NB-Uitgewers betreur Koos Human se afsterwe

  • 4

Foto verskaf

JJ (Koos) Human, een van die invloedrykste figure in die ontwikkeling van die Afrikaanse uitgewerswese, is gister weens longontsteking aan huis in Kaapstad oorlede na ’n lang siekbed. Hy was 86.

Human het die uitgewershuis Human & Rousseau in 1959 gestig saam met Leon Rousseau, nadat hy sedert 1954 by die Nasionale Boekhandel naam gemaak het as uitgewer van algemene publikasies.

Human & Rousseau het in die jare sestig die toonaangewende uitgewer van Afrikaanse literêre publikasies geword. Werke deur NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Elisabeth Eybers, Etienne Leroux, André P Brink en Breyten Breytenbach het bygedra tot H&R se dinamiese groei.

Hy was veral bekend vir die besonderse manier waarop hy die uitgewer se verhouding met skrywers tot ’n fyn kuns vervolmaak het.

Onder Human se leiding het H&R nie alleen die klem sterk laat val op die inhoudelike versorging van boeke nie, maar ook op hul voorkoms en die gehalte van drukwerk.

Human was ’n leiersfiguur vir sowel skrywers as uitgewers. Hy was in die vroeë jare tagtig bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, waar hy gesorg het vir baanbrekerswerk ten opsigte van tantième aan skrywers, asook bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging in die jare tagtig en negentig.

Nadat H&R in 1977 aan Nasionale Pers verkoop is, het Human aangebly as besturende direkteur. Ná sy aftrede einde 1994 was hy ’n tyd lank redakteur van die meningstydskrif Insig.

Koos Human was ook as musiekliefhebber en kenner van ballet bekend. Hy was lank betrokke by die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste as voorsitter van die musiek- en balletkomitees. Hy het radio- en musiekrubrieke vir Die Burger geskryf.

Hy is in 1959 getroud met Nakkie, dogter van NP van Wyk Louw, en drie kinders (Joan, Maria en Jacobus) is uit hul huwelik gebore. Ná Nakkie hom in 1984 ontval het, is hy in 1986 getroud met Trewhella Cameron.

Eloise Wessels, Uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers, sê: “Koos Human was ’n kleurryke persoonlikheid wie se aandeel aan die ontwikkeling van die uitgewersbedryf in Suid-Afrika onvolprese is.  RIV Koos. Ons gaan jou verskriklik mis.”

Reëlings vir ’n gedenkdiens sal aangekondig word sodra dit gefinaliseer is.

  • 4

Kommentaar

  • Koos Human was ook een van die kampvegters teen sensuur in die tyd van die Publikasieraad, met die publikasie van boeke soos Kennis van die Aand, en Magersfontein, o Magersfontein! 'n Baanbreker in die Afrikaanse uitgewerswese!

  • Dis vir my 'n vreeslike slag dat die mens Koos weg is. Ongelooflike uitgewer, grapjas, orator, denker, liberale kultuurmens. Ek sal na hom verlang, ook omdat hy vir die literatuur in Afrikaans so 'n belangrike rol gespeel het.

  • Johann de Lange

    Hy was my eerste uitgewer, die eerste wat met baie nuwe, ongetoetsde stemme soos ek 'n kans gevat het, en van die eerste kontak jou soos 'n méns behandel het. Soms het hy wyse raad oor te dra gehad: Toe ek op 'n dag 'n paar ekstra outeurseksemplare bestel het, het hy vir my gesê, "Johann, as jy nie eens jou vriende kan kry om jou boek te koop nie, hoe kan jy dit van wildvreemdes verwag?" Dis iets wat my bygebly het. Van toe af het ek my outeurseksemplare uitgeruil met kollegas vir kopieë van hulle boeke - Lucas, Casper, Wilma, Ernst, Hennie, Ina, Sheila ... op een na álmal reeds vooruit. Jy sal in goeie geselskap wees wanneer jy daar aankom, Koos. Verwelkom soos 'n geliefde vriend.

  • Raymond van Diemel

    Die enigmatiese Koos Human wat 'n renons in skynheiligheid gehad het. Sy publikasie van Ds Dawid Petrus Botha se opspraakwekkede boek, "Die opkoms van die derde stand" in 1960 het veral die Afrikaner Broederbond-establishment hewig ontsteld. Om sout in die wonde te vryf was die voorwoord deur niemand anders nie as NP van Wyk Louw, een van die land se grootste skywers, geskryf. Premier Hendrik Verwoerd wou klaarblyklik persoonlik Koos en die skrywer se koppe "inmekaarslaan". Ons eer Koos se nagedagtenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top