
Foto: Misio op Pixabay
Henry Jeffreys, eertydse redakteur van Die Burger, het in 2016 in dié koerant geskryf dat die donker kant van Winnie Madikizela-Mandela onthou moet word.
Dit was in reaksie op die Moeder van die Nasie se 80ste-verjaarsdag-vieringe wat landswyd gevier is. Jeffreys het aangevoer Madikizela-Mandela se “donkerder sy” is tydens dié vieringe verkeerdelik geïgnoreer.
Ter versterking van sy saak wat hy teen Madikizelda-Mandela gebou het, het hy aangevoer dat ’n mens die vieringe verstaan, “maar is dit korrek om haar donker sy te ignoreer en haar op die voetstuk van die onaantasbares te plaas? Ek dink nie so nie,” het Jeffreys sy betoog afgesluit.
Terugskouend was Jeffreys se bespreking baie omstrede by die meeste swart Afrikaanse lesers van Die Burger en baie gewild by die meeste wit lesers, omdat hulle (sommige wittes) nog altyd Madikizela-Mandela afgemaak het as "’n moordenaar, terroris, kommunis, martelaar, opstoker, moordverdagte, gierigaard en hoer wat met jonger mans geslaap het toe Nelson Mandela in die tronk was".
..........
Die vraag wat nou, kort na die einde van Nelson Mandela-maand, onwillekeurig by my opkom, is of dit nodig sou wees om Madiba se donker kant te onthou. Ons almal het immers ’n skadukant. So, hoekom nie?
..............
Die vraag wat nou, kort na die einde van Nelson Mandela-maand, onwillekeurig by my opkom, is of dit nodig sou wees om Madiba se donker kant te onthou. Ons almal het immers ’n skadukant. So, hoekom nie?
Ek vra ook die vraag teen die agtergrond van die betoog van Zelda la Grange, Madiba se eertydse persoonlike assistent, in Rapport van 16 Julie 2023 dat “Madiba se keuses steeds ons bestaan rig”.
In nabetragting op die lewe van Madiba na sy heengaan in Desember 2013 merk die historikus Hermann Giliomee op: “Wat is dit wat die wêreld so aangrypend en besielend in die lewe en stryd van Mandela gevind het? Sy outobiografie en sy biograwe werp almal op die een of ander manier lig op die figuur, maar te dikwels skiet die kritiese ontleding heeltemal te kort. Die mite vervang die mens.”
Madiba se groot vertroueling, raadgewer, presidentskantoorhoof, toespraakskrywer en vriend, wyle Jakes Gerwel, het ons altyd daaraan herinner dat een van Madiba se eienskappe wat hy die meeste bewonder het, sy vermoë was om homself die toekoms in te projekteer en die gevolge van ’n besluit uit daardie posisie te oorweeg.
...........
Madiba se groot vertroueling, raadgewer, presidentskantoorhoof, toespraakskrywer en vriend, wyle Jakes Gerwel, het ons altyd daaraan herinner dat een van Madiba se eienskappe wat hy die meeste bewonder het, sy vermoë was om homself die toekoms in te projekteer en die gevolge van ’n besluit uit daardie posisie te oorweeg.
.............
Gerwel skryf ook dat Mandela nooit die moontlikheid uitgesluit het dat van sy besluite onvoorsiene gevolge sou gehad het nie. “Madiba sou enige kritiese ontleding met die nodige onontbeerlikheid en agting omhels het.”
Teen dié agtergrond sou dit miskien heel sinvol wees om te vra dat mense ophou om elke debat oor Madiba se nalatenskap as negatief af te maak en dit nie met ’n algehele sinisme te bejeën nie.
Madiba was immers ’n bedrewe politikus en sou in elk geval as deel van sy algehele sin vir politieke verdraagsaamheid en sy verbintenis tot ’n robuuste gesprek ’n eerlike dog kritiese gesprek oor sy nalatenskap verwelkom het.
Nogal heel ironies hoedat diegene wat Mandela se presidentsjare ophemel as ’n tydperk in ons kontemporêre geskiedenis van verdraagsaamheid en gunstig vir (politieke) oop gesprek, volhoubare ekonomiese groei en vergewensgesindheid, veral tussen verskillende rasse, die eerste is wat skreeu “Hou jou mond” wanneer daar sinvol oor Madiba se nalatenskap gepraat of geskryf word.
Veral die media, wat grootliks nog in wit besit is, vernietig enige debat wat ernstige vrae oor die nalatenskap van Madiba vra, en veral oor sy versoeningsbeleid teenoor wit Suid-Afrikaners.
Praat van dubbele standaarde en ’n algehele onverdraagsaamheid teenoor die openbare gesprek.
’n Inskrywing van Tim du Plessis, oudredakteur van Rapport, op Facebook in 2015 getuig van ’n uiterste misvatting rondom dié debat.
