen. Twee-en-twintig lede van hierdie huishoudings het tekens van die siekte getoon en een het selfs daaraan gesterf. Sober se gevolgtrekking was dat Mary Mallon ’n asimptomatiese of “gesonde” draer was van die bakterie wat buiktifus, ook bekend as Salmonella typhi, veroorsaak het.

Op 15 Junie 1907 het Soper die uitslae van sy ondersoek en navorsing in die Journal of the American Medical Association (JAMA) gepubliseer en bekendgemaak dat Mary Mallon die bron van die uitbreek van die siekte was (my vertaling, soos ook dié van ander aanhalings hierin):

Dit is bevind dat die gesin kokke geruil het op 4 Augustus. Dit was ongeveer drie weke voor die buiktifusepidemie uitgebreek het. Die nuwe kok, Mallon, het slegs vir ’n kort tydjie by die gesin gebly en het ongeveer drie weke na die uitbraak die huishouding verlaat … 

Dokters het die teorie ondersteun dat Mary waarskynlik die bakterie oorgedra het deur nie haar hande goed skoon te skrop voor sy die kos hanteer het nie. Maar omdat die hoë temperature wat benodig word om die kos gaar te maak waarskynlik die bakterie sou vernietig het, het Soper voorgestel dat die bakterie meer waarskynlik deur Mary se gewilde nagereg, roomys met rou opgesnyde perskes daarin gevries, oorgedra is. Hy skryf: “Daar kan geen beter manier gevind word vir ’n kok as om haar hande skoon te maak van mikrobes en ’n gesin te besmet nie.”

Destyds was ingewandskoors taamlik algemeen, alhoewel dit ’n 10%-mortaliteitskoers gehad en meestal onder die minder gegoede mense in groot stede voorgekom het. In New York is daar ongeveer 4 000 gevalle jaarliks aangemeld. Maar na Soper se artikel is daar beweer dat Mary Mallon verantwoordelik was vir die uitbreek van die siekte. ’n Teenmiddel teen die Salmonella typhi-bakterie wat ingewandskoors veroorsaak is eers in 1911 ontwikkel en behandeling met antbiotika was nie beskikbaar voor 1948 nie. Derhalwe is Mary, as ’n “draer”, deur die owerhede beskou as ’n ernstige bedreiging wat geïsoleer moes word. Met die steun van dr Biggs van die New Yorkse gesondheidsdepartement het Sober dr Josephine Baker en die New Yorkse polisie oorreed om Mary aan te hou met die oog daarop om toetse op haar uit te voer. Dit kom voor asof daar geen poging deur die owerhede aangewend is om aan Mary die rede vir haar arrestasie te verduidelik nie.

Mary het haar egter nie sonder meer soos ’n lam tot slagting laat lei nie. Sy het haar vir vyf ure teen die arrestasie verset van agter ’n skans van vuilgoedblikke. Dit het vyf polisielede gekos om haar in bedwang te bring, met een wat bo-op haar in die ambulans moes sit om te verhoed dat sy ontsnap. Hy het hierdie ondervinding beskryf as “soos om in ’n hok vasgekeer te wees met ’n verwoede leeu”.

Tydens haar aanhouding is Mary deur die polisie verwyt weens haar “gebrek aan samewerking” en sy is uiteindelik gedwing om monsters van haar stoelgang te gee om getoets te word. Haar stoelgang het positief getoets vir Salmonella typhi en gevolglik is sy oorgeplaas na North Brother-eiland, ’n mediese fasiliteit, waar sy onder kwarantyn geplaas is.

