In ’n uiters ongewone stap is een van die land se Nasionale Ordes wat onlangs aan die joernalis Freek Robinson toegeken sou word vir sy bydrae tot die joernalistiek, onverwags teruggetrek saam met die name van twee ander Suid-Afrikaners wat saam met hom vereer sou word.
Hulle sou saam met 32 ander die toekennings van president Cyril Ramaphosa in ontvangs geneem het.
Robinson sou die Orde van Ikhamanga (silwer) ontvang het vir sy bydrae tot joernalistiek.
Die Nasionale Ordes is die hoogste toekennings wat Suid-Afrika, deur die president, aan burgers en vooraanstaande buitelandse burgers toeken.
Ramaphosa se kantoor het in ’n verklaring gesê hy het die onttrekking van die drie name aanvaar “na besware van verskeie sektore van die samelewing” en op aanbeveling van die Adviesraad oor Nasionale Ordes (NOAC).
Niemand weet wie die beswaarmakers is nie. Die ander twee wie se name onttrek is, is Duma Ndlovu en Mike Horn.
Ndlovu sou vereer word vir sy uitstekende werk in die televisie-en-film-bedryf in Suid-Afrika. “Selfs in ballingskap was hy onwrikbaar in sy verbintenis tot die ontwikkeling van kuns en kultuur in ons land,” lui die aanvanklike verklaring deur Ramaphosa se kantoor.
Horn sou beloon word vir sy bydrae tot aksie- en uithousport, wat hom ’n reputasie besorg het as een van die “grootste lewende ontdekkingsreisigers” van ons tyd, het die presidensie se aanvanklike verklaring gelui.
In ’n openhartige onderhoud met Jean Oosthuizen oor die toekenning en sy lang joernalistieke loopbaan sê Robinson daar steek beslis politiek agter die hele affêre.
Jy is benoem om die toekenning van die Orde van Ikhamanga (silwer) te ontvang vir jou bydrae tot die joernalistiek. Dit is egter onverwags teruggetrek op die vooraand van die geleentheid waarop dit toegeken sou word. Wat is jou reaksie op hierdie skielike ommeswaai?
Dis natuurlik ’n groot teleurstelling. ’n Amptenaar in die kantoor van die President het my so ’n week gelede persoonlik gebel en die nuus aan my meegedeel dat ek ’n eerbewys sou kry. Ek was uit die veld geslaan. ’n Mens kan nie vir so ’n eerbewys aansoek doen nie. Jy word gekies deur ’n paneel van deskundiges. Dis net logies dat hulle behoorlike navorsing sal doen oor elke moontlike kandidaat.
Die Nasionale Ordes is die hoogste eerbewys wat aan ’n burger toegeken kan word. So dit is nie sommer maar ’n “hierjy”-toekenning nie. In ’n opvolg-e-pos is my aanwysing bevestig.
Ek is ook meegedeel dat ’n persoon van die President se kantoor reëlings met my sou tref dat ek en my vrou by ons huis opgelaai sou word en na die seremonie by die President se gastehuis in Pretoria geneem sou word die Vrydagoggend van 28 April en daarna weer terug na Johannesburg.
Die volledige lys van mense wat ordes sou ontvang, is gepubliseer, en my naam was ook daar. Dit als het ’n mens onder die indruk gelaat dat reëlings onder beheer is. Des te meer, dus, die verbasing toe ek Sondagmiddag so eenuur se kant ’n e-pos van die presidentskantoor kry wat lui: “I regret to inform you that the Advisory Council on National Orders, upon further review, has withdrawn your name from the list of orders.”
Is daar enige redes gegee waarom jou toekenning teuggetrek is?
Geen redes is gegee nie. Ek het ’n e-pos aan die President se kantoor gestuur en my verbasing uitgespreek oor die verwydering van my naam. Ek het ook gevra dat redes vir die stap gegee word. Maar ek het sedertdien geen kommunikasie van die presidentskantoor ontvang nie.
Die Nederlanders het ’n uitdrukking wat lui: “Eerst gegeven en dan genomen is erger dan een dief gestolen.” Hoe is so iets moontlik – dink jy daar was politieke druk van iewers en is daar ’n les wat mens uit so ’n affêre kan leer?
