
Skaakmeester, Jaap Durand (foto deur die gesin verskaf)
...
Durand het die volgende dag die berig met die foto van ’n vriendin ontvang, en het nogal gedink die opskrif was in die kol: “Professor Durand walks in anger towards police firing rubber bullets at students grouped within the campus yesterday.” Veral die “in anger” was volgens hom uiters gepas!
...
Huldeblyke wat verskillende aspekte van die lewe en werk van Jaap Durand beklemtoon, stroom steeds in en wys duidelik die enorme agting en waardering wat daar vanuit ’n wye spektrum van ons reënboognasie vir sy persoon, en veral vir sy profetiese drif, gekoester word.1 LitNet het my genader om – as ’n jonger kollega, oudstudent en vriend – ’n kort oorsig van sy lewe, veral as teoloog, akademikus en etiese leier, te gee. Ek is versoek om spesifiek aandag te gee aan vanwaar hy sy inspirasie gehaal het om dikwels stroomop te swem en met uitsonderlike integriteit te bly veg vir God se geregtigheid in die kerk, samelewing en die akademie.2
Aangesien daar tans heelwat interessante en verhelderende detail oor sy persoon, agtergrond en lewensloop beskikbaar is, ook in die sosiale media,3 konsenteer hierdie stuk grootliks op kernepisodes uit sy lewe, maar dan ook kortliks op sy teologiese ontwikkeling (soos gereflekteer in publikasies), en sy besondere leierskapseienskappe en nalatenskap (soos beoordeel deur vriende en kollegas).
...
“Maar tog het daar iets geskort. In die stilligheid het daar in my jong gemoed as student vrae ontstaan.”
...
1. Kernepisodes uit Jaap Durand se lewe
In die populêre persepsie staan sekere hoogtepunte tydens Durand se kleurryke loopbaan duidelik uit, soos ook gereflekteer in vele korter en langer staaltjies uit sy veelsydige en onverskrokke lewe wat tans weer in omloop is. ’n Mens kan byvoorbeeld onmiddellik dink aan daardie ikoniese foto uit die dae van die struggle by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar hy oënskynlik vreesloos omdraai om woedend, met ’n wuiwende hand, vlugtende studente teen die aanslag van die onluspolisie op kampus te beskerm; sy onvervangbare Afrikaanse akademiese monografieë oor temas in die Godsleer (in ’n reeks saam met Willie Jonker); die wonderlike verhaal van die ontstaan van daardie één dokument wat apartheid ’n nekslag toegedien het, naamlik die veelbesproke maar hoopgewende profetiese Belydenis van Belhar;4 sy duidelike passie vir kerkeenheid, versoening en geregtigheid vir almal, veral alle agtergeblewenes;5 sy visie as viserektor van UWK vir die ontwikkeling van ’n moderne, hoëkwaliteit akademiese tuiste (argitektonies, krities en innoverend), saam met Richard van der Ross en veral Jakes Gerwel, met Desmond Tutu as kanselier;6 en sy eerlike en openbare apologie vir die Evangelie in gesprek met die wetenskap en die sekulêre tydsgees.7
Ons kan dankbaar wees dat Durand, ten spyte van sy beskroomdheid om oor homself te praat, tog ingestem het om ’n dokument,8 wat hy eers net privaat met sy kinders, familie en enkele vriende gedeel het, vir wyer verspreiding voor te berei as een van sy laaste publikasies, nl Protesstem.9 Self stel hy dit duidelik dat die publikasie nie ’n volledige outobiografie is nie, maar dat hy slegs bepaalde oomblikke uitlig wat vir hom belangrik is en wat hy nie kan vergeet nie. Dit is ’n boeiende verhaal, waaruit ek hier slegs enkele grepe wil toelig, in aansluiting by sy eie duiding van “dinge wat die moeite werd is om te onthou”.
Hierdie paar flitse gee hopelik stof tot nadenke oor die vraag wat ons ook onlangs besig gehou het rondom aartsbiskop Desmond Tutu se afsterwe: Wat was hierdie man se geheim; wat is dit wat hom gedryf het om as’t ware sy hele lewe, al sy talente en al sy kragte so op die spel te plaas vir sy verstaan van wat regtig saak maak in die lewe? In ’n poging om dié vraag te benader, kyk ons vlugtig na sewe “episodes” uit Durand se lewe.
1.1 Vormingsjare en vroeë studiejare van ’n Vrystaatse boerseun (Dealesville en UOVS)
In ’n diepgaande artikel van Dirkie Smit rondom Durand se 75ste verjaardag, getiteld “In die geskiedenis ingegaan”,10 maak hy ’n oortuigende saak daarvoor uit dat die mees deurslaggewende aspek van Durand se teologiese denke sy “historiese bewussyn” is. Dit is naamlik die feit dat hy as teoloog intens bewus was – by die lees van die Bybel, by die uitleg daarvan, by die beoefening van teologie of etiek, by praktiese kerkbesluite – van die historisiteit, die kontingensie, van al ons denke en handelinge. Smit argumenteer voorts dat dit hierdie “instink” in Durand se teologiese denke is wat hom op die spore laat beland het wat sy lewe so vol integriteit en sy denke so ontsettend eerlik gemaak het. Selfs al skryf hy self maar min oor sy vormingsjare, skemer hierdie besef van God se intense betrokkenheid by die kleinste detail van ons lewe, van sy eie lewe, op vele plekke deur.
Wanneer hy ná die voltooiing van sy doktorale proefskrif aan die Vrije Universiteit (VU) Amsterdam en by sy terugkeer na Suid-Afrika saam met sy vrou, Randu, nadink oor sy toekoms, is dit veral die historiese situasie, die politieke situasie, in sy vaderland wat vóórop staan in sy oorweginge, en nie sy eie wense, begeertes en belange nie.
Uit al die besonderhede oor hierdie jong man se lewe tot en met sy naskoolse studies aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat (UOVS), blyk dit duidelik dat hy as pligsgetroue en briljante student en sportman, wat boonop van nature lief was vir uitdagings en gesonde kompetisie,11 verseker kon wees van ’n netjiese loopbaan binne die Afrikaner-dampkring. As ’n topmatrikulant in die destydse Vrystaat, met boonop ’n merietebeurs vir verdere studie, het hy al gou uitgeblink aan die universiteit in sy studies en in verskillende sportsoorte (soos tennis en rugby), asook skaak. Die studie van spesifiek die filosofiegeskiedenis het vir hom vergesigte oopgemaak, en sy professore het hom summier, ná sy honneurs in die vak, ’n pos as junior dosent in filosofie aangebied – indien hy daar verder sou studeer in die filosofie.
Ten spyte van die vergesigte rondom waarheidsbeginsels wat sy filosofiestudie aangewakker het, verklaar hy: “Maar tog het daar iets geskort. In die stilligheid het daar in my jong gemoed as student vrae ontstaan. Die herinnering aan wat ek in Dealesville ervaar het,12 en iets van my pa se sin van reg en regverdigheid, het my telkens onrustig laat voel toe dit duidelik word dat my dosente in die wysbegeerte die apartheidsbeleid in die land gebruik (misbruik?) het om dié beleid te ondersteun. Hulle was selfs positief teenoor die regering wat in daardie jare die bruin bevolking van die kieserslys verwyder het deur politieke manipulasie.”13 Toe reeds het sy duidelike roeping om hom as ’n praktiese sendeling te bekwaam swaarder geweeg as die studie van abstrakte beginsels, en het hy in dié gees sy teologiestudie by Stellenbosch aangepak.14 Met ’n voorliefde vir sistematiese teologie het hy homself nogtans voorberei op verdere studie in die Sendingwetenskap, gesterk deur ’n preek deur besoekende professor Herman Bavinck, hoogleraar aan die VU in Sendingwetenskap, oor die teks in Sagaria 4:7: “Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel sal jy tot ’n gelykte word!”
Op Stellenbosch aangekom, verskyn daar ’n boek deur Bennie Keet (sy dogmatiek-professor), Suid-Afrika – waarheen? Durand skryf in Protesstem terugskouend oor hierdie boek: “... wat ek later besef het een van die dinge was wat die sluimerende koersverandering in my lewe laat opleef het. Die onrus in my gemoed wat ek in Bloemfontein ervaar het, kon ek nou duideliker vir myself uitspel. Keet se boek was ’n noodkreet teen die apartheidspolitiek van die regering. Skielik begin daar ook geleidelik in my ’n reaksie kom teen die idee van ewige en onveranderlike beginsels waarmee ek na die Kweekskool gekom het. Een van hierdie beginsels was apartheid as God se wil vir ’n land met ’n verskeidenheid volke.”15 Dit het by Durand begin daag dat dieper as diepsinnige analises en teorieë was die historiese en konkrete implikasies van idees!
1.2 Wending: ’n doktorale studie en ’n ekumeniese konsultasie (Cottesloe)
Die wending in Durand se fokus en wyse van teologiseer het in 1961, pas ná voltooiing van sy doktorale studie (“Una sancta catholica in sendingperspektief”), vir hom duidelik geword toe hy skielik gekonfronteer is met die direkte konteks vir sy teologie. Hy het naamlik teruggekeer na ’n land van rassisme, verdeeldheid en onreg. Ná die politieke opstande en skietery by Sharpeville in Maart 1960, waar vele protesterende mense gesterf het, moes hy besef binne welke konteks daar oor “een, heilige algemene Christelike kerk” gepraat en gedoen moet word! Al was hy onseker oor die direkte relevansie van sy studie, het hy in sy proefskrif wel deeglik omgegaan met dit wat hom reeds as Vrystaatse student gehinder het. “Tog was die tema belangrik omdat apartheid in Suid-Afrika op baie kenmerkende manier in ’n verdeelde NG Kerk gestalte gekry het. In my proefskrif het ek dan ook baie duidelik gemaak dat ’n kerk wat op rassegrondslag verdeeld was, nie die toets van die Christelike evangelie kan deurstaan nie. Dat verskillende kerke binne die NG Kerk-familie een kerk moes word, was een van die grondstellings in die proefskrif. Dit was die eerste sodanige pleidooi wat van binne die NG Kerk opgegaan het; Willie Jonker sou later in ’n publikasie in Suid-Afrika hierdie pleidooi met groot oortuiging bevestig.”16
Op 27 Januarie 1961 het Durand sy proefskrif (wat met Nederlandse welwillendheid gedruk en uitgegee is deur Uitgeverij Ten Have) in die openbaar in die Woestduincentrum in Amsterdam verdedig, met as “paranimfe” (akademiese helpers) sy vriende Jaap Furstenberg en Bethel Müller, en as “opponent” sy vriend Hennie Rossouw.17 Net voor sy vertrek terug na Suid-Afrika, om hopelik ’n geskikte sendingpos te kry, het daar ’n kritiese publikasie in Suid-Afrika verskyn, naamlik Vertraagde aksie,18 waarin verskeie akademici hulle ontevredenheid met die verloop van sake in die land en die trae pas van verandering uitgespreek het.
