Allan Boesak, Nelson Mandela, Jakes Gerwel en nierassigheid

  • 1

Allan Boesak (fotobron: Wikipedia) en Jakes Gerwel en Nelson Mandela (fotobron: Jakes Gerwel-stigting)

Dit is ’n regverdige vraag om te vra of nierassigheid dood is, of het dit ooit bestaan, want die Suid-Afrikaanse samelewing het in ’n mismoedige sin agteruitgegaan. Tot so ’n mate dat minderhede toenemend neerslagtig voel omdat hulle besef hulle word vanweë ras of etnisiteit uitgesluit en tot ’n ekonomiese sukkelbestaan gereduseer.

Minderhede voel ellendig, ten spyte van die feit dat die Grondwet, Wet 108 van 1996, nierassigheid as ’n waarde van demokrasie neerlê, omdat hulle voel die samelewing is terug by die ANC se vroeë wortels as ’n swart nasionalistiese party wat ras as basis gebruik om net Africans te bevoordeel.

Oudpres Kgalema Motlanthe het op ’n keer bevestig dat nierassigheid nog steeds ANC-beleid is, maar wel toegegee dat die party dit nie geïnternaliseer het nie. En verder: dat nierassigheid nie meer in die ANC se houdings en uitsprake gereflekteer word nie.

Minderhede voel weer dat dié ANC se uitsprake van nierassigheid bloot sinlose gepraat is, omdat die ANC nog altyd ’n historiese en ideologiese dispuut met die beginsel van nierassigheid sedert sy stigting in 1912 gehad het. In so ’n mate dat alhoewel die kwessie van nierassigheid binne die kongresbeweging met die stigting van die UDF in 1983 traksie begin gekry het, selfs binne die ANC, was die party nog altyd skepties oor nierassigheid en die politieke posisie van minderhede in die algemeen.

Die nierassige samestelling van die UDF se leierskap het die party nog meer ongemaklik gemaak, veral omdat ’n sekere nasionalistiese groep binne die ANC geglo het dat die “struggle” alleenlik aan Africans behoort. En ook geïsoleerd deur net Africans beheer behoort te word.

Selfs in die buiteland is ’n groep African ANC-leiers oortuig dat senior bevrydingsleiers soos Oliver Tambo beheer is deur minderhede – wat glo ook hulpbronne beheer het.

Die aanvaarding van die Vryheidsmanifes deur progressiewe magte in die ANC in 1955 wat verklaar Suid-Afrika behoort aan almal, wit en swart, het verder druk op die nasionalistiese groep binne die ANC geplaas. In so ’n mate dat die ANC hom in 1958 in sy jaarverslag herverbind het tot nierassigheid.

Op die ANC se Morogoro-konsultasiekonferensie in Tanzanië in 1969 was die mees omstrede kwessie van bespreking die posisie van “non-Africans” – oftewel nierassigheid – binne die ANC.

Selfs nadat die ANC sy lidmaatskap vir alle rasse oopgegooi het, die alliansie met die SAKP (wie se leierskap deur minderhede oorheers is) formeel gesluit is, en selfs nadat die UDF gestig is, het die ANC se nasionalistiese groep nog steeds nierassigheid probeer vernietig.

By die ANC se nasionale konferensie in 1985 in Zambië het die nasionalistiese groep nog ’n poging aangewend om selfs die verkiesing van minderhede tot die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC te verhoed. Hulle het selfs aangevoer dat minderhede geen sake het om hulle met die anti-apartheidstryd te bemoei nie.

So is daar minderhede wat vandag glo dat die ontbinding van die UDF aangepor is deur swart nasionaliste in die ANC wat die UDF se nierassige samestelling en karakter verpes het.

Allan Boesak, UDF-medestigter en anti-apartheidsaktivis, het in ’n onderhoud in 2017 met die Pretoria News gesê hy was gekant teen oudpres Nelson Mandela en die ANC se voorstel dat die UDF moet ontbind.

“I will always regret very much that I allowed myself to be pressured, not just by acquiescing, but also being on a stage when the announcement was made. They asked me to speak, and I did. It did not come from my heart, but I spoke – and that should never have happened. I’m ashamed of that moment.”

In ’n toespraak in 2005 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het wyle Jakes Gerwel, oud-UWK-rektor, sekretaris van die kabinet en voormalige hoof van Mandela se presidentskantoor, ons daarop gewys dat die betekenis van nierassigheid dikwels uitgebrei is om te lui “non-racialism ideally under African leadership”.

Volgens Gerwel het dit nie enige noodsaaklike “entitlement” beteken nie. Of dat posisies van leierskap op enige meganiese wyse Africans toekom nie; of dat as gevolg van die “most oppressed and exploited group” te gewees het, Africans nou op simplistiese wyse die grootste regstellingbeloning verdien nie.

“‘African leadership’ het in daardie konteks in die eerste plek eerder verwys na ’n morele dimensie en selfs verpligting.”

Volgens Gerwel is nierassigheid die mees kosbare geskenk van Africans aan Suid-Afrika.

