Nog net 9: ’n teaterresensie

  • 2

Roerend. Ontstellend. Maar ook by tye skreeusnaaks.

Na afloop van Carin Saxon se solovertoning Nog net 9 op Menseregtedag in die Paarl se Ou Meul Teater, waarin sy nie minder nie as tien uiteenlopende karakters vertolk het, het trane op teatergangers se skouers gedrup. “Hoe lyk my maskara?” het een van die teatergangers my agterna gevra.

Hierdie bloedjong opkomende aktrise het ’n kragtige debuut gelewer waarvoor sy staande toegejuig is.

Carin Saxon tydens haar debuut in die opvoering Nog net 9

Die drama is geskryf om sosio-ekonomiese probleme in minderbevoorregte gebiede uit te beeld en hoop vir die toekoms te skep. Van die tonele en woorde het diep gesny. Die karakters is wel fiktief, maar die gebeure is op die harde werklikheid van die belewenis van verskillende slagoffers se stories wat ineengevleg is, gebaseer. Dit ruk aan die hart om te dink dis wat onskuldige jong meisies daagliks moet deurgaan. Carin se vertolking was eerlik en die uitbeelding van haar karakters se pyn, verwaarlosing, verwerping, mishandeling en molestering het mens aangegryp. Die aktrise wat oor emmersvol natuurlike talent beskik, hou niks terug nie. Sy gee alles.

Sy skakel gemaklik van een karakter na die volgende oor; sy het ’n sterk stem en het die gehoor vir ’n uur en 20 minute vrou-alleen gevange gehou. Die opvoering eindig met ’n toneel waarin die karakter Sarah huilend vertel dat sy nog net nege was toe haar stiefpa haar gemolesteer het.

Die skrywers is Carin Saxon self, die prokureur Andalé Benjamin en die sanger en vermaaklikheidskunstenaar Sydwell Beziek, wat ook die aandoenlike temaliedjie “Nog net 9” sing, wat binnekort op radiostasies gehoor sal word.

Die tragikomediese produksie is moontlik gemaak deur die niewinsgewende organisasie Soulo Produksies se raad wat uit vrywilligers soos  Sydwell Beziek en Adri Francke bestaan. Soulo Produksies is daarop gemik om talent in die gemeenskap raak te sien en aan te moedig. Die drama is deur Sydwell Beziek en Andalé Benjamin vervaardig.

Deur hierdie drama is die geleentheid gebied om die talent van die Drakenstein-gebied ten toon te stel. Die aktrise, skrywers, die knap jong regisseur Keenin Kacey von Wielligh en die vervaardigers is almal uit die Paarl, die bakermat van geskrewe Afrikaans, afkomstig. Nog net 9 bied egter ’n ander blik op op die Afrikaanssprekende samelewing as die hoofstroom  standaard literêre kultuur.

Nog net 9 is ’n ernstige aanklag teen die samelewing. Ek vermoed dit gaan nog landwyd en by kunstefeeste opgevoer word.

Na deser sal mense nie net meer anderpad toe kan kyk nie.

Carin Saxon (tweede van links) by die vervaardigers Andalé Benjamin (heel links) en Sydwell Beziek (heel regs) en Keenin Kacey von Wielligh, die regisseur van Nog net 9.

Meer oor die aktrise

Carin (22) het moeilike kinderjare gehad en in Chicago, Paarl, waar die sosio-ekonomiese omstandighede uiters moeilik is, grootgeword, maar het later by ’n wonderlike pleegma, Siena Adams, beland wat haar en haar susters Carmen Saxon en Fredoline Saxon met soveel liefde as haar eie vyf kinders grootgemaak het.

Carin het reeds van kindsbeen af talent as aktrise getoon en het die Clint Brink-trofee saam met ’n klasmaat, Conway de Vries, gewen, en is ook as die belowendste aktrise gedurende haar matriekjaar in haar dramaklas by New Orleans Sekondêr aangewys, waarvoor sy ’n sertifikaat ontvang het. Clint Brink vertolk die rol van dr Steve Abrahams in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders.

Na verskeie probeerslae as deelnemer aan die Global Spotlight Talent Search-kompetisie het Carin in 2016 die eindronde met sang en toneelspel behaal. Sydwell het haar talent raakgesien en het, synde ’n mentor, vaderfiguur en bestuurder van jongmense in die uitvoerende kunste, besluit dat hy iets vir haar wil doen.

Daar is besluit om haar lewensverhaal te skryf en sy, Andalé en Sydwell het toe idees rondgegooi en besluit om met of sonder borge vir haar ’n première te reël met die ondersteuning van Soulo Produksies.

Carin swot onderwys en doen tans haar Educare-jaar by Paarlzicht Primêr.

Sy vertel dat ’n onderwyseres haar op 11 gevra het wat haar talent is. Sy het verbaas daarop gereageer, was besig om ’n vriendin se hare te kam en het gesê dat dít haar talent is. In graad 5 het sy egter ontdek dat sy talent as aktrise het toe sy die rol van ’n ouma in ’n opvoering moes vertolk.

“Ek het nie geweet dat ek so ’n talent het nie en was self verbaas daaroor, omdat ek eintlik ’n stil, teruggetrokke mens is,” vertel sy. Drama het haar egter gehelp om uit haar dop te klim.

Haar groot droom is om drama aan die Universiteit Stellenbosch te gaan swot. Sy hoop en bid dat sy ’n beurs sal ontvang.

Die boodskap wat sy aan ander wil oordra wat ook swaargekry het, is: “Laat los die verlede en sien uit na jou toekoms.”

  • 2

Kommentaar

  • Carin terwyl ek dit lees het daar soveel emosies deur my gegaan. Daar is geen twyfel nie dat jy suksesvol gaan wees. Jy het nooit toegelaat dat seer en pyn jou kreupel maak nie, maar ’n wit lelie wat floreer in die modder. ’n Goeie voorbeeld van "Collateral beauty". Lief vir jou.

  • Chalmane Lucia Horne Kruger

    Carin is 'n uitmuntende aktrise! Ek sal graag weer en weer hierdie talentvolle jong vrou se opvoerings wil bywoon. Die vervaardigers en draaiboekskrywers asook die regisseur het hulself heeltemal oortref met hul bydra tot ons Afrikaanse kultuur en taalversorging, maar die vertolker verdien eerlikwaar 'n toekenning vir haar briljante uitbeelding van die 10 karakters!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top