Dit was ook in die tyd ná Sharpeville wat die sg Cottesloe-beraad plaasgevind het; ’n kerklike konferensie onder toesig van die Wêreldraad van Kerke, by Cottesloe naby Johannesburg, om die krisistoestande in Suid-Afrika binne ekumeniese verband te bespreek. Tot Durand se groot verbasing het sy proefskrif skielik direkte relevansie vir die debatte ná Cottesloe ontwikkel en het dit die status van ’n kontensieuse politieke dokument gekry. Die Cottesloe-uitsprake, met sanksie van die hele ekumeniese wêreld, het ’n beroering in die land se politieke diskoers veroorsaak. Nie alleen is die hele beleid van apartheid gekritiseer nie, maar is daar ook nadruk gelê op die rol van die kerk, spesifiek op die eenheid van die kerk. Afgevaardigdes van die NG Kerk het onder heftige kritiek deurgeloop en vele van hulle het vining teruggekrabbel, met die ligtende uitsondering van Beyers Naudé. Op daardie stadium was hy nog moderator van die Transvaalse NG Kerk, maar spoedig sou hy afstand doen van sy Broederbond-status en kerklike posisie en hom volledig wy aan ’n alternatiewe, regverdige staatsbedeling in Suid-Afrika, via die Christelike Instituut.
Op Stellenbosch was daar egter ook ’n nuwe kritiese reaksie op apartheid onder aanvoering van Kolie Kotzé, destyds Durand se professor in Sendingwetenskap. Hy het ’n eksemplaar van Durand se proefskrif bekom en wou dit op die gebruiklike openingskonferensie van die Kweekskool, in Februarie 1961, benut om die Cottesloe-besluite in ’n positiewe lig te bespreek. Eerste minister Verwoerd het egter via sy gesant in Stellenbosch, Kosie Gericke (visekanselier en raadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch), ingegryp en het die voorgestelde agenda (“Cottesloe”) vir die teologiese dag verbied. Kolie Kotzé en ander kollegas reël toe gewoon ’n alternatiewe teologiese dag by die Murraysaal in die ou CSV-gebou, en daar hou hy toe Durand se proefskrif omhoog met die woorde: “Hierdie proefskrif bevestig elke woord wat in die Cottesloe-verklaring opgeneem is.”19
Via hierdie konkrete stukkie geskiedenis moes Durand vir eens en vir altyd begryp: Teologie wat, soos God self, “ingaan in die geskiedenis”, in die konkrete kontekste van die waarheid, en in al die gestaltes van die lewe, sal relevant wees, en daarmee saam, kontroversieel.
1.3 Geboorte van ’n sendeling-teoloog: Sending as allesomvattende roeping (Cala)
Die volgende episode in Durand se verhaal, naamlik sy aanstelling as sendeling te Cala, het tweërlei teologiese insigte pertinent bevestig: Om saam met God in die konkrete geskiedenis in te beweeg, vra ’n prys, maar daarmee saam bring dit bevryding en verrassende, teenintuïtiewe nuwe moontlikhede na vore.
Die opgewondenheid van Durand om as sendeling deur die Sendingkantoor van die NG Kerk aangestel te word in die swart gebiede van Port Elizabeth, New Brighton en Kwazakhele, verander oornag na ’n telefoonoproep van die binnelandse sendingsekretaris, Ds Els. Apologeties deel hy vir Durand mee dat “Port Elizabeth hom nie meer wil hê nie”. Soos Durand dit self stel: “Onbewus daarvan dat oom Kolie se woorde al kuslangs Port Elizabeth bereik het, het ons op die trein geklim na Villiers.”20 Daar was darem ook die troosprys van Cala: “As ek gewillig is, kan hulle my na Cala in die Transkei stuur, dit is die maklikste manier om ’n ongemaklike situasie op te los.” So begin Durand se sendingsmissie dus nie in die groot stad nie, maar op ’n klein, afgesonderde plekkie in die noordwestelike hoek van die Transkei, “die vreemde wêreld van die amaqaba (die rooigeverfde mense) wie se taal jy nie ken nie”.21 En so, onder die leiding van die Gees, leer Durand gedurende daardie eerste vyf jaar die nederige eerste treë van suksesvolle sending: om by die mense te wees, om hulle taal te leer en te praat. Dit doen hy met toewyding met die hulp van Koos Oosthuizen se boek Leer self Xhosa, en die hulp van die legende, Pine Pienaar. Soos David Bosch en sy vrou Annemie op Madwaleni en De Coligny, en Dirk Odendaal en sy vrou Marie op De Coligny, leer hulle ook die subtiele apartheidsmentaliteit ken wat in vele sendingwerkopsette steeds aanwesig was.
Die rustige atmosfeer van Cala het dit wel vir Durand moontlik gemaak om te besin oor waarmee hy eintlik besig was. Die eerste publikasie uit sy tikmasjien, Christelike sending – allesomvattende roeping, was die vrug van Cala. ’n Ander publikasie, Durand se weghol-sukses wat in duisende eksemplare in vele ander swart tale vertaal is, is ook op Cala begin: Lisisibane izwi lakho (U Woord is ’n lamp) – ’n praktiese katkisasieboek met trefkrag.
Ná vele omswerwinge ontvang Durand uiteindelik die kratte met sy besittings en boeke uit Nederland, maar dit is duidelik dat van die kratte oopgemaak en geïnspekteer was – die eerste aanduidinge dat die Suid-Afrikaanse Veiligheidsdienste nie slaap nie, selfs in ’n plekkie soos Cala. Wat Durand verder aan in sy lewe onder hierdie wakende oog van die staat sou leer – in Kwazakhele, Port Elizabeth, maar selfs as viserektor van UWK – is dat daar haas geen privaatheid gewaarborg is vir mense wat as “vyande van die staat” gebrandmerk is nie – vele van hulle mense met die hoogste integriteit, soos Beyers Naudé en Desmond Tutu, en ja, ook Jaap Durand. ’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie.
1.4 Die Suid-Afrikaanse konteks en agenda: Swartman, stad en toekoms (Kwazakhele)
Ná vyf jaar op Cala gebeur dit skielik dat Durand direk deur ’n nuutgestigte gemeente, Kwazakhele, wat wonder bo wonder met goedkeuring van die PE Sendingraad van die New Brighton-gemeente afgestig het, beroep word om ’n stedelike bediening te begin. Die Durands se eerste reaksie was om te lag oor die ironie van die hele situasie, maar gou het hulle besef “dit is nie die soort spel wat die Here speel nie”. Jeremia 10:23, wat hulle pas die vorige aand saam gelees het, het net té duidelik tot hulle situasie gespreek: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” En so is hulle in hulle Volkswagen Kewer net buite Port Elizabeth deur ’n kerklike afvaardiging ontvang in hulle nuwe gemeente in die stad. Daar was wel weer gerugte dat sekere ringe teen die aanstelling wou appelleer, op grond van wat sommiges ingelees het in Christelike sending – allesomvattende roeping, naamlik ’n pleidooi vir “een man een stem”. Dit het duidelik geword dat hierdie negatiwiteit veral saamgehang het met die feit dat Durand bekendgestaan het as ’n aanhanger van Beyers Naudé, sy Christelike Instituut en die publikasie Pro Veritate (Ter wille van die waarheid). Dit was veral na aanleiding van ’n vergadering wat deur Durand, David Bosch, Dirk Odendaal, Pine Pienaar en ander ondersteuners van Naudé se inisiatiewe op Idutywa (’n plekkie tussen Umtata en Oos-Londen) bygewoon is. Dit was duidelik dat hulle heeltyd deur Veiligheidspolisie vanuit ’n motor buite die hotel dopgehou is en dat hulle motors se registrasienommers ook afgeskryf is. Durand vertel van ’n hele aantal sulke aanduidings dat hy gedurig fyn dopgehou is, byvoorbeeld selfs deur manne van die “Mannebond” en kerkraadslede. Met verloop van tyd het hy ’n soort realistiese nonchalance ontwikkel rondom sodanige “gemerktheid”, en gewoon sy gang gegaan en gedoen wat hy moes.
Wat duidelik geword het, binne die konteks van sy nuwe stadsbediening, is dat die stad die realiteite van mawethu (“ons mense”) veel dringender onder ’n ware sendeling se neus gevryf het as in die pastorale orde van ’n sendingstasie op die platteland: die swartman se werklike nood in die stad. “Ek het hulle liefgekry. Jy kon nie so naby aan hulle leef en nie aangegryp word deur die ontredderde en haglike toestande waarin hulle leef nie. Maar te midde van hierdie byna bomenslike Umwelt van moeite en swaarkry het hulle tog met onvergelykbare adel geleef, en juis daarom was dit so onmenslik.”22 Kwazakhele, die swart gemeente in die stad, was “die gemeente sonder grense”. Dít was die verteenwoordiging van die “gemeente” van die Here in die wêreld!
Wat uit hierdie diepe sendinginsig gebore is, was weer eens ’n boek waarin Durand sy eie sosiologiese en analitiese vermoëns moes ontwikkel tot so ’n mate dat dit met verwondering, byna jaloesie, aangegryp is deur verligte politici en sosioloë. Hulle was verbaas dat ’n teoloog die een was wat die onmoontlike effek van die versnelling van nywerheidsuitbreiding ná die Tweede Wêreldoorlog op die swartman, wat boonop vasgevang was in ’n politieke bestel wat duisende mense in woonbuurte rondom produksiepunte vasgedruk het in mensonterende omstandighede, so grafies na vore kon bring. Kortom, Swartman, stad en toekoms bly waarskynlik steeds die mees invloedryke geskrif van Durand, met die vergelykbare emosionele impak van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Ná so ’n gedetailleerde studie oor die effekte van ’n sogenaamde welmenende apartheidsteologie, in lyn met die studieprojekte van die Christelike Instituut, SPRO-CAS I en II,23 was die gebreke van ’n abstrakte teologie wat nie kans gesien het of die wil en vermoë gehad het om “in die geskiedenis” in te gaan nie, vir enigiemand met oop oë glashelder.