“Africans is dus nie in die eerste plek die ontvangers van nierassigheid nie, maar as gevolg van hul ervaring van rasse-onderdrukking en hul vermoë om daaruit te kon leer oor die immoraliteit van sulke onderdrukking, die toonaangewende klas in die soeke na en skepping van uiteindelike nierassigheid. Vandaar die leidende en dus emansipatoriese rol van Africans in die vestiging van ’n nierassige samelewing.”

Luister ons egter na Boesak, is presies die teenoorgestelde besig om te gebeur: African “entitlement” neem toe en die toedeling van leierskapposisies word hoofsaaklik aan Africans toegedien.

By die 36ste verjaarsdagvieringe van die UDF in Mitchells Plain in 2019 het Boesak gesê daar is ’n doelbewuste politieke poging – wat hy ’n handeling van “unremembering” noem – van uitsluiting om die geskiedenis en nalatenskap van die UDF te manipuleer en te vernietig vir suiwer ideologiese redes.

In die Pretoria News-onderhoud in 2017 het Boesak Mandela daarvan beskuldig dat hy apartheid se raskategorisering van wit, swart, bruin en Indiër teruggebring het.

“He (Madiba) spoke openly about whites, coloured and Indians. But even more problematical was his response to black consciousness in an essay in a book compiled by another struggle veteran, Mac Maharaj.”

Boesak sê Madiba het in die essay ’n probleem met swartbewussynkwessies gehad.

Mandela het glo ook ’n probleem gehad met die “black consciousness contention that race is a deceitful category that has no scientific basis and that it is a political and social construct. Arising from this, therefore, is that it is one’s humanity that counts more than the question of race or ethnicity, or any of that.”

Volgens Boesak het Mandela fundamenteel hiermee verskil.

“Instead, he made the stunning statement that one could not deny the reality of the texture of your hair, the shape of your nose or the colour of your skin. When Mandela introduced racial categorisation, it became the language of the ANC.”

Volgens Boesak was dit ’n ernstige probleem: Hy het gevoel dit gaan ons in ’n situasie inneem waar die hele kwessie van nierassigheid en sosiale kwessie bevraagteken word.

“Why would you want to make these distinctions in terms of skin colour or ethnicity if it has not attached itself to some privilege – social, economic or racial privilege?

“What was that necessary for? Why would the ANC be interested?

“But now, of course, we’ve seen where they’ve gone.”

Volgens Boesak moet leerlinge ongelukkig nog steeds dokumente waarin hul raskategorie aangedui word, by skole invul.

“But when you ask yourself where this comes from, you can see how easily the ANC, not only in its leadership, but as an organisation and then in its policies and language has embraced the language of apartheid, and all those things we considered the pillars of apartheid.

“It is no wonder that, 23 years later, we have no idea what non-racialism actually means. It is no wonder that something as fundamentally good in principle as affirmative action becomes a contentious issue because they refuse to apply it to all those who were disadvantaged.”

In ’n rubriek in Die Burger in 2015 het Max du Preez, net soos Boesak, beklemtoon dat nierassigheid ’n erkenning is dat ras ’n sosiale konstruksie en nie ’n geldige biologiese identiteit nie. Du Preez skryf ook: “Dit beteken nie dat ons nou die sosiale werklikheid van rasgebaseerde identiteite kan ontken nie. Dit is al te lank met ons om dit nou te probeer ignoreer.”

Hy skryf verder: “Nierassigheid beteken nie ons moet ophou besin oor wit bevoorregting nie, paternalisme en die bewuste of onderbewuste houding van soveel wit mense dat wit en Westers die norm is nie. Nierassigheid is nie per se in botsing met die beginsel (let wel, ek sê die beginsel) van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging nie. Dit ondermyn ook nie multikulturalisme nie.”

Die swartbewussynsleier Steve Biko word allerweë beskou as die persoon wat nierassigheid gepredik het lank voor die ANC dit gedoen het: “Daar is net een ras, en dit is die menslike ras. Ons voorsien ’n heeltemal nierassige samelewing, met geen meerderheid en minderheid nie.”

Was dit profetiese woorde of ’n dagdromery van Biko? Wel, die toekoms sal leer. Intussen moet ons nooit ophou om te intellektualiseer oor die menslike en toekomswaarde van ’n ware nierassige samelewing nie. Ons kan nooit ophou nie. Net aanhou, want aanhouers wen.

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ja, Suid-Afrikaners baklei maar so oor alles. Dit sal nooit ophou nie. Maar so van die os op die jas, die kenners beweer die ANC het maar groot probleme. Want alhoewel hulle steeds verkiessings wen, stem al minder en minder mense ANC. Dit kan afgelei word uit die opkoms van kiesers by die stembus. Om nie te praat van opbetaalde lidmaatskap nie. Die regerende party se beursie is leeg. En dis volgende jaar weer tyd vir die plaaslike verkiessing. Die enigste probleem is, daar is geen goeie alternatief vir hierdie verloopte ANC stemmer nie. Dis baie soos die VSA, waar die Demokrate se kandidate so treurig is dat dit vir Trump bevoordeel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top