Mary het heelwat media-aandag geniet, en in die 1908-uitgawe van JAMA is sy die bynaam Typhoid Mary gegee. Terwyl sy onder kwarantyn was, is sy gedwing om verdere monsters van haar stoelgang en urine te gee. Uit die 163 monsters wat geneem is, het 120 positief vir Salmonella typhi getoets. Gedurende die volle twee jaar van haar aanhouding is daar nooit ’n poging aangewend om aan haar te verduidelik wat die implikasies daarvan is om ’n gesonde draer van ’n aansteeklike siekte te wees nie. In plaas daarvan het die owerhede aangebied om haar galblaas te verwyder omdat hulle geglo het dat dit die bron was wat die bakterie in haar liggaam huisves. Sy het egter die operasie geweier, omdat sy vas geglo het dat sy nie die draer van enige siekte was nie. Hierop het hulle haar met ’n verskeidenheid van medikasies behandel, insluitende heksametileenamien, purgasiemiddels, urotropien en suurdeeg.

In 1910 het die nuwe gesondheidskommissaris, Eugene H Porter, besluit dat draers van siektes nie langer in isolasie aangehou mag word nie. Hy het onderneem om Mary vry te laat en vir haar ’n werk as ’n huiswerker te help soek, maar nie as ’n kok nie. Na haar vrylating het sy haar egter nie by hierdie voorwaarde gehou nie. Sy het bykans onmiddellik weer as ’n kok begin werk en haar naam na Mary Brown verander ten einde beide haar werkgewers en die owerheid te mislei.

Gedurende 1915 was Mary werksaam as ’n kok in die Sloan-hospitaal vir Vroue in Manhattan. Binne net drie maande het sy na bewering minstens 25 mense met die siekte besmet, insluitend verskeie dokters en verpleegsters. Twee van hierdie persone het weens die siekte omgekom. Voor die polisie haar egter kon vastrek, het sy uit die hospitaal gevlug, maar die polisie het haar tog kort daarna opgespoor en in hegtenis geneem. 

Op 27 Maart 1915 is sy terug in kwarantyn geplaas op North Brother-eiland, waar sy weer die keuse gegee is om haar galblaas te laat verwyder, wat sy weer geweier het. Sy is weer aan verskeie toetse onderwerp sonder om ingelig te word waarom die toetse op haar uitgevoer word. Sy het op ’n stadium geskryf dat sy ’n “kykkas vir almal” geword het: “Selfs die mediese assistente (by die inrigting) kom na my toe met vrae waarvan die antwoorde al aan die hele wêreld bekend is. Die tuberkulosemanne sal sê: ‘Daar is sy, die ontvoerde vrou.’”

Hierdie keer is Mary aangehou tot haar dood op 11 November 1938. Ironies genoeg sterf sy aan longontsteking, ook ’n virusinfeksie. Daar was sprake van ’n nadoodse ondersoek waartydens daar getuienis van Salmonella typhi in haar galblaas ontdek is, maar dat so ’n nadoodse ondersoek waarskynlik nooit plaasgevind het nie, is nader aan die waarheid. Navorsers het Sober aangehaal wat ontken het dat daar ooit so ’n nadoodse ondersoek plaasgevind het. Wat wel gebeur het, is dat Mary se liggaam uiteindelik veras en die as begrawe is. Mary Mallon sal vir ewig in die Amerikaanse volksgeheue verguis word as “die gevaarlikste vrou in Amerika”.

Altesaam is drie sterftes aan “Typhoid Mary” toegeskryf. Die totale aantal persone wat deur haar besmet is, sal nooit bekend wees nie, weens haar verskeie aliasse. Sommiges beweer dat sy verantwoordelik kon gewees het vir die dood van tot 50 mense, maar hierdie getal is nooit bevestig nie. Hoe dit ook al sy, die getalle was nie naastenby hoog genoeg dat dit as ’n epidemie beskou kan word nie, nog minder ’n pandemie.                