Durand het by Jeremia geleer dat ’n profeet nie die een is wat populêre slagspreuke, soos “Die HERE se tempel! Die HERE se tempel!” of “Vrede! Vrede!”24 skreeu nie, maar in wie se mond ’n vuur van waarheid brand wat teen alle menslike waan verkondig moet word; ’n waarheid wat die valse vroomheid en gerustheid ontmasker.25
1.5 Die noodsaak van ’n teologie en kerk van eenheid, versoening en geregtigheid (Belhar)
Durand se naam en sy werk as teoloog is ten nouste verbind met die totstandkoming van die Belydenis van Belhar. Hieroor is daar reeds baie geskryf: oor die ontstaan, die proses, die teologiese motivering, die impak op kerk en samelewing, die ekumeniese effek in vele wêrelddele, die toepassing op veel meer aspekte van die lewe as slegs die politiese of die kerklike, en die etiese uitstraling en toepassing op terreine so divers as gender en seksualiteit en ekologie van die belydenis wat in Belhar as ’n belydenis van die destydse NG Sendingkerk aanvaar is.26 Dit is ’n onbegonne taak om in hierdie kort bestek en oor hierdie enorme impakvolle onderwerp veel meer te doen as om baie kortliks op die volgende voor die hand liggende aspekte rondom Durand se bydrae tot Belhar in te gaan: “sy eie storie” rondom Belhar, soos saamgevat in die hoofstuk “Die lang pad na Belhar” in Protesstem,27 en ’n kort oorsig van wat hy self oor Belhar gesê en geskryf het.28
In “Die lang pad na Belhar” lê Durand sterk klem op die hele proses wat Belhar voorafgegaan het, met ander woorde weer eens die kontekstueel-historiese ingaan van die waarheid van eenheid-versoening-geregtigheid in die konkrete geskiedenis van die land en die mense waarvoor die belydenis bedoel is. Die eerste punt wat hy maak is dat “’n storie wat tot op nasionale en selfs internasionale vlak ’n gespreks- en debatspunt geword het, het nie altyd ’n opspraakwekkende beginpunt nie.”29 Die begin van die “storie” gaan vir hom persoonlik terug tot die onbehae wat hy reeds in sy studentedae gehad het met die apartheidsbeleid van die destydse nasionale regering; ’n onbehae wat versterk is deur impulse wat van Bennie Keet uitgegaan het, en hom by die vraag uitgebring het: Hoe kan ’n mens Christene oortuig dat apartheid wel ten diepste en inherent verkeerd is, en nie maar net ’n kwessie van “toepassing” nie? Sy eie persoonlike ervaring op die sendingveld, eers op die platteland (Cala) en toe in die groot stad (Kwzakhele), van die onmenslike situasie waarin swart mense onder apartheid moes oorleef, het hom by die sosiologiese en politieke insigte van Swartman, stad en toekoms uitgebring.30 Terselfdertyd het hy via sy tweede proefskrif, Heilsgeskiedenis en die dialektiek van syn en denke, wat in 1973 onder FJM Potgieter, met begeleiding van Willie Jonker, voltooi is, die onhistoriese tipe hermeneutiek en eksegese wat deur die meeste Afrikaanse teoloë gebruik is om apartheid te regverdig, ontmasker.31 Dat dié teologiese deurbraak nog veels te vroeg was om enige beduidende rol in die NG Kerk se eie teologiese omgang met apartheid te speel, het pynlik duidelik geword by die 1974-Sinode van die NG Kerk. Daar het ’n verslag wat Durand se insigte rondom die haglike toestande van die swartman in die stad, op aandrang van ds Attie van Wyk (skriba van die Kuratorium van die Teologiese Kweekskool te Stellenbosch)32 ingesluit het, onder geweldige kritiek gesneuwel. Durand se gedeelte van die groter verslag is uiteindelik op ’n uiters kras manier heeltemaal deur die Sinode geïgnoreer. Trouens, dit is uit die verslag geskrap as “Marxistiese analise van die situasie”, sonder dat Durand ’n kans gegun is om iets daaroor te sê! Dieselfde Sinode het egter die powere, afgewaterde verslag, wat as Ras, volk en nasie in terme van die Skrif uitgegee is – “’n katastrofe vir die NG Kerk en sy beeld in die ekumeniese wêreld”33 – aanvaar tot ontsteltenis van almal wat hoë verwagtinge gehad het vir ’n deurbraak in die ideologiese denke van die Afrikanerkerk.
Durand se teleurstelling rondom dié krenkende optrede van stiksiende leiers is in ’n mate getemper deur die feit dat hy ’n uitnodiging van USSALEP (United States-South African Leader Exchange Program) ontvang het vir ’n drie-maande lesingtoer na veral swart Amerikaanse universiteite en gesprekke met teoloë uit daardie kringe. Die oorweldigende ervaring van welwillendheid het ingesluit ’n besoek aan die Internasionale Teologiese Sentrum in Atlanta (waar hy ook hartlik ontvang is deur die weduwee van Martin Luther King jr), die Yale Divinity School (waar hy meegedeel is dat sy Afrikanermense ná die val van apartheid die swart mense van die land waarskynlik beter gesind sal wees as die kritiserende liberale Engelse), die Universiteit van Howard in Washington (waar hy as die eerste wit besoeker gevra is om ’n biduur te lei), en die Colgate Rochester School (waar die bekende swart teoloog Gayraud Wilmore hom warm in die snerpende koue ontvang het). Hierdie internasionale blootstelling van einde 1975 is voortgesit met ’n uitnodiging as gasprofessor aan die Universiteite van Utrecht en Leiden, in Nederland, aan die einde van 1976. Gedurende hierdie lesings en gesprekke met voorste gereformeerde teoloë soos Hendrikus Berkhof het hy besef hoe slim die waarheid agter apartheid deur die NG-teologie verdoesel is en hoe diep daardie waarheid eintlik lê; die ware antwoord op die vraag: Wat is teologies verkeerd met apartheid?
Terug by UWK, waar die nagevolge van die Soweto-jeugopstande van 1976 en Steve Biko se “swart bewussyn”-denke radikaal deurgewerk het, het Durand dit as sy roeping as teoloog en dosent gesien om deur te boor tot die kern van die sonde van apartheid. In sy klasse het hy in 1977 ernstig met die studente omgegaan met nuwe literatuur oor versoening, byvoorbeeld ’n stuk wat uitgegee is deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en Herman Wiersinga se opsienbarende nuwe werk oor versoening: Verzoening als verandering. Sy uitdaging aan hulle was om vas te stel of daar nog ánderkant die morele verkeerdheid van en die sosiale onreg verbonde aan apartheid34 ’n eg teologiese rede was waarom dit verwerp moet word. Waarom, byvoorbeeld, was die NG Kerk so onwillig om werklik één te word met die Sendingkerk? Dit was in die klasgesprekke rondom die versoening van alle mense in Christus dat die teologiese insig soos ’n bliksemslag deurgebreek het: apartheid gaan uit van die oortuiging, die aanvaarding, dat mense eerder ‘‘apart” gehou moet word omdat die versoening in Christus nie opgewasse kan wees teen die menslike verskille wat apartheid ten alle koste wou verskans nie. Hierdie oortuiging was egter ’n abstrakte versoeningsidee wat uitgegroei het tot ’n harde ideologie; ’n ideologie in stryd met die konkrete versoening in Christus wat mense werklik tot eenheid bring. Die “aha”-belewing wat onder daardie besonder knap groepie studente (insluitende latere leiers soos Russel Botman, Leonardo Appies en Nico Botha) posgevat het, was onblusbaar. Hier was die boodskap, die belydenis, wat apartheid teologies ontmasker, en wat in die kern van die kerkstryd om eenheid staan!
Dít was dus volgens Durand die ware ontstaansverhaal van Belhar; dit was ’n geleidelike proses van bewuswording van die Christelike waarheid van die versoening tussen mense en die uiteindelike stroomversnelling wat daaromheen plaasgevind het tydens die Sinode van Belhar in 1978. Die studente self het ’n beskrywingspunt opgestel en twee erkende “konserwatiewe” (maar terselfdertyd gewaardeerde) teoloë, Sakkie Mentor en Jan Metler, is die oggend voor die sinodesitting in Durand se klein kantoortjie by die Teologiese Skool te UWK oortuig om hierdie nuwe belydenis-pad vir die Sendingkerk te loods. Só is die idee van ’n nuwe belydenis oor die eenheid, versoening en geregtigheid in die kerk van Jesus Christus dus gebore; ’n proses wat by die volgende Sinode, van 1982, gelei het tot ’n besluit om so ’n belydenis op te stel en te aanvaar.35
Belhar is nie slegs op die Sinode van Belhar as belydenis aanvaar nie, maar terselfdertyd is daar ’n status confessionis (’n staat van belydenis) aangekondig. Belhar sou voortaan deel wees van die belydenis van lidmate en dus ook deel vorm van enige verdere gesprekke oor kerkeenheid.36 Die feit dat Allan Boesak as verteenwoordiger van die NG Sendingkerk by die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottawa in 1982 tot voorsitter verkies is en die idee van apartheid as kettery dáár beslag gekry het en ook die agtergrond en konteks vir die Belydenis van Belhar gevorm het, is deel van die ekumeniese reikwydte van dinge wat in ’n klein teologieklas ernstig opgeneem word.37
1.6 UWK as akademiese strydterrein (“site of struggle”) teen staatsmag en ideologie
Toe Durand in 1980 die eerste viserektor van UWK geword het, het hy met die Sendingkerk gereël dat hy sy status sou behou in ruil daarvoor dat hy steeds een klas per week sou gee en sou voortgaan met drie doktorale studente se studieleiding (waarvan ek een was). Sedert sy aanstelling as dosent in sistematiese teologie by UWK in 1973, ná die voltooiing van sy tweede doktorsgraad, het Durand vanweë sy bekwaamheid op vele terreine en die vertroue wat hy in uiters moeilike en gespanne omstandighede ingeboesem het,38 vining opgang gemaak binne die fakulteit, maar ook binne die bestuur van die universiteit. Gedurende die jare voor Soweto 1976 is daar vele nuwe poste aan die universiteit geskep, wat toe ook besondere groei getoon het.39 Gedurende daardie eerste jare aan die Fakulteit van Teologie het Durand besef hoeveel wantroue daar teenoor vele van die wit dosente geheers het, en ook hoekom dit die geval was: wit beheer, wit rassisme, wit meerderwaardigheid. Spoedig het hy en kollega Bernard Lategan besef dat die studentestakings wat in daardie tyd dikwels van stapel gestuur is, veral gedraai het rondom die reaksie teen “wit bestuur”. Met behulp van Ds Dawid Botha, toe moderator van die NG Sendingkerk (ook ’n witman wat vertróú kon word),40 het hulle in kontak gebly met studenteleiers. Daardie vertroue wat opgebou is, was van beslissende betekenis in die uiters gespanne jare tussen 1976 en 1980 – die jaar wat Durand as eerste viserektor aangestel is, eers onder Richard van der Ross en toe onder die dinamiese en charismatiese Jakes Gerwel.
Teologiestudente het ’n beslissende leiersrol gespeel in die tyd ná Soweto. Leonardo Appies as Studenteraadsvoorsitter en Russel Botman as skakelbeampte was in aanhouding en Pieter Gelderbloem is toegesluit op die dag wat hy sy proefpreek moes lewer! In Augustus 1976 het die Onlustepolisie vir die eerste keer die kampus binnegedring en op studente geskiet, nie alleen met rubberkoeëls nie! Durand onthou nog hoe sy eerste vrou, Randu, wat as bibliotekaresse in die teologiebiblioteek gewerk het, inderhaas studente agter die rakke versteek het. Persoonlik onthou ek hoe gespanne die situasie op Stellenbosch was, waar ons gewoon het. Toe ons van die UWK-studente tuis onthaal het, ook as teken van solidariteit, moes hulle omtrent koes in die motors waarmee hulle gekom het om nie gestop te word deur gewapende manne op die straathoeke nie!
