Titel: Na ’n plaas in Afrika
Skrywer: Irma Joubert
ISBN: 9780639606262
Uitgewer: LAPA
...
Daar is ook geen morele oordele nie. Maak nie saak hoe mens voel oor Hitler en sy verfoeilike politiek nie, sowel die Nazi-soldaat Oswald as Rudolf Hess se verhale word so vertel dat die leser op die karakters kan fokus sonder om eers aan die politiek te dink.
...
Laat my van die begin af my belange – of gebrek daaraan – verklaar: Ek is nie die wêreld se grootste leser van historiese fiksie nie. Maar daar is sekere eras in die geskiedenis wat vir my geweldig interessant is, en daar is ’n handvol skrywers wat geskiedenis só kan oopskryf dat mens na die tyd lus voel om alles wat jy daaroor in die hande kan kry te bestudeer. Die Tweede Wêreldoorlog is een tydperk wat my nog altyd fassineer het, en sedert my kennismaking met Irma Joubert se Tussen stasies (ek was bevoorreg om dit reeds in manuskripvorm te lees) was ek ’n aanhanger.
Na ’n plaas in Afrika tiek al die kassies vir enige Irma Joubert-aanhanger, maar daar is ook heelwat in hierdie lekker dik roman (557 bladsye) wat dalk vir haar ’n paar nuwe aanhangers kan besorg.
Twee dinge het van meet af aan opgeval: die feit dat Irma vir die eerste keer ’n seuntjie as hoofkarakter gebruik, en die kykie na ’n stuk WO2-geskiedenis waarvan ek maar min geweet het (en ander lesers dalk ook). Ek het geskiedenis as matriekvak geneem, maar kan nie onthou dat daar veel uitgebrei is oor Hitler se magte se inval in Rusland nie. Nog minder oor al die ontberings wat hulle moes verduur. Die fokus was meestal – soos dit sekerlik hoort – op die verskriklike lyding wat Jode in konsentrasiekampe moes verduur weens Hitler se antisemitiese beleid.
Van Hitler gepraat: Het jy geweet dat Hitler se tweede in bevel, Rudolf Hess, heeltemal ’n ander idee as sy Führer gehad het oor hoe die Duitsers die oorlog moes aanpak as hulle wou wen? Weer eens: Ek kan glad nie onthou dat ons matriekgeskiedenis enigsins hiervan melding gemaak het nie, maar hier leer ek dit danksy Irma. En hoe klein Charles, een van honderde kinders wat uit Londen ontruim is om bomaanvalle vry te spring, se storiepaaie in ’n klein dorpie in Skotland kruis met dié van Rudolf Hess, is iets wat jy maar self moet gaan lees. Dis maar een van talle redes hoekom ek dit moeilik gevind het om hierdie roman neer te sit.
...
Een van die grootste redes vir Irma Joubert se gewildheid is dat sy oor die gawe beskik om die geskiedenis te laat lééf. In hierdie geval word die geskiedenis – nes die ruimte – as’t ware ’n karakter in die verhaal eerder as net blote vervelige agtergrond vir die storie.
...
Een van die grootste redes vir Irma Joubert se gewildheid is dat sy oor die gawe beskik om die geskiedenis te laat lééf. In hierdie geval word die geskiedenis – nes die ruimte – as’t ware ’n karakter in die verhaal eerder as net blote vervelige agtergrond vir die storie. ’n Fiksieskrywer sal altyd vir jou vertel dat wys belangriker is as vertel, maar hoe vertel ’n mens ’n groot stuk geskiedenis net deur dinge te wys? Irma slaag egter wel daarin om die perfekte balans tussen wys en vertel te kry en sodoende te verhoed dat die leser in ’n vervelige geskiedenisles vasgevang word.