Gedurende hierdie selfde tydperk was daar nog verskeie “superverspreiders” van ingewandskoors in Amerika, insluitend Tony Labella, ’n Italiaanse immigrant, van wie vermoed word dat hy verantwoordelik was vir tot 100 gevalle (insluitend vyf sterftes); ’n gids by Adirondack Mountains-park met die bynaam Typhoid John, wat vermoedelik 36 mense besmet het (waarvan twee gesterf het); en Alphonse Cotils, ’n restaurant- en bakkeryeienaar. Ten spyte van hierdie ander, meer ernstige gevalle, is “Typhoid Mary” vandag steeds in die Amerikaanse omgangstaal die naam wat aan iemand gegee word wat wetend of onwetend ’n siekte versprei. Mary was ook die enigste draer in Amerika wat, sover bekend, lewenslank opgesluit was omdat sy ’n draer was. Daar is nooit werklik spesifieke redes hiervoor verstrek nie. Sommige geleerdes spekuleer dat die rede vir haar behandeling waarskynlik ’n kombinasie was van die feit dat sy ’n Ierse immigrant was, nie wou “saamwerk” nie, ongetroud was en ook ’n vrou was.

Dit is interessant om daarop te let dat daar minder as drie jaar na Mary Mallon se dood ’n vorm van griep bekend as Spaanse griep ’n wêreldwye pandemie veroorsaak het wat vinnig versprei en voor die voet dood gesaai het. Dit het ’n duiselingwekkende 500 miljoen mense wêreldwyd besmet – omtrent 27% van die destydse wêreldbevolking – gedurende die twee jaar wat dit voortgewoed het. Die dodetal was na raming enigiets tussen 17 en 50 miljoen mense, wat dit een van die dodelikste pandemies in menseheugenis maak. Net in die stad New York alleen met sy destydse 5,6 miljoen inwonertal het 30 000 mense gesterf.

Hedendaagse kommentators wat Mary Mallon se geval weer nagevors het na aanleiding van onlangse epidemies soos die SARS-virus en H1N1-varkgriep, hou Mary voor as ’n tipiese slagoffer van openbare histerie en openbare magsoorskryding. Hoewel sy geen misdaad gepleeg het nie, is sy aangehou en ontmenslik as ’n metafoor vir besmetting. In haar boek Typhoid Mary: Captive to the public’s health skryf die historikus Judith Leavitt: “Dit is baie moeilik vir die meeste gesonde Amerikaners om hulleself voor te stel as die een wie se vryheid bedreig mag word in ’n poging om die gesondheid van die gemeenskap te beskerm.”             

Meer as ’n eeu later word die wêreld weer in ’n staat van paniek gedompel terwyl die COVID-19-virus, ook bekend as die koronavirus, geluidloos deur salig onbewuste draers tussen kontinente oorgedra word. Reisigers op passasierskepe en vliegtuie, en miljoene mense in China, Italië, Spanje, die VSA en ander lande, insluitende Suid-Afrika, word onder kwarantyn geplaas in ’n poging om die verspreiding van die siekte te beheer. Beheermaatreëls wissel van oproepe deur die owerheid tot selfisolasie, tot ’n algehele verbod op openbare byeenkomste soos konserte en sportbyeenkomste, asook streng oorsig. Die organiseerders van ’n kerkbyeenkoms wat sentraal staan in die uitbreek van die siekte in Suid-Korea, word selfs van moord beskuldig. In sekere dele van China het dit aan die lig gekom dat die owerhede belonings uitreik aan dié wat moontlike siekes aan hulle rapporteer. Om die onderwerp verder te kompliseer, blyk dit nou dat China se drastiese metodes besig is om vrugte af te werp, wat oënskynlik die beperkings op individuele vryhede ter wille van die beskerming van openbare gesondheid regverdig.