Deur al hierdie stryde heen, wat in die tagtigerjare slegs hewiger geword het, het Durand in 1978 dekaan van Teologie geword en is hy in 1980 as eerste viserektor aangestel. In die dae toe Jakes Gerwel nog ’n gewone dosent was, is hy en ses ander personeellede in hegtenis geneem, en het Durand ’n skrywe namens 218 personeellede wat die brief geteken het aan die destydse eerste minister, PW Botha, gerig – sonder sukses. Durand vertel die verhaal van die dekade 1980–1990 in grafiese detail in die hoofstuk “Die struggle-jare op die kampus van UWK” – te veel detail om hier te hanteer!41
In die een meeluister-episode blyk dit uiteindelik dat die hoof van kampusveiligheid, ’n sekere mnr Husselman, met toegang tot alle lokale op kampus, direk betrokke was by die installering van die meeluister-apparaat in Durand se viserektorskantoor. In die ander episode, waarin ’n omstrede buitelandse ekumeniese figuur ’n afspraak met Durand en Willie Jonker by die Kweekskool op Stellenbosch gemaak het, blyk dit dat niemand anders nie as Kosie Gericke as informant vir die Veiligheidspolisie gebruik is!
Uit die tyd van “hek toe!”, die beroemde oproep tot aksie op kampus, veral as die Onlustepolisie op pad was, vertel Durand ’n interessante staaltjie oor ’n gesprek in Pretoria met die Minister van Polisie, Le Grange, die Minister van Justisie, Kobie Coetzee, en die Minister van Onderwys, FW de Klerk. Die kwessie was waarom die universiteitsbestuur nie daadkragtig optree en die polisie inroep ten tyde van opstande nie. Durand skryf oor die verloop van hierdie gesprek soos volg: “Met al die argumente tot my beskikking verduidelik ek dat, as hulle wil hê ons moet as universiteitsbestuur anders optree as wat ons doen, ek voorstel dat hy wat De Klerk is, die universiteit summier sluit vir die volgende vyf jaar en dit dan aan die bruin mense van Suid-Afrika verduidelik (wel wetend dat die nasionale regering juis besig was om hard na die bruin bevolking se steun te vry). Dis toe dat Le Grange aansluit by die gesprek en vir my sê dit sal nie nodig wees om die universiteit te sluit as ek net sy hulp wil inroep nie. Ek was vir ’n oomblik stomgeslaan oor die stiksienigheid van sy voorstel, maar voordat ek kon reageer, sê De Klerk: ‘Minister Le Grange, ek glo nie prof Durand sal jou hulp waardeer nie.’ De Klerk het iets begryp van die kompleksiteit van die situasie waarin ons ons bevind het.”42
Durand se eie weergawe van die dag toe hy die studente op die laaste nippertjie omgepraat het om om te draai en konfrontasie met die Onlustepolisie in Modderdamweg, buite die kampus, te vermy (dieselfde dag van die beroemde foto in die Cape Times), is een van interessante onderbeklemtoning. Hy vertel dat hy die kolonel beloof het dat hy die studente sal ompraat om konfrontasie te vermy: “So gesê, so gedaan: Terug na die studente en die studenteleiers en wonder bo wonder begin hulle terugbeweeg – deur die hek kampus toe is ek soos ’n skaaphond al agter ’n klomp skape aan. Toe almal mooi terug op die kampusterrein is, draai ek om: ‘Mission accomplished.’ Dit is met dié dat daar skote klap en ek tot my verbasing en woede besef dat ek self in die skoot is toe ’n rubberkoeël woer-woer langs my gesig verbyvlieg … My verontwaardiging het op daardie oomblik nie perke geken nie. Ek stap oor die pad direk op die polisie af op soek na die kolonel om te vra wat de duiwel nou aangaan dat hulle op die studente skiet terwyl hulle op die kampusterrein is en ek gedoen het wat ons ooreengekom het.”43 Durand het die volgende dag die berig met die foto van ’n vriendin ontvang, en het nogal gedink die opskrif was in die kol: “Professor Durand walks in anger towards police firing rubber bullets at students grouped within the campus yesterday.” Veral die “in anger” was volgens hom uiters gepas!
In Augustus 1986 was daar nog ’n konfrontasie, weer eens rondom studente in aanhouding. Ongeveer 2000 studente het vergader om in ’n optog te betoog; dinge het sleg gelyk, want die studente was uiters gefrustreerd. Daar word toe op die ingewing van die oomblik besluit dat die rektor en professore en personeel saam sal marsjeer! Selfs al moes die protesoptog wel uiteindelik omdraai, was daar die jubelende gevoel van oorwinning, van die mag van vreedsame solidariteit teen die mag van staatsgeweld en die mag van ideologie.
Durand se moed en wysheid was in vele gevalle die draende krag agter sodanige optredes en proteste. Soms het hy besin oor die vraag waarom ’n mens so teen alle rede in sou aanhou met hierdie stryd, hierdie “struggle”. Hy noem enkele oorweginge: Eerstens erken hy dat trots, selftrots, miskien té ’n groot rol gespeel het – die uitdaging om te volhard met wat reg en gepas is vir die omstandighede. Tweedens het hy nie kans gesien om om te swaai en vanaf ’n gegewe oomblik eerder vir bevryding te werk “binne die dominante wit gemeenskap” nie. Dit sou neerkom op verraad teenoor die kamerade en alle medestanders by die universiteit wat hulle lojaliteit daadwerklik keer op keer betoon het. Maar daar was, derdens, die oorweging van geregtigheid: “Binne-in my was daar ’n diep gevoel van onbehaaglikheid, selfs van woede, oor die onreg wat in ons land gepleeg word, en in UWK het ek ’n instansie gesien wat, ten spyte van al sy probleme, foute en onbeholpenhede, een van die bes moontlike agente van verandering kon wees.”44
1.7 Vredesgesant en bemiddelaar vir ’n nuwe toekomspolitiek (Dakar en verder)
In sy besinning oor die laaste jare by UWK, tot en met sy aftrede in 1994, wonder Durand of hierdie 14 jaar in ’n top administratiewe pos nie miskien as “verlore jare” gesien kan word nie – ten minste vir die teologie en die sending wat so duidelik sy vroeëre roeping was! Hy merk egter onmiddellik byna lakonies op: “Tog sou ek ondankbaar wees as ek nie die rol wat ek gegun is om te speel as ’n soort ‘tussenganger’ tussen die universiteit en die owerhede in berekening bring nie. Hierdie rol het nie net behels dat ek soms met heftige protes en kritiek teenoor die owerhede moes optree nie,45 maar dat ek ook die goeie wat daar was, kon bemiddel.”46 In dié verband noem hy heel nederig sy bydrae tot groot projekte “wat in sy skoot geval het”, soos die besonder mooi en argitektonies uitmuntende kampus wat hy kon help skep; iets wat nou nie soseer sending in die eng sin van die word is nie, maar wat wel ’n sekere trots en menswaardigheid help skep het vir mense wie se menswaardigheid op talle terreine ontneem is.47 Hy voeg by dat hy steeds verwonderd staan oor die genade wat hom gegun is om ’n beduidende rol in die ontstaan van die Belydenis van Belhar te speel, maar ook om tog enkele boeke en ’n hele aantal teologiese artikels te publiseer. Dat Durand in hierdie besige, maar ook donker tyd (met die afsterf van sy vrou Randu, ná ’n uitmergelende periode van sewe jaar se stryd teen kanker), die teologiese bydrae kon vermag wat hy terugskouend gelewer het, is om die minste te sê merkwaardig! In die volgende kort afdeling sal ek probeer aantoon dat Durand ’n kernrol gespeel het in die totstandkoming van ’n spesifieke modus van histories-kontekstuele teologie, in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd, binne ekumeniese verband.
In die laaste twee hoofstukke van Protesstem vertel hy slegs kortliks van “Dakar en ander onvergeetlike oomblikke”, insluitende die rol wat hy in vredespolitiek ná die vrylating van Mandela gespeel het. Hy noem vyf internasionale besoeke wat sy visie en sy platform in die wêreld verbreed het. ’n Besoek aan Lusaka in 1986 om die ANC-leiers te ontmoet, was eintlik slegs ’n voorspel vir die beroemd-berugte Dakar-besoek die volgende jaar. Op ’n besoek aan Duitsland in 1988 kon Durand en Jakes Gerwel, toe reeds rektor van UWK, selfs die Duitse president ontmoet, en in 1990 kon hy ’n lesing oor die verhouding tussen Christelike geloof en Marxisme naby die Kremlin lewer. In 1994 kon hy en Dirkie Smit deelneem aan en lesings lewer by ’n groot konferensie oor die Joodse slagting in Nazi-Duitsland, gereël deur die Von Humboldt-universiteit in Berlyn. Dit was egter “Dakar 1987” wat vir hom bly uitstaan, en hy deel heelwat staaltjies oor die kameraderie wat ontstaan het tussen progressiewe Afrikaners (soos Van Zyl Slabbert, Theuns Eloff en Lourens du Plessis), en die ANC-kamerade, veral dan Thabo Mbeki, wat ’n groot indruk op almal gemaak het. Hy benadruk dat, ten spyte van geweldige opposisie en afkrakery van die regering se kant, hierdie gesprekke die weg gebaan het vir die relatief vreedsame oorgang wat Suid-Afrika uiteindelik kon beleef – ’n soort wonderwerk.
Met al sy ervaring, ook van hierdie tipe baanbrekerswerk in die rigting van ’n nuwe Suid-Afrika, is dit glad nie verbasend nie dat Durand ’n prominente rol gespeel het in die totstandkoming van ’n Nasionale Vredeskomitee, met provinsiale subkomitees om ’n gewelddadige politieke oorgang te vermy. Hy was dan ook verkies as voorsitter van die Vredeskomitee van die Wes-Kaap. Dit was ook vir Durand self ’n tyd van oorgange en nuwe ervarings. Hy is byvoorbeeld kort tevore getroud met ’n ou vriendin, Sonja, die weduwee van ’n vriend uit sy studentedae, Christof Hanekom, met die bykomende wins van ’n groot gesin van kinders en kleinkinders, iets wat vir beide veel vreugde en geluk verskaf het.