“Snaaks hoe die uiterstes mekaar altyd ‘vind’ in Suid-Afrika. Al sedert 1994 verkondig wit regses FW de Klerk het die wittes uitverkoop. Deesdae is dit gewild by swart nieu-linkses om te verkondig Nelson Mandela het die swartes uitverkoop. Albei kan nie reg wees nie. Feit is, albei is verkeerd,” skryf Du Plessis.
Skokkend dat Du Plessis albei argumente – die De Klerk- en die Mandela-argumente – as “verkeerd” afmaak.
Hierdie eenkant toe smyt deur ontledings van die joernalistieke gemeenskap oor Madiba en FW se nalatenskap as "verkeerd" is tekenend van die Suid-Afrikaanse joernalistiek se huigelary en politieke korrektheid.
Miskien is ons Suid-Afrikaners se grootste gebrek ons onvermoë om na mekaar se griewe en onrustigheid te luister en aandag daaraan te skenk. Die #FeesMustFall-veldtog in 2015 en 2016 was reeds ’n nagevolg hiervan.
Ironies genoeg was Du Plessis en sommige van sy kollegas in die joernalistiek toe nog aan die kant van die #FeesMustFall-veldtog. Miskien omdat dit in die algemeen beskou is as ’n veldtog teen die regering en die ANC.
Versoening in die konteks van die politieke oorgangsproses van 1994 was nodig om die ou orde agter te laat en die nuwe orde in te lui, maar Mandela het versoening oordryf en dit het die fondament gelê vir ’n samelewing waarin die aspirasies en drome van niewit Suid-Afrikaners agtergelaat is.
Madiba se versoening was dus op ’n groter skaal ’n mislukking, omdat dit nie gepaard gegaan het met ’n strategie van ekonomiese bemagtiging vir histories agtergeblewe gemeenskappe nie. Versoening en ekonomiese bemagtiging moes dus saamgeloop het, maar ongelukkig het dit nie.
Die ANC as regering se onbevoegdheid, korrupsie en diskriminasie gegrond op ras, geslag en politieke affiliasie verger dinge, wat groter verdeeldheid en uitsigloosheid onder Suid-Afrikaners veroorsaak.
’n Wit Facebook-vriend het die problematiek van Mandela se versoeningsbeleid so raak beskryf: “Ek kan heeltemal insien dat Mandela as ’n sell-out beskou word. Ek sou dieselfde gevoel het, reken ek – maar ek was aan die kant van die draad waar sy benadering net voordele ingehou het. Min het in wese vir my verander met Mandela se vrylating, maar aan die ander kant van die draad het ewe min verander, en dit is die probleem.”
Mandela word nie net as ’n versoener gehuldig nie, maar ook as ’n brugbouer, veral deur wit mense.
In ’n onderhoud met my oor die nalatenskap van die digter en dramaturg Adam Small in 2016 het Hein Willemse, emeritus professor in letterkunde en teorie aan die Universiteit van Pretoria, “brugbouer” as beskrywend van Small as ’n problematiese begrip beskryf.
Ek het Willemse gevra wat sy mening is nadat De Klerk gesê het Small is ’n brugbouer omdat hy deur sy literêre werk die grondslag vir brugbou tussen wit en bruin Afrikaanses gelê het.
“Hierdie begrip ‘brugbouer’ is ’n problematiese begrip. Ek hoor nie voorheen onderdrukte mense van ‘brugbou’ praat nie.”
Wie ken die etiket “brugbouer” toe? Kan wit mense ook “brugbouers” wees of is dit iets wat altyd van voormalige ondergeskiktes verwag word?
“Insiggewend word daar nie van ‘brugbou’ gepraat wanneer mense probeer om die durende skade wat apartheid tussen niewit gemeenskappe veroorsaak het, ongedaan te maak nie.”
As ANC-president was Madiba nie ’n tipiese moderne leier nie. Hy het nie die ANC in ’n moderne politieke party omskep nie. Trouens, die ANC sukkel vandag nog om hom volwaardig van ’n bevrydingsbeweging tot ’n moderne politieke party te verwerk. Dit het later groot probleme vir sy opvolger, Thabo Mbeki, veroorsaak, omdat populistiese elemente binne die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie wat blykbaar min weet van die ekonomiese uitdagings van die 21ste eeu, groter inmenging van die staat in die ekonomie geëis het, wat gepaard gaan met radikale ekonomiese transformasie.
Onlangs het ’n minister lagwekkend geklink toe hy in die parlement verduidelik dat die ANC nog steeds ’n bevrydingsparty en nie ’n parlementêre party nie. Dit terwyl die ANC sedert 1994 die meerderheidsparty in die parlement is. Dit is skokkend dat ’n minister sulke twak kwytraak.
Korrupsie is vandag ’n groot euwel in Suid-Afrika, want dit ontneem die armstes van die armes van ekonomiese geleenthede en ’n beter kans op ’n gelukkiger hede en voorspoedige toekoms.
Teen dié agtergrond is Suid-Afrikaners geneig om gerieflik te vergeet dat die eerste korrupsiesaak te doen gehad het met Sarafina 2 onder Madiba se presidentskap in die laat 1990’s. Mandela het geweier om die destydse minister van gesondheid, Nkosazana Dlamini-Zuma, wat verantwoordelik was vir Sarafina 2, af te dank, te repudieer of te tug.