Daarbenewens word werkers by diensleweringsinstansies regoor die wêreld met die vraag gekonfronteer of hulle moet ophou werk as voorsorg teen die koronavirus. Sou hulle ophou werk, loop hulle die risiko om hul salarisse en daarmee saam hul mediese versekering te verbeur. Mary Mallon is 105 jaar gelede met dieselfde dilemma gekonfronteer. Die televisiesjef wyle Anthony Bourdain het Mary as ’n geesgenoot beskryf, iemand met ’n rebelse gees wat aanhou werk het omdat sy die werk nodig gehad het. Hy het geskryf: “Kokke word ook siek. Hulle het nog altyd. In die meeste beroepe, as jy nie werk nie, word jy nie betaal nie.” Dit is die dilemma wat baie mense in die gesig staar tydens die uitbreek van virusinfeksies, epidemies en pandemies.

Die situasie kan totaal handuit ruk wanneer valse berigte en histerie die fokus word in plaas van ’n ingeligte, wetenskaplike verduideliking. Tot met haar dood het Mary nooit ten volle begryp wat die rede vir haar aanhouding was nie. Sy het haar deurgaans teen haar aanhouding verset, tot ses jaar voor haar dood, toe sy ’n hewige beroerte gehad het. Openbare en professionele antagonisme het bloot haar teenstand aangevuur. Die paranoia teenoor haar is net oortref deur die paranoia wat sy teenoor die res van die wêreld gehad het. Dit was vir haar onverstaanbaar hoe sy ander mense met ingewandskoors kon besmet terwyl sy self blakend gesond bly. “Ek het nog nooit in my hele lewe ingewandskoors gehad nie en was nog altyd net gesond. Waarom moet ek dan soos ’n melaatse verban word en verplig word om in eensame aanhouding te leef met net ’n hond as metgesel?”

Met die wysheid van terugblik is dit baie maklik om Mary te veroordeel vir haar onverantwoordelike optrede, maar dit moenie vergeet word nie dat selfs die deskundiges van destyds onseker was oor hoe om die uitbreek van ’n virusinfeksie te beheer. Die mediese kennis van daardie tyd het ver te kort geskiet gemeet aan vandag se gevorderde mediese wetenskap. Derhalwe, as sy beter ingelig was, sou dit miskien haar roekelose gedrag verhoed het. Die feit dat sy wel deur gesondheidswerkers verstoot en as besete beskou is, kan ewe veel aan die gees van die tyd as aan Mary se uitdagende houding toegeskryf word.

Selfs vandag nog woed valse beriggewing en histerie voort en versprei dit vinniger as ooit tevore deur sosialemediaplatforms en e-posse. Dit is baie gevaarlik, nie slegs ten opsigte van die bekamping van die verspreiding van die virus nie, maar dit bied nou ’n heel nuwe, vreesaanjaende situasie waar kuberkrakers mense se vrese tot hul eie voordeel kan misbruik deur hul rekenaars en selfone met besmette sagteware binne te dring. In ’n tydskrifartikel van 12 Maart 2020 waarsku Business Insider South Africa teen krakers wat nie net private individue se elektroniese toestelle nie, maar ook dié van vervoer-, vervaardiging-, reis-en-verblyf-, gesondheid- en versekeringsdienste binnedring om fopnuus en ander vals inligting daarop te plant. ’n Voorbeeld: Vir mense wat inligting soek oor die verspreiding van die koronavirus het die krakers kaarte op sosiale media en e-posse geplant wat na bewering die verspreiding van die virus aandui soos dit plaasvind. Maar wanneer ’n bekommerde gebruiker die kaart op sy rekenaar oopmaak, word sy rekenaar sonder meer besmet met programme wat inligting op die rekenaar steel, insluitende bankinligting. Volgens Shai Alfasi, ’n navorser by die kubersekerheidsfirma Reason Labs, is dit waarskynlik dat daar ’n toename in koronaverwante kuberbesmetting en variante daarvan sal wees vir die voorsienbare  toekoms. (Veiligheidswenk: Mense word aangeraai om hulle slegs by die bevestigde koronavirusopsporingskaarte te bepaal en om die URL van die webtuiste te bevestig voor hulle dit oopmaak.)