Die tyd van “vrede maak en konflik oplos” was intens, maar ook vervullend en belangrik. Daar was heelwat suksesse in die Wes-Kaap, maar die groot problem was steeds die geweldige en gewelddadige Inkatha-ANC-konflik, veral in KwaZulu-Natal, tesame met ’n byna onnoembare moontlikheid van ’n regse staatsgreep vanuit die Suid-Afrikaanse weermag. En dit was presies in die proaktiewe afweer van hierdie afgryslike moontlikheid waarin Durand ook weer, uit hoofde van sy nuwe amp as vredesgesant maar ook vanweë sy wye kontakte, ’n belangrike bemiddelende rol gespeel het. Die verhaal, ook lewendig vertel deur Carel Anthonissen, wat ’n aandeel gehad het in die plot,48 lees soos iets uit ’n Deon Meyer-boek. Generaal Constand Viljoen, uitgeslape hoof van die weermag, wie se naam gekoppel was aan ’n moontlike staatsgreep, het ’n tweelingbroer wat toevallig ook uitgenooi is na Dakar. Hy was bewus van die enorme druk wat op sy broer, die generaal, uitgeoefen is vanuit regse Afrikanerkringe om inderdaad ’n aktiewe rol in so ’n poging tot die ontsporing van die vredesproses en die toekoms van die demokrasie wat daarmee saamgehang het, te speel. ’n Dringende plan moes beraam word: Iemand wat sterk geglo het in ’n afsonderlike Afrikanerstaat, Chris Jooste, voorheen direkteur van SABRA, die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede, moes inderhaas gekontak word om met Generaal Viljoen te praat oor die moontlikhede om so ’n staat in die Grondwet in te skryf. Dít, so is geglo, was min of meer die enigste waarborg om vrede op die verdere onderhandelingspad te verseker. Die reddingsplan, wat onder groot druk aanmekaargesit is, het dus só daar uitgesien. Durand, wat goed Xhosa-sprekend is, en die logika van die plan kon vertolk, sou met Joe Nhlanhla, hoof van die ANC se intelligensiediens, ’n afspraak kry en hopelik waarborge kry dat ’n Afrikanerstaat deel kon vorm van die onderhandelinge. Durand sou Kader Asmal, senior lid van die ANC, maar terselfdertyd ook lid van die UWK-personeel, nader om as tussenganger op te tree vir so ’n ontmoeting. Braam Viljoen sou dan afkom Kaap toe om lede van die NG Kerk-moderamen te ontmoet om ook hulle seën op hierdie komplekse “vredesplan” te kry, en dan sou Durand hopelik deur Carel Anthonissen, predikant op Stellenbosch en sy betroubare vriend, kontak kon opneem met sy skoonpa, Chris Jooste. Carel was immers getroud met Chris Jooste se dogter, Christine. Daarvoor sou hulle Vredendal toe moes ry, hopelik ná ’n afspraak gereël is. So gesê, so gedaan – ’n byna ondenkbare dramaplot wat tog goed uitgewerk het! Oor ’n koppie koffie het Chris Jooste by die aanhoor van die “amptelike waarborge” van die ANC rondom ’n moontlike Afrikanerstaat sy vuis omhoog gelig en gesê: “As julle dit vir ons kan regkry!” Wat ons wel verder ook weet, is dat Generaal Viljoen besluit het om nie die weg van militêre konfrontasie te loop nie.49
Dit was egter nog nie die einde van Durand se vredeswerk nie. Die Universiteit Stellenbosch, wat in die beginjare van die nuwe demokrasie in Suid-Afrika – soos alle gevestigde universiteite in die land – uitdagende nuwe agendas moes aanpak en enorme druk en potensiële interne en eksterne konflik moes hanteer, het vir Durand genader om vir ’n kort maar belangrike periode as ombudsman op te tree – ’n rol wat hy eweneens met groot onderskeiding vervul het.
Die goeie nuus, die beste nuus, vir die teologie was dat hierdie kranige en fikse tennisspeler tot in sy tagtigs50 nog vir ten minste ’n dekade aktief deelgeneem het aan die teologiese agendas en uitdagings van sy tyd, en nie alleen uitstekende artikels bly skryf het nie, maar ’n hele aantal boeke. Hy het as’t ware “die verlore jare” met verbasende spoed en doeltreffendheid ingehaal.
...
Hierdie benadering van die kerk, ook binne konteks van die uitdagings van Suid-Afrika, het gelei tot die tipiese idee van “kontekstuele teologie” as ’n uiters aanpasbare vorm van teologie, in vergelyking met bv “bevrydingsteologie”, “swart teologie”, “feministiese teologie” – almal legitieme benaderings, maar met ’n sweempie uitsluiting.
...
2. Teologiese ontwikkeling (via sy publikasies)
Uit die voorafgaande verhaal oor episodes uit Durand se lewe en werk behoort die noue samehang tussen sy teologiese ontwikkelinge en sy publikasies te blyk, al is dit ook so dat sy publikasieprogram sterk beïnvloed is deur dringende sake wat vanuit sy konteks sy aandag geverg het, en in sy administratiewe jare by UWK definitief ook sy navorsingstyd erg verminder het. Volgens sy eie oordeel het sy denke veral deur drie stadia gegaan, wat in die titel van een van sy artikels verwoord word: “Van ewige waarhede tot gekontekstualiseerde metafore”. Dus in drie woorde vasgevat: waarhede, kontekste, metafore.
2.1 Teologie as nadenke oor ewige waarhede en beginsels
Aanvanklik was die klem dus op ’n tipies ortodokse wysbegeerte van die wetsidee-benadering, wat vele studente by UOVS erg “prinsipieel” (ingestel op beginsels) gemaak het, op ewige onveranderlike waarhede, beginsels en dergelike vastighede, soos byvoorbeeld die idee van apartheid as ’n soort Christelike beginsel. Met sy aankoms op Stellenbosch en met die invloed van teoloë soos Bennie Keet en Kolie Kotzé het daar ’n sekere onbehae by hom ontstaan rondom hierdie soort benadering, en het sy denke veel meer histories-kontekstueel begin word. Sy meestersverhandeling het oor die prinsipiële reg tot verset teen die owerheid by Calvyn gehandel (1956). Eers later sou hy besef dat mens oor so ’n saak slegs binne ’n spesifieke konteks kan praat, en oor ’n spesifieke owerheid, rondom spesifieke omstandighede. Sy doktorale proefskrif oor die Una sancta catholica van die kerk (1961), ’n uiters knap verhandeling oor die “eienskappe” van die kerk, het eers met sy aankoms in Suid-Afrika, in die konteks van Sharpeville en Cottesloe, ’n reële en ongemaklike konteks gevind. Sy eerste sendingpublikasie, Sending as allesomvattende roeping (1964), is eers deur Swartman, stad en toekoms (1970) binne politieke en ekonomiese realiteite skerp gedefinieer. Ook Durand se baie gewilde “katkisasieboek” in Xhosa (1969), wat in verskeie tale vertaal is, Lisisbane Izwi Lakho / U Woord is ’n lamp, was ’n poging om die Christelike leer nie as “dogmas” of “ewige waarhede” oor te dra nie, maar eerder om die Bybel weer te gee as ’n boek wat die geskiedenis van God se handelinge vertel, eers in die geskiedenis van Israel en dan ten slotte in die geskiedenis van Jesus Christus se koms, sterwe en opstanding. Die diep geheim van God se verlossingswerk kan volgens Durand nie as leerstukke, los van die Bybelse verhale, aan mense bekendgestel word nie.51
2.2 Teologie as meelewing met God se historiese betrokkenheid in Sy ganse skepping
Daar was dus ’n geleidelike wending in die rigting van wat Dirkie Smit geïdentifiseer het as Durand se sterk ontwikkelde “historiese bewussyn”, iets wat bevestig is deur Durand self in sy eie weergawe van die logika agter sy publikasies.52 Durand gee Smit toe dat hy reg raakgesien het dat daar ’n radikale historiese en kontekstuele bewussyn aan die werk was wat hom laat praat, skryf, handel en reageer het op die sosiale en politieke uitdagings van sy tyd. Hy beskryf dié bewussyn self soos volg:
God is in beheer van die geskiedenis. In die geskiedenis van ou Israel, en finaal in Jesus Christus, het God die geskiedenis ingegaan en Hy is vandag nog besig om met ons geskiedenis te maak. Wanneer God tans met ons geskiedenis maak, is sy vertrekpunt die koms, kruisdood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie sentrale gebeurtenis bepaal alles wat God doen, wat die historiese omstandighede ook al mag wees. Teologie beteken daarom om die historiese omstandighede van watter tyd ook al te lees en te interpreter vanuit hierdie sentrale gebeurtenis wat al God se dade bepaal. Ons is almal, teoloë ingesluit, kinders van ons tyd, en teologie beteken om die wêreld waarin jy leef en die historiese omstandighede waarin jy jou bevind, teologies só te ontleed en uit te spel. Historiese omstandighede wissel en verander; die enigste konstante is dat God in ooreenstemming met sy heilshandeling van die verlede handel.
Hierdie “hermeneutiek”, of benadering van Skrifverstaan, beteken dat daar op verskillende tye bepaalde aksente van die evangelie sterker na vore sal kom as ander. Vir eeue lank het slawerny, byvoorbeeld, Christene nie gepla nie. Eers teen die 18de en 19de eeu, toe slawerny op ’n ongekende skaal handelspraktyk geword het wat miljoene mense se lewens verwoes het, veral in Afrika, het die helder besef deurgedring dat die vryheid wat Christus aan die kruis vir die mens verwerf het, slawerny onhoudbaar maak. In die 20ste eeu het daar ander sensitiwiteite ontwikkel: rondom armoede, verdrukking, rassisme en ekologie. Ons moet dus nie in die Bybel na ewige waarhede en beginsels soek wat los staan van God se handelinge binne die geskiedenis nie. Dit is presies wat met apartheid gebeur het: los tekste in die Bybel is orakelagtig geïnterpreteer asof hulle direk van God af gekom het, en nie via tydgebonde menslike interpretasies en swakhede nie.
Toe Durand in 1973 by UWK aangestel is het hy daarom sy tweede proefskrif voltooi; ’n projek waarmee hy reeds jare tevore in Cala begin het – ’n ondersoek na die noue verband tussen heilsgeskiedenis en die mens se denke oor alle dinge (syn). Indien die klem nie steeds bly op God se heil in die geskiedenis nie, sal die interpreterende subjek se gevoel of rede of persoonlikheid of eie hebbelikhede altyd die interpretasie oorwoeker. Vanaf Durand se intreerede by UWK (1974), Kruisteologie en die lydende God, verset Durand hom in sy eie dogmatologiese werk teen ’n abstrakte, akontekstuele, ahistoriese verstaan van God.53
In Teks binne konteks – versamelde opstelle oor kerk en politiek (1987), wat 17 opstelle uit die tyd tussen 1972 en 1986 bevat, word dit baie duidelik dat Durand ’n nuwe weg gebaan het vir teologie in Suider-Afrika. In sy voorwoord, “’n Nuwe weg”, skryf Willie Jonker dat Durand se teologiese metode “Bybels-histories” genoem kan word: ’n konsekwent-bybelse teologie in die sin dat die historiese karakter van die bybelse waarheid én die historiese karakter van die verstaan daarvan ten volle in berekening gebring wil word. Met Durand se afwysing van die skolastiese weg (Aquinas en enige nuwe vorm van “ewige waarhede”) waarop die Skrif tot ’n aantal “prinsipes” gereduseer word, én van die subjektivisme van die sogenaamde “nuwe hermeneutiek”, bly daar vir hom één weg oor: die weg van geduldige luister na die goddelike heilswoord soos dit in die Skrif tot ons kom, ten einde die bedoeling daarvan te hoor en dááraan in ons konkrete lewe te gehoorsaam. Gehoorsaamheid in die konkrete situasie kan dus alleen gehoorsaamheid wees aan die evangelie van God’s heil wat ons wêreld en lewe aanraak en verander.
