NOPE-filmresensie

  • 0

NOPE  (UIP)
Met Daniel Kaluuya en Keke Palmer
Regisseur:  Jordan Peele 

Nie dat ’n mens voornemende kykers van hierdie stroomop, onwerklike en eksentrieke wetenskapfiksierolprent wil afsit nie, maar dis nie almal se vlieënde piering nie! Jy moet ’n redelike goeie kennis van rolprente hê, style verstaan, genres ken en die nuwe rigting waarin Amerikaanse rolprente tans beweeg onder die knie hê om hierdie nuutskepping te waardeer. Dit was terloops ’n groot geldmaker in Amerika en het gehore teruggelok teaters toe.

...........
Hierdie rolprent laat hom nie maklik in ’n boksie druk nie, dus is die halsbandjie om die hondjie se nek “wetenskapfiksie” hierbo bedenklik. Nope is veel meer as dit. Die titel verklap reeds dat dit ’n moderne, aweregse gehoor se reaksie in een woord probeer opsom. Ook dat dit op ’n ontvanklike en kritiese gehoor gerig is.
.............

Hierdie rolprent laat hom nie maklik in ’n boksie druk nie, dus is die halsbandjie om die hondjie se nek “wetenskapfiksie” hierbo bedenklik. Nope is veel meer as dit. Die titel verklap reeds dat dit ’n moderne, aweregse gehoor se reaksie in een woord probeer opsom. Ook dat dit op ’n ontvanklike en kritiese gehoor gerig is. Dit sinspeel nie heeltemal op die tradisionele “nee” of “no” nie, maar die slenguitdrukking “nope” wat ’n sterker impak as ’n blote ontkenning het. Dit verklap verbasing en ’n optrek van die moderne paar skouers wanneer gevra word: “Verstaan jy waaroor die rolprent gaan?” Nope mag dus beteken, nie eintlik nie, maar maggies, wat ’n fees. Of: Nee wat. Tot siens!

Om dit kortliks te probeer opsom is eweneens moeilik. Let op die hoeveelheid rare buitestaanderfigure wat die fliek bevolk. ’n Jong man met ’n uitdrukkinglose gesig maar groot oë wat gedurig na bowe gerig is, die Peele-gunsteling Daniel Kaluuya wat perde afrig om in rolprente gebruik te word. Ook sy spitsvondige, snaakse suster Emerald (Keke Palmer), wat rolprentmaatskappye moet oortuig om haar broer se dienste te gebruik. Van die eerste tonele sluit hoeka ’n skoot in waar Kaluuya as OJ (ja, met ’n lighartige, ironiese verwysing na Simpson) voor ’n groenskerm verskyn waarop enige beeld geprojekteer kan word.

Prent: YouTube (https://www.youtube.com/watch?v=In8fuzj3gck)

Dit sluit aan by die wetenskapfiksie-element waar karakters besef dat daar iets in die buitenste ruim agter die wolke plaasvind wat onverklaarbaar is. (’n Mens wil nie meer verklap nie.) Peele moes inderdaad van groenskerms gebruik gemaak het wat sekere towerskote en spesiale effekte betref, veral wolke.

Terloops, Jordan Peele is ook bekend om twee van die varsste en onthutsende rolprente van die afgelope vyf jaar, Get Out! (2017) en die grieselrige Us (2019) oor die doeblering van ’n misplaaste, wanaangepaste gesin. Hy stel hoë vereistes aan sy gehoor en gee hulle dikwels visuele opstoppers, soos na aan die einde van hierdie rolprent gebeur.

Peele wen die veer gereeld af en die intrige ontvou tydsaam tot naby die slottonele, soos in sy vorige rolprente gebeur wanneer alles soos ’n Rubik se Kubus inmekaarpas. En dan moker hy jou!

Daarvan gepraat. Nope is ook ’n Western en lewer indirek kritiek op die feit dat daar feitlik nooit (goeie) swart cowboys in Hollywood-rolprente was nie, veral nie gedurende die vyftigerjare nie. Dit speel ook met die soort vlieënde pierings rond wat in dieselfde tydperk so dikwels in Amerikaanse buite-ruimtelike rolprente voorgekom het. Maar kan cowboys teen ruimtetuie veg?

Dit smokkel ook met rolprentkonvensies. Nope konsentreer dikwels op die heel eerste bewegende skoot wat ooit op film verewig is en soms beskryf word as die eerste rolprentskoot: ’n jokkie wat op ’n perd ry sodat die kinematograaf kon vasstel of ’n perd se vier pote gelyktydig van die grond af lig.

Perde vorm dikwels metafore in hierdie kombinasie van ’n Western en ’n wetenskapfiksie met ’n stewige dosis swartkomedie tussenin gegooi. Dit gebeur veral wanneer ’n moderne soort cowboy teen ’n mag groter as hyself uit die ruimte probeer baklei. Jy weet nie of jy moet lag, huil of in verstomming jou hand voor jou mond moet slaan nie.

...........
Perde vorm dikwels metafore in hierdie kombinasie van ’n Western en ’n wetenskapfiksie met ’n stewige dosis swartkomedie tussenin gegooi. Dit gebeur veral wanneer ’n moderne soort cowboy teen ’n mag groter as hyself uit die ruimte probeer baklei. Jy weet nie of jy moet lag, huil of in verstomming jou hand voor jou mond moet slaan nie.
...........

Daar is ook ’n Western-pretpark waar vlae en opblaas-cowboys indirek saam teen die gevaar van bo baklei. Die kunsmatige misbruik van die Wilde Weste. En die plastiese cowboys veg saam sonder dat hulle dit weet.

En dan ’n vreemde sekwensie. ’n Situasiekomedie, ook tipies van die vyftigs, word verfilm. Kort daarna is daar tonele waar ’n sjimpansee die akteurs vermorsel nadat die gehoor die ateljee verlaat het. Deels omdat daar ’n gek van hom gemaak is in die scenario, en ook as kritiek teen die vals kunsmatigheid van situasiekomedies waar gehore deur flitsende ligte voorgesê word wanneer om te lag, applous te gee of te reageer. Die Western is besig om te sterf en die situasiekomedie verdien om na die lang bome te gaan.

Daar is nog uitdagende tonele soos ’n bleeksiel met ’n moderne, gebleikte haarstyl wat in ’n hardewarewinkel/kompleks werk en wie se hulp ingeroep word wanneer die karakters die ruimtetuie wil verfilm. Kompleet met ’n kamera met filmrolle waar die apparaat nog met ’n slinger gedraai word. Dit lewer kommentaar op hoe die maak van rolprente en stories verander het van primitief na supersonies.

Hieruit blyk dit duidelik dat Jordan Peele met sy gehoor speel en hul eintlik visuele poetse bak. Sommige kykers sal ná 15 minute uitroep: “Nope!” en die teater blasend van woede verlaat. Ander mag gefassineer kyk na die krag van rolprentmanipulasie in die hande van ’n regisseur wat verstaan dat ’n toneel soms te ver gevoer moet word, en nie in die tradisionele sin van die woord “sin” moet maak nie. Jy moet jouself onvoorwaardelik daaraan oorgee.

Uitdagend, verstommend, snaaks, vreesaanjaend en anders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top