Net na die storm deur An-Mari do Carmo: ’n lesersindruk

  • 0

Foto van vloed deur Hans van Pixabay

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer van die lesersindruk na LitNet gestuur.

Titel: Net na die storm
Skrywer: An-Mari do Carmo
Uitgewer: LAPA
ISBN 9780637012577

Niemand wil met ’n cliché vergelyk word nie en die meerderheid mense wil dit verkieslik ook nie gebruik nie. Tog word ’n geykte uitdrukking juis oorgebruik omdat daar waarheid in steek. Almal ken dus al die ou grappie: “As jy dink dat jy te klein is om ’n verskil te maak, probeer slaap as daar ’n muskiet in die omgewing is.” Benewens die ooglopende beginsel wat daardeur beliggaam word, is dit ook ’n herinnering dat die mens meestal magteloos en uitgelewer staan wanneer Moeder Natuur haar vuiste bal.

Natuurrampe, hetsy veroorsaak deur menslike dade of versuime, klimaatsverandering, onvoldoende infrastruktuur, of die gespierde Moeder self, vul die mens met ’n mengsel van vrees en verwondering. Dit word weerspieël in die gewildheid van flieks, TV-reekse en romans met soortgelyke temas. Die Afrikaanse mark vir jong volwassenes is geen uitsondering nie. Meer as ’n halfeeu gelede het Die waters kom! deur Aleid van Rijn by Tafelberg Uitgewers verskyn (1970) nadat dit uit Nederlands vertaal is, en dis opgevolg deur Annalou Marais se Die waters bruis in 1975 by Fonteine Publikasies. Beide romans het vloede en oorstromings as tema gehad.

Meer onlangs het ’n veldbrand, gegrond op die werklike Knysna-brande, die tema uitgemaak van Alitha Steenkamp se Deur die vuur (Naledi, 2023), en daarna ’n aardbewing, in Sny hulle in sterre uit, deur Fanie Viljoen (Tafelberg, 2025).

Do Carmo het reeds met haar eerste twee romans bewys dat sy nie terugdeins van omstrede onderwerpe nie. Toe als groen was (Luca, 2022) was gebaseer op haar eie ervarings in die greep van ’n sekte, en Foto’s en fairy lights  (Human & Rousseau, 2024) het die sluier gelig op ongediagnoseerde aandagafleibaarheidsindroom by tieners, weer eens gegrondves in eerstehandse kennis.

Die hoofkarakters in Net na die storm is in graad 9, aanduidend van die ouderdomsgroep wat die teikenmark sal uitmaak. Chloe tree op as fokaliseerder en die narratief is deurgaans vanuit haar perspektief in die derde persoon. Die roman open met haar en twee medeleerlinge, vergesel deur twee onderwysers, onderweg na ’n wetenskap-ekspo buite Pietermaritzburg. ’n Storm met buitengewoon hoë reënval woed en knip die verrigtinge kort. Hulle word gestrand en afgesny van die buitewêreld in die vloedgebied tussen twee laagwaterbrûe nadat ’n ramp hulle tref.

Chloe is die jongste kind in beide die groep en haar gesin, maar geensins die tradisionele bedorwe brokkie nie: “Mense dink altyd laatlammetjies is bederf; kry alles wat hulle wil hê en kom met enigiets weg” (bl 46). Haar ouers is streng en ambisieus, en haar twee broers is presteerders wat min genade vir hulle kleinsus het: “[O]m te huil, beteken sy is nie taai genoeg nie, en haar boeties het haar taai grootgemaak” (39). Haar achilleshiel is aandagafleibaarheid en angstigheid, waarvoor sy terapie ontvang en medikasie byderhand hou, tesame met alles wat sy as noodsaaklik vir normale funksionering ag: “Haar emotional-support rugsak noem sy dit vir alles waarsonder sy nie langer as vyf minute kan klaarkom nie” (29).