Die Nederlandse gesegde is heel gepas. As my benoeming en die besluit daaroor agter toe deure oorweeg is, en verwerp is, sou geen haan daarna gekraai het nie. Maar dit blyk die besluit om my te vereer was wel op meriete geneem deur die Adviesraad oor Nasionale Ordes. Die lys met name sou dan seker deurgegee gewees het aan president Ramaphosa om dit finaal goed of af te keur.
Tussen die raad se besluit en die President se goedkeuring van die finale lys moes daar dus ’n ruimte gewees het waartydens mense/instansies beswaar kon aanteken teen benoemdes. Wie hierdie mense/instansies is, weet nugter. ’n Mens wonder ook hoe die beswaardes se menings bekom is? Is hulle gevra? Deur wie, wanneer en hoe? Hoe is dit dat sulke besware swaarder weeg as die President self se oordeel?
Daar steek beslis politiek agter die hele affêre. Ramaphosa het drie mense se name verwyder: myne, die avonturier Mike Horn en skrywer/filmmaker Duma Ndlovu.
Die beswaar teen Ndlovu was dat daar genoem is in die Zondo-kommissie se verslag dat hy deel was van die staatskapingspoging by die staatsinkomstediens. As dit wel bewys kan word dat hy skuldig was aan die een of ander misdaad, is dit goed dat hy gediskwalifiseer is.
Dit behoort seker een van die basisoorwegings te wees dat ’n benoemde nie ’n misdaadrekord mag hê nie. Maar wie het oor hom gekla? Dis waar die rooi ligte begin flikker. Dit was inderdaad die ANC se veteranevereniging. Dit versterk die persepsie by my en vele ander dat die belangrikste vereiste vir ’n kandidaat om oorweeg te word, is dat die persoon een of ander verbintenis met die struggle moet hê.
In die geval van Mike Horn was die beswaar dat hy tydens die tagtigerjare diens gedoen het in die weermag van destyds. Wat kritici nie in ag neem nie, is dat die jong wit soldate van destyds verplig is om militêre diens te doen, anders gaan jy tronk toe. Horn het ná sy vrystelling in Switserland gaan woon en een van die grootste waaghalsavonturiers in die wêreld geword.
In my geval is geen redes gegee of bespiegelings geopper nie. Maar in lyn met politieke argumente van die verlede was die blote feit dat ek by die SAUK gewerk het, seker vir kritici ’n teken dat ek kop in een mus met die apartheidsbewind was. My eie paadjie wat ek geloop het, is nooit in oorweging geneem nie – ek is sommer met dieselfde apartheidskwas besmeer.
Volgens Ramaphosa was daar besware teen ons drie uit verskillende oorde, maar hy sê nie wie die persone/instansies was nie.
Die les is beslis dat baie beter navorsing gedoen moet word oor benoemdes voordat enige aankondiging gedoen word. Die proses om mense te benoem moet baie deursigtiger wees.
Die President het ook aangekondig dat om die integriteit van die Nasionale Ordes te bewaar, die nasionale adviesraad teen die einde van April maatreëls sal instel om die kiesproses te versterk.
Wat sou die toekenning vir jou persoonlik en vir joernalistiek in die algemeen beteken het?
Dit sou vir my ’n groot eer gewees het as ’n mooi afronding van my loopbaan van 45 jaar in joernalistiek. By implikasie is ’n veer ook in die hoed van die joernalistiek geplaas vir die noodsaaklike diens van die media. Dit kon ook gesien word as ’n gebaar om uit te reik na die Afrikaanse gemeenskap in die land.
Jy het ’n lang roemryke loopbaan as joernalis agter die rug, aanvanklik as koerantjoernalis vir ongeveer ’n jaar en as TV-joernalis by die SAUK, en daarna kykNET. Hoe het jy in die joernalistiek beland?