’n Verdere, baie verontrustende aspek is die feit dat daar stemme in die sosiale media opgegaan het wat selfs ’n beroep op die owerheid doen om mense wat met die virus besmet is om die lewe te bring om so te help om die verspreiding daarvan te keer! Op die Facebookblad van ’n Oos-Kaapse stad het een inwoner voorgestel: “Maak hulle almal dood … As ek die President was sou ek hierdie owerheidstrategie toegepas het …” Ander het saamgestem, met een wat voorstel “die President (Cyril Ramaphosa) moet hulle net elimineer …” Hul argument is dat die waarde van die lewens van vele bo die waarde van die lewens van ’n paar geag moet word: “Sou jy wou sterf as gevolg van ’n paar mense wat jy nie eers ken nie, of sou jy toelaat dat een persoon jou hele gesin voor jou oë  doodmaak?” Net soos die drastiese stappe wat die New Yorkse gesondheidsowerhede teen Mary Mallon gedoen het, kan hierdie tipe opmerkings ook nie geregverdig word nie, want tot dusver is dit duidelik dat ’n onbeduidend lae persentasie mense wat met die virus besmet word, uiteindelik daaraan sterf. Hulle begryp ook nie die implikasies van ’n staat wat gemagtig word om sy eie burgers te vermoor nie. Soos ’n antropoloog eens gedurende gelukkiger tye opgemerk het: “Die regte ding om te doen sal wees om die aarde se bevolking uit te dun. Dis soos Moeder Aarde wat uiteindelik haar saamleefvennoot wat haar mishandel, uit die weg ruim. Probleem is net: Wie besluit wie moet uitgedun word? Ek sal byvoorbeeld sterk daarteen gekant wees om self uitgedun te word.”

Vrees en misverstande het natuurlik ook gelei tot chaos onder verbruikers. Na president Ramaphosa se aankondiging op 15 Maart 2020 dat die verspreiding van die koronavirus tot nasionale ramp verklaar is, het paniekbevange Suid-Afrikaners die winkels ingevaar en goedere in grootmaat begin aankoop om toekomstige kontak met moontlike draers van die virus te vermy. Tonele van lang toue verbruikers in supermarkte met winkeltrollies oorlaai met blikkieskos en toiletpapier het ’n bekende gesig regoor die land geword. Dit het winkelrakke leeg gelaat vir ander verbruikers wat nou eers moes wag totdat die voorraad weer aangevul kon word. Die ironie van die saak is dat die lang rye van vreesbevange verbruikers presies in die hande speel van die verspreiding van die virus en dit doen eintlik presies wat die President gevra het mense nie moet doen nie. Hierdie tipe paranoia wat daarop gerig is om die verspreiding van die virus te vermy, skep dus eintlik die ideale teelaarde vir die virus om selfs vinniger te versprei.

Dit wys hoe gevaarlik vals inligting kan wees. Dit was nog altyd die grootste vyand in die stryd teen virussiektes soos ingewandskoors en COVID-19, maar nou het dit selfs verder versprei as kommer oor biologiese gesondheidsorg, en bedreig dit ook finansiële en sosiale veiligheid, ja, selfs die moraliteit van die mens. Dit is ’n vreesaanjaende gedagte.