Dit is ook hierdie histories-kontekstuele verstaan van die kerk as die liggaam van God in die wêreld wat eenheid, versoening en geregtigheid moet “beliggaam”, wat Durand se dinamiese kyk op die kerk, soos uiteindelik verwoord in die Belydenis van Belhar, bepaal, soos vasgevang in die bundel opstelle wat byeengebring is deur Danie du Toit (2014). Hierdie benadering van die kerk, ook binne konteks van die uitdagings van Suid-Afrika, het gelei tot die tipiese idee van “kontekstuele teologie” as ’n uiters aanpasbare vorm van teologie, in vergelyking met bv “bevrydingsteologie”, “swart teologie”, “feministiese teologie” – almal legitieme benaderings, maar met ’n sweempie uitsluiting. Kontekstuele teologie, soos wat dit bv ook beoefen is deur leidende teoloë van Engelse universiteite, soos John de Gruchy en Charles Villa-Vicencio,54 onderstreep die aanvaarding van hierdie “nuwe weg” waarvan Belhar die uitmuntende voorbeeld is.
2.3 Teologie as metaforiese benadering van die Godsgeheim in wetenskap en geloof
’n Derde “wending” in Durand se teologiese aanpak, dié in die rigting van metaforiese en selfs mistieke benaderings van die goddelike geheim, gaan nie in teen die kontekstuele beklemtonings nie, inteendeel. Juis in gesprek met die wetenskap en nuwe kritiese vorme van teologie het Durand geleer om die diep metaforiese aard van teologiese taal te waardeer, asook die blywende ontoereikendheid van menslike taal en middele om die goddelike te “omvat”.55 In ’n “ontluisterde”, gesekulariseerde wêreld,56 is daar vele “doodloopstrate van die geloof”,57 weë wat ook deur wetenskaplikes verken is, soos bv Teilhard de Chardin, wie se werk oor evolusie, wetenskap en geloof58 erkenning gee aan die mistieke kant van die Godsgeheim, waar meer as realistiese en wetenskaplike taal nodig is, en waar miskien selfs geen taal kan bykom nie.59 Wanneer dit “amper dag” word in ’n mens se lewe,60 keer ’n mens na binne, na die diepste sekerhede van die geloof, na gekontekstualiseerde metafore oor lewe en dood. In ’n onlangse gesprek met John de Gruchy oor sy nuwe boek oor die monastiese lewe, het hy vertel dat hy en Durand in hulle gesprekke in die latere jare van hulle teologie al hoe meer oor die mistiek en die monastiese tipe teologie gepraat het; die verdiepende Godsgeheimenis wat nie positivisties vasgevang kan word nie. Beide van hulle het egter empatie met ’n nuwe geslag Christene wat al té wetenskaplik met die hele werklikheid, selfs met God, wil omgaan. ’n Goeie voorbeeld van Durand se geduld en empatie met hierdie worstelinge van die moderne en postmoderne mens met die ewigheidsvrae, is sy heel gedetailleerde gesprek met Ben du Toit oor sy nuwe boek: God: Is daar ’n ander antwoord?61 Hy gaan in op sewe legitieme punte wat deur Du Toit ondersoek word rondom twyfel aan God, maar dan blykbaar byna raadop in sy poging om die diepe vertwyfeling wat hy teenkom, te begryp, vra hy of daar dan nie tog troos in die ou woorde te vinde is nie: “Een maal kind van God, altyd kind van God”. Hy voel waarskynlik hy kan dit doen, aangesien hy self diep ingegrawe is in die gesprekke tussen teologie en wetenskap, maar ook die donker nagte van die siel.62 Dit bly in ieder geval merkwaardig dat hierdie bydrae een van Durand se laastes was in die Kerkbode, en dat hy tot die einde toe met soveel passie en empatie met sy hele hart en verstand teologie bedryf het “binne die onmiddellike konteks”!
...
Hulle het op Jaap se aandrang die hele vakansie nie een so ’n woord gepraat nie, maar slegs speletjies gespeel: kaartspel, bordspeletjies en selfs Scalextric-karretjies op die vloer!
...
3. Persoonlike kwaliteite en omvattende nalatenskap
Ten slotte wil mens natuurlik graag iets oor die persoon Jaap Durand self sê, al sou hy definitief eerder wou hê dat daar slegs oor sy histories-kontekstuele lewe en werk gepraat moet word, en selfs dit in ’n mineurtoon. Soos Tutu dit uitgedruk het: Hy was maar slegs gehoorsaam aan die stem van God! Tog roep daar ’n hele aantal woorde en metafore wat oor Durand se persoon, maar ook oor sy nalatenskap, gebruik is om ons aandag. Ek sal hier dus slegs kortliks ’n paar sulke duidinge, van watter soort mens hy was en watter soort nalatenskap hy nie sou omgee om na te laat nie, probeer gee.
3.1 Moed
John de Gruchy het dié woord gebruik vir sy bydrae in die Festschrift:63 “I searched for the right word that would encapsulate who Jaap is for me and many others. Undoubtedly a man of faith and integrity, a humble and able scholar, a perceptive theologian, a family man … yes indeed, but I finally settled on courage as the virtue that stands out.”
3.2 Vriendskap
Carel Anthonissen het sy bydrae begin met “lojale vriend” en voordat hy verder vertel van die “spelende professor” en “bemiddelaar” eers die verhaal vertel van hoe Durand altyd daar was vir hom in moeilike tye, byvoorbeeld die keer toe hy sy paspoort verloor het as gevolg van pogings om saam met agt studenteleiers in Lusaka gesprekke met die ANC-jeugliga te voer. Durand se integriteit, lojaliteit, waaragtigheid en getrouheid staan uit in vele bydraes, maar telkens is daar sprake van sy lojaliteit as vriend, bv ook in die bydraes van Stan Ridge en Bernard Lategan.64
3.3 Spel
Carel Anthonissen vertel heerlike staaltjies van die spelende professor, bv van die student wat gehoor het dat professors Durand en Rossouw saam vakansie gehou het en toe laat val het dat hy graag soos ’n vlieg teen die muur sou wou sit om al die hoë intellektuele gesprekke af te luister. Hennie Rossouw het egter met ’n skalkse glimlag die geheim uitgelaat: Hulle het op Jaap se aandrang die hele vakansie nie een so ’n woord gepraat nie, maar slegs speletjies gespeel: kaartspel, bordspeletjies en selfs Scalextric-karretjies op die vloer! Op Durand se begrafnis het Danie du Toit dergelike stories vertel, en Durand se kinders stories van ’n soort nuuskierigheid en kinderlike vreugde. Stan Ridge vertel van die debatte in die motor op pad universiteit toe, sommer vir die lekkerte van argumenteer.65
3.4 Etiese leierskap
Vele bydraes beklemtoon Durand se nederige diensbaarheid en sterk etiese leierskap. Courtney Sampson skryf oor die noodsaaklikheid van die soort “diensbare leierskap” wat deur figure soos Durand, Tutu en Mandela gelewer is. Nürnberger soek leiers wat sal ophou baasspeel, soos Durand, en presies dit word ook beklemtoon deur Boesak.66
3.5 Christelike deugde: geloof, hoop, liefde, vrede
’n Mens sou dink dit is vanselfsprekend dat ’n Christelike teoloog ook ’n Christelike lewe sal lei, maar wat beteken “’n Christelike lewe” eintlik? Wel, dit blyk uit soveel huldeblyke dat Durand deur en deur ’n gelowige mens was wat vanuit die evangelie gelewe het. Volgens hom was hy maar ’n bra konserwatiewe mens wat by die basiese dinge van die geloof gehou het. Danie du Toit het in sy pragtige gedenkdiens-preek presies aangesluit by die skrifgedeeltes wat volgens Durand sentraal staan in die Christelike lewe: Psalm 85 wat liefde en waarheid verbind, en geregtigheid en vrede, almal saam as onlosmaaklike elemente van die gelowige lewe; en die Bergrede wat teenintuïtiewe definisies gee van wie kwalifiseer vir ware geluk: die nederiges, die sagmoediges, dié wat honger na geregtigheid, die vredemakers, die barmhartiges, dié wat ter wille van hierdie dinge vervolg word; asook dan die vuur van hierdie visie van inklusiewe liefde wat profeties brand in die hart van die kind van God (Jeremia 5 en 20). Durand het geglo en hy het geleef volgens daardie geloof.67
3.6 ’n Inklusiewe en versoenende kerk
Dit is duidelik dat Durand se droom vir die kerk een van ware eenheid en versoening was, soos gereflekteer deur sy passie rondom die versoenbaarheid van mense en die versoenende krag van die Evangelie self. Dit was die springende punt in sy hele bydrae tot die Belydenis van Belhar. Indien die kerk self nie één kon word op grond van die versoenende werk van Christus nie, dan is daar nie hoop vir die wêreld nie. Die kerk is die inklusiewe, verwelkomende, vredevolle, geregtigheidsoekende liggaam van Christus in die wêreld. Punt.68
3.7 ’n Allesomvattende sending
Die kerk van Christus is ’n sendende, uitreikende kerk. Die missie van die kerk in die wêreld is allesomvattend: dit sluit in die liggaam, siel en gees van die mens, dit sluit in die toekoms van die planeet, die lewe van alle lewende wesens, die toegang tot onderwys, behuising, werk, gesondheid, menseregte, ontwikkeling en deelname. Binne ekumeniese verband sluit hierdie sending die eenheid van aksie tussen alle kerkgenootskappe en selfs alle gelowe in.69
3.8 Openbare teologie van geregtigheid
Teologie het baie vertakkinge en vorme, maar alle teologie is uiteindelik ook openbare teologie; dit het direkte of indirekte nagevolge vir die openbare lewe. Teologie ontdek algaande altyd weer nuwe terreine waarop die Evangelie ’n positiewe en helende werking kan en moet hê. Slawerny, rassisme, homofobie, diskriminasie, patriargie, verbruikersdruk, ekologiese verwaarlosing, ewige armoede, noem maar op: Die kanon van dinge wat nog oopgebreek moet word ter wille van groter geregtigheid op aarde is nog nie afgesluit nie, en kan nie afgesluit word nie. Daar is telkens weer ’n ontdekking van nuwe kontekste en nuwe uitdagings wat in die teologiese visier gebring moet word; dinge wat telkens weer vra vir innoverende benaderings en nuwe perspektiewe.70
3.9 ’n Mistieke anker
Teologie sonder ’n erkenning van die diepe verborgenheid van God, te midde van God se openbaring van liefde en trou, geregtigheid en vrede, en dus die mistieke kant van die omgang met en toegang tot God, loop uit op dwaalspore in die geloof en ’n ontluistering van die wonder van die skepping. Stilte en gebed en meditasie en toewyding aan God wat steeds méér is as al ons wense en begeertes, al ons projeksies, al ons denke en soeke, sal deel moet vorm van ’n oop soeke na die dieper waarhede van die geloof.71
3.10 ’n Profetiese visie van sjalom
Die brandende profetiese visie van Jeremia, die vuur in sy mond wat nie gekeer kan word nie, soos pragtig toegelig deur Danie du Toit in sy begrafnispreek vir Durand, lê in die hart van Durand se teologiese visie. Hy was ’n leermeester, ’n prediker, ’n profeet van die boodskap waar daar geen vrede sonder geregtigheid sal wees nie, en geen liefde of barmhartigheid sonder waarheid en getrouheid nie. “Emet” en “Hesed” sal mekaar omhels, en “Mispat” en “Sjalom” sal mekaar soen. In Durand se klasse en preke was dié vaste bakens van die Evangelie ononderhandelbaar. Soos Douglas Lawrie dit beskryf: Hier was ’n ware profeet aan die woord, hier was die vastigheid van “no retreat, no surrender”.72
’n Ware profeet het ons ontval. Ons kyk in dankbaarheid terug op die persoon, die lewe en die werk van JJF (Jaap) Durand.
