Net vir my kinders II lewer 'n bydrae tot Suid-Afrikaanse genealogie

  • 0


Titel: Net vir my kinders II – 'n memoir
Outeur: Paul Bremer
Uitgewer: Megadigital (selfpublikasie)
ISBN: 9780620632737

"The pursuit of family history and origins tends to be shaped by several motivations, including the desire to carve out a place for one's family in the larger historical picture, a sense of responsibility to preserve the past for future generations, and a sense of self-satisfaction in accurate storytelling." Aldus Wikipedia.

Tog staan Suid-Afrika nog in sy kinderskoene as dit by die opteken van families kom – volgens 'n resensie van die boek Net vir my kinders, die optekening van die familiegeskiedenis van 'n afgetrede ginekoloog, Paul Bremer.

Paul Bremer het onlangs nóg 'n boek geskryf met die titel Net vir my kinders II. Naomi Meyer het hom hieroor uitgevra.

Paul, baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Daar is nou 'n hele boek (twee!) wat mense kan lees om dié vraag te beantwoord, maar, in 'n sin of twee: wie is jy?

My oupa Julius Bremer het in 1882 as algemene praktisyn na Hopefield gekom. Sy vrou en vyf kinders het die volgende jaar uit Duitsland aangekom. My pa, die jongste kind na ses dogters, is op Hopefield gebore – Karl Bremer, 1885. Hy is met Alice Mackenzie getroud. Ons was vier kinders, ek die jongste. Deesdae is ek 'n afgetrede ginekoloog.

Waarom 'n memoir?

Ek het vantevore een mediese boek geskryf: Kort Ginekologiese Handboek. Maar hoekom ’n memoir? Die antwoord hang saam met vrae wat ek hier onder beantwoord.

Die boek se titel is Net vir my kinders II. Is hierdie boek werklik net vir jou kinders en nasate bedoel?

Ek het uit ondervinding geleer dat ’n mens nie jou leeskring moet oorskat nie. Mense sê hulle stel belang, maar as dit kom by koop, dan verdwyn daardie belangstelling. Ek dink die kring buite my familie wat graag die boek wil besit, is nie groot nie, en deesdae kan ’n mens kleiner oplae laat druk om daarby te pas. Die belangstelling van die meeste mense is uit persoonlike kennis van die mense oor wie die boek gaan.

Die titel laat dit vanself spreek dat dié boek voorafgegaan word deur 'n vorige een. In die resensie van die eerste boek (lees die resensie hier) lees ek van die fondament wat hiermee gegrawe is vir boekstawing van die familiegeskiedenis van die Bremers. Wat was die doel van die skryf van die eerste boek?

Die doel van die skryf van die eerste boek was om ons familiegeskiedenis vir die nageslag op te teken. Twee van my tantes, my pa se susters, het kort stukkies geskryf wat my baie geïnteresseer het. Tant Else Louwrens het ’n essay “The Road Back” geskryf, en tant Pet (Esther) Pauw ’n dun boekie, Die Onvergeetlike uit ons Kinderjare. Albei het my geboei en ek het gevoel dat die hele familie meer sulke inligting moet hê. Toe my broer aftree, het ek gedink hy was die een wat die skryfwerk moet doen, maar hy was nie regtig geïnteresseerd nie. Ek bekla my lot by my suster Greta, wat toe sê: “Maar besef jy nie Julius en ek is nie skrywers nie – dit is jy en Elizabeth.” Ek het toe die werk aangepak.

En wat was ook die doel van die skryf van die tweede boek?

Die eerste boek het gegaan oor ons voorouers en die lewe en tydperk van my ouers. Die tweede boek gaan oor my eie geslag.

Een mens se storie vorm deel van 'n hele mensdom s'n. En elke familie het soveel vertakkings en syvertakkings. Is jy bewus van ander soortgelyke boeke in Suid-Afrika (of elders) en het jy daar gaan kers opsteek?

Ek het nie kennis gedra van ander boeke nie en eintlik nie eers daarna gaan soek nie. Ek het egter ’n vriend in Engeland gehad met wie ek oor die saak gesels het en hy het vir my ’n klein boekie gestuur wat deur ’n vriend van hom vir sy kleinkinders geskryf is. Dit was die enigste voorbeeld wat ek gehad het buiten dié van my twee tantes.

Die resensent van die eerste boek verwys na die belang van familiegeskiedenisboeke in lande soos Engeland wat baie klassebewus is. Hy skryf ook dat ons in 'n hoë mate daardie feodale kastestelsel vrygespring het. Stem jy hiermee saam?

Ek stem beslis saam ivm die klasbewustheid van die Europese samelewings. In ons eie familie in Duitsland het ek later uitgevind dat sekere groepe nie met ander familielede praat nie, omdat hulle benede hulle stand getrou het. In ons familie in Suid-Afrika is daar ’n baie sterker familieband en ons stel belang in wat met niggies en neefs aangaan en waar hulle woon en werk. Dit het ’n neef van my pa in Duitsland verbaas toe ek hom die eerste keer ontmoet het, dat ek hom soveel kom vertel van my pa se ses susters, hulle families, waar hulle gewoon en beweeg het, hoeveel kinders hulle gehad het edm. Hy het gesê in Duitsland weet hulle skaars van ’n neef wat in die volgende dorp woon.

Die boek teken natuurlik veel meer op as 'n familiegeskiedenis. Dit verwys ook na mediese geskiedenis en verloskunde. Sou jy reken dat dit mediese dokters ook agtergrond omtrent dié beroep kan gee?

Ek dink nie dat die boek van veel waarde is ivm mediese geskiedenis nie. Ek beskryf wel hoe die merkwaardige ontwikkeling van die medisyne in my leeftyd my praktyk affekteer het, maar al hierdie dinge is in mediese tydskrifte te vind waar dit op ’n baie meer wetenskaplike wyse uiteengesit is. Ek dink egter dat my uiteensetting van die statistieke van my obstetriese gevalle oor ’n tydperk van 35 jaar uniek is.

Om terug te keer na die titel: Wie is almal jou kinders en waar bevind hulle hul in die wêreld?

Ek het vyf dogters. Die oudste is Ilse, getroud met Rudolf Andrag. Hulle het drie dogters en drie kleinseuns. Woon in Milnerton. Tweede is Liesel, getroud met Hennie Cronjé. Hulle woon in Pretoria en het vier kinders en vyf kleinkinders. Gretchen is getroud met Alan Parrock, woon in Pretoria en het twee kinders. Brigitte is getroud met Johan Botha, woon in Bloemfontein en het twee kinders. Ingrid is getroud met Jacques Louw, woon in Hoopstad en het drie seuns en een kleindogter. Daar is ’n volledige familieregister agter in die boek.

Hoe kan mense te werk gaan om die boek te koop en wat kos dit?

As iemand ’n boek wil koop, kan hulle met my in verbinding tree by paulbremer@mweb.co.za. Die koste is R250 plus posgeld.

Die foto's hierby verskyn in die boek en is geplaas met toestemming van die skrywer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top