Ek het per toeval in die joernalistiek beland. Ek het in my honneursjaar aan Tukkies in die aande ’n werkie gekry as ’n sub in die nagkantoor van Oggendblad. Die doel was eintlik net om geld te kry om te oorleef en my studies te betaal. Met die koms van televisie wou ek ’n dramaregisseur word en het aansoek gedoen om so ’n pos. Daar was toe nie plek nie, maar by die nuusafdeling wel. Om ’n voet in die deur te kry het ek toe ’n junior pos as teksskrywer by Afrikaanse TV-Nuus gekry. Na ’n jaar was daar wel ’n dramapos, maar toe het ek reeds tuis gevoel by nuus. En dis waar ek gebly het.
Was jy ooit spyt dat jy die joernalistiek as loopbaan gekies het, en indien jy iets anders sou word, wat sou dit wees?
Nee ek was nooit spyt nie, al het dit soms broekskeur gegaan. In Amerika en in Europa geniet ankers soos ek aansien en verdien sommer miljoene. Hier by ons kan jy wel bekendheid verwerf, maar dit beteken hoegenaamd nie dat jy goed betaal word nie.
Jy het verskeie toekennings gekry vir jou aanbieding en onderhoudvoering, insluitende 10 ATKV-Mediaveertjies. Hierdie sou egter ’n besondere eer gewees het vir jou wat min joernaliste beskore is. Wat maak dit anders as vorige toekennings?
Dit sou ’n besonderse eer gewees het om die Orde van die President self te ontvang. Dit sou erkenning van buite die media op die hoogste vlak wees van die meriete van jou werk.
Die meeste mense onthou jou as TV-joernalis by die SAUK en later by kykNET, maar jy is nog lank nie klaar met die joernalistiek en onderhoudvoering nie. Deesdae voer jy gereeld onderhoude met bekendes op LitNet. Hoe het dit gebeur dat jy deel geword het van die Litnet-span en hoe vind jy dit om op hierdie manier onderhoude te voer?
Ek is kort nadat ek op verpligte pensioen gegaan het, deur Etienne van Heerden genader om een maal per week ’n onderhoud te voer met ’n nuusmaker op dié internetplatform. Die program se naam is Reguit met Robinson. Dis ’n baie welkome geleentheid om relevant te bly en steeds in die nuuswêreld betrokke te wees.
Jou onderhoude geskied deesdae via Zoom en dit moet heel anders wees as in ’n ateljee, waar die adrenaliengolf tussen aanbieder en gaste besonder hoog is. Mis jy daardie direkte kontak met die mense met wie jy onderhoude voer, en hoe verskil die eindproduk?
Ja, die uitsaai op Zoom het aanpassing geverg. Die onderhoude word opgeneem en is nie regstreeks nie. Dit verg steeds baie goeie voorbereiding, maar die adrenalien pomp nie so erg nie. En om saam in een ateljee te wees met die gas, is net meer persoonlik en gemakliker. Jy het ook nie die eie verantwoordelikheid om te sorg vir tegniese aspekte nie. Maar op Zoom is dit net die gas, en my vrou, Liza, staan gewoonlik by en is van groot hulp.
Jou loopbaan by e-Nuus het baie skielik en onverwags op ’n traumatiese noot tot ’n einde gekom. Hoe het dit gebeur?
Dit was net na die uitbreek van die Covid-pandemie. Maatskappye en die staat het nie mooi geweet hoe om die saak te hanteer nie. Vinnige en soms ondeurdagte besluite is geneem. President Ramaphosa het aangekondig dat alle mense bo 60 liefs by die huis moes bly en kontak soveel moontlik moet beperk.
By e.tv het die bestuur besluit dat alle senior werkers op 60 op vervroegde pensioen moet gaan. Die ironie is dat Ramaphosa die aankondiging gedoen het, maar hy self is net so oud soos ek en ons deel dieselfde geboortedatum op die dag, maand en jaar … en hy het aanhou werk. Pensioen het dus gouer vir my aangebreek as waarop ek gereken het.
Dit was nie al keer dat daar iets onverwags in jou loopbaan gebeur het nie. Jou verplasing destyds Londen toe deur die SAUK was ook nie uit eie keuse nie. Wat het daar gebeur?