Bronnelys
LW: Hier word (met enkele uitsonderinge) slegs gepubliseerde verhandelinge/boeke aangedui – van Durand self, of rondom sy werk. Durand 1987 en Durand 2014 bevat versamelde opstelle/artikels; so ook Cloete en Smit 1984, en Festschrift 2009. Alle ander bronne word in die notas aangedui.
Cloete, GD en Smit, DJ 1984. Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg.
Durand 1956. Die wysgerige grondslae van die ius resistendi by Calvyn. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje Vrystaat, Bloemfontein.
Durand 1961. Una sancta catholica in sendingperspektief. DTh-proefskrif. Amsterdam: Uitgeverij Ten Have.
Durand 1964. Christelike sending – Allesomvattende roeping. Bloemfontein: Sacum.
Durand 1969. Lisisibane Izwi Lakho / Your Word is a lamp / U Woord is ’n lamp. DRC Mission Press.
Durand 1970. Swartman, stad en toekoms. Kaapstad: Tafelberg.
Durand 1973. Heilsgeskiedenis en die dialektiek van syn en denke. DTh-proefskrif. Universiteit Stellenbosch.
Durand 1974. Kruisteologie en die lydende God. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.
Durand 1976. Die lewende God. Pretoria: NGKB.
Durand 1978. Die sonde. Pretoria: NGKB.
Durand 1982. Skepping, mens, voorsienigheid. Pretoria: NGKB.
Durand 1984. Belhar – Krisispunt vir die NG Kerke en ’n Belydenis – was dit werklik nodig? In Cloete, GD en Smit, DJ (reds).’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg.
Durand 1987. Teks binne konteks. Versamelde opstelle oor kerk en politiek. In Smit, DJ (red). Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland. (18 opstelle in publieke teologie, uit die tyd tussen 1972 en 1986).
Durand 1993. Theology and resurrection – metaphors and paradigms. JTSA, 82:3–20.
Durand 1995. Kerk en geweld: Geweld – wat sê die kerk? Die verhaal van die NG Kerk in die 20ste eeu as illustrasie. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.
Durand 2001. When theology became metaphor. JTSA, 111:12–16.
Durand 2002a. Hoe my gedagtewêreld verander het: van ewige waarhede tot gekontekstualiseerde metafore. NGTT, 43(1&2):64–70.
Durand 2002b. Ontluisterde wêreld. Die Afrikaner en sy kerk in ’n veranderde Suid-Afrika. Wellington: Lux Verbi (BM).
Durand 2003. Iemand soos ek en jy. Stellenbosch: T Wever.
Durand 2005. Doodloopstrate van die geloof: ’n perspektief op die Nuwe Hervorming. Stellenbosch: Rapid Access Publishers (Africa Sun Media).
Durand 2007. The many faces of God. Highways and byways on the route towards an orthodox image of God in the history of Christianity from the first to the seventeenth century. Stellenbosch: African Sun Press.
Durand 2010. Dit is amper dag. Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
Durand 2013. Evolusie, wetenskap en geloof. Wellington: Bybel-Media (BM).
Durand 2015a. Godsgeheim: die verhaal van wetenskap en mistieke geloof. Wellington: Bybelkor (BM).
Durand 2015b. Du Toit, D (red). Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid. Wellington: Bybelkor (BM).
Durand 2016. Protesstem. Oomblikke van herinnering. Wellington: Bybelkor (BM).
Durand 2019 (met Verena Schoeman). Bloedbruide van Christus. Vrouemartelaars in die eerste eeu I en II (2021). Wellington: Bybel-Media (BM).
Festschrift 2009. Conradie, E en Lombard, C (reds). Discerning God’s Justice in Church, Society and Academy. Stellenbosch: Sun Press. Beskikbaar: https://core.ac.uk/download/pdf/188223539.pdf. (Festschrift is ’n versameling van 9 uitgebreide artikels en 22 korter bydraes oor Jaap Durand se lewe en werk.)
Eindnotas
1 Sien bv op LitNet (Februarie 2022) die kort maar kragtige bydrae deur Allan Boesak waarin hy konsentreer op die vraag oor hoe dit moontlik was dat ’n wit man soveel vertroue by UWK en in die kringe van die VGK kon inboesem, selfs voor Belhar. Sien ook op LitNet die gedig deur Willem de Swyger.
2 Sien die Festschrift wat deur kollegas en vriende vir sy 75ste verjaardag voorberei is: Conradie en Lombard (reds), Discerning God’s Justice in Church, Society and Academy (vir verwysings: Festschrift 2009).
3 Vir uitstekende kort oorsigte van Durand se persoonlike lewensloop, sien Kerkbode se webblad op 24 Januarie 2022: “Jaap Durand sterf op 87: ‘Hy was vir almal lief’” en 27 Januarie 2022: “Jaap Durand (1934–2022). Teoloog wat grense oorsteek en beperkings uitdaag” (lg deur vriend en kerkhistorikus Gerdrie van der Merwe), asook die artikel van sy vriende Jaap Furstenberg, Phil Robinson en Daan Cloete in Festschrift 2009:3–24. Le Roux Schoeman se bydrae van 25 Mei 2021, “Jaap Durand: Ryk herinneringe leef in skrywer wat bly soek” op Kerkbode se webblad, bied ook uiters interessante perspektiewe.
4 Sien Cloete en Smit 1984.
5 Sien Durand 2015b, die versameling van opstelle en preke oor hierdie temas, soos byeengebring deur Danie du Toit, Durand se laatjare-vriend. Du Toit het ook sy treffende begrafnisrede gelewer in die Rynse VGK op Stellenbosch – waar Durand en sy gesin jare lank lidmate was en waar hy ook dikwels gepreek het.
6 In sy voorwoord tot die Festschrift 2009 skryf Aartsbiskop Tutu as kanselier van UWK: “It was exhilarating to be the Chancellor of an institution that was becoming the pride of the oppressed as it took on the apartheid phalanx as if presenting an icon of the kind of society we were striving for, to have a young Coloured rector supported to the hilt by his white vice-chancellor, an Afrikaner to boot, in Professor Jaap Durand. They spoke volumes about the sort of society we were striving for just by them being together. I am delighted and honoured to pay my warmest tribute to someone who was such a critical element in our struggle and in our efforts to make UWC the scintillating and exciting place it has turned out to be. Baie dankie, Boetie – this Festschrift from your colleagues is the least we can do to thank you. God be praised that you were obedient to the imperatives of the Gospel.”
7 Sien bv die latere publikasies, Durand 2002b, 2005 en 2013.
8 Die stuk was getiteld “Sommige dinge is die moeite werd om te onthou”.
9 Durand 2016: Protesstem – Oomblikke van herinnering.
10 Festschrift 2009:131–166.
11 Sien Carel Anthonissen se stuk in Festschrift 2009:169–174.
12 Hier verwys Durand na sy eerste ervaringe met “die swart wêreld”, toe sy pa hom en sy vriend Jaap Furstenberg saamgeneem het om Sondagskool te gaan hou in die swart woonbuurt.
13 Durand 2016:20–21.
14 Sonder om tyd te verloor, het hy toe wel gedurende sy teologiestudie op Stellenbosch ’n meestersgraad in filosofie ook voltooi, oor die onderwerp “Wysgerige grondslae van die ius resistendi by Calvyn” – die reg van verset van burgers teen ’n onregverdige owerheid (fynskrif binne die Calvinisme wat nie ongemerk by iemand soos Allan Boesak verbygegaan het nie!).
15 Durand 2016:24.
16 Durand 2016:12–13. Dit was hierdie oorvleueling in oortuiging wat dit vir Jonker en Durand moontlik gemaak het om later saam te werk aan ’n reeks teksboeke vir dogmatiese studie, Wegwysers in die dogmatiek, met drie bydraes elk (1976–1989). Dit is teen hierdie agtergrond ook te begrype dat dit Willie Jonker moes wees wat op Rustenburg namens die NG Kerk verskoning, en ook vergifnis, gevra het vir die pyn van apartheid wat deur die NG Kerk veroorsaak is. Ek was bevoorreg om in die jare 1971–1974 by Jonker in die klas te sit, en om my magister onder sy leiding te begin.
17 Hennie Rossouw het ná sy eie promosie op die baanbrekende proefskrif Klaarheid en interpretasie, ’n nuwe fundament vir teenfundamentalistiese interpretasiepraktyke van die Heilige Skrif, teruggekeer na Stellenbosch as filosofieprofessor en uiteindelik ook viserektor. Die twee vriende is onlangs enkele weke ná mekaar begrawe; vir vele die einde van ’n hele era van akademiese élan en integriteit. Ek het die besondere voorreg gehad om by beide nagraadse studie te doen, onderskeidelik in die teologie en die filosofie.
18 Vertraagde aksie. ’n Ekumeniese getuienis uit die Afrikaanssprekende Kerk. 1960. NG Kerk Uitgewers.
19 Durand 2016:14–18.
20 Durand 2016:27.
21 Durand 2016:30.
22 Durand 2016:48. In hoofstuk 4 van Protesstem (pp 39–68) verduidelik Durand in fyn historiese detail sy insig, wat reeds in Christelike sending – allesomvattende roeping teoreties vasgepen is, dat so ’n swart gemeente eintlik ’n “gemeente sonder grense” is: Hierdie realiteite van “moord, roof, terroriserende bendes, bedrog, verkragting, seksuele losbandigheid, jeugverwildering en gesinsontwrigting” was begeleidende verskynsels van “’n fundamentele lewensonsekerheid en ’n armoedekultuur, met alles wat daarmee saamgaan” (p 50–51). Dít was die “gemeente” van die Here, sonder grense; die kerk in die wye wêreld!
