Nathan Phillips, Nick Sandmann en die MAGA-saga

  • 6

Die afgelope paar dae het ’n video die rondte begin doen op sosiale media.

Die video wys ’n bejaarde Eerste Nasie-man besig om op ’n klein trom te slaan en te sing terwyl hy omring is deur wit tieners in Make America Great Again-pette. Sommige van die tieners dreunsing “Build that wall, build that wall.” Direk voor die ou man staan ’n grinnikende tiener, groter, frisser en omtrent vyftig jaar jonger. Hy behou deurentyd intense, amper aggressiewe oogkontak met die bejaarde man.

Later kom meer inligting uit. Die video is geneem op die trappe van die Lincoln Memorial, dieselfde plek waar Martin Luther King Jnr sy “I have a dream”-toespraak as pleidooi vir die behoud van burgerregte gelewer het. Die bejaarde man word geïdentifiseer as Nathan Phillips, ’n Viëtnam-veteraan wat elke jaar op dieselfde plek deelneem aan die Indigenous People’s March.

Die grinnikende tiener word eers verkeerdelik as iemand anders geïdentifiseer, maar teen Sondagaand identifiseer hy homself in ’n verklaring voorberei deur ’n publisiteitsfirma as Nick Sandmann van Covington Katolieke Skool in Kentucky. Hy was in DC as deel van ’n skoolgroep wat deelgeneem het aan ’n jaarlikse anti-aborsie-optog. Hierdie optog het in ’n ander deel van DC plaasgevind.

Natuurlik was daar groot ophef oor die video. Binne ’n dag word ’n tweede, langer video vrygestel waarin dit lyk asof Phillips na die groep dreunsingende tieners beweeg en hulle hom dan omring. Dit neem nie lank voor die narratief op sosiale media verander van “rassistiese tieners konfronteer ou man” na “opportunistiese volwasse aktivis gebruik onskuldige tieners om sy eie agenda te bevorder” nie.

Die waarheid lê waarskynlik iewers tussen die twee weergawes. Maak dit regtig saak of Phillips na hulle toe beweeg het, en of hulle na hom toe beweeg het? Hy was besig om deel te neem aan ’n seremonie op die plek waar hy veronderstel was om te wees en waar hy elke jaar is. Die tieners het van iewers anders gekom en die seremonie met dreunsang onderbreek.

Die voorval kan nie in ’n vakuum gesien word nie. Hierdie selfde naweek het die Women’s March, waar protes aangeteken is teen toksiese manlikheid, plaasgevind in stede dwarsoor Amerika. ’n Week gelede was daar groot ophef oor ’n Gillette-advertensie wat toksiese manlikheid veroordeel. Trump, die MAGA-brein, is al weke op die offensief teen Eerste Nasie-groepe. Eers het hy na Elizabeth Warren as “Pocahontas” verwys nadat sy DNS-uitslae vrygestel het wat toon dat sy Eerste Nasie-voorsate het. Daarna het hy spottenderwys verwys na die Wounded Knee-slagting, waartydens ongeveer 300 ongewapende Eerste Nasie-mans, -vroue en -kinders in 1890 in Suid-Dakota deur gewapende soldate vermoor is.

Ander konserwatiewe politici het in sy voetspore gevolg. Gister, 20 Januarie, is dit presies twee jaar sedert Trump as president ingehuldig is. In hierdie tyd het rassespanning in die VSA aansienlik toegeneem, aangeblaas deur Trump se nasionalistiese retoriek. ’n Onlangse studie het getoon dat onderwysers in Amerikaanse skole ’n merkbare toename in boeliegedrag by kinders rapporteer, en dat die kinders Trump se optrede as regverdiging gebruik vir hul gedrag.

Kan ons dan nog verbaas wees as tieners in MAGA-pette optree op ’n manier wat gebrek aan respek vir ander kulture toon? Hulle word elke dag geleer dat daar nie meer negatiewe gevolge is vir rassistiese gedrag nie.