Virussiektes is moeilik om te verstaan en juis daarom is dit so moeilik om dit op te spoor en te beheer. Die onverantwoordelike verspreiding van vals inligting of oordrewe feite, opsetlik of nie, dra net daartoe by dat begrip van die siekte verder verhoed word. Die vrees en paniek wat hierdeur versprei word, is dikwels net so gevaarlik, indien nie gevaarliker nie, as die virus self. Daarom is dit belangrik om nie die verhaal van “Typhoid Mary” te vergeet nie. Haar geval is ’n perfekte voorbeeld van hoe gesondheidsdienste die openbare houding teenoor die draers van virusse kan beïnvloed, welke houdings gewoonlik bevooroordeeld is. Haar geval behoort die kollig te geplaas het op die problematiese aard van die benadering tot draers en die behoefte aan ’n versnelde mediese en regsosiale behandelingsmodel wat daarop gerig is om die status van draers te verbeter en so hulle (negatiewe) impak op die samelewing te verminder. Maar sy het, daarteenoor, die verwysingsraamwerk geword van die nienakoming van die reg betreffende gesondheidsaangeleenthede. Dit het dan ook nie lank gevat vir joernaliste om na haar te verwys na die uitbreek van die koronavirus nie. Vir dekades was haar geval gebruik as ’n waarskuwing teen persone wat gesondheidsmaatreëls wou oortree ten tye van die uitbreek van ’n virussiekte. Maar eintlik moet Mary Mallon se geval as waarskuwing vir almal dien wat nie daartoe in staat is om te onderskei tussen ware en valse inligting nie. In ’n tyd waarin daar meer inligting beskikbaar is as op enige ander tydstip in die geskiedenis, bly mense nog steeds onkundig en maak hulle dieselfde foute as wat gesondheidsowerhede en die Amerikaanse publiek 105 jaar gelede gemaak het.

Op die oomblik kan enigeen van ons ’n “Typhoid Mary” word. As dit gebeur, laat ons bid dat diegene in beheer van openbare gesondheidsorg geleer het uit haar storie en aan ons die beskerming sal bied wat haar nie beskore was nie.

 

Bibliografie

Carroll, R. 2020. Typhoid Mary: the super-spreader before the term even existed. The Guardian, 10 Maart. https://www.google.com/amp/s/amp.theguardian.com/science/2020/mar/10/typhoid-mary-super-spreader-history.

Fischer, RSB. 2020. What’s the difference between pandemic, epidemic and outbreak? The Citizen’s Voice, 13 Maart. https://m.citizensvoice.com/news/what-s-the-difference-between-pandemic-epidemic-and-outbreak-1.2607201.

Greenwood, V. 2015. The frightening legacy of Typhoid Mary. Smithsonian Magazine, Maart. https://www.smithsonianmag.com/history/the-frightening-legacy-of-typhoid-mary-180954324.

Holmes, A. 2020. Hackers are using these fake coronavirus maps to give people malware. Business Insider, 12 Maart. https://www.google.com/amp/s/www.businessinsider.com/hackers-are-using-fake-coronavirus-maps-to-give-people-malware-2020-3%3famp.

Jabr, F. 2020. COVID-19 is not the Spanish flu. Wired, 13 Maart. https://www.google.com/amp/s/www.wired.com/story/covid-19-is-nothing-like-the-spanish-flu/amp.

Klein, C. 2018. 10 Things you may not know about “Typhoid Mary”. History, 22 Augustus. https://www.google.com/amp/s/www.history.com/.amp/news/10-things-you-may-not-know-about-typhoid-mary.

Marineli, F, G Tsoucalas, M Karamanou en G Androutsos. 2012. Mary Mallon (1869–1938) and the history of typhoid fever. NCBI, 19 November. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3959940.

Onbekende skrywer. 2020. South Africans are panic buying because of the coronavirus – but that could lead to further problems. Business Tech, 17 Maart. https://businesstech.co.za/news/business/382235/south-africans-are-panic-buying-because-of-coronavirus-but-that-could-lead-to-further-problems/amp.

Roser, M. 2020. The Spanish flu (1918–20): The global impact of the largest influenza pandemic in history. Our World in Data, 4 March. https://ourworldindata.org/spanish-flu-largest-influenza-pandemic-in-history.

Smith, KN. 2017. Who was Typhoid Mary? Forbes, 22 September. https://www.google.com/amp/s/www.forbes.com/sites/kionasmith/2017/09/22/who-was-typhoid-mary/amp.

Lees ook:

Nuwe koronamaatreëls: drasties maar broodnodig

Die hele wêreld word stil

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top