23 The Study Project on Christianity in Apartheid Society (SPRO-CAS) is in 1969 gesamentlik deur die Christelike Instituut en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke geloods, met 6 kommissies en 140 kommissarisse en konsultante met ’n fokus op die noodsaaklikheid van radikale verandering in Suid-Afrika. Die navorsing het op verskeie terreine gekonsentreer: ekonomie, onderwys, reg, politiek en die kerk. Dit was gerig op die aftakeling van apartheid en het sterk kennis geneem van ’n nuwe perspektief op die geskiedenis, nl dié van swart bewussyn.
24 Sien Jeremia 7:4, 6:14 en 8:11.
25 Dit is menslik om in hierdie hoofstuk waarin Durand uit sy hart uit skryf oor wat sy denke werklik verander het, tog fyn flitse van persoonlike aard ingeweef te sien: hoe hy met sy ou tweedehandse Peugeot 203 die strate vreesloos ingevaar het; hoe Randu vrou-alleen op Donderdae na Daku moes ry om die vrouebediening te lei terwyl Jaap na die jong kinders tuis moes omsien; hoe hy in ’n lewensbedreigende situasie gered is toe een van sy aanvallers hom as tronkprediker herken het: “Ek ken hierdie wit man, hy preek in ‘Rooi Hel’!”; hoe sy dogter eers jare later vir hom vertel het hoe sy snags lê en wag het dat hy terugkom met die Peugeot en eers in stilte in die kar gesit en bid het vir sy gemeente, totdat sy uiteindelik die geknars van sy skoene op die gruis buite haar venster gehoor het, en eers dan kon slaap. Vir só ’n teoloog is God nie ’n idee of ’n konstruk nie, maar ’n onmiddellike teenwoordige Werklikheid.
26 Sien bv Cloete en Smit 1984; Lombard in Festschrift 2009:93–129; sien ook die bydraes van Boesak, Botman, Koopman en Smit in Festschrift 2009: 37 ev, 51 ev, 69 ev en 131 ev.
27 Sien Protesstem 2016:69–104.
28 Laasgenoemde is handig saamgevat in die publikasie Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid (byeengebring deur Danie du Toit): Durand 2014.
29 Durand 2016:71.
30 Durand 1970.
31 Ironies genoeg het hy dit via ’n subtiele en knap analise van Thomas Aquinas, ’n leidende Katolieke teoloog uit die Middeleeue, gedoen, met die gevolg dat wat hy eintlik wou oordra in die Suid-Afrikaanse konteks slegs op daardie stadium deur enkele teoloë (hy noem Hennie Rossouw, Willie Jonker, Dirkie Smit en Christo Lombard) gesnap is.
32 Durand sonder hom saam met O’Brien Geldenhuys, Willem Landman, Nico Smith, David Bosch en in mindere mate Johan Heyns uit as senior teoloë wat duidelik teen apartheid gekant was.
33 Lees die verhaal in Durand se eie ironiese weergawe, Durand 2016:69–80.
34 Dit was belangrike etiese aspekte waaraan daar ernstig aandag gegee is deur bv die Belydende Kring (vroeër die Broederkring), waaraan voorste leiers en predikante van die NG Sendingkerk, soos Allan Boesak, Daan Cloete, Hannes Adonis en Chris Loff meegewerk het, met as een belangrike bydrae die Verklaring van die Belydende Kring van 1979, waarin ’n sterk morele verwerping van apartheid uitgespreek is.
35 Die verdere verhaal van hoe die klein komitee aangestel is om so ’n belydenis te skryf (Jaap Durand, Dirkie Smit, Allan Boesak, Gustav Bam en Sakkie Mentor); hoe Durand voorgestel het dat die drie punte van eenheid, versoening en geregtigheid die kern van die Belydenis van Belhar moet vorm; hoe Dirkie Smit op legendariese inspirasie af die belydenis deur die nag geformuleer het; hoe die komitee dit met enkele klein wysigings aanvaar en aan die Sinode voorgelê het, en hoe die Sinode dit aanvaar het – daardie verhaal is welbekend en goed gedokumenteer. Vir Durand is dit egter belangrik om die héle geskiedenis, “God in the detail”, te honoreer as die eintlike wonderwerk. Aan hierdie verhaal is daar ook minder aangename kante, soos dat Durand onmiddellik deur die NG Kerk “gestraf” is deur die wegneem van sy status as predikant, ’n uiters pynlike ervaring vir iemand wat sy hele lewe aan die sending van hierdie kerk gewy het. Ná vele jare en kerkregtelike rompslomp het die NG Kerk verskoning gevra en Durand se status herbevestig; iets waarvoor hy ten spyte van al die ironieë baie dankbaar was. ’n Mens kan nie help om by sulke geleenthede aan Van Wyk Louw se bekende vers uit Tristia te dink nie: “Eintlik moet ons leer ironies leef, en binne ironie die liefde hou.”
36 ’n Hele aantal gelegitimeerdes van die NG Kerk (insluitend ek self) het die nagevolge hiervan op hulleself geneem en hulle dus nie meer beroepbaar gestel vir werk in die NG Kerk nie, en dus ook op die voetspoor van Durand hulle “status” verloor, om dit weer binne die Sendingkerk/VGK terug te kry.
37 In my eie bydrae aan die Festschrift vir Durand vertel ek bv van my voorreg om in 2004 by die Sinode van die Reformed Church of America oor die moontlikhede van Belhar as bevrydende ekumeniese belydenis te praat, en van die dankbaarheid dat dié kerk Belhar as ’n eie belydenis by ’n volgende Sinode aanvaar het (Festschrift 2009:93–129).
38 Sien weer die gloeiende huldeblyk deur Allan Boesak op LitNet, Februarie 2022.
39 Ek self is ná my filosofie- en teologiestudies by Stellenbosch aan die einde van 1974 ’n pos in filosofie aangebied, maar het soos Durand in sy vroeë jare ’n ander keuse gemaak: in my geval om ’n pos in Bybelkunde by UWK te aanvaar!
40 Dawid Botha was die skrywer van die invloedryke boek Die opkoms van ons derde stand, ’n pleidooi vir ’n nuwe bedeling vir bruin mense in Suid-Afrika.
41 Durand 2016. Hy skryf ook ’n uitvoerige hoofstuk oor “Die wakende oog van die Veiligheidspolisie”, met skrikwekkende detail van die mag en reikwydte van die “toesig” wat via meeluisterapparate, gekoöpteerde personeel, betaalde informante, afskriktaktiek en dergelike truuks op verdagte mense in hoë of sleutelposisies uitgeoefen is – vanaf die dae toe die “Mannebond” sy Kwazakhile-gemeente in Port Elizabeth besoek het, tot die “verraad” van mede-kollegas by UWK.
42 Durand 2016:162.
43 Durand 2016:172.
44 Met hierdie woorde beaam Durand die waardering van Desmond Tutu oor sy en Gerwel se samewerking om van UWK ’n plek te maak wat kon dien “as presenting an icon of the kind of society we were striving for”.
45 Hier het sy vroeë, byna onskuldige, werk aan sy magisterstudie, oor die reg tot protes teen die owerhede by Calvyn, uiteindelik perfek ingepas – ’n gereformeerde beginsel wat Allan Boesak ook verder geneem het in sy Farewell to innocence (1976) en Black and Reformed (1984).
46 Durand 2016:189.
47 Durand 2016:189.
48 Sien sy bydrae “Jaap Durand: lojale vriend, spelende professor en bemiddelaar”, Festschrift 2009:169–174.
49 Sien ook die detail van hierdie verhaal soos opgeneem in Dennis Cruywagen se boek, Brothers in war and peace.
50 Durand het skertsend vertel dat hy ná tagtig liefs dubbels begin speel het om nie so man-alleen rondgejaag te word op die baan nie.
51 Durand 2016:229–232.
52 Durand 2016:240–244.
53 Die lewende God (1976), Die sonde (1978), Skepping, mens, voorsienigheid (1982), The many faces of God (2007), tot en met Godsgeheim: die verhaal van wetenskap en mistieke geloof (2015a).
54 Sien bv Doing theology in context – South African perspectives (1994) en Doing ethics in context – South African perspectives (1994), J de Gruchy en C Villa-Vicencio (reds). Maryknoll, NY: Orbis.
55 Durand verduidelik in 2002a hoe sy denke aangeskuif het vanaf "waarhede" tot "historiese konteks" tot "metaforiese taal".
56 Sien Durand 2002b.
57 Sien Durand 2005.
58 Sien Durand 2013.
59 Sien Durand 2015a.
60 Sien Durand 2010.
61 Ben du Toit. 2020. God: Is daar ’n ander antwoord? LAPA Uitgewers. Sien Durand se stuk in Kerkbode, 25 Mei 2021: “Uittreksel: Jaap Durand oor godsontkenning en geloofsbeslissing”.
62 Dit is ’n bekende anekdote maar ook feit dat Durand in menige nag tydens Randu se siekte en lyding modelskepe gebou het, een vir elke kind. ’n Mens kan jou probeer indink watter stille gesprekke daar met God gevoer is, soos die gebede wat hy laataande ná huisbesoek in sy ou Peugeot in Port Elizabeth gedoen het.
63 De Gruchy in Festschrift 2009:59 ev.
64 Sien in Festschrift 2009: Anthonissen 169 ev; Ridge 225 ev (oor Durand as reisgenoot); Lategan 81 ev (oor inklusiwiteit by Durand).
65 Sien Festschrift 2009: Anthonissen 172; Ridge 225–6.
66 Sien Festschrift 2009: Sampson 227–8.; Nürnberger 221 ev; Boesak 37 ev; hy beklemtoon ook inklusiwiteit.
67 Sien Festschrift 2009: Kritzinger 209 ev: man van hoop; Van Wyk 229 ev: man van geloof; Grove 201 ev: man van integriteit in donker tye, ’n man van getrouheid en geestelike inspirasie, ’n ware broer in Christus. Sien die voorwoord van sy kinders in Durand 2014: “Ons het ’n pa met vaste morele beginsels en waardes. Nêrens elders het ons gesien waar geloof só ’n voorbeeld van strewe na geregtigheid, eenheid en versoening is nie.”
68 Sien Festschrift 2009: Boesak 367 ev; Lategan 81 ev; Botha 179 ev; Burger 183 ev; Els 193 ev.
69 Sien hiervoor Festschrift 2009: Kritzinger, D 207 ev; Kritzinger, K 209 ev; Müller 215; Jonas 205 ev.
70 Sien Festschrift 2009: Conradie 187 ev; Koopman 69 ev; De Villiers 191 ev; Naudé 219 ev.
71 Sien Festschrift 2009: Ackermann 25 ev; Durand 2002b, 2005, 2015a.
72 Sien die Belydenis van Belhar, die derde punt oor “geregtigheid” en Lawrie, Festschrift 2009:211–214.


Kommentaar
Wat 'n boeiende ontleding, gepak met historiese feite, oor die agtergrond en ervarings, waardes en denke van Jaap Durand! Uitmuntende insigte, Christo!