Die gebruik van MAGA-parafernalia is nie onskuldig nie. Die pogings om die wit tieners se gedrag te verskoon is nie onskuldig nie. Dit normaliseer gebrek aan respek vir ander groepe, dit normaliseer rassistiese gedrag, dit normaliseer toksiese manlikheid.

Ook hier by ons het die voorval kommentaar ontlok.Dis meer kompleks, daar is geen onskuldige partye nie, niemand het op edele manier opgetree nie,” deel ’n persoon wie se mening ek nog altyd ernstig opgeneem het, op Facebook. Kom ons noem haar Swartskaap. Oor baie goed stem ek en Swartskaap met mekaar saam. Nie hier nie.

Wat sou gebeur het as hierdie voorval in Suid-Afrikaanse konteks gebeur het, met die rasse omgekeer? Kom ons veronderstel ’n bejaarde wit man, in two-tone hemp en kakie kortbroek, is by die voet van die Voortrekkermonument besig om “Die Stem” / “My Sarie Marais” / iets anders op sy trekklavier te speel om aandag te vestig op die Anglo-Boereoorlog/plaasmoorde/iets anders. ’n Groep swart tieners geklee in rooi EFF-barette, kom van ’n FeesMustFall/RhodesMustFall/ietsmustfall-optog en kom dreunsing “One Settler, one Bullet” / “Kill the Boer” / “Nkosi sikelele iAfrika”. Een tiener staan voor die bejaarde wit man en kyk hom vas in die oë, terwyl sy vriende hulle omring.

Sou daar nog steeds so vinnig verskoning gesoek word vir die swart tieners se gedrag? Ek dink nie so nie. ’n 2017-studie deur die Georgetown Law Centre on Poverty and Inequality het getoon dat wanneer swart meisietjies en wit meisietjies van dieselfde ouderdom op dieselfde manier optree, die swart meisietjies se optrede as minder onskuldig en meer geseksualiseerd ervaar word. Swart mans word as meer aggressief as wit mans ervaar. Swart onskuld is die uitsondering, nie die reël nie. Aan die ander kant word daar konstant verskoning gesoek vir negatiewe wit gedrag. Wit onskuld is die norm, nie die uitsondering nie.

En wanneer wit persone se gedrag veroordeel word, is daar onmiddellike verontskuldiging: Dit was nie so bedoel nie. Die gedrag word misverstaan. Ons is nie almal so nie. En daar word van swart bondgenote verwag om wit skuldgevoelens te besweer.

Swartskaap het in gesprek met my agterna gesê dat sy “outrage overload” ervaar, maw dat dit haar ontstel het om die onmiddellike negatiewe reaksie teenoor Nick Sandmann te ervaar. Sy wou meer inligting kry. Sy wou die ander kant van die storie kry, en sy wou ander bewus maak dat daar meer as een kant is. ’n Wors het twee ente, met ander woorde. En sy het ’n ander, verontskuldigende kant gekry.

Sosiale media is tot groot mate gebaseer op sg eggokamers. Die tipe nuus waarna jy kyk, die tipe inhoud waarvoor jy soek, word meer en meer vir jou aangebied. Dit word verwag. Juis daarom dat dit my verbaas het om hierdie naweek te vind dat my Instagram skielik ’n stortvloed MAGA- en Trump-positiewe inhoud voorstel. Die White Monopoly Capital-veldtog is nog vars genoeg in die geheue dat ek hierdie stortvloed nie as toevallig kan afmaak nie.

Nick Sandmann pleit jeugdige onskuld. Hy was onkant betrap en het nie geweet hoe om te reageer nie. Hy was verward. Sandmann se besluit om ’n publisiteitsfirma te gebruik om sy boodskap uit te stuur, eerder as die skool, of prokureurs, is ook interessant. Beeldpoetsery behoort nie ’n onskuldige, verwarde tiener se eerste prioriteit te wees nie.

