Wat is "Niks té diep nie II"?
Henry: "Niks té diep nie" is ’n geleentheid waar ’n handvol Afrikaanse digters – sommige bekend, sommige minder so – van hul werk voorlees in ’n pretensielose atmosfeer waar akademiese ontleding, voorgeërigheid en hoogdrawende gesprekvoering nie na die partytjie genooi is nie. Ons het vroeër vanjaar die eerste "Niks té diep nie" gehou in die Kimberley Hotel in Kaapstad, met Anna-Bet, Jan Gerber, Willim Welsyn, Bibi Slippers en Danie Marais wat voorgelees het. Dit was volgepak – mense moes by die deure staan en luister! Dit wys daar is ’n behoefte aan hierdie soort geleentheid en daarom gebeur NTDN II nou in ’n groter venue.
Wanneer is iets té diep?
Anna-Bet: Wanneer dit jou laat klink asof jy intellektuele pretensies het en/of ’n taai klap nodig het.
Henry, ons het al hieroor gesels, maar sê gou weer: Wat is digkuns? (Anna-Bet kan ook gerus inchip)
Henry: Haha, ja, lang gesprekke daar in Dorpstraat. Dis natuurlik nogal ’n gelaaide vraag en ek weet nie wat die "korrekte" antwoord is nie, maar dis in essensie ’n behoefte wat verwoord word, sou ek dink. Mense se behoeftes is meer eenders as wat ons graag wil dink, so dat daar ’n elitisme en eksklusiwiteit wat toegang betref (tot die pleeg en belewing daarvan) bestaan, is vir my belaglik.
Anna-Bet: As ek dit op 'n eenvoudige manier aan iemand moes verduidelik wat nog nooit van die term of konsep gehoor het nie, sou ek sê dis 'n tipe kunsvorm wat die skrywer toelaat om uitdrukking te gee aan emosie en gedagte sonder die oënskynlike inperkings van ander meer gestruktureerde literêre vorme. As die vraag egter gestel word deur iemand wat probeer reaksie uitlok, sou ek sê as hulle lank genoeg alleen toegesluit word in 'n kamer met rooiwyn, pen en papier hulle dit waarskynlik self sou kon uitpluis.

Afrikaanse post-apokaliptiese folk-grunge-groep Die Skynmaagde sal ook die aand optree.
Wat is die verskil tussen die digkuns en die (hedendaagse) digkunskultuur?
Henry: As ek jou reg verstaan, gaan die vraag oor hoe die twee elemente in stryd is met mekaar? Wel, dis dalk ’n veralgemening, maar die gevoel op straat is dat Afrikaanse digkunskultuur, soos ek hierbo geskimp het, aan ’n mate van elitisme, eksklusiwiteit en neerhalendheid ly. ’n Goeie voorbeeld is vir my ’n bisarre artikel wat vroeër vanjaar in Rapport verskyn het – "So jy dink jy is ’n digter?" - waarin sogenaamde kenners gal braak oor gedigte wat mense op Facebook en ander forums plaas. Kyk, ek probeer nie sê dié gedigte is eintlik geniaal of iets nie, maar só ’n ingesteldheid ontmoedig mense om enigsins te begin en verdoem Afrikaanse digkunskultuur tot een waar slegs gryses op wynplase vergader en mekaar probeer beïndruk met leë analises en skynintellektualisme. Miskien is dit die verskil – digkuns leef in kroeë en in die strate, digkunskultuur leef op wynlandgoedere en in hoë kantore.
[Desmond Painter het die afgelope naweek by die Tuin van die Digters min of meer dieselfde standpunt ingeneem. Hy het reageer op die vraag of daar te veel (slegte) bundels verskyn; hy reken – as selferkennde aanhanger van "abundance" – dat daar eerder te min uitgegee word. Volgens hom eerder 400 as 4. - GS]
Hoe lyk die lineup, en waarom dié mense?
Anna-Bet: Hierdie keer het ons vir Henry Cloete, Andries van Pretoria, Annie Klopper, Mavis Vermaak, Erns Grundling en Nathan Trantraal op die planke. Ons probeer gewoonlik ’n balans handhaaf tussen die heavyweights en die wat minder bekend is of digkuns op die sideline beoefen.
Nie om die ander deelnemende digters opsy te skuif nie, maar aangesien dit nogal 'n hot topic op die oomblik is: Wat dink julle twee van Chokers en survivors?
Henry: Om eerlik te wees het ek nog net uittreksels in koerante en op die web gesien, nie die hele bundel beleef nie … maar dit wat ek gelees het, maak my bitter opgewonde. Dis kragtig, uniek, dapper en góéd.
Anna-Bet: Dis eerlik en oorspronklik en dus bitter seldsaam. Ek is trots om hom te tel onder ons land se digters.
Wie is julle onderskeidelike gunstelinge wat digters aanbetref?
Henry: Sjoe, moeilike een, dit hang af van die tyd van die dag … internasionaal is Charles Bukowski en Allan Ginsberg tops, terwyl ek altyd ’n sagte plek sal hê vir die oueres soos WB Yeats en Robert Browning. Plaaslik is dit moeilik omdat so min gepubliseer word … mag ek die "spoken word"-stukke van mense soos Toast Coetzer en Jaco van der Merwe noem? [Jy mag; en moet. Ek ag Jaco self as 'n digter van formaat - GS ] Dan is almal op die "Niks té diep nie"-lys natuurlik mense wat met hul skryfwerk inspireer.
Anna-Bet: Plaaslik sal ek gaan met Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel. Internasionaal: Andrea Gibson en Margaret Atwood.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


.jpg)