NB-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers gooi kragte saam

  • 3

Twee van Suid-Afrika se grootste uitgewersmaatskappye, NB-Uitgewers (NB) en Jonathan Ball Publishers, (JBP) gaan kragte saamsnoer om hulle operasionele bedrywighede te konsolideer ter wille van groter operasionele kostedoeltreffendheid.

JBP se hoof- uitvoerende beampte in Suid-Afrika, Eugene Ashton, sê die konsolidasie sal geen impak op NB of JBP se publikasiestrategieë hê nie. Hy het in ’n onderhoud aan Jean Oosthuizen gesê albei uitgewers gaan voort om toegewyd en met passie uit te gee. Daar is geen voorneme om enige publikasieprosesse af te skaal nie, en die voorgestelde samesmelting van operasionele bedrywighede kan volgens Ashton nie met die sluiting van die koerante in gedrukte vorm vergelyk word nie.

NB en JBP is twee van die voorste uitgewersmaatskappye in Suid-Afrika. NB, met drukname soos Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie en Kwela, is bekend vir die publikasie van ’n wye verskeidenheid Afrikaanse en Engelse boeke, insluitend fiksie, niefiksie en kinderboeke.

JBP spesialiseer in die publikasie van niefiksietitels, met ’n fokus op Suid-Afrikaanse politiek, aktualiteit, biografieë en geskiedenis.

Wat presies behels die konsolidasie tussen die twee uitgewers en wat was die motivering agter die besluit?

Dit is ’n voorgestelde konsolidasie van twee elemente ter wille van groter doeltreffendheid en om koste te bespaar: enersyds die operasionele en steundiensbedrywighede en andersyds, aan die uitgewerskant, die akademiese en handelsuitgewerye van die twee uitgewers in een afdeling. Daar is egter geen veranderinge aan die skrywergefokuste afdelings nie. NB en JBP se onderskeie uitgeebedrywighede gaan dus voort soos altyd, met behoud van hul redaksionele identiteit en onafhanklikheid.

Hoe sal hierdie oorname JBP se huidige publikasiestrategie beïnvloed?

In wese bly die publikasiefilosofieë van sowel JBP as NB dieselfde, met ’n beplande struktuur om die redaksionele uitsette beter en meer kostedoeltreffend te kan ondersteun.

Wat is die kort- en langtermyndoelwitte vir die integrasie van NB in JBP se struktuur?

Eenvoudig gestel: Om aan te hou uitgee, met dieselfde hoë en gerekende vaardigheid, entoesiasme en trots. En op die keersy, om die kommersiële haalbaarheid van die maatskappy te handhaaf en sodoende kulturele behoud, groei en vooruitgang te bevorder.

Word enige van NB se werknemers deur die samesmelting geraak en is daar van hulle poste in die gedrang?

Die artikel 189-proses met alle personeel wat moontlik in die onderskeie afdelings geraak word, het pas begin. Ons bly ten volle daartoe verbind om die voorgeskrewe wetlike proses te volg. Ons kan ongelukkig geen verdere inligting bekend maak alvorens die proses afgehandel is nie.

Hoe voel dit noudat jy hierdie bastion van die Afrikaanse boekebedryf ook onder jou vlerk gaan neem?

JBP is al vir die afgelope 35 jaar ’n onafhanklike afdeling van Media24. NB is ’n samesmelting van Tafelberg, Human & Rousseau en ander drukname wat ook as onafhanklike afdeling binne die groep gefunksioneer het. Hierdie jongste verwikkelinge is bloot ’n interne herorganisasie van operasionele aspekte vir groter doeltreffendheid, en het geen uitwerking op die publikasiebedrywighede as sodanig nie.

Wat het aanleiding gegee tot die ooreenkoms en wie het dit geïnisieer?

Die uitgewersbedryf vereis deurentyd hersiening van operasionele doeltreffendheid sodat dit onverstoord op een van die belangrikste aspekte, naamlik redaksionele beleggings, kan fokus. Die voorgestelde veranderinge is noodsaaklik om haalbaar en volhoubaar te bly.

NB fokus hoofsaaklik op Afrikaanse boeke. Hoe beplan JBP om NB se rol in die bevordering van Afrikaanse literatuur voort te sit?

Die redaksionele fokus van die onderskeie publikasieafdelings word geensins deur die voorgenome verandering geraak nie.