Dis ook nie die indruk wat die video’s, al twee weergawes, laat nie. Die beelde van ’n jong man wat minute lank intense oogkontak met ’n ouer persoon van ’n ander kultuur behou, grynslaggend, terwyl sy maats jil en jou, is nie onskuldig nie. Daar is niks submissive of versoenend aan sy postuur nie. As hy inderdaad probeer het om ’n gespanne situasie te ontlont, sou dit nie beter gewees het om uit die ouer man se pad te beweeg en sy jillende maats aan te moedig om eerder op ’n ander plek te gaan wag nie?

Die skool ondersoek die voorval, en daar bestaan ’n moontlikheid, hoe skraal ook al, dat Sandmann en sy makkers geskors kan word. G’n wonder hy pleit onskuld nie.

Maar Sandmann se gedrag, en die sosiale media storm wat die video’s ontketen het, behoort deel te vorm van ’n groter gesprek, een waarin rassespanning, entitlement, wit fragility, toksiese manlikheid en respek vir diversiteit sentraal staan. Een waar mense eerlik, hopelik met deernis, sonder verontskuldiging, met mekaar kan praat.

Dis vir my interessant dat ek en Swartskaap na dieselfde inhoud kon kyk en tot verskillende gevolgtrekkings kom. Dalk omdat ons uit verskillende perspektiewe kyk, deur die lens van verskillende ondervinding- en leefwêrelde.

Elkeen van ons word elke dag beoordeel op grond van kleur, nog voordat ons ons mond oopgemaak het. Daar word oorhaastige oordele gevel sonder dat mense die moeite doen om die persoon agter die velkleur te leer ken. My heel eerste LitNet-rubriek (“Van labels en ghetto’s”) het hieroor gehandel.

Ek verstaan dus Swartskaap se behoefte aan ’n meer onskuldige verklaring vir Sandmann se grynslag – dalk omdat sy oor die jare genoeg goodwill opgebou het dat ek haar die voordeel van die twyfel kan gee.

Almal is inderdaad nie so nie. Daar is mense van alle kleure wat graag hierdie land ’n sukses wil maak. Ons almal se goodwill gaan waarskynlik getoets word in die aanloop tot ons eie verkiesing hierdie jaar. Net soos Trump, is Malema en ander besig om jongmense te radikaliseer met opruiende uitsprake.

Ons belangrikste taak hierdie jaar is om aan te hou praat met mekaar, om ons diversiteit te vertroetel, om al stampend en stotend ’n verstaan van mekaar te probeer opbou, om nie toe te laat dat siniese uitsprake goeie verhoudinge vertroebel nie.

Die oorgrote meerderheid mense in hierdie land wil ons nasie laat werk. Aan hulle rig ek hierdie uitnodiging, uit Rumi se gedig “A great wagon”: “Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there.”