Daar is ook geen morele oordele nie. Maak nie saak hoe mens voel oor Hitler en sy verfoeilike politiek nie, sowel die Nazi-soldaat Oswald as Rudolf Hess se verhale word so vertel dat die leser op die karakters kan fokus sonder om eers aan die politiek te dink. Oswald is nie juis ’n aangename karakter nie, maar selfs vir hom ontwikkel mens later empatie en – heelwat later – selfs simpatie.
Daar is ’n lekker wisseling in tempo en ook tussen die storielyne van die karakters dwarsdeur die roman. Net voordat die lotgevalle van die arme Duitse soldate in Rusland jou terneergedruk kan maak, verskuif die kamera na klein Charles in Skotland vir ’n heel ander perspektief op dieselfde oorlog. (Nie minder ernstig van aard nie, maar beslis minder somber.)
Terloops, Irma het die dorpie Eaglesham besoek. Dis hier waar Charles, wat losweg gebaseer is op ’n man wat by Irma se pa op die plaas gewerk het in haar kinderjare, tydelik kom woon nadat sy pa hom uit Londen wegstuur. Irma skep die dorpie so duidelik dat my belangstelling behoorlik geprikkel was om te sien hoe dit daar lyk, en te oordeel aan Google Earth is haar beskrywings 100% in die kol. (Eaglesham se geskiedenis speel ’n sentrale rol in die verhaal, maar gaan lees gerus self.)
Na ’n plaas in Afrika is die derde boek in Irma se oorlogstrilogie (dis voorafgegaan deur Immer Wes en Mentje – Kind van die Pas-Opkamp), en in al drie beleef ’n mens die oorlog ook deur ’n kind se oë. By terugskoue is dit dalk deel van die sukses van hierdie trilogie – kinders kyk anders na oorlog as die volwassenes in die onderskeie romans. Die kinderlike perspektief onderstreep die onbegryplike waansin van oorlog met ’n dik rooi pen, wat dit des te meer boeiende leesstof maak. Al drie romans het heelwat volwasse karakters, wat uiteraard sorg vir ’n heel ander perspektief op die oorlog.
Nog ’n interessante invalshoek is die gebruik van Ilse Hess, Rudolf Hess se vrou, as een van die hoofkarakters. Mens leer meer oor Hess, die man agter die politieke persona, en beleef nog ’n stuk minder bekende wêreldgeskiedenis, die Nuremberg-verhore van die oorlewende Nazi-leiers na afloop van die oorlog, deur Ilse Hess se ontnugterde oë.
Die storie kry ’n verrassende kinkel wanneer klein Charles na familie aan die suidpunt van Afrika gestuur word toe die tante by wie hy weens die oorlog gaan woon het, te oud raak om na hom om te sien. So beland hy in Botswana. Hoekom juis Botswana? wonder jy dalk. Wel, ek het ook, en in ’n onderhoud met Irma het sy vertel dat sy die kollig ook wou laat val op die Europese lande in die trilogie se “kolonies” of “protektorate”. Hoewel die gedeeltes waar daar na Seretse Khama en die geskiedenis van Botswana verwys word, maklik geforseerd sou kon voorkom, word hierdie slaggat netjies vermy deur dit te knoop aan die tragedie in Botswana wat uiteindelik Charles se hele lewe sou verander.
Mentje, Esther en dié se halfbroer Oswald is enkele van die karakters van die vorige twee romans in die trilogie wat weer hul verskyning maak, maar dis glad nie nodig vir ’n leser om die vorige twee romans te lees om te verstaan waar hulle inpas nie. Hierdie roman staan stewig op sy eie storiebene. (Hoewel ek egter sou aanbeveel dat jy wel al drie boeke in volgorde lees – dis heerlike leesstof vir die koue wintersaande.)
As jy hou van ’n lekker storie en ’n interessante stuk wêreldgeskiedenis wat vanuit ongewone hoeke belig word, kan ek Na ’n plaas in Afrika sonder skroom aanbeveel.
Lees ook:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert
Kommentaar
Ek is mal oor Irma Joubert se boeke. En besit ook al haar boeke. Behalwe die nuutste een