"Nooi my na die kombuis en nie na die sitkamer nie" (9 April 2025)

  • 0

 

Gedurende die UDF- (United Democratic Front-) jare het baie van ons ons eerste blootstelling aan robuuste debatte met mede-Suid-Afrikaners gehad. Die ou orde was nog stewig aan bewind, maar daar was ’n gees van ’n komende verandering en ’n onwrikbare geloof daarin. Ek was een van baie fasiliteerders wat gedink het ons kon mense se politieke energie in konstruktiewe verandering lei. In een so ’n byeenkoms het ek as jong akademikus, vars uit die VSA en vol planne, so ’n vergadering gefasiliteer. Ek het selfs ’n plan help uitwerk, toe ek met ’n weerligslag tot my sinne gedwing word. ’n Ou man het my gestop met die woorde: “Invite us to the kitchen and not to the dining room.” Dit was duidelik: My slim plannetjies sou nêrens kom as ek die groep nie toelaat om die tempo en die inhoud van die proses te medebestuur nie.

Na ’n hele week van mespuntpolitiek oor die voortbestaan van die RNE begin die oplossing stadig na vore kom. Die ANC gaan nie die DA uit die proses kan skop nie en die DA gaan nie die fout herhaal wat FW de Klerk baie jare gelede gemaak het om vrywillig uit die koalisieregering te stap nie.

Die ANC se aankondiging op 8 April 2025 by monde van Fikile Mbalula het al die elemente bevat van ’n politieke akteur wat met ’n ingesteldheid praat asof hy ten volle in beheer van sake is met 40% van die steun. Veral die gebruik van ideologiese terme het mens laat dink dat die ANC nie met die DA in gesprek tree nie, maar eerder met die belange en faksies binne die ANC self. Dit is presies die swakheid van die ANC dat hy ’n interne koalisie van ontgogeldes tevrede moet hou en boonop twee faksies in die ANC binne ’n groter koalisie moet bestuur. Om die ANC se posisie verder te kompliseer, begin die faksie van Paul Mashatile met ’n narratief wat nie die standpunt van Ramaphosa en Mbalula binne die ANC ondersteun nie. Die strategie is dus om met ’n geprojekteerde “sterk beeld” die RNE in ’n proses in te probeer boelie.

Die DA, daarenteen, het deurlopend op die meriete van die begroting gefokus, en hulle hofstukke skyn meriete te hê in die hof. Die ANC sal die DA en ander partye in die politieke kombuis moet innooi, met al die risiko wat dit vir die ANC inhou. As mens polities ideologiese en ekonomiese beleid met ou resepte kan vergelyk, sal lede van die RNE die resepte kan beskou en selfs aanval, of hier en daar minder kerrie of meer sout bygooi. Die proses het nou so ver gevorder dat die verhoging van BTW na 15,5% ’n baie klein prys sal wees vir die DA om te absorbeer in ruil vir groter inspraak en beplanning vir wat in die staat se kombuis aangaan. Dit is daar waar die vrae rondom ekonomiese groei en werkloosheid bekyk word en waar oplossings vir die ekonomiese druk van Trump-tariewe bespreek moet word. John Steenhuisen is krities belangrik in sy huidige rol as minister van landbou, omdat landbou swaar getref gaan word met die opsegging van Agoa.

Ek herhaal graag wat ek in die vorige bulletin geskryf het. Mespuntpolitiek is ’n kuns eerder as ’n strategie, waar die praktyk ingespan word om berekende risiko’s te neem en konflikte of gebeure toe te laat om tot teen die afgrond te beweeg. Dit vind plaas deur gebruik te maak van politieke druk, manipulasie, intimidasie, vals nuus en politieke blufspeletjies. Die doel van mespuntpolitiek is om jou opponent buite sy gemaksone te laat beweeg en dan met onderhandeling voordele af te dwing. Dit is ’n spel vir koelkoppe, want heethoofde verloor gou hulle geduld en perspektief, en ons is nou op daardie speelveld.

Lees ook:

Tariewe, onsekerheid en ’n begroting: die kontoere van mespuntpolitiek (3 April 2025)

Diplomasie op die afgrond

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top