Ek was in die laat tagtigerjare ’n politieke joernalis in die SAUK se parlementêre kantoor. Dit was welbekend in dié tyd dat president PW Botha nie veel ooghare vir my gehad het nie. Hy het gereken ek is te parmantig met my vrae. Hy het druk op die nuusbestuur geplaas om ’n plan met my te maak. Die SAUK het in daardie tyd ook deurgeloop in die openbaar oor sy rol in die land. Die nuusbestuur het gereken dat van die stories gelek was van binne die SAUK. Hulle het gereken dat ek waarskynlik die skuldige was. Om my uit die pad te kry, is ek verplaas na Londen nog ses maande voor die destydse persoon in die pos, Clarence Keyter, moes terugkom. Ek is sak e pak saam met my gesin na Londen. Daar is vasgestel dat ek nie die skinderbek was nie. Maar toe sit ek al in Londen.
Daar is deesdae al hoe meer jonger gesigte in die joernalistiek en mens hoor nie meer dikwels van joernaliste uit die ou skool nie. Hoe belangrik is ervaring vir jou en waarom dink jy lyk dit of daar soms ’n neiging is om van ouer joernaliste ontslae te raak, of sit ek die pot mis as ek bekommerd is oor wat bekend staan as die “juniorisation of newsrooms”?
Nee, jy is reg, maar jonger mense is baie beter aangepas in hierdie tegnologiese tyd en dis ’n groot plus.
Jou loopbaan as joernalis strek oor bykans vyf dekades. Hoe vergelyk vandag se joernalistiek en joernaliste in Suid-Afrika met die joernalistiek toe jy jonger was, en wat is die grootste verskille?
Tegnologie oorheers als en stel groot uitdagings aan ouer, tradisionele joernaliste soos ek. Daar is druk om op elke platform inhoud te lewer, soos vir koerante, radio, televisie, selfoon en internetkanale. Die joernalis kry mededinging van elke persoon wat ’n selfoon het. Die uitdaging is om te onderskei tussen fopnuus en die waarheid. Joernaliste word gebind deur ’n kode en lewer gewoonlik meer betroubare inligting.
Jy het ’n baie groot deel van jou loopbaan as politieke joernalis vir die SAUK gewerk tydens apartheid. Hoe moeilik was dit vir jou om jou werk met integriteit te doen terwyl die Nasionale Party so ’n groot invloed gehad het op wat deur die SAUK uitgesaai is, en was daar ooit druk van bo op jou om propaganda vir die NP te skryf?
Nee, daar is nooit aan my pertinent opdrag gegee om propaganda te pleeg nie. Ek het gedurig probeer om die grense stadig te verskuif. En vanaf 1990 was daar groot vryheid om met enige persoon te praat of storie te hanteer.
Hoe het jy dit reggekry om die ou bedeling en die oorgang na die nuwe bedeling te oorleef?
Deur deurgaans objektief teenoor almal te wees, niemand se kant te kies nie, nie neerhalend of bakleierig teenoor enigiemand te wees nie. Ek het ook doelbewus gesorg dat ek nie in bestuur beland nie en dus nie ’n beperking plaas op transformasie nie.
Na FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak in 1990 is die SAUK as openbare uitsaaier tot ’n groot mate toegelaat om baie meer onpartydig te wees, maar onder mense soos Hlaudi Motsoeneng was daar weer ’n sterk houvas op wat joernaliste mag uitsaai en wat nie. Hoe keer mens dat politici instansies soos die SAUK kaap, en wat is die openbare uitsaaier se grootste uitdaging?
In die eerste plek moet daar bestuurstabiliteit in die SAUK kom. Na maande se gesloer het president Ramaphosa eers ’n week of wat gelede die lede van die raad aangestel. Die parlement moet opnuut die aanstelling en funksies van die SAUK se raad heroorweeg om onafhanklikheid van die raad te verseker. Die SAUK het ’n uiters belangrike taak om mense oral in die land in inheemse tale van inligting te voorsien en onderwysprogramme uit te saai.
Jy kon sekerlik nie telling hou van al die honderde onderhoude wat jy al moes voer nie, maar is daar ’n spesifieke onderhoud of twee wat vir jou uitstaan en wat jy altyd sal onthou?
