’n Vermetele bundel verwesenlik haar skrywersdroom: ’n onderhoud met Skryfyster

  • 0

Snaaks en sag, pittig, skerp en emosiebelaaid, sonder krulle en in tyd vir die Kersboom. Hierdie kreatiewe, niefiksie-kortverhaalbundel is pure leeslekkerte en genot.

Anna-Bet Stemmet is ’n bekende woordverwerker en kopieskrywer. Sy het haar voete stewig in die industrie gevestig met haar skryfwerk wat strek oor verskeie temas, vanaf kos en wyn tot landbou, tegnologie, mode en kleinhandel.

Skryffiks met haar brood-en-botter-werk

Haar wye veld van skryfwerk as vryskutkopieskrywer is meestal in Engels en hou die afgelope 10 jaar die pot aan die kook, sê Anna-Bet. Sy verduidelik dat dit droog mag klink om oor tegnologie en beesvoer te skryf, “maar dit kry mens lekker skryffiks”.

Beide Anna-Bet se oupas was boere en sy verstaan die hart van ’n boer, vertel Anna-Bet oor haar nis as kopieskrywer in die landbou-industrie. Haar pa is ’n wynmaker en sy het self amper ’n wynmaker geword. Sy spot dat die woordsomme haar onder gekry het.

Sy het Jan-Hendrik van der Westhuizen se kookboek vertaal en ook die Afrikaanse bewoording behartig van die drietalige kinderboek, Florence and Watson, waarmee sy haar kreatiewe spiere kon strek. Nou spog sy met 29 kortverhale in ’n bundel uit haar pen. Dié bundel, Goed wat gebeur het met mense op plekke, is soos ’n versameling van emosies vasgevang in woorde.

Die stories is persoonlike essays vertel uit Anna-Bet se perspektief. “Een van die verhale is effens meer fiktief,” verduidelik sy. Persoonlike essays kan ’n breër lesersteiken bereik, juis vir die rede dat baie lesers hulle eie lewens in die skrywer se ervarings en “gewaarwordingstories” kan herken. Vir Anna-Bet was die skryf van die bundel ’n eksperiment in literêre skryfwerk. “Gewoonlik word ’n persoonlike essaybundel uitgegee deur skrywers wat reeds bundels uitgegee het.”

Anna-Bet erken dat sy effens aan die imposter syndrome gely het. “Wie is ek nou? Wie gaan my stories wil lees?” Sy was by ’n familielid se vakansiehuis in Waenhuiskrans, waar sy op ’n bundel persoonlike essays van Audrey Blignaut afgekom het. “Sy is mos ’n gerekende skrywer,” sê Anna-Bet. Die bundel was ’n “verheerliking van die alledaagse. So, daar was ’n historiese tendens.” Daarna was daar geen stuit aan dié dinamiese skrywer nie.

Dit was met Anna-Bet se 40ste verjaarsdag aan die einde van 2024 dat sy besluit het “dit is nou of nooit”. Sy sê laggend: “Mens raak mos so opstandig.” Sy het na ’n potgooi met die 83-jarige skrywer Isabel Allende geluister wat haar inspirasie ’n hupstoot gegee het en haar laat besef het dat “die droom kan nog steeds gebeur”. Allende spog met ’n boekverkoopsyfer van meer as 80 miljoen boeke. Hierdie skrywer het eers op die ouderdom van 40 as outeur begin skryf.

“Ek doen al vir amper twee dekades ander mense se skryfwerk.” Anna-Bet wou haar eie stem laat hoor en het besluit om vanjaar haar kans te waag en vir die tiende Woordfees-bundelkompetisie in te skryf. Die inspirasie het haar egter bly ontduik en drie dae voor die sluitingsdatum het die storie haar te beurt geval toe sy gaan stap het.

“Dit het letterlik met my gebeur!” Toe sy by die huis kom, het sy onmiddellik aan die storie begin werk en dit twee/drie uur later voltooi. “Ek het dit van begin tot einde geskryf. Die volgende dag het ek net punte en kommas ingesit.”

Anna-Bet het “Chatsworth, Suster” ingedien en die verhaal is uit 300 ander gekies om in die bundel met 23 verhale te verskyn. Vir haar was dit ’n groot eer. “Die Stellenbosse literati is baie kieskeurig,” vertel sy. In Junie vanjaar het sy die nuus ontvang dat haar verhaal gekies is vir die Woordfees-kortverhaalbundel.

Eie bundel

So skryf skrywer en digter Andries de Beer oor Anna-Bet se bundel:

Hierdie is ’n raakvatskrywer wat die lewe se skerp kante sonder fieterjasies of tierlantyntjies onthul, maar dit altyd met sagtheid en deernis balanseer. Anna-Bet loop ’n fyn lyn tussen Audrey Blignaut en Nataniël, met ’n lekker skoot Maak ’n las in die mix.