  • 6

Kommentaar

  • Nog 'n hoogdrawende sedepreek. Soos 'n hert in dorre streke smag ons na die leerstellings van die Deug...
    Die trommer is nie omring nie, en het na die skoliere gestap. Wie tart wie deur 'n trom in jou gesig te slaan? Maar 'grinnik' is 'n sonde, asook oogkontak want: wit MAGA manlik, ens. Soos onderstreep word deur al die ander sg konteks wat bygesleep moet word terwyl die oorspronklike storie uitmekaarval.
    En niks word gesê oor die swart aktiviste wat Nog 'n hoogdrawende sedepreek. Soos 'n hert in dorre streke smag ons na die leerstellings van die Deug ...
    Die trommer is nie omring nie, en het na die skoliere gestap. Wie tart wie deur 'n trom in jou gesig te slaan? Maar 'grinnik' is 'n sonde, asook oogkontak want: wit MAGA manlik, ens. Soos onderstreep word deur al die ander sg konteks wat bygesleep moet word terwyl die oorspronklike storie uitmekaarval.
    En niks word gesê oor die swart aktiviste wat die skoliere getart het met rassistiese opmerkings oor witmense wat moet terug Europa toe en homophobic beledigings nie.
    Selfs die NYT en CNN het nou hulle storie verander, maar ons sit met die lomp en logge Voortrekkermonument-analogie as juffrou se Sondagskoollessie.
    Dat daar niks geleer word deur anti-Trump verslaggewers ens nie, is duidelik omdat hierdie vals storie slegs 'n dag ná Mueller die Buzzfeed-storie in die bek moes ruk, die rondtes gedoen het.
    Maar ons is nou by: "al was die seuns slegs seuns, ens", wat van x, y, z ... tot en met 'the toxic cisnormative white supremacist patriarchy' as eindpunt.
    Die nuwe erfsonde, en hoekom die kommentaar so skril en moralisties is. Sela.
    En daar is 'n guarantee wat die skryfster haarself gun: geen verdediging van die seuns is onskuldig nie.
    Siestog.
    die skoliere getart het met rassistiese opmerkings oor witmense wat moet terug Europa toe en homophobic beledigings nie.
    Selfs die NYT en CNN het nou hulle storie verander, maar ons sit met die lomp en logge Voortrekker monument analogie as juffrou se Sondagskoollessie.
    Dat daar niks geleer word deur anti-Trump verslaggewers ens nie, is duidelik omdat hierdie vals storie slegs 'n dag ná Mueller die Buzzfeed storie in die bek moes ruk, die rondtes gedoen het.
    Maar ons is nou by: "al was die seuns slegs seuns, ens", wat van x, y, z...tot en met 'the toxic cisnormative white supremacist patriarchy' as eindpunt.
    Die nuwe erfsonde, en hoekom die kommentaar so skril en moralisties is. Sela.
    En daar is 'n guarantee wat die skryfster haarself gun: geen verdediging van die seuns is onskuldig nie.
    Siestog.

  • Chris Marnewick SC

    Bettina se waarheid.
    Die swart opstokers se waarheid.
    Die Katolieke seuns se waarheid.
    Die tromslaner se waarheid.

    En dit wat regtig gebeur het: Nêrens te sien vir ons wat nie daar was nie.

