Niks fout met die Grondwet nie, sê Pierre de Vos; die probleem is "slegte politici"

  • 0

Skets deur Venita Oberholster van Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Grondwet verdien al die lof wat dit ontvang sedert die aanvaarding daarvan in Mei 1996, as Pierre de Vos, bekleër van die Claude Leon-stigting se leerstoel in Grondwetlike regeerkunde aan die Universiteit van Kaapstad, se antwoorde in ’n Wyngaard Weekliks-onderhoud reg verstaan word.

De Vos se mening is dat die land se grondwetlike prestasie bederf word deur “slegte politici”. Dit sou vir hom lekker wees, sê hy, indien Suid-Afrikaners iets aan die Grondwet kon verander om politici meer verantwoordbaar te maak teenoor kiesers.

“Geen grondwet is perfek nie; daar is altyd goed wat kan verbeter. Een daarvan is die aanstellings wat by openbare instellings (artikel 9 in die Grondwet) gemaak word en politici se rol daarin.”

Ter inleiding tot die gesprek, draai ons die horlosie drie dekades terug na wat hy noem ’n tydperk “toe daar groot hoop was in Suid-Afrika”. Dié hoop word geïllustreer deur die inhoud van die Grondwet, “wat ’n samevatting is van hoe mense gesê het Suid-Afrika behoort te wees”. Nie al die ideale is volledig verwesenlik nie, gee hy toe, maar wat uitstaan, is die wyse waarop die Grondwet magsmisbruik keer.

“Jy kan byvoorbeeld nie regeer sonder dat die kiesers vir jou gestem het nie, en dit is ook net tydelik, want elke vyf jaar word daar verkiesing gehou.”

Waar sou die idee ontstaan dat Suid-Afrika se Grondwet een van die bestes in die wêreld is?

Na De Vos se mening het dié lofuiting te doen met die waardes wat daarby ingesluit is, spesifiek met betrekking tot sosio-ekonomiese regte – en dan is hy, op ’n persoonlike vlak, veral opgewonde oor die voorsiening wat daarvoor gemaak word “dat dit verbode is om te diskrimineer op grond van mense se seksuele oriëntasie”.

In akademiese kringe word debat gevoer oor of dit van die Grondwet ’n progressiewe of liberale dokument maak. De Vos skaar hom aan die “progressiewe” kant, want die Grondwet is, wat hom betref, méér as liberaal, omdat dit ook byvoorbeeld regte insluit soos toegang tot onderwys en behuising. Selfs belangriker is die feit dat die Grondwet landsburgers in staat stel om ook privaatinstellings te pak – sê maar banke of motorhandelaars – wat ongrondwetlik optree, naas burgers se grondwetlike reg om teen die staat se beweerde misdrywe op te tree.

’n Tekortkoming, meen De Vos, is die grondwetlike bestel se onvermoë tot nou toe om ’n betekenisvolle verskil te bewerkstellig in die strukturele of sistemiese sosio-ekonomiese ongelykhede wat in die land ervaar word. Die vinger wys, sonder dat hy dit pertinent so stel, na politici. In sy eie woorde, soos hy dit op RSG gestel het: “Die beste grondwet kan ons nie red van slegte politici nie.”

“Slegte politici” is ook wat Pieter Mulder, oud-LP en voormalige leier van die VF Plus, in gedagte gehad het toe hy onlangs ’n hou na die Grondwet gemik het. Wat veronderstel is om so ’n wonderlike grondwet te wees (as ’n mens ’n kortpad deur sy argument mag kies), was te swak om ’n stokkie voor Jacob Zuma se nege vernietigingsjare te kon steek. Die motivering wat hy vir hierdie standpunt gekies het, was die handvol mosies van wantroue in die Nasionale Vergadering wat ongeslaagd was.

Maar De Vos stem nie saam dat die Grondwet die skuld moet kry vir die optrede van ‘’n party se aanwending van hul meerderheidsteun in die parlement, wat hulle in staat gestel het om in die guns van hul (voormalige) leier te stem nie. “Mense wat teen die ANC gekant is, wil dikwels hê jy moet ondemokraties te werk gaan; hulle verwag jy moet die meerderheid ignoreer. Om dus te sê dit is die Grondwet se skuld dat Zuma nie uitgestem is nie, is dalk oorvereenvoudiging,” sê De Vos, want toe die party uiteindelik besluit hulle het nou genoeg gehad van Zuma, is hy gedwing om te bedank.

Anders as Amerikaners, wat dikwels (in flieks byvoorbeeld) luidrugtig sal verklaar: “I’m an American – and I have rights”, eis Suid-Afrikaners eerder hul regte op deur protesaksies en die eise wat daarmee gepaard gaan. Wat vir De Vos opvallend is, is dat dié aanspraak maak op grondwetlik verskanste regte, plaasvind “asof dit apart staan van die optrede van die regering”. Weinig, motiveer hy, hoor jy mense sê dat omdat hul regte nie deur die magshebbers gerespekteer word nie, hulle uitgestem gaan word.

Wanneer sekere belangegroepe tot aksie oorgaan om die regering, munisipaliteite of staatsinstellings tot verantwoording te roep, word hulle soms daarvan beskuldig dat hulle hul “bevoorregte posisies” gebruik om grondwetlike regte te “misbruik”. Die gerusstelling is egter daar dat bevoorregting nie deur die Grondwet verskans word nie, en dat die Konstitusionele Hof altyd aan die kant van die gemarginaliseerdes is. Dit sluit sogenaamde ongedokumenteerde buitelanders in wat nou aan die ontvangkant is van wat hy as “Afrofobie” bestempel.

De Vos glo artikels soos dié oor “selfbeskikking” en die “afwenteling van magte” is in sekere opsigte “foefies” van die veelpartyonderhandelingsproses. Omgekeerd is dit “kompromieë” wat moes help verseker dat die oorgang wel voltrek kon word. Wat goed sal wees, meen hy, is dat belangegroepe dié grondwetlike voorsienings moet uitdaag om te bepaal of dit die grondwetlike toets sal slaag, nou, 30 jaar later.

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: Die Grondwet kan ons nie beskerm teen slegte politici nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top