My rol as voorsitter van die debat voor die 1994-verkiesing tussen Mandela en De Klerk was sekerlik ’n hoogtepunt. In Junie 1992 het die onderhandelings by Kodesa tot stilstand geknars na die slagting van Boipatong. Die ANC het die Nasionale Party daarvan beskuldig dat hy saam met Inkatha betrokke was in ’n sogenaamde derdemagoperasie.
Na ’n paar weke se stilstand het ek daarin geslaag om die twee onderhandelaars, Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa, in een ateljee saam te kry, waartydens hulle onderneem het om onderhandelings te hervat. So is ’n krisis afgeweer. Hoewel ek nie kan aanspraak maak daarop dat dit nou juis my betrokkenheid was wat tot die hervatting van samesprekings gelei het nie, het ek sekerlik ’n bydrae gelewer.
Wat is die grootste kuns om ’n goeie onderhoud te voer en wat maak van mens ’n goeie joernalis?
’n Goeie onderhoud verg baie navorsing, beplanning, dissipline, kalmte, luister, flinke denke, ewewigtigheid en om die ander persoon met respek en medemenslikheid te hanteer ongeag die standpunt wat hy/sy huldig.
Ons land is tans nie in ’n goeie toestand nie. Korrupsie is aan die orde van die dag, beurtkrag keil ons op en daar word uit sommige oorde gesê Suid-Afrika is besig om ’n mislukte staat te word en is reeds ’n mafiastaat. Wat is jou reaksie op hierdie donker prentjie en jou raad aan mense wat dit oorweeg om die land te verlaat? Is daar nog dinge in Suid-Afrika wat jou hoop gee vir die toekoms?
Die ekonomiese welstand van ’n land hang af van sy mense. Mense maak die verskil. ’n Mens kan nie agteroor sit en niks doen en dan verwag dat jou baie gekla skielik uit die bloute ’n oplossing sal bring nie.
Kommentaar
Dankie vir hierdie sinvolle en gebalanseerde onderhoud.
Die grootste flater was dalk die oorspronklike benoeming?
Dis ongewis waar dat Freek deel was van die magtige Nasionale Party se media, beheer deur die ou SAUK.
Daar kan dus geredeneer word dat hy as joernalis en openbare figuur die apartheid bestel in plek gehou het?
Maar daar moet seer sekerlik duidelike kriteria en norme bestaan met die benoeming van begunstigdes? En moes Robinson juis aanvanklik gediskwalifiseer wees vir sy vroeë loopbaan in die SAUK?
Was dit gewoon 'n burokratiese flater?
Wat ek wel nie kan kleinkry nie is hoekom 'n uitgesproke anti-apartheidjoernalis soos Max du Preez, wat verskeie apartheidvergrype aan die kaak gestel het as redakteur van Vrye Weekblad, nie al lankal gehuldig is deur hierdie toekennings nie.
Ietwat absurd.
Max sal nooit vereer word deur die regering nie, Charl. Hy was te uitgesproke teen die ANC se leiers ook. Die hele doel van hierdie benoeming van Freek was uiteraard 'n politieke speletjie. Soos wat alles in hierdie land verpolitiseer is, is daar geen manier waarop die nasionale ordes nie ook sal wees nie. Dié spesifieke geval was maar net nog 'n ondeurdagte skuif van die regering. Net nog 'n blapsie. Soos die Thabo Bester-saak. Die Life Isidimeni-tragedie. Die Eskom-fiasko wat besig is om besighede en die ekonomie te verwoes en miljoene in armoede en ellende te dompel, die onttrekking uit die internasionale strafhof, en die lys gaan aan en aan.
Snotjan, ek voel dieselfde oor struggleredakteurs en -joernaliste wat reusewerk gedoen het om die apartheidregime te ondermyn.
Ek dink aan Guy Berger en Anton Harber.
Hierdie mense het hul lewens op die spel geplaas vir geregtigheid, die joernalistiek en vir vrye spraak. Tog het hul geen erkenning ontvang deur die regering se nasionale toekennings nie.
Dis 'n blerrie skande!
Ag nee wat, met die eerste oproep moet mens al vir die regering sê wat hulle met hulle simpel orde kan doen.
Ek weet. Ek is altyd die hoogste berge oor.