Nie net boere nie, maar álle Suid-Afrikaners moet nou ’n plan maak teen die  "brandstofprysoorlog"

  • 0

Heindrich Wyngaard neem bestek op ná ’n video-gesprek oor die brandstofprys met Hassan Essop van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, Christo van der Rheede van die FW de Klerk-stigting en die ekonoom Dawie Roodt.

 *

Dit was die aand voor die groot brandstofprysstyging op 1 April. Geen April-gekkedaggrappie nie. Die voertuie het op Oudtshoorn en elders in lang toue by vulstasies gestaan; verkeersbeamptes moes help om die pompverkeer te reguleer. Heeldag, en ook ’n dag of wat tevore, het die mense mekaar bang gepraat – of voorberei op die onvermydelike, naamlik die styging in die prys van petrol en diesel, asook werklike en in sommige gevalle gemaakte, tekorte by sommige vulstasies.

Hoe het ons hier beland? was die eerste vraag wat gestel is in die Wyngaard Weekliks-gesprek tussen twee ekonome en een sosiopolitieke kommentator. Die kommentator, Christo van der Rheede, is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting en ‘n rubriekskrywer; die ekonome is Hassan Essop van die Universiteit Stellenbosch se Ekonomie-departement en die bekende Dawie Roodt van die Efficient-groep.

Roodt beantwoord die gestelde vraag. “Hoe ons hier beland het, is natuurlik deur die oorlog in die Midde-Ooste. Die oorlog in die Midde-Ooste het veroorsaak dat die prys van olie skerp gestyg het en die wisselkoers van die rand skerp verswak het.” Oor die toeloop by vulstasies vul hy dan sy antwoord aan: dat almal geweet het ’n prysstyging is op pad “en niemand wil gevang word met ’n hoë prys nie en almal probeer natuurlik om voor die tyd brandstof in te gooi”.

Dié situasie lei tot ’n stormloop en korttermyntekorte, sê hy, asof hy verbruikers gerus wil stel: “Ek dink nie daar is ’n langtermyntekort in ons land nie.” Net interessantheidshalwe wil hy ook iets sê oor bewerings dat sommige vulstasies glo te kenne gee dat hulle ’n tekort ervaar, maar dat hulle in werklikheid hul voorraad terughou om dit later teen die hoër prys kan verkoop.

Sommige beskou dit as onetiese sakepraktyk; Roodt se siening verskil: Dit is presies wat verbruikers doen wanneer ons as motoriste hoor die prys gaan styg of daal: Ons haas ons voor die prysstyging om ons voertuie se tenke te vul – en wanneer ’n beplande daling aangekondig word, wag ons vir die inwerkingstelling daarvan voordat ons weer ons tenke vol maak.”

Terug na die Midde-Ooste-konflik: Essop se gevoel is dat die oorlog ’n veel langer bespreking vereis as wat die tyd vir die huidige gesprek toegelaat het.

Die paneel beweeg na die volgende vraag oor watter brandstofsoort die belangrikste is in die plaaslike ekonomie. Dis moeilik om ’n onderskeid tussen die twee te tref, sê Essop, want albei is belangrik: Diesel word deur die vervaardigingsektor benodig om goedere met die kort- en langpad te vervoer omdat ons spoorvervoerstelsel nie voldoende is nie. Petrol word gebruik om mense by die werk te kry omdat ons openbare vervoerstelsel nie op standaard is nie.

Waartoe die faktore soos uitgespel deur Roodt en Essop aanleiding gee, is verhoogde produksiekoste in die landbou en uiteindelik die prys van kos, sê Van der Rheede, wat voorheen ook uitvoerende hoof van Agri SA was. Nou is daar boonop die bek-en-klouseer-krisis waarmee die landbou ook te doen het. “Die regering van nasionale eenheid moet koppe bymekaar sit” om die land uit hierdie situasie te red.

Die verlaging van R3,00 in die brandstofheffing wat die RNE as verligtingsmaatreël aangekondig het – terselfdertyd as wat die styging van R3,06 per liter in die petrolprys en R7,37 per liter in die dieselprys ingestel word – word deur Van der Rheede verwelkom. Roodt – en Essop ook, tot ’n mindere mate – gooi koue water daarop.

Die effek van die maatreël is ’n inkorting van die staat se broodnodige inkomste om byvoorbeeld maatskaplike toelae te betaal, keer Roodt: “Dit is nie die regte ding om te doen nie,” beklemtoon hy. “Die staat se finansies is reeds diép in die moeilikheid en hulle kan nie enige inkomste verloor nie. Die korting sal nou in elk geval iewers anders van belastingbetalers verhaal word. Hy gaan terugkom en vir ons byt.”

Essop wys daarop dat die verlaging in die brandstofheffing in elk geval slegs ’n korttermynoptrede deur die regering is. Hy voorsien nie dat dit langer as twee maande behoue sal bly nie – juis omdat, soos Roodt waarsku, die verlaging in die brandstofheffing te duur kan raak vir die staat. Die duurder brandstof kan egter nog tot in Mei en selfs Junie beweeg, glo Essop – selfs al het Donald Trump verlede week aangedui dat die oorlog teen Iran slegs sowat “nog twee weke” sal duur.

Suid-Afrika bevind hom in dié konflik aan die kant van Iran. Geen liefde vir Israel en Amerika nie. Nie dat die land se buitelandse beleid – of enigeen van Enoch Godongwana (minister van finansies) of Gwede Mantashe (minister van minerale en petroleumhulpbronne) – vir die huidige prysstygings te blameer is nie, stel Roodt dit duidelik. “In hierdie geval is die stygings toe te skryf aan ’n internasionale krisis.” Die staat is egter nie sonder blaam nie: “Suid-Afrika se gróótste probleem is dat die staat se skuldvlakke buite beheer is. Hoofsaaklik die ANC het die staat se finansies in die afgrond in bestuur.”

Hoe behoort plaaslike verbruikers hulself dan teen hierdie binnelandse “prysoorlog” te pantser? Die ironie in die saak is vir Van der Rheede die verskynsel dat mense uit ander dele van die wêreld na ’n ekonomies veiliger of stabieler Suid-Afrika “vlug”. Die mense van die land is in elk geval bekend vir hul veerkragtigheid, sê hy. Maar wat ook vereis word, spesifiek met die plaaslike verkiesings wat voorlê, is dat kiesers altyd maar “ingeligte besluite moet neem oor wie hulle aan bewind stel – dat hulle nie apaties of emosioneel moet optree nie”, want alles hang uiteindelik af van die soort leierskap wat die uitdagings van die land – plaaslik, nasionaal én internasionaal – moet hanteer.

Wat ons egter tans beleef, hou geen onmiddellike belofte (verligting, goeie nuus) in nie. Die huidige situasie beteken gewoon, wat Essop betref, “dat verbruikers minder dienste en produkte gaan aankoop”. Erger nog: “Ons gaan waarskynlik ook ’n afname in indiensname sien.” Die vooruitskattings vir die res van die jaar, sê Essop daarby, “lyk net slegter”.

Dié droewigheid word ligweg weerlê wanneer hy, soos Van der Rheede, Suid-Afrikaners komplimenteer vir hul aanpasbaarheid (of veerkragtigheid). “Hulle sê ’n boer maak ’n plan,” haal Essop ’n gewilde gesegde aan, maar dit is net sodat hy dit kan aanpas: “Ek sê Suid-Afrikaners maak ’n plan!”

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: Oorlog, brandstofpryse en vulstasies

Brandstofbloedbad tref motoriste in Suid-Afrika ten spyte van R3-noodhulp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top