  • ’n Joernalis is veronderstel om hom- of haarself eers deeglik van die feite van ’n saak te vergewis voordat iets geskryf word. Wyngaard se weergawe van die interaksie tussen skoolseuns en lede van ’n eerste nasie groep is so verdraai, onakkuraat en bevooroordeeld dat mens dit kwalik joernalistiek kan noem. Sy rep byvoorbeeld geen woord oor die teenwoordigheid en optrede van die Black Hebrew Israelites nie. (Maar toemaar, meeste Amerikaanse publikasies het hulle net so sydelings genoem, in ’n poging, ywerig nagevolg deur Wyngaard, om al die blaam op Sandmann en sy makkers te plaas.) Hierdie groep is deur die Southern Poverty Law as ’n haatgroep geklassifiseer – onder andere anti-wit, anti-semities, homofoob. Dit was hulle wat die hele onsmaaklike gedoente begin het deur kru beledigings na die skoolseuns te slinger: “incest babies,” “a bunch of hyenas”. Die eerste nasie-lede het ook deurgeloop: “… you’re drunkards in the casino and the damn plantation,” “you’re worshipping totem poles”. Toe ’n eerste nasie-vrou hulle daaroor aanspreek is sy beledig.
    Tog snaaks dat Wyngaard dit nie noem nie. As mens haar moet glo kon hulle net sowel nie daar gewees het nie.
    Dan vertel Wyngaard ook met smaak hoe die seun “grinnik” en “amper aggressief” met Phillips (wat nie ’n veteraan van Viëtnam is nie, doen Wyngaard nie fact checking nie?) oogkontak behou. O ja? Dis nou interessant: dat Wyngaard uit ’n na my mening ietwat gespanne glimlag rassistiese aggressie kan aflei. Dit ten spyte van die feit dat Sandmann nie ’n woord vir Phillips gesê het nie. Maar skynbaar is net ’n verbouereerde glimlag of oogkontak genoeg om as rassis bestempel te word – mits jy wit is, natuurlik. Wanneer ’n lid van ’n eerste nasie sy trom byna in iemand anders se gesig slaan en dreunsing dan is dit nóg aggressief nóg rassisties.
    Waarom beweer Wyngaard dat dit nie saak maak of Phillips die seuns genader het nie of andersom? Dit maak beslis saak – as Phillips dit nie gedoen het nie, sou daar geen konfrontasie gewees het nie.
    Voorts: die seuns het nie Phillips en sy metgeselle se seremonie met dreunsang of enigiets anders onderbreek nie, ten spyte van wat Wyngaard beweer - hulle is deur die Black Israelites geteister. Tog eienaardig dat Wyngaard daaroor swyg. Waarom sou dit wees?
    Wyngaard se vriendin Swartskaap is reg: daar is geen onskuldige party hier nie: nie die seuns met hul MAGA-pette en hul respons op die Black Israelites nie, ook nie hul onderwysers wat hulle nie in toom gehou het nie. Tienerseuns is soms onaangename wesens en mens kan seker sulke gedrag verwag – dis verstaanbaar maar nie ’n verskoning nie. Hou egter in gedagte dat die seuns vir ’n lang tyd oor ’n luidspreker aan vieslike beledigings onderwerp was – meer as wat baie volwassenes sou kon verdra. Interessant dat volwassenes ’n groep sestienjariges aan rassistiese beledigings kan onderwerp maar dan word die seuns blameer en as rassiste bestempel. Let op dat die seuns ten minste aanvanklik die situasie probeer ontlont het: “That’s racist, bro.” “That’s rude.” “Why are you being mean? Why do you call us Klansmen?” “We don’t judge you.” Een het probeer handskud maar is net beledig.
    Phillips se optrede, as volwassene, laat eweneens veel te wense oor, trouens, as mens die Black Israelites buite rekening laat was sy gedrag die aggressiefste. Die Black Israelites, wie se teenwoordigheid en optrede deur Wyngaard beskou word as so onbelangrik dat dit nie eers genoem word nie, moet meeste van die blaam dra.
    Wyngaard vind dit skynbaar afkeurenswaardig dat Sandmann se moeder ’n publisiteitsmaatskappy aangestel het om ’n verklaring uit te reik en bestempel dit as beeldpoetsery. Ons word ook vertel dat daar geen straf vir rassistiese gedrag in die VSA is nie. Dat iemand dit nodig vind om ’n publisiteitsmaatskappy aan te stel om die storm wat losgebars het oor vermeende rassistiese gedrag te probeer kalmeer bewys onteenseglik hoe verkeerd sy is.
    Wyngaard vertel ons dat sosiale media grootliks gebaseer is op eggokamers. Sy is korrek, en haar rubriek is ’n uitstekende voorbeeld van die eggokamer waarin sy haar in ten minste hierdie geval bevind.
    Gemeenplase oor toksiese manlikheid en wit fragiliteit dra in hierdie geval niks by tot ’n beskouing van wat werklik plaasgevind het en die sienswyses wat tot die gebeure aanleiding gegee het nie – inteendeel, dit vererger net rassespanning.

  • "Sou daar nog steeds so vinnig verskoning gesoek word vir die swart tieners se gedrag?" Ja! En nogmaals ja! Die ANC, die EFF, die BLF, die SASO, NUSAS, NUMSA, COSATU, die SACP, #everythingmustfall, BPNCC en op 'n besonder donker dag selfs die DA wat wil gevreet koop, sou mol om vir hulle verskoning te maak. In kort dus: die meerderheid. Slegs 'n baie, baie, baie klein handjie vol gematigdes sou eers alle perspektiewe ondersoek het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top