NB is een van die grootste en mees gerespekteerde uitgewershuise in Suid-Afrika, wat op Afrikaanse en Engelse publikasies fokus. Hulle publiseer ’n verskeidenheid boeke, insluitend fiksie, niefiksie, biografieë, geskiedenis, kinderliteratuur, akademiese werke, en selfs geestelike tekste. NB speel dus ’n groot rol in die Afrikaanse boekemark en bied ’n platform vir sowel gevestigde as nuwe skrywers. Is daar enige beplande veranderinge aan NB se fokus op Afrikaanse publikasies? Gaan dit enigsins verander?

Daar is geen planne om aan die bestaande wenresep te verander nie.

Hoe raak hierdie ooreenkoms NB se onderskeie drukname, soos Human & Rousseau, Tafelberg, Queillerie, Lux Verbi, Kwela, Pharos en Best Books onderskeidelik? Gaan die verskillende drukname van NB hul unieke identiteit behou?

Drukname is soos die rakke in ’n boekwinkel. Daar is ’n klinkklare logika daaraan om ’n uitgewershuis volgens sy drukname te organiseer en te bedryf. Hulle word ook deur redaksionele doelwitte aangedryf, wat mettertyd verder ontwikkel of verander.

Daar is talle suksesvolle skrywers by NB, onder wie ʼn aantal groot name soos Deon Meyer, wat ʼn internasionaal suksesvolle skrywer van Afrikaanse spanningsromans is, Etienne van Heerden, Antjie Krog, die bekende digter en skrywer, Marga Jonke, wat bekend is vir haar jeugromans, Dana Snyman met sy reisverhale en nostalgiese essays, en Irma Joubert met haar populêre historiese fiksie, om net ʼn paar te noem. Hoe beplan julle om Afrikaanse skrywers te ondersteun en aan te moedig onder die nuwe bestuur?

Ons bly steeds gefokus daarop en verbind daartoe om ons skrywers en hul boeke so wyd moontlik te bemark vir die beste moontlike verkope. Gegee die omvang van die aantal boeke, asook die diversiteit van die skrywers op die uitgewerslys, is daar ruimte vir nog heelwat meer geleenthede en platforms om dit te kan doen.

Die Afrikaanse gemeenskap is bekommerd oor die verskraling van Afrikaans in gedrukte vorm. Met die uitsondering van Die Burger is alle Afrikaanse koerante nou digitaal. Hoe beplan JBP om NB se rol in die bevordering van Afrikaanse literatuur voort te sit?

Hierdie voortgestelde samesmelting van operasionele bedrywighede kan nie met die sluiting van die koerante in gedrukte vorm vergelyk word nie. Ons het geen voorneme om enige publikasieprosesse af te skaal nie, wat ’n baie positiewe en belangrike vertrekpunt is. Die belegging in spesifiek Afrikaanse skrywers en publikasies word uiteraard ook deur kommersiële geleenthede aangedryf.

JBP is een van Suid-Afrika se voorste boekuitgewers, wat spesialiseer in niefiksie en fiksie van hoë gehalte. Julle is bekend vir die publikasie van boeke wat dikwels op intellektuele en kontemporêre sake fokus. Julle werk saam met plaaslike en internasionale skrywers en is bekend vir julle bydrae tot die Suid-Afrikaanse en Engelse literêre landskap. Watter uitdagings sien julle raak in die integrasie van twee sulke prominente uitgewershuise?

Ons draai nie doekies om oor wat ons doelwit met die beoogde konsolidasie is nie: groter operasionele (koste)doeltreffendheid sonder dat die skrywers of ons belegging in hulle geraak word.

Is daar ’n spesifieke fokus op Suid-Afrikaanse stories en kulturele diversiteit in toekomstige publikasies?

Ons is Suid-Afrikaanse uitgewers en ons gee boeke uit vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor – dit bly ons primêre mark en deurentyd word kulturele en gemeenskaplike waardes vooropgestel.

Hoe beoog JBP om NB se markposisie in Suid-Afrika en internasionaal uit te brei?

Ons bespreek of lewer nie kommentaar oor strategie op openbare platforms nie.

Hoe sien julle die toekoms van die uitgewerswese en toekoms van gedrukte boeke in Suid-Afrika in die algemeen, en watter rol gaan JBP en NB daarin speel?

Die boekebedryf floreer wêreldwyd. In Suid-Afrika is ons uitdagings dieselfde as dié van alle ander ondernemings. Die lesersmark is ekonomies onder druk en daar is meer kompetisie as ooit om hul aandag. Ons fokus is steeds om vreesloos te publiseer, omvangryk te bemark en te verseker dat wanneer ons wel die lesersmark se aandag trek, lesers met een van ons boeke onder die blad by die winkel uitstap.

  • 3

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Die belangrikste vraag is nie eens beantwoord nie: Presies hoeveel mense gaan hul werk verloor?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top