Toe die besluit kom om aan haar storie ’n groter platform te bied en haar eie bundel saam te stel, het Anna-Bet skouer aan die wiel gesit en van Junie tot Oktober vanjaar volstoom geskryf “dat die biesies bewe”. Met die onsekerheid en twyfel ter ruste gelê, het sy die skryfproses aan die bundel as “alte lekker” ervaar.

Sy het toestemming gekry om van haar oudrubrieke in te sluit, het ou verhale uitgedelf, mooi gemaak en nuwe asem in hulle geblaas. “Elke skrywer het mos maar so paar verhale iewers weggebêre.” Anna-Bet het selfs gedigte gevorm in ’n narratief. Vir haar is die bundel die tipe boek wat sy graag sal wil lees.

“You can just do things” is Anna-Bet en haar man se leuse. So leer hulle ook hulle kinders. “Jy kan voortgaan en doen, maar jy moet ook bereid wees om gekou te word,” skerts Anna-Bet. “Nie almal gaan hou van jou of jou stories nie. Jy kan nie almal se koppie tee wees nie.” Sy voeg vinnig by: “Want jy is eintlik ’n glasie sjampanje!”

Die bundel lees soos “grootmens-slaaptydstories” en bied die leser iets van alles. Sommige van die verhale sal jou laat lag en ander sal jou laat huil. Sommige lesers sal dit in een sitting deurlees, terwyl ander sal kies om daaraan te kou en weer te lees. Die verhale is min of meer in chronologiese volgorde geplaas, van kleindag tot nou. Anna-Bet het ook die kort en langer stories afgewissel. Verder het sy ook die stories in emosionele orde geplaas. “Ek wil nie hê mense moet die hele tyd sit en grens nie,” verduidelik sy.

’n Hele paar van die stories in Goed wat gebeur het met mense op plekke dateer uit die skrywer se studentedae.

“Daar is baie gewigtige literatuur daarbuite. Ek skryf myne doelbewus as ’n alternatief daartoe. Dis ’n reeks persoonlike essays; sommige vanilla, ander ’n bietjie meer spicy. Hier en daar gooi ek selfs ’n eks-kêrel met smaak onder die bus. Dink daaraan as ’n guilty pleasure, soos ’n koekie saam met jou tee, of ’n skelm sigaret,” sê Anna-Bet.

Spelfout sorg vir unieke handelsnaam

Anna-Bet se handelsnaam, Skryfyster, was bedoel om Skryfster te wees. “Ek het ’n tikfout gemaak en toe was dit te laat om te verander,” vertel sy. Hierdie unieke handelsnaam het egter vir haar ’n tweede plek in die WAT-handelsnaamkompetisie besorg.

“Die wenner was ’n restaurant – Respek-en-Eiers. Ek voel dit was regverdig om tweede te kom teen hulle!”

Hunter Kennedy is dit eens:

Anna-Bet vertel, met ’n oog vir detail en ’n tong in die kies, van grootmensskap, braaibroodjies, familie-erfstukke, middernagtelike WhatsApps en hoenders wat beter ouers is as jy. Hierdie bundel is vir elkeen wat al in ’n sweetpakbroek op ’n stoep gesit en wonder het: Is dit nou hoe dit eindig? Dis snaaks. Dis sag. Dis skerp. Soos ’n lekker kombuisgesprek by ’n andersins vervelige huispartytjie.

Ten slotte

Met hierdie bundel wil Anna-Bet graag die boodskap deurgee dat almal se stories verdien om vertel te word.

Sy en haar gesin woon tans in Malmesbury. Oor haar kinderdae gesels sy lekker.

“Ek is essensieel net ’n mamma van Malmesbury. Vind jou vermetelheid, vertel jou storie, verf daai skildery, sit die blomme in, doen die beeldhouwerk, doen daai sosiale media-plasing, maak kuns en gee jou stories deur.

“Ek het as kind gehuppel deur ’n skoolsisteem wat vir visuele leerders soos ek ontwerp is. Toe skrik ek myself in ’n rebellie in en verkwis die geleentheid wat my hardwerkende ouers my gegun het om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Daarna doen ek ’n wawiel deur Elsenburg Landboukollege en oortuig ek myself vir ’n tydjie lank dat ek skone kunste deur Unisa studeer.”

Sy spot dat sy ’n “terrible student” was met “drie halwe grade, maar ’n wonderlike werker met ’n besonder lang asem”.

Anna-Bet Stemmet is ’n unieke skrywer met ’n eiesoortige styl. Sy is kreatief en haar speelse humorsin is aansteeklik. Haar uitkyk op die lewe is subtiel lig, sonder om die erns na te laat. Sy kan lesers gerus bederf met meer van haar persoonlike essays.

Anna-Bet se gunstelingskrywer is Margaret Atwood.

Goed wat gebeur het met mense op plekke is einde Oktober 2025 deur Turksvy Publikasies uitgegee.

Aanlyn bestellings van die boek kan geplaas word op skryfyster.com.

Vir verdere besonderhede besoek:
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top