Dit het die korrupsiekultuur geskep waarbinne die regerende party kaders wat van korrupsie beskuldig word of aangekla word, nie afdank nie, maar hulle eerder op ’n later stadium iewers in die party of staat herontplooi.
Dit is hoekom Dlamini-Zuma nog steeds vandag as ’n minister in die kabinet dien.
............
Madiba het mensliewendheid uitgestraal en dis op sy etiese en morele beginsels dat Suid-Afrika se ontluikende demokrasie lank gebou is, maar dit is ongelukkig deur sy eie party vernietig, omdat ons vir te lank op Madiba die persoon gekonsentreer het en nie die foute van Mandela die politikus en sy geliefde ANC raakgesien het nie.
................
Madiba het mensliewendheid uitgestraal en dis op sy etiese en morele beginsels dat Suid-Afrika se ontluikende demokrasie lank gebou is, maar dit is ongelukkig deur sy eie party vernietig, omdat ons vir te lank op Madiba die persoon gekonsentreer het en nie die foute van Mandela die politikus en sy geliefde ANC raakgesien het nie.
Dit was ’n naïewe fout om Nelson Mandela as politikus en die ANC as ’n politieke party van mekaar te skei. Ons nasie betaal vandag ’n baie duur prys daarvoor.
Lees ook:


Kommentaar
Dis jammer dat hierdie artikel nie die belangrike nuwe bydrae tot die geskiedenis van Mandela, en die gepaardgaande kritiese ontleding noem nie. Jonny Steinberg se Winnie and Nelson. Dit sou sy artikel beslis verryk het. Dalk het hy nie die boek gelees nie? Jammer.
Ek dink nie hierdie artikel se doel is om elke boek wat al ooit oor Mandela se geskrywe is se inhoud te bespreek nie. As ons dit sou begin doen, dan sal ons nooit gaan slaap vanaand nie. Daar is so baie boeke oor Mandela geskryf, dat jy waarskynlik 'n hele biblioteek kan vul met boeke net oor Mandela. Biografie, outobiografie, boeke oor Mandela se jeug, boeke oor sy siektes, boeke oor sy leierskap, boeke oor sy romanses, tekenprentboeke oor hom, koffietafelboeke, fotoboeke, hoofstukke in boeke oor hom. En en en nog wat alles.
Daar was altyd kritiek teen Mandela en jy dink tog sekerlik nie dat alle blankes net deur die bank aanhangers van Mandela was nie? Die media doen wat die media doen en hulle is daar vir sensasie en om koerante te verkoop want hulle is winsbejagte maatskappye en daar is geld in Mandela se naam.
Hier en daar was daar wel altyd 'n ontleder of twee in die agterbanke wat die kritiek ook genoem het wat hier genoem word.
Ek wil tog dink dat Mandela wel 'n beter leier as Mbeki was en beslis beter as Zuma en Ramaphosa. Toe die ANC nie die Waarheids-en-Versoeningskommissie se verslag wou aanvaar nie omdat die verslag die ANC van misdade beskuldig het, het Mandela voet by stuk gehou en sy party teëgegaan. Mandela het ook nie soos Mbeki probeer om MIV/VIGS af te maak as 'n siekte van armoede nie.
Die kritiek teen Mandela deur sommige swart Suid-Afrikaners kom daarop neer dat Mandela te versoenend was. Te veel versoening en te min geregtigheid.
Nou ja, die NP se politici het natuurlik seker gemaak dat hulle eie kwaste gered word met die onderhandelinge. Dit was hulle eerste prioriteit. En die tweede wat was om darem goed geld te maak ook. Veral die top manne soos De Klerk. Meeste van hulle kon darem memoirs skryf oor al hulle ervaringe met Mandela en so 'n geldjie maak. Of rondvlieg en toesprake hou in hulle goue jare terwyl die land stuk vir stuk verbrokkel. Al wie eintlik tronk toe was, was amptenare van die polisie en so. Die De Kocks en Nieuwoudts van die wêreld. En dis geen toeval dat dit steeds vandag so gaan nie. Die politici het na afloop van Zondo se verslag eenvoudig voort gemelk aan die land. Die Zondo kommissie en die Waarheids-en-Versoeningskommissie en enige kommissie eintlik is maar net rookskerms om politici se vergrype (wat niks anders as geinstitusionele misdade is nie) te verdoesel en te onderspeel.
Maar hier is die probleem. Dis 'n probleem wat die KP ook desjare gehad het. Die KP het so bietjie getoy met federale idees en balkanisering en wat. Maar dit was vaag en van weinig substansie. Wat was Mandela en kie se alternatief ook nou eintlik? Oorlog? Die politieke oorgang sou nooit plaasgevind het as dit 'n Nuremburg -tyl verhoor sou behels het nie.
Ek hou nie van cliché's nie maar hoe seg "hulle": it is whats it is.