Haar twee medeleerders op die skooltoer, Mbali en Dante, dra elkeen swaar aan hulle eie emosionele bagasie. Mbali, as die oudste kind in haar gesin en versorger van haar menigte jonger sibbe, volg reëls nougeset en toon ’n oordrewe sin vir verantwoordelikheid – “Mbali het sterk eldest daughter energy” – en is “hoofmeisiemateriaal” (11). Haar ouers se hoë verwagtinge het reeds haar toekoms vir haar beplan: “Almal in hulle klas weet daar word van haar verwag om ook [’n dokter] te word. Vir haar om iets anders te wil doen, is amper ondenkbaar” (103).

Dante het sy pa aan die dood afgestaan in omstandighede wat van die huidige ramptoestand ’n emosionele sneller maak. Sy gewaande oppervlakkigheid, obsessie met kos, en doemprofeetvoorspellings begin sin maak wanneer hy die sluier oor sy verlede lig.

Die drie hoofkarakters is uiteindelik deur ’n sameloop van omstandighede op slegs hulleself en mekaar aangewese. Hulle word gestroop van ’n tiener se mees algemeen aanvaarde hulpbronne, volwassenebystand en tegnologie, en moet beide interne en eksterne bedreigings die hoof bied. Die onderwysers is, om uiteenlopende redes, nie in staat om bystand of leiding te verskaf nie en een is trouens, teen alle verwagtinge in, afhanklik van die drie leerders. Ook tegnologie taan en verdwyn: “Ek het net twintig persent battery oor. En my power bank het dit nie gemaak nie. En ... niks sein nie” (63).

Wanneer die uiterlike faktore onveranderbaar blyk te wees – omring deur vloedwaters met ’n dringende behoefte aan hulpbronne – is dit die innerlike struikelblokke – vrees, fisieke uitdagings en onsekerheid – wat oorkom moet word ter wille van oorlewing.

Die onderwysers, as die enigste noemenswaardige volwasse karakters, se uitbeelding herinner aan die wyse waarop volwassenes in Charles Schultz se gewilde Peanuts-strokies uitgebeeld word, met weinig meer as onduidelike stemme in die agtergrond. Een onderwyser se dapperheid motiveer die driestuks om self buite hulle gemaksones te beweeg, en die ander se onvermoë om van hulp te wees dra by tot hulle noodwendige toetrede tot die arena van volwasse besluite en dade. Die motivering daaragter is beide oortuigend en gepas; hulle rolle verskaf struktuur aan die uitkoms wat plekke en ruimte betref en verleen geloofwaardigheid aan die gegewe scenario, maar daarna is hulle rolle as’t ware uitgespeel en kan die narratief fokus op die dilemma, en gevolglike karakterontwikkeling, van die minderjarige karakters.

Die tempo en spanningslyn word deurgaans effektief behou deurdat die spreekwoordelike dyk se lekplekke een vir een manifesteer, sodat dit altyd moontlik bly om ’n vinger in die nuwe lekplek te druk en tydelik verligting te vind, eerder as om eensklaps oorweldig te word en dan tog uiteindelik, op ’n onrealistiese wyse, aan die dreigende waters te ontkom.

Die tragiese gebeure speel oor ’n kort tydperk van slegs vyf dae af, en beweeg dan drie weke verder die toekoms in met ’n slothoofstuk wat afsluiting en nabetragting in die hand werk. Ook hier word realisme behou en op oortuigende wyse deur Chloe ervaar en verwoord: “Dit voel of party mense net wil maak asof hulle deel van die tragedie was vir hulle eie vyf minute se roem en simpatie.” Maar ook: “Maar ander se huldeblyke omklem haar hart soos ’n vuis” (138).

Die roman is ’n avontuurlike oorlewingsverhaal wat die interne moontlikhede tot konflikoplossing op die spits dryf nadat die moontlikheid van eksterne probleemoplossing onder die vloedwaters verdwyn het. Dit illustreer die dikwels onontginde potensiaal van innerlike krag, die waarde van ondersteuning uit onwaarskynlike oorde, en dit wat bly staan wanneer die moderne beskawing en sy voordele onverwags weggeruk word.

Lees ook:

Cliff-hanger: Net na die storm deur